Psa11

Psa 11. Hoop in ‘n onstuimige wêreld!

As mens na die nuus op televisie kyk en die koerante lees, dan besef mens al te goed dat hierdie wêreld van ons baie vinnig besig is om agteruit te gaan. Verby is die dae toe die goeie nuus baie meer as die slegte nuus was en dat misdaad en die morele verval ons nog geskok het. Ons hoor daagliks van oorloë, gerugte van oorloë, geweld, verkragtings, kinders-molestering, plaasaanvalle, korrupsie, pornografie en rassisme (Insluitende omgekeerde rassisme) en om nie eers te praat van politieke onrus nie. Omrede die gelowige as deur-reisigers in hierdie wêreld woon, spring ons ook nie hierdie gebeure vry nie en raak ons ook soms bekommerd oor wat om ons aan die gebeur is, alhoewel die Bybel ons oor hierdie gebeure waarsku en daarom behoort ons te weet dat die Here hierdie tyd voorspel het en ons vermaan het om nie te vrees nie.
Mar 13:7 “Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie. 13:8 Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.
Luk 21:25 En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, 21:26 en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. 21:27 En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. 21:28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”
Vir interessantheid wil ek net noem dat die woord wat as “nasie” in  Markus 13: 8 vertaal word vanaf die Griekse woord “ethnos” vertaal is en waar ons woord “etnies” in Afrikaans afgelei is. Dus kan ons verwag dat daar nie net tussen verskillende nasies opstande sal plaasvind nie , maar sal daar ook toenemend wrywing en opstande tussen etniese groepe plaasvind en mens sien dit orals in die wêreld gebeur. Dit is maar net een indikasie dat Jesus se koms vir Sy bruid nie meer ver in die toekoms kan wees nie.

Ook moet ons dit nie vreemd vind dat die mens as geheel moreel vervalle raak nie. Dit sluit weereens nie net die ongelowige wêreld in nie, maar mense wat beweer dat hulle God dien. Teen sulke mense en tendense het Paulus ons ernstig gewaarsku en ons sien dit deesdae onder die groot meerderheid van die belydende Christendom.
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Onthou, Paulus praat hier van die belydende Christendom! Anders as wat baie mense verkondig belewe ons nie ‘n groot herlewing nie, maar beleef ons die groot verval, weg van Bybelse Christenskap af.

Die groot meerderheid van die mensdom wil nie meer hoor wat God in die Bybel aan ons te sê het nie, maar wil eerder predikers aanstel wat hulle ore streel en vir hulle wil sê wat hulle graag wil hoor, naamlik rykdom, genot, gesondheid en jou beste lewe nou, en dit terwyl die wêreld moreel en sosiaal in duie stort! Ander weer vertrou op onskriftuurlike vleeslike manifestasies en buite Bybelse openbarings om te bewys dat hulle geestelik of Gees vervuld is, wat weer tot verdere verleiding lei. So raak dinge net erger en erger en is dit hoog tyd dat ons weer na die Bybel, as enigste bron waarteen alle doktrines en Christelike ervarings getoets moet word, terugkeer. (lees gerus die artikel “Is Leerstellings werklik so Belangrik“)
2Ti 4:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:
4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 4:5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”
Anders as wat baie van die hedendaagse valse predikers verkondig, het Paulus Timoteus vermaan om die woord te verkondig en die mense te leer (doktrines/leerstellings). Nie net is Timoteus gewaarsku dat die mense vir hulleself predikers sal aanstel wat sal verkondig wat hulle die graagste wil hoor nie, maar sal hy ook verdrukking moet verduur, net soos wat Jesus Christus Sy dissipels gewaarsku het.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Om sake nog erger te maak wil dit voorkom asof God dit aan ons in Sy genade gegee het om vir Hom te ly.
Fil 1:29 “omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly,”
Ook word dit duidelik gestel dat ons saam met Hom sal regeer as ons saam met Hom ly.
2Ti 2:12 “As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.”
As ons nou deel het aan Sy lyding sal ons saam met Hom geopenbaar word as Hy met Sy wederkoms aarde toe kom, om Sy koninkryk hier te kom vestig, en sal ons saam met Hom regeer. Maar voordat ons as konings kan regeer, moet ons eers die weg van die kruis neem en dit is nie altyd aangenaam nie.
1Pe 4:12 “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 4:13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. 4:14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.”

In Psa 11 herinner koning Dawid ons dat ons bo hierdie omstandighede kan uitstyg, as ons net ons oë op die Here Jesus Christus gefokus hou en op Hom alleen vertrou en steun. Net soos Dawid word ons ook soms versoek om van hierdie situasies af weg te wil vlug, veral in tye wanneer dit wil voorkom asof wet en orde besig is om in duie te stort. In tye soos hierdie is die versoeking dan groot om die oplossing vir ons probleme in mense en menslike planne te soek, in stede daarvan dat ons na God in geloof moet kyk en weet dat God in beheer van sake is en dat Hy op die einde van die dag alle boosdoeners sal vernietig. Ons kan ook verseker wees dat Hy die regverdiges sal uitred en sal verlos, omrede Hy hulle lief het. Kom ons gaan kyk hoe Dawid in tye van nood opgetree het.

Psa 11:1 “Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. By die HERE skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos ‘n voël!”
Opmerking: In bostaande teksgedeelte wil dit voorkom asof Dawid deur ‘n beangste persoon aangeraai word om summier na die berge te vlug, soos ‘n hulpelose voëltjie wat homself nie kan beskerm nie. Ons almal bevind onsself soms in ‘n situasie waar dit wil voorkom asof vlug die enigste uitweg is en dat ons omstandighede heeltemal hopeloos is. Dawid bevestig egter sy geloof in God en Sy voorsienigheid deur om sy beangste raadgewer te vra hoekom hy moet vlug as God sy skuilplek is. As God nie ‘n persoon se skuilplek is nie, dan is daardie persoon nêrens veilig nie, en maak dit nie saak waar hy homself op hierdie aarde mag bevind nie. Ons lewe net omdat God toelaat dat ons lewe en ons almal se lewens en omstandighede is in Sy hande, alhoewel ons vrye keuses soms bepaal hoe ons hierdie omstandighede op aarde beleef.

Psa 11:2 “Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart.
11:3 As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?”
Opmerking: In verse 2-3 gaan die beangste raadgewer voort en berig dat die goddelose nou in beheer is, en dat wet en orde nou in duie gestort het en dat die fondamente van die samelewing nou besig is om te verkrummel. Is hierdie nie ‘n mooi beskrywing van ons moderne samelewing nie? Dit wil vir die spreker voortkom asof die goddelose kriminele die oorhand gekry het, want hulle is tot die tande toe gewapen en staan gereed om die wetsgehoorsame landsburger in die donker strate in die geheim voor te lê en hom dood te skiet. Die boog en pyle waarna die spreker in bostaande teksgedeelte verwys kan ook as lasterlike gerugte, haat spraak en valse leerstellings vertolk word, wat bedoel is om die slagoffer tot ‘n val te bring. Dit is baie duidelik dat Dawid se raadgewer moedeloos en bang is, en daarom stel hy dit aan Dawid, dat Dawid maar net so weerloos soos ‘n voëltjie is en dat hy niks aan die saak sal kan doen nie, behalwe as om te vlug.

Psa 11:4 “Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders.”
Opmerking: Nou is dit Dawid se beurt om sy beangste raadgewer te beantwoord. Hy kontrasteer die onstuimige wêreld, wat deur die sondige mens beheer word en wat direk of indirek Satan as god het, met God se troon in die Hemel, vanwaar God in Sy soewereiniteit regeer.
1Jo 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê. “
Wat kan die heiliges doen, het die beangste boodskapper gevra. Dawid se antwoord is dat die heiliges in God moet vertrou, wat die enigste ware bron van ‘n bestendige goewerment kan wees. Die Here regeer vanaf Sy troon in die Hemel en net Hy is die soewereine regeerder op aarde. Sy wil sal altyd op die ou einde geskied, al het Hy die mens ‘n vrye wil gegee om keuses te kan maak. Hy sal die mens vir daardie keuses wat hy gemaak het verantwoordelik hou, maar op die einde van die dag sal ons almal moet uitvind dat God se wil altyd geskied soos Hy bepaal het, en ondersoek Hy met belangstelling die mense se harte om te sien wat werklik binne in hulle is. Hy is die Alsiende God en daar is niks vir Hom verborge nie. Daar is ‘n ou gesegde wat soos volg lees: Die mens het sy boosheid maar God kry altyd Sy sin”

Psa 11:5 “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.”
Opmerking: Die regverdiges word soms deur God getoets, omdat Hy hulle geloof in Hom wil versterk en hulle van sonde wil reinig. (Heb 12:6-7) Aan die anderkant stel Dawid dit baie duidelik dat God die goddelose asook die man van geweld haat. Hy is gekant teen diegene wat onregmatige geweldpleging bedryf, asook mense wat goddeloos is en wat teenstrydig met Sy wil optree.

Psa 11:6 “Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.”
Opmerking: Dawid kyk in geloof na ‘n tyd wanneer God sal ingryp en aan die geweldenaar en goddelose gee wat hulle toekom. Die vuur en swawel wat op die goddelose sal val, herinner mens nogal aan die die vuur wat op Sodom en Gomorra geval het.
Gén 19:24 “En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel,
19:25 en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.”
Die vangnette waarvan Dawid in Psa 11:6 praat sal verseker dat geen ongelowige God se oordele sal ontsnap nie. Dit is ook dan om hierdie rede dat die Bybel ons waarsku om nie die goddelose se rykdom en voorspoed op hierdie aarde te beny of te begeer nie. (Psa 73)
Hulle ondergang sal skielik kom en dan sal hulle hulleself nie kan loskoop met hulle onregverdige winste nie. Daar sal ‘n geween en ‘n gekners van tande wees. (Mattheus 8:12) Lees gerus ook die artikel “Jesus se oplossing vir vrees en bekommernis

Psa 11:7 “Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.”
Opmerking: Net soos wat God die goddelose en geweldenaar haat, het Hy die regverdige lief. (Gelowige) God is heilig en geregtig en daarom het Hy geregtigheid lief. Die geregtigde d.w.s die persoon wat in Geloof in Jesus Christus glo, sal God van aangesig tot aangesig sien, die oomblik wanneer hulle deur Jesus Christus met die wegraping na die Hemel geneem word.
Joh 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Ter afsluiting: Ons moet geensins die leun glo dat die wêreld soos wat ons dit vandag ken, God se wil vir hierdie wêreld was nie. Nee, God het hierdie wêreld oorspronklik perfek geskape en die mens daarop geplaas met die doel dat ons vir ewig in ‘n toestand van perfeksie sal kan leef en in ononderbroke gemeenskap met Hom kon wandel. ‘n Wêreld waar geen trane, hartseer, dood, siekte, pyn doodslag of haat teenwoordig was nie. Ons het egter in rebellie teen God, besluit om teen Hom te rebelleer en om Satan se leuens te glo. Dit is dan ook om hierdie rede dat die Bybel dit baie duidelik stel, dat hierdie wêreld net gaan vererger en dat die ware gelowiges ver in die minderheid gaan wees. Onthou ek praat van gelowiges wat die ware Evangelie geglo het. Een van die dae (dit kan enige tyd plaasvind) gaan die Here Jesus Christus Sy ware Kerk (Sy Bruid) kom haal en dan gaan Hy hierdie wêreld oordeel. Iets wat ek niemand toewens nie. Ons gaan nie die probleme in die wêreld oplos deur om op die arm van vlees te vertrou en op humanistiese stelsels en programme staat te maak om ons te help nie.
Jer 17:5 “So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.”
Die enigste hoop wat ons het is in Jesus Christus en en om te doen wat Hy ons beveel het om te doen. Omrede die groot meerderheid van die mensdom God verwerp, is hierdie wêreld gedoem en het die Here ons ook dan nie ‘n mandaat gegee om die wêreld te transformeer nie, maar Hy het ons opdrag gegee om die Evangelie te verkondig, sodat so veel as moontlik mense gered kan word, terwyl ons nog in die dispensasie van genade is. Hierdie dispensasie gaan nie vir ewig voortduur nie en dan gaan God hierdie wêreld oordeel. Daardie tyd begin met die verdrukking en sal volkome voltooi wees met die afhandeling van die Wit Troon Oordeel.
2Pe 3:5 “Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, 3:6 waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. 3:7 Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”

Dit gaan ons ook nie baat om te kla oor hoe korrup die regering is nie, as ons nie bereid is om na onsself en ons eie lewens te kyk nie. Hoe ver in die wêreld is ons en hoedanig is ons optrede?
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Onthou sonde bly sonde. Diefstal bly diefstal. Om ‘n potlood te steel is dieselfde misdaad as om miljoene te steel. Dit geld vir enige sonde in ons eie lewens en dit sluit alle gelowiges in. Ons moet geensins dink dat ons die gevolge van ons optrede sal vryspring net omdat ons Christene is nie. Die kans is baie groter dat ons die gevolge van ons keuses in hierdie lewe gaan moet dra en dit omdat ons nie God se opdragte, soos wat dit in die Bybel opgeteken is, gehoorsaam nie. Kyk maar wat het met Dawid gebeur toe hy egbreuk met ‘n ander man se vrou gepleeg het, en kyk hoe het die gevolge hom later in sy lewe ingehaal. Onthou God laat Hom nie bespot nie.
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

Onthou, Jesus het ons gewaarsku om op die uitkyk vir Sy koms vir Sy Bruid te wees, as hierdie tekens begin verskyn. Let op die woord “Begin”
Luk 21:25 En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, 21:26 en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. 21:27 En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. 21:28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”
As ons na die wêreld om ons kyk, dan is dit duidelik dat die begin van hierdie tekens al plaasvind en daarom moet ons met God se opdragte besig wees, omrede daar min tyd oor is. Ook hoef ons nie in hierdie tye bevrees te wees nie. Dit maak nie saak hoe sleg dinge op aarde mag lyk nie! As dit nie God se wil is nie, sal niks met ons kan gebeur nie.
Job 1:10 “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land.”
Ons moenie bevrees word as goddelose mense geweld aanblaas nie, niks sal met die gelowige kan gebeur as God dit nie toelaat nie. So die beste ding wat ons in hierdie tye kan doen, is om die saak na God in gebed te neem en op Hom te vertrou. Behalwe dit alles, moet ons as Sy ambassadeurs op hierdie aarde leef, en deur ons leefstyl demonstreer dat ons kinders van God is. Onthou, God is in beheer!

Ja sommige gelowiges sterf wel as martelare en ander ly weer baie vir hulle getuienis vir God. Maar ons moet mooi verstaan, dat as God ons roep om Hom met ons dood te verheerlik, sal Hy aan ons die genade gee om dit te doen en sal dit vir ons ‘n eer wees. Nie almal word egter geroep om as martelare te sterwe nie en daarom is dit belangrik dat ons op God vertrou en nie vreesagtig word nie. Ek gaan afsluit met ‘n aanhaling van wyle William MacDonald wat soos volg lees: “Vir die mens om sy Skepper te vertrou is die mees verstandige, logiese en rasionale ding om te doen” Dink mooi hieroor na!
Joh 14:27 “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”
God is in beheer!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.