Matt.8:2-3

Matt.8:2-3 as belofte vir genesing

Vraag: Ek het jou artikel “’n Skriftuurlike uitdaging aan geloofsgenesers” gelees en het dit baie insiggewend gevind. Ek het egter na ‘n preek van ‘n gewilde Afrikaanse pastoor, wie ook profiteer, geluister waar hy vertel hoe hy op daardie stadium al nege mense van blindheid genees het. Hy het tydens sy preek van Matt.8:2-3 gebruik gemaak, om te demonstreer dat dit Christus se wil is om almal te genees en om hierdie rede is alle gelowiges nou alreeds op genesing geregtig. Hoe verklaar jy Matt.8:2-3 in die lig van genoemde pastoor se verklaring. Dien Matt.8:2-3 dan nie as waarborg dat Christene nou al reeds op genesing van siektes geregtig is nie? Is dit dan nie die Here se wil dat alle gelowiges van hulle siektes genees word nie? Ek moet net noem dat ek heelhartig met jou artikel saamstem en dit het my insig aangaande hierdie onderwerp verdiep. Ek besef nou dat ek aan die neus rondgelei is. Ek verstaan egter nie hoe Matt.8:2-3 by hierdie hele vraagstuk inskakel nie. Baie dankie.

Antwoord: Dit is ‘n baie goeie vraag wat jy vra. Naas Jes.53:5 is Matt.8:2-3 seker een van die teksgedeeltes wat meeste as proefteks aangewend word om te demonstreer dat gelowiges nou alreeds op fisiese genesing geregtig is. Proponente van die “Woord Geloof Beweging” en ander soortgelyke groepe, gaan so ver en beveel siektes om mense te verlaat en beveel selfs hulle gehore om genesing oor hulleself uit te spreek. Omrede ek alreeds hierdie onderwerpe in vorige artikels aangespreek het gaan ek nie nou daaroor uitbrei nie. Die leser word aangeraai om die artikel “Krag in ons woorde” sorgvuldig deur te lees. Ek sal jou ook aanraai om die artikels “Genees, genesing tydens die Post Apostoliese tydperk” asook “Waarom gaan gelowiges nog steeds dood” ook deur te lees, want daarin word jou vraag tot ‘n groot mate beantwoord. Ek gaan egter met hierdie artikel hoofsaaklik op Matt.8:2-3 binne die korrekte konteks konsentreer, en demonstreer dat Matt.8:2-3 nie as ‘n algemene belofte om genesing tydens die Kerk Dispensasie aangewend kan word nie.

Ek gaan Matt.8:2-4 aanhaal omrede dit ons met die bepaling van die korrekte konteks sal help, naamlik:
Matt.8:2 “en daar het ‘n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. 3 Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig. 4 En Jesus sê vir hom: Pas op dat jy dit aan niemand vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer die gawe wat Moses voorgeskrywe het, tot ‘n getuienis vir hulle.”
Om die bogenoemde teksgedeelte korrek te verklaar, is dit van uiterste belang om die teksgedeelte binne die raamwerk van die korrekte dispensasionele agtergrond te bestudeer. Onthou, die dispensasie van die Wet het slegs met Christus se kruisiging tot ‘n einde gekom. Om hierdie rede het die gesprek tussen die melaatse man en die Here tydens die dispensasie van die Wet plaasgevind. Boonop het die Here van die berg afgekom waar Hy so pas die Bergpredikasie aan Israel gelewer het.

Die melaatse man het besef dat Jesus die beloofde Messias moet wees, omrede slegs ‘n persoon wie glo dat hy God is, sekere van die uitlatings wat Christus tydens die Bergpredikasie gemaak het, kon maak. Ek gaan slegs een so ‘n voorbeeld hier weergee, naamlik:
Matt.5:11 “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. 12 Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; (slegs God kan genadeloon aan mense uitdeel) want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”
Die profete van ouds is spesifiek om “God se ontwil” vervolg. Maar Die Here Jesus Christus vervang “God se ontwil” met “My ontwil” wat beteken dat Hy verklaar dat Hy God is. Dit was die profete van ouds wie God se boodskap aan die volk gelewer het, en in Matt.5:11 maak die Here die stelling “om My ontwil” wat beteken dat die Ou Testamentiese profete vervolg is omrede hulle die God van die Ou Testament, wie niemand anders as die Here Jesus Christus self is, gedien het nie. En daarom het die melaatse man voor die Here neergeval en verklaar dat indien dit Sy (die Here Jesus Christus, naamlik God) se wil is Hy hom kon genees. Die Here stel die melaatse man in kennis dat dit inderdaad Sy wil (en dus God se wil) is om hom te genees, waarop die Here voortgaan en die man onmiddellik en volkome van sy melaatsheid genees.

Ons moet egter onthou dat die Here ‘n spesifieke doel met die genesing van die melaatse man gehad het, en daarom was dit Sy wil om hom op daardie spesifieke plek en tydstip te genees. Die Here Jesus Christus het kort op die hakke van Sy leëring tydens die Bergpredikasie, deur die genesing van die melaatse man, aan die volk gedemonstreer dat Hy mag oor siektes het en dat Hy niemand anders as die lank beloofde Messias is nie. Indien hulle Hom as Messias sou aanvaar, sou Hy Sy koninkryk op aarde vestig, waartydens bonatuurlike genesing ‘n algemene verskynsel sal wees.
Mal.4:2 “Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.”
Om hierdie rede het die Here die geneesde man beveel om niemand anders van die genesing te vertel nie, maar Hy het hom beveel om na die priesters by die tempel te gaan, en daar die offer bring wat Moses in die Wet voorgeskrywe het. Die priesters, wie as God se verteenwoordigers tussen Hom en die volk moes optree, moes deur die genesing van die melaatse man besef het dat die beloofde Messias Sy verskyning gemaak het en hulle moes dan die volk aangaande hierdie feit ingelig het. In hierdie opsig moes die melaatse man se genesing vir hulle as getuienis dien. Die bal was nou in hulle hande, of hulle die Here as Messias sou aanvaar of nie.

Onthou, dit was die priesters se plig om die volk in sake van godsdiens te lei en hulle aangaande die Skrifte te leer. Sodra die melaatse man volkome genees by die tempel, met die voorgeskrewe offer opgedaag het, moes die priesters die genesing ondersoek, en die volk van die feit dat hulle Messias nou in hulle midde is, ingelig het. Matt.8:2-3 moet binne die raamwerk van hierdie konteks verstaan word. Net omrede die Here aan die melaatse man gesê het dat dit Sy wil is om hom te genees, beteken dit geensins dat dit in alle gevalle, en in alle omstandighede, die Here se wil is om mense te genees nie. Om so ‘n afleiding te maak is ‘n ernstige mistasting en moet as sulks verwerp word. Indien dit die Here se wil is om almal te genees, (en ons weet dat die oorgroot meerderheid mense nie noodwendig genees word nie) dan sou dit beteken dat Christus nie alle mense kan genees nie, en derhalwe kan Hy nie die Messias/God wees nie. Boonop kan mens nie ‘n spesifieke voorval, sonder enige verdere Skriftuurlike regverdiging, as universele reël op die hele Bybel van toepassing wil maak nie. Die gebeure, soos in Matt.8:2-3 opgeteken staan, moet as konteks spesifiek verklaar word, en Christus se genesing van die man moet binne hierdie spesifieke konteks verstaan word. Ja, dit was die Here se wil om die melaatse man in hierdie spesifieke geval te genees, maar dit beteken geensins dat dit altyd Sy wil gaan wees om ‘n siek persoon van sy siekte te genees nie. Die geskiedenis van die Kerk bevestig hierdie feit. Gelowiges word siek en sterwe net soos alle ander mense. Slegs indien dit God se wil is om ‘n persoon te genees, sal daardie persoon genees word. Dit is en bly ‘n individuele saak waarvoor die gelowige God in gebed moet nader.

Maar dien Jes.53:5 nie as bewys dat gelowiges nou al reeds op genesing geregtig is nie?
Jes.53:5 “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Mense wat hierdie stelling maak vergeet egter dat ons verlossing in drie fases plaasvind, en dat fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, slegs met die wegraping sal plaasvind en dit is ‘n gebeurtenis wat uitsluitlik van God se tydsberekening afhanklik is. Solank as wat ons nog in hierdie huidige liggame leef sal alle gelowiges nog steeds vir siektes en fisiese dood vatbaar wees. Onthou, met die glo van die Evangelie word fase een van die gelowige se verlossing, naamlik wedergeboorte afgehandel, en daarna bevind die gelowige hom outomaties in fase twee van sy verlossing, naamlik heiligmaking. Slegs wanneer die eerste opstanding/wegraping plaasvind sal fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking afgehandel wees, wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee sal wees en slegs dan sal ons van siekte en die dood bevry wees. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Drie fases van verlossing” asook “Waarom gaan gelowiges nog steeds dood?” te lees.) Dit is Christus se voltooide werk aan die kruis wat as grondslag van ons verlossing dien (al drie fases) en daarom is dit God se wil dat alle persone die Evangelie hoor, verstaan en glo. Slegs na die afhandeling van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, sal alle gelowiges vir ewig van siekte en liggaamlike dood verlos wees. Daarom is dit so belangrik om die Evangelie met alle mense te deel. Onthou:
Rom.1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”

Ter afsluiting: Matt.8:2-3 kan dus nie as belofte aangewend word om te verklaar dat dit God se wil is om alle gelowiges wat nou tydens die Kerk Dispensasie leef, van alle siektes te genees nie. Om so ‘n leerstelling te verkondig is in stryd met wat God werklik in die Skrifte verklaar. Indien ‘n persoon siek is, dan moet hy die saak persoonlik na God in gebed neem. Hy kan ook ander gelowiges versoek, om deur gebed, vir hom by God in te tree, maar die uitkoms van die gebed bly egter van God se wilsbesluit afhanklik. Indien die persoon nie onmiddelik volkome genees word nie, dan moet die siek persoon, sover as wat dit vir hom moontlik is, mediese behandeling soek, omrede die Here in baie gevalle van mediese behandeling gebruik maak om mense te genees. (die Here het d.m.v. Sy algemene genade begaafde mense, gelowiges sowel as ongelowiges, aan die mensdom as geheel geskenk om mediese navorsing te doen en sodoende vir die mensdom in die algemeen as seëning te dien) Daarna moet die persoon alles in God se hande los, met die wete dat God alwetend is en beter as ons weet wat om te doen. Onthou, God handhaaf ‘n ewige, alwetende perspektief op alle gebeure, en doen altyd wat vir ons die beste is, al verstaan ons nie alles altyd mooi nie. Wanneer ons Sy wil in geloof aanvaar, en by God se besluit berus, verheerlik ons Hom en Hy sal ons by die Regterstoel oordeel van Christus ryklik daarvoor beloon.

Wat die beweerde bewering van die genesing van nege blinde mense aanbetref, sal ek jou aanraai om weereens die artikel “’n Skriftuurlike uitdaging aan geloofsgenesers” asook die artikel “Genees, genesing tydens die Post Apostoliese tydperk” te lees. Indien die persoon werklik die Here in hierdie opsig dien, dan behoort hy nie om te gee om aan jou verifiseerbare bewyse van genesings voor te lê nie. Indien hy dit nie kan doen nie, moet jy nie sleg voel indien jy skepties oor sy bewerings van genesing is nie. (en dit is definitief nie ‘n teken van ongeloof nie) Meeste van die mense wat beweer dat hulle die gawe van genesing het, beweer ook dat hulle profetiese woorde by God ontvang. Indien die persoon beweer dat hy direkte openbarings van God ontvang, kan mens met regte vra waarom die Here dan nie sy verkeerde uitleg aangaande Matt.8:2-3 korrigeer nie. Onthou, dit is God se wil dat ons onsself nie aan dwaalleer skuldig maak nie. Die Heilige Gees is immers die Gees van waarheid!
Joh.16:13 “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
Boonop is dit ‘n sonde om te dink dat die Here op dwaalleer Sy Kerk sal bou.
Joh.3:21 “Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.”
Tydens die Here Jesus Christus se aardse bediening het Hy ten alle tye verkeerde interpretasies van die Skrifte gekorrigeer. Indien Hy direk met die sogenaamde profeet praat, hoekom korrigeer Hy die sogenaamde profeet dan nie in hierdie opsig nie? En indien die Here die profeet nie korrigeer nie, kan mens met regte vra of die persoon werklik ‘n profeet is. Dit is juis God wat Paulus geïnspireer het om die volgende stelling op skrif te stel, naamlik:
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die leser word ook ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking ” sorgvuldig deur te lees.

Daar is dus geen Skriftuurlike regverdiging om die gebeure soos in Matt.8:2-3 gevind, buite konteks aan te haal, en dit as algemene belofte om genesing, na die Kerk Dispensasie oor te bring en toe te pas nie. Matt.8:2-3 kan dus nie as waarborg tot ons reg om genesing tydens die Kerk Dispensasie aangewend word nie. Ons lewens is in God se hande, en slegs na afloop van die wegraping sal ons kan verklaar dat die dood in die oorwinning verslind is.
1Kor.15:51 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, (fisies tot sterwe kom nie) maar ons sal almal verander word, (met ons onsterflike, sondelose en verheerlikte liggame oorklee word) 52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode (alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie, en wat dus “in Christus” tot sterwe gekom het) sal onverganklik opgewek word; en ons (wie nog fisies/liggaamlik lewe) sal verander word. 53 Want hierdie verganklike (sterflike) moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. 54 En (eers) wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.” (dan eers sal fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking afgehandel wees.)
Net omrede Christus die stelling in Matt.8:2-3 gemaak het, beteken dit geensins dat dit tydens die Kerk Dispensasie Sy wil is om in alle gevalle gelowiges te genees nie. Om sulke leerstellings te verkondig is niks anders as dwaalleer nie. Die feit bly staan dat getroue diensknegte van God gereeld a.g.v. siekte doodgaan.
2Kor.4:16 “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.”
Dit is my bede dat hierdie artikel meer lig op Matt.8:2-3 werp.

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.