Drie dae en drie nagte

Drie dae en drie nagte in die graf

Vraag rakende drie dae in graf: Goeie middag Vic. Weereens dankie vir jou wonderlike blad dit help ons geweldig baie en maak vir ons soveel sin. Ek moet vir jou sê as ons oor iets gesels en nie weet wat die uitkoms gaan wees nie, sê my man skryf vir Vic. Ons vraag is wanneer is Jesus gekruisig want die woord sê drie dae in die graf? Vrydag met die nagmaal en die viering van Paasfees. Toe sê die dominee Jesus het Sondag uit die graf gekom? Nie drie dae? Ons het toe terug Bybel toe gegaan en ja wat ‘n openbaring. Die 33 en 57 vertaling sê die voorbereidings dag voor sabbat en die ander nuwe vertalings sê Vrydag? Ons sal dit waardeer as jy vir ons rondom dit terugvoer kan gee.

Antwoord: Dit is ‘n baie goeie vraag! Ek wou al lankal ‘n artikel oor hierdie onderwerp geskryf het maar het net nooit so ver gekom nie. Ek dank julle vir die vraag en moet julle ook vir julle opmerklikheid komplimenteer! Ek deel graag my siening oor hierdie vraagstuk met julle, en hoop en bid dat julle ten minste daaruit sal baat vind! Maar voordat ons met die beantwoording van julle vraag begin, is dit egter belangrik dat ons eerstens ‘n paar riglyne of merkers vir onsself neerlê, wat sal verseker dat ons op die onderwerp fokus en nie van die pad afdwaal nie. Ek vra ook by voorbaat om verskoning, omrede ek sekere teksgedeeltes soms meer as eenmaal in hierdie artikel gaan aanhaal, maar soos die leser sal opmerk, sal dit tot ‘n beter begrip van die onderwerp bydrae.

‘n Paar merkers of riglyne:

a.  Wanneer dit by vraagstukke soos die drie dae (en drie nagte) kontroversie kom, is dit van uiterste belang dat ons al ons antwoorde vanuit die Bybel moet bekom, en onsself nooit in kerklike tradisies en menslike opinies moet blindstaar nie. (Om hierdie rede gebruik ek die Ou Afrikaanse vertaling wat, volgens my beskeie mening, die akkuraatste vertaling is wat in die Afrikaanse taal beskikbaar is.)
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Ons almal is gevalle mense, en as sulks, begaan ons gereeld foute en nie een van ons is alwetend nie. 

b. As God se woord, (soos wat dit in die oorspronklike manuskripte opgeteken staan) kan daar dus geen weersprekings of foute in die Skrifte wees nie, omrede God immers alwetend is en derhalwe nie foute kan begaan nie! Indien ons by moeilike teksgedeeltes kom, waar dit wil voorkom asof daar wel ‘n kontradiksie of weerspreking in God se woord is, moet ons die fout by ons uitleg van die Bybel gaan soek en nie outomaties aanneem dat daar ‘n fout of weerspreking in die Bybel is nie. (Soms het ons doodeenvoudig nie al die feite op hande om ‘n akkurate berekening te maak nie!)

c. Nog ‘n belangrike feit wat ingedagte gehou moet word, is die feit dat daar meer as net die weeklikse sabbatdag aan die Jode, as deel van die wet aan hulle gegee is om na te kom. Die weeklikse sabbatdag het op die laaste dag van die Joodse week, naamlik ons Saterdag geval en is so deur hulle as ‘n sabbatdag gevier. (‘n Sabbatdag kan in kort as ‘n rusdag omskryf word.) Dit moet egter ook in gedagte gehou word, dat daar ook ander sabbatdae aan die Jode, as deel van die wet, aan hulle voorgeskryf was. Baie van hierdie Joodse feesdae het op ‘n spesifieke kalenderdag geval, en is as sabbatdag gevier, en dit maak nie saak op watse dag van die week hierdie dag geval het nie. Net soos wat baie Christene Kersfees op die 25ste dag van Desember vier, (en dit maak nie saak of die 25ste Desember op ‘n Woensdag val nie.) so ook het dieselfde beginsel vir sommige van die Joodse voorgeskrewe sabbatdae gegeld. Dit is belangrik om hierdie feit in berekening te hou soos wat ons met hierdie studie voortgaan.

d. Dit moet ook verder in berekening gehou word, dat die Jode die siklus van een volle dag so bereken het, dat hulle dag met sononder begin en tot die volgende dag sononder gestrek het. As voorbeeld begin hulle Vrydag alreeds op Donderdag sononder en eindig tydens sononder Vrydagaand. Hierdie beginsel volg logies op die wyse waarop God die dae gedurende die skepping in Gen 1 gereken het.
Gén 1:5 “en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.”
Let op die feit dat die eerste dag in die aand begin het en nie in die oggend nie!

e. Verder het die Jode ook slegs ‘n gedeelte van ‘n gegewe dag as ‘n volledige dag getel. As voorbeeld, sê maar nou dat hulle die gebeure van ‘n drie dae lange fees sou beskryf, maar die fees begin eers laat die middag voor die aanvang van die nuwe dag, dan sou hulle ook hierdie dag as dag een tel, en dan die hele volgende dag as dag twee tel, en sê nou maar die fees kom vroeg die oggend van dag drie tot ‘n einde, dan sou hulle ook hierdie dag tel en bepaal dat die fees drie dae lank was, waar dit nie in werklikheid drie volledige tydperke van 24 uur lank was nie. (ek hoop my verduideliking maak sin!)

f. God het die Israeliete die instelling van die Pasga gegee en hulle opdrag gegee om hierdie fees as ‘n ewige insetting as volk te herdenk. En derhalwe is dit belangrik om hierdie besonderse teksgedeelte volledig hier aan te haal, omrede die instelling van die Pasga ‘n profetiese heenwysing na Christus (Die Lam van God) is wat in ons plek God se regverdige oordele sou dra, sodat ons vry kon weggaan! (mits ons die Evangelie glo!)
Eks 12:1 “En die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: 12:2 Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. 12:3 Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin. 12:4 Maar as ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. 12:5 Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. 12:6 En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. 12:7 En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet. 12:8 En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet. 12:9 Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed. 12:10 Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand. 12:11En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van die HERE is dit. 12:12 Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE. 12:13 Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie. 12:14 En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier. 12:15 Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. 12:16 En op die eerste dag moet daar ‘n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word. 12:17 Onderhou dan die ongesuurde brode, want op daardie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei. Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ‘n ewige insetting hou. 12:18 In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, in die aand. 12:19 Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. Want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié siel moet uit die vergadering van Israel uitgeroei word, of hy al ‘n vreemdeling is of ‘n kind van die land. 12:20 Julle mag niks eet met suurdeeg in nie. In al julle woonplekke moet julle ongesuurde brode eet.”
Dit is dus uiters belangrik om die gebeure rondom Christus se kruisiging in lig van die instelling van die Pasga en die fees van ongesuurde brode te bestudeer, want dit is juis tydens hierdie gebeure op die Joodse godsdienstige kalender waartydens hierdie gebeure plaasgevind het en wat as die vervulling van hierdie profetiese uitsprake gedien het. Dit is egter belangrik dat die leser die bostaande teksgedeelte deeglik deurlees en verstaan. Onthou die gebeure rondom Christus se kruising was dus die vervulling van talle profetiese uitsprake wat in die Skrifte opgeteken staan! Al hierdie gebeure het op ‘n gegewe datum en tyd plaasgevind.

Die eerste en gewilde scenario, naamlik Christus is op Vrydag gekruisig:
Volgens hierdie berekening (en die mees gewildste siening onder die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom) is Christus op Vrydag gekruisig, maar onthou Vrydag het alreeds sononder Donderdag begin en sou tot sononder op Vrydag voortduur. Volgens hierdie berekening, is Jesus Christus alreeds voor sononder op Vrydag oorlede, en begrawe, en was dus alreeds een dag in die graf. Vanaf sononder op Vrydag tot sononder Saterdag was die tweede dag (Saterdag was dus ook die weeklikse Sabbatdag) en vanaf Saterdag sononder tot Sondag sononder was die derde dag en Jesus het vroeg Sondagmôre uit die dood uit opgestaan. Dus, het hulle volgens Joodse gewoonte ook hierdie gedeelte van die dag as een dag getel. Volgens hierdie scenario was die Here dus drie dae en twee nagte in die graf. Dit alles maak sin en sou korrek wees indien dit nie deur ander gedeeltes van die Skrifte weerspreek sou word nie! En dit word! Derhalwe is daar dus ‘n fatale probleem met bogenoemde uitleg!

Die Here Jesus Christus het dit baie duidelik voorspel dat Hy drie dae en drie nagte (nie slegs drie dae en twee nagte) in die graf moes wees!
Mat 12:38 “Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ‘n teken van U sien. 12:39 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. 12:40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”
Die Here kon dus nie op die Vrydag gekruisig wees nie! Hy moes dus drie dae en drie nagte in die graf wees, anders het God (die Here Jesus Christus in hierdie geval) ‘n fout begaan, iets wat nie moontlik is nie! Dus, moet ons die oplossing in die woord en in ons uitleg van die woord gaan soek.

Die tweede en korrekte scenario wat deur die Skrifte bevestig word:
Die korrekte oplossing is redelik eenvoudig! Die Here Jesus Christus was nie op Vrydag, soos wat baie mens dink, gekruisig nie, maar Hy was op Donderdag gekruisig, soos wat hierdie artikel duidelik sal demonstreer. Jesus Christus was Donderdag, ‘n paar ure voor sononder alreeds dood en in die graf gelê. Hy was dus ‘n gedeelte van Donderdag, die hele Vrydag, asook die hele Saterdag en dus drie dae in die graf. Volgens hierdie berekening was die Here Jesus Christus dan ook Donderdag nag, Vrydag nag, asook Saterdag nag en dus drie nagte in die graf, net soos wat Hy voorspel het, en Hy het vroeg die Sondagmôre (die eerste dag van die Joodse week) uit die dood uit opgestaan.

Die berekenings fout tree in wanneer mense die feit dat die Skrifte meld, dat die Here die dag voor die aanbreek van die sabbatdag alreeds gekruisig was, (wat korrek is) en dan vanselfsprekend aanneem dat die skrywers die weeklikse sabbatdag, wat op Saterdag val, in oog het. Die volgende teksgedeeltes word dan as bewys gebruik, naamlik:
Mar 15:42 “En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, 15:43 kom daar ‘n vername raadslid, Josef van Arimathéa, wat self ook die koninkryk van God verwag het; en hy waag dit om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra.
Luk 23:53 en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in ‘n graf wat uit ‘n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. 23:54 En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek.
Joh 19:31 En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was—want die dag van daardie sabbat was groot—het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word.”
(Die Ou Afrikaanse vertaling 1933/37 vertaling noem korrek die feit dat hierdie spesifieke sabbat ‘n groot en dus belangrike sabbatdag was en dit verskaf aan ons die eerste leidraad!)

Waar die meeste mense dus ‘n berekenings fout begaan, is om aan te neem dat omrede die dag na Christus se kruisiging ‘n sabbatdag was, dat Christus op Vrydag gekruisig moes wees, en wat deur Saterdag, wat die weeklikse sabbatdag vir die Jode was, gevolg is. Indien ons egter in gedagte hou dat Saterdag nie die enigste sabbatdag in die Joodse godsdienstige kalender was nie, ruim dit tot ‘n groot mate die misverstand uit die weg. Soos vroeër alreeds in hierdie studie duidelik gemaak is, is daar ander sabbatdae in die Joodse godsdiens kalender en dat hierdie dae op enige dag van die week kon val. Johannes stel dit ook dan duidelik dat die sabbatdag na Christus se kruisiging ‘n groot sabbatdag was en dus kon hy nie na die normale weeklikse sabbatdag (wat op Saterdag val) verwys het nie.
Joh 19:31 “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was—want die dag van daardie sabbat was groot—het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word.”
En hierdie groot sabbatdag was niks anders as die Pasga nie! Die Skrifte stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
Joh 18:28 “Toe neem hulle Jesus van Kájafas na die goewerneur se paleis. En dit was vroeg in die môre; en hulle het self nie in die paleis ingegaan nie, dat hulle hul nie sou verontreinig nie, maar dat hulle die pasga kon eet.”
Onthou hierdie was die oggend na afloop van die laaste maal, (en instelling van die Nagmaal) die vorige aand (en was dus nog dieselfde dag volgens die Joodse berekening van ‘n dag, wat vanaf sononder tot die volgende dag sononder bereken was) en was dus nog die voorbereidings dag, nie die Pasga nie, omrede die Skrifte dit baie duidelik stel dat die Joodse leiers nog nie die Pasga geëet het nie, en as sulks het die Here Jesus Christus en Sy dissipels ook nog nie die Pasga geëet nie. Die Laaste Maal was nie dieselfde maaltyd as die Paasmaal/Pasga soos wat baie mense verkeerdelik glo nie!

Dit is van uiterste belang dat ons die korrekte volgorde by die slag en eet van die Pasga in ag neem, omrede die gebeure aan die kruis ‘n perfekte vervulling van Exodus 12 5-7 is.
Eks 12:3 “Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, (Christus het hierdie gedeelte op Palmsondag vervul toe Hy op ‘n esel Jerusalem binnegekom het en Homself amptelik as hulle lank beloofde Messias Koning aan die volk Israel aangebied het. [Mat. 21:5; Sag. 9:9] Dit was presies 483 jaar vanaf die tyd toe die dekreet uitgevaardig is om Jerusalem te herbou. [Dan. 9:25] ‘n Kort rukkie nadat die leiers van die volk Hom gemaan het om die skare te verhoed om Hom as Koning te prys het Hy die stad Jerusalem tot totale verwoesting verdoem, omrede hulle nie die gunstige dag van Sy besoeking herken het nie! [Luk. 19:41-44]) ‘n lam vir ‘n huisgesin. 12:4 Maar as ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. 12:5 Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, (Christus het hierdie gedeelte op die volgende drie dae vervul toe Hy herhaaldelik deur die godsdienstige leiers, asook die volksleiers, ondervra is om Hom in ‘n strik te vang. Hulle het Hom dus ondersoek om enige sonde, of leerstellige afwyking aan Hom te vind, sodat Hy as die Lam van God gediskwalifiseer kon word, maar hulle het in hulle pogings misluk. [Mat. 22:46]) ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. 12:6 En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. (Ook hierdie gedeelte het Christus vervul, want teen die aand van die vierde dag was Christus alreeds gekruisig en het Hy in die graf gelê) 12:7 En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, (Christus het die mensdom se verlossing bewerkstellig, maar hulle moet dit in geloof aanvaar. [Joh. 3:16; 1Kor 15:1-4]) aan die huise waarin hulle dit eet. 12:8 En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet.” (die Pasga maal! Nie die Laaste Maal of instelling van die Nagmaal nie, want toe was die Laaste Maal alreeds ‘n gebeurtenis wat afgehandel was, dus was die Laaste Maal alreeds geskiedenis!)
Dit is om hierdie rede dat Johannes die Doper die Here Jesus Christus as die Lam van God beskryf het.
Joh 1:29 “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!
Joh 1:36 en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God!”
En die apostel Paulus beskryf die Here in 1Kor. 5:7 as ons Paaslam!
1Ko 5:7 “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.”
Hierdie omskrywing van Christus is nie blote toeval nie! Paulus verwys na vervulde profetiese gebeure! (Die leser word aangeraai om die reeks artikels “Profetiese Rede op die Olyfberg volgens Matteus” vir meer besonderhede rondom hierdie aangeleentheid te lees.)

Die Here Jesus Christus, die Lam van God, was dus op die dag, toe die paaslammers in Israel geslag was, gekruisig. Dit was dus die voorbereidings dag en nog voordat die Pasga geëet was. (Die Paaslam moes immers eers geslag word voordat dit geëet kan word!)
Joh 19:12 “Hierop het Pilatus probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskreeu en gesê: As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser. 19:13 En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, en in Hebreeus Gábbata. 19:14 En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning! 19:15 Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. 19:16 Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei.”

Nadat die paaslam geslag was, moes dit oor die vuur gebraai word en dan moes dit teen die aand saam met ongesuurde brode geëet word. Dit was die Pasga/Paasmaal. Die Pasga was dan ook die inleiding van die eerste dag van ‘n reeks feesdae wat as die Fees van Ongesuurde Brode bekendstaan. Die eerste dag (die dag van die Pasga/paasmaal was ‘n sabbatdag, en was dus ‘n groot sabbatdag, presies net soos wat Johannes dit in Joh.19:31 duidelik stel en hierdie feit skakel mooi by Exodus 12 in, naamlik:
Eks 12:14 “En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier. 12:15 Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. 12:16 En op die eerste dag moet daar ‘n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word.”

Die Here Jesus moes dus op Donderdag voor sononder gekruisig wees en alreeds in die graf gewees het. (Die gedeelte van Donderdag, waarin die Here in die graf gelê is, tel as dag een volgens die gebruiklike Joodse berekening.) Teen Donderdag sononder het Vrydag, volgens die Joodse berekening van ‘n dag, aangebreek en dan het die Jode die Pasga teen die aand geëet en het dit ook as inleiding van die groot sabbatdag gedien, wat die eerste dag van die sewedaagse fees van die Fees van Ongesuurde Brode ingelei het. (Teen sonsopkoms Vrydag was die Here dus een nag in die graf gewees en Vrydag gedurende die dag/lig ure was die Here se tweede dag in die graf.) Teen sononder Vrydag het ‘n nuwe dag, naamlik Saterdag, wat die weeklikse sabbatdag was, aangebreek. (die nag van Saterdag was dus die Here se tweede nag in die graf) Na sonsopkoms Saterdag, en die Saterdag se dag/lig ure was dus die Here se derde dag in die graf, en teen Saterdag sononder het die volgende dag, naamlik Sondag, wat as die eerste dag van die Joodse week gereken is, aangebreek en het Christus dan teen sonsopkoms Sondag alreeds uit die dood uit opgestaan. Sondag se nag/donker ure tel dus as die derde nag waarop die Here in die graf gelê het, presies soos wat Hy voorspel het, naamlik:
Mat 12:40 “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”
Let mooi op die Here se woorde. Hy het gesê dat Hy drie dae en drie nagte in die graf sou wees. (die dae kom voor die nagte!) Hy het nie drie nagte en drie dae gesê nie, maar eerder drie dae en drie nagte. Dit is belangrik dat ons ook hierdie volgorde van gebeure ook in ag moet neem.

Ter Afsluiting: Gegewe al die feite, blyk dit dan bo enige twyfel duidelik dat die Here op Donderdag gekruisig was, en nie op Vrydag nie, en derhalwe kon die vrouens nie voor Sondagmore by die graf uitkom om die Here se liggaam te salf nie. Toe hulle wel teen dagbreek by die graf uitgekom het, het die Here alreeds uit die dood uit opgestaan en was Sy graf alreeds leeg. Indien mens die twee daaropvolgende sabbatdae in ag neem, is die oplossing doodeenvoudig, en ek hoop my antwoord maak sin en verskaf meer inligting rondom jou vraag!

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.