Bekommernis

Jesus se oplossing vir vrees en bekommernis

Omrede ons na aanvanklike wedergeboorte nog steeds met ons ou sonde natuur opgeskeep sit, gaan ons nog steeds, van tyd tot tyd, die geneigdheid toon om onsself oor die dag van môre te wil bekommer. Die Here Jesus Christus het egter aan ons Sy oplossing vir die probleem van bekommernis en vreesagtigheid gegee en ons vind hierdie oplossing in Mat 6:25-34. Indien mens egter die teksgedeelte in dele opbreek en sorgvuldig bestudeer, sal ons die antwoord vir die probleem van onnodige bekommernis en vrees daarin vind. Die genoemde teksgedeelte gaan in verskillende dele verdeel word, en gaan dan kortliks onder afsonderlike opskrifte of afdelings bespreek word. Dit sal die leser help om in tye van twyfel, rasioneel oor die oplossing vir die probleem te dink, met die wete dat niks vir God onmoontlik is nie en dat Hy, as ons Skepper en hemelse Vader, weet wat ons nodig het en hoe om dit aan ons te gee.

Onnodige bekommernis is sonde:

Mat 6:25 “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel (vrees en bekommernis) oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. (benodigdhede, nie onnodighede nie.) Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? 6:26 Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 6:27 Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? 6:28 En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; 6:29 en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.”
Bekommernis en vrees is ongehoorsaamheid. In Fil 4:6 beveel die Here ons om oor niks besorgd te wees nie.
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Indien ons onnodiglik bekommerd is, dan verontagsaam ons God se opdrag aan ons en is ons ongehoorsaam aan Hom. God is ernstig as Hy ons beveel om nie bekommerd te wees nie. As Hy sê dat ons nie besorgd moet wees nie, dan bedoel Hy wat Hy sê en verwag dat ons Hom moet gehoorsaam. God beskou bekommernis as sonde, omrede dit niks anders as ongehoorsaamheid is nie.

Bekommernis is ongeloof, en ongeloof is sonde. In Mat 6:25-34 het die Here belangrike opdragte aan Sy dissipels rondom bekommernis gegee. ‘n Persoon wat hom oor die noodsaaklikhede van die lewe kwel, maak dan indirek die stelling, dat God nie besorg oor hom is, of oor die vermoë beskik, om na Sy kinders om te sien nie. Bekommernis en vrees kan nie op dieselfde oomblik as geloof in die gelowige se lewe teenwoordig wees nie. Waar die een inkom, gaan die ander een by die deur uit. Solank as wat geloof in God (vertroue) teenwoordig is, kan bekommernis nie inkom nie.

Bekommernis kan tot gesondheidsprobleme lei. Dit is ‘n mediese feit, dat onnodiglike bekommernis en vrees die oorsaak van maagsere, hartsiektes, asook ander fisiese kwale is, en dat bekommernis en vrees een van die grootste redes agter meeste siektes is. Boonop is vrees en bekommernis nie net sleg vir die persoon se fisiese liggaam nie, maar dit is ook nadelig vir sy geestelike lewe. Bekommernis bring mens nie nader aan God nie, omrede dit sonde is. Enige sonde benadeel die gelowige se Vader/kind verhouding met God. Onnodiglike vrees en bekommernis kan niks anders as nadelig vir die kommer-kous wees nie, en het al tot baie persone se vroeëre dood gelei.

Bekommernis en onnodiglike vrees is sinneloos en onlogies, omrede dit met sekere basiese feite, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, in botsing kom. (Mat 6:25-26.) Hoekom sal God die meer belangrike, naamlik die lewe aan jou gee, en dan nie daarmee saam die minder belangrike dinge, naamlik kos en klere, wat nodig is om daardie lewe te onderhou, ook aan jou gee nie? Die liggaam is sekerlik baie meer werd en belangriker as kos en klere! Hoekom sal God aan jou ‘n liggaam gee, wat ‘n baie groot gawe is, en dan nie die kleiner gawes, soos klere en kos, ook saam met die liggaam voorsien nie? ‘n Gelowige wat homself bekommer, beweer in effek, dat God wat aan hom die liggaam gegee het, nie oor die vermoeë of die wil beskik om ook aan hom die noodsaaklikhede, om daardie liggaam te onderhou, wil of sal voorsien nie. Dit is amper soos ‘n vader wat vir sy seun ‘n rugbyveld bou, en nadat die rugbyveld ten groot koste voltooi is, nie nou ‘n rugbybal aan die kind wil voorsien om mee te speel nie. Is die rugbyveld nie baie meer werd as die rugbybal nie? Hoekom die rugbyveld bou en dan nie die bal ook voorsien nie? As die Here besorg is oor die voëls en die lelies in die veld, wat oor baie minder waarde as die mens beskik, sal Hy nie veel meer oor ons, wat na Sy beeld geskape is, en waarvoor Jesus Christus, met Sy lewe aan die kruis, vir ons sondes gesterf het, ook nie nou die minder belangrike benodigdhede saam met die ewige lewe aan ons voorsien nie?
Rom 8:32 “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
Om onnodiglik bekommerd te wees is sinneloos, en kan ook as ‘n subtiele vorm van belediging teenoor God se vaderlike besorgdheid teenoor ons bestempel word. En daarom is bekommernis sonde.

Bekommernis het nog nooit iets bereik nie. Bekommernis het nog nooit iemand gehelp nie. Bekommernis het nog nooit ‘n probleem opgelos nie. Bekommernis kan probleme raaksien, maar kan nooit daardie probleme oplos nie. Bekommernis is onproduktief en bereik absoluut niks goeds nie. Baie mense het hulle lewens al verkort, juis omrede hulle hulleself letterlik dood bekommer het. Die tyd wat God, in Sy genade, ons op hierdie aarde gegee het, is in Sy hande en dit gaan ons niks baat om daaroor bekommerd te wees nie. Bekommernis en vrees sal nooit daartoe bydra, dat ons ‘n langer, voller en Geesvervulde of meer betekenisvolle lewe in hierdie wêreld sal lei nie. Dit sal net die teenoorgestelde resultaat tot gevolg hê. Bekommernis in nie goed nie, dit is nadelig.

Dit is ‘n kwessie van geloof:

Mat 6:30 “As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?”
Geloof beskik nie oor krag opsigself nie, maar ware geloof se waarde of krag is gesetel in die objek/voorwerp waarin daardie geloof geplaas word. Ware geloof vereis dus waarheid/inhoud, as objek, waarin daardie geloof geplaas kan word. Daarom is Bybelse geloof altyd op feite gebaseer, en kyk ware geloof nooit na omstandighede nie, omrede ons omstandighede nie ‘n betroubare objek vir geloof uitmaak nie, want ons omstandighede kan van oomblik tot oomblik wissel en ons kan ook nie noodwendig beheer daaroor uitoefen nie. Bybelse geloof is dus ‘n vaste vertroue in ‘n betroubare voorwerp of objek, naamlik God, Sy Woord, Sy krag, Sy beloftes en handelswyses. Daarom vereis God geloof van die mens se kant af. Vertroue in God is niks anders as suiwer logika nie. Alles minder as geloof in God, is om Hom te beledig en as leuenaar uit te maak, want God is Wie Hy is en Hy kan nie lieg nie. Om hierdie rede is dit onmoontlik om God sonder geloof te behaag.
Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”
Die mees logiese keuse wat ‘n persoon ooit sal kan maak, is om op God te vertrou!

Onthou Wie jou Vader is:

Wanneer ons onsself in moeilike omstandighede bevind, en in versoeking kom om God te wantrou, is dit uiters belangrik dat ons, ons fokus op God en Sy attribute gefokus hou en die Bybel bestudeer, waardeur God Homself aan ons openbaar.
Rom 10:17 “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”
Dit is altyd raadsaam om in alle tye ‘n deeglike kennis van God se attribute, soos wat dit in die Bybel aan ons bekendgemaak is, te oordink en dit deel van ons gedagtegang te maak. Hierdie beginsel geld veral vir daardie tye wanneer bekommernis die oorhand oor ons wil kry. In sulke tye moet ons die Here se attribute herhaal en onsself herinner, dat God nie teenstrydig met Sy attribute sal wil optree, of kan optree nie. Soos wat ons onsself aan God se attribute herinner, sal dit ons help om te besef dat ons, as gelowiges, se ankers in die almagtige Rots, naamlik Jesus Christus, geanker is en dat ons veilig in Sy hande is.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin. 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”

Hiermee ‘n kort opsomming van God se attribute, soos wat ons dit in die Bybel weergegee word.
Die Drie-Enige God (God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees) se self bestaan. ( God is die absolute ongeskape Bron en Skepper van alles. Hyself beskik egter oor ‘n ewige bestaan en is dus nie geskape nie.)
God is eindeloos en onbeperk. (God is alwetend – Hy beskik oor onbeperkte kennis. God is almagtig – Hy beskik oor onbeperkte krag. God is alomteenwoordig – Hy beskik oor onbeperkte teenwoordigheid. Daar is dus nie ‘n plek waar God nie teenwoordig is nie of daar is niks wat Hy nie weet of sien nie.)
God is Gees (God is ‘n eindelose Gees)
God is onveranderlik (God is getrou – Hy is absoluut betroubaar. God is waarheid – Hy is absoluut eg, outentiek en geloofwaardig.)
God is Heilig (God is absoluut geregtig – Hy doen altyd wat reg is. God is absoluut eerlik – Hy is nooit partydig nie en is ook nie ‘n aannemer van die persoon nie.)
God is Liefde (God is absoluut goedertieren – Hy is altyd barmhartig en goedhartig. God is absoluut genadig – Hy is altyd vrygewig en vergewensgesind. Sy vrygewigheid en vergewensgesindheid verskaf altyd wat Sy heiligheid verrys.)

Daar is geen probleem te groot of te ingewikkeld vir God om op te los nie, want God is almagtig. Geen probleem kan God onkant betrap nie, want Hy is alwetend. Al voel die gelowige soms dat hy alleen in hierdie donker wêreld met al sy probleme is, kan hy verseker weet dat hy nooit werklik alleen is nie, want God is alomteenwoordig. Ja, God laat soms toetse en moeilike omstandighede in ons lewens toe, maar dit geskied altyd op grond van Sy liefde en wysheid, en ons sal dit eendag alles verstaan, wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee is. Kyk maar wat het Paulus alles deurgemaak, maar dink net wat sy loon eendag gaan wees!
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. 12:10 Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.
2Ti 3:11 vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Antiochíë, in Ikónium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos. 3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”
Ons moet altyd poog om na die lewe vanuit God se perspektief te kyk en nie vanuit ons beperkte perspektief nie. Dan sal ons Hom juis eendag dank vir dit wat Hy in ons lewens toegelaat het en wat ons nie noodwendig nou as aangenaam kan bestempel nie. Daarom is dit uiters belangrik, dat ons onthou Wie ons Hemelse Vader is, en kennis van Sy attribute dra. Gewapen met die kennis van Sy attribute kan ons nou God se woord lees en die beloftes daarin, wat spesifiek aan ons gerig is, ons eie maak. God sal nooit Sy woord breek nie. Hy sal nooit wil nie, en Hy sal ook nooit kan nie, want dan kan Hy nie meer God wees nie. Iets wat onmoontlik is! Die wete Wie ons Hemelse Vader is, behoort onnodige bekommernis uit ons lewens te verban. Bekommernis in ons lewe kan ‘n indikasie wees, dat ons nie genoegsame kennis oor God en Sy weë beskik nie. Mens kan net iemand werklik vertrou, indien ons daardie persoon werklik ken, en dit geld ook vir ons verhouding met God.
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

Ongelowiges ken God nie, en daarom word hulle deur ‘n oordrewe vrees aangejaag om ‘n neseier vir die toekoms voor te berei. Hulle glo immers nie in ‘n God wat aan hulle behoeftes sal voorsien nie. As God se kinders, moet ons besef dat die najaag van materiële besittings nie al is waaroor die lewe gaan nie. Die lewe is baie meer as die onsinnige najaag van materiële besittings! Gelowiges behoort nie onnodig oor die dag van more bekommerd te wees nie, ons het mos ‘n hemelse Vader wat weet wat ons nodig het om in hierdie wêreld te oorleef. Hy is immers die Skepper van alles en dit sluit ons in! Indien ons die bymekaarmaak van materiële besitting die hoof prioriteit in ons lewe maak, en daardeur God van Sy regmatige posisie in ons lewe beroof, is ons met afgodery besig. Hoeveel keer het mense nie al, ten koste van hulle verhouding met God, geld en besittings vir die toekoms opgegaar nie, net om te sien hoe die markte in duie stort of dat dit wat hulle voor gewerk het soos mis voor die wind verdwyn. Daar kan vandag ‘n ramp plaasvind en ons kan alles verloor! Maar met God aan ons kant, kan ons verseker weet, dat Hy aan ons nodige behoeftes sal voorsien. Ons hoef ons self nie oor die dag van môre dood te bekommer nie. In ons poging om vir alle onvoorsiene gebeure voorsiening te tref, ontstaan die gevaar, dat ons al ons kragte aan die opgaar van aardse besittings spandeer, wat daartoe sal lei dat ons God van Sy regmatige diens aan Hom beroof. Sodoende bestaan die gevaar dat ons die werklike rede en doel vir ons aardse bestaan heeltemal sal misloop. Ons moet die ewigheid in gedagte hou en nie net ons tydelike bestaan in hierdie wêreld nie. Daar is niks mee verkeerd om geld te spaar nie, maar as dit al is waarom ons lewe draai, dan beteken dit dat ons, wat na God se beeld geskape is, slegs vir hierdie tydelike wêreld leef, instede daarvan om met ‘n Goddelike perspektief, wat die ewigheid in gedagte hou, leef. Indien ons ons prioriteite in orde kry, kan ons verseker weet dat God na ons behoeftes sal omsien.

Onthou watse prioriteite eerste in ons lewens moet wees:

Mat 6:33 “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Indien ons seker maak dat ons prioriteite inlyn met God se wil is, dan kan ons verseker wees dat God al ons noodsaaklike behoeftes sal voorsien. God het ‘n doel met elkeen van ons se lewens, en indien ons in Sy wil optree, sal Hy altyd seker maak dat ons oor alle middele beskik wat nodig is om Sy wil, in en deur ons op hierdie aarde, te bewerkstellig. In bostaande teksgedeelte sien ons dat die Here aan Sy kinders die belofte maak, dat indien hulle Hom en Sy belange eerste in hulle lewens stel, Hy seker sal maak dat hulle nooit, aan die noodsaaklikhede van hierdie lewe, gebrek sal lei  nie. Die befaamde, sendeling Hudson Taylor het ‘n stelling gemaak wat ons almal deel van ons Christelike lewes behoort te maak, naamlik “God’s work done in God’s way will never lack God’s supplies.” (Leslie T. Lyall. A Passion for the Impossible: The Continuing Story of the Mission Hudson Taylor Began. London: OMF Books, 1965, 37).

Dit is ook nogal gereeld bewys, dat mense wat hulle eie belange ten koste van God se wil en Sy belange najaag, op die einde van die dag nie bereik, wat hulle gehoop het om te bereik nie, en boonop kom hulle dan te laat agter dat hulle in werklikheid ‘n vermorste lewe gelei het. Die gevaar bestaan altyd dat die persoon alles verloor, wat hy met soveel moeite bymekaar gemaak het. Daarom is dit belangrik om God se wil vir ons lewens vas te stel en dan daarvolgens, in die krag van die Heilige Gees, op te tree. Maar indien ons die Here as getroue dissipels navolg en Sy wil eerste in ons lewens plaas, dan is ons God se verantwoordelikheid en hoef ons nie met bekommernis in ons harte rond te gaan nie. Hudson Taylor het ook, in die verloop van sy jarelange diens aan God, tot hierdie besef gekom. Ek haal hom nogmaals aan: “All at once came the thought – If you are simply obeying the LORD, all the responsibility will rest on Him, not on you! What a relief!! Well, I cried to God – You shall be responsible for them, and for me too!” (A.J. Broomhall. Hudson Taylor and China’s Open Century, Book Three: If I Had a Thousand Lives. London: Hodder and Stoughton and Overseas Missionary Fellowship, 1982, 454). Bekommernis los nie probleme op nie, maar gehoorsaamheid aan God, sal altyd in God se tyd, ryklik beloon word.

In Lukas 10: 41-42 sien ons dat Martha oor baie dinge besorg was en by die Here gekla het.
Luk 10:39 “En sy het ‘n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. 10:40 Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help. 10:41 Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; 10:42 maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.”
Indien die gelowige oor die Here en Sy wil besorg is, dan het hy nie nodig om oor ander dinge bekommerd te wees nie. Die enigste bekommernis wat ons moet hê, is om God se wil te doen en op die een of ander wyse met die verkondiging van die Evangelie betrokke te wees. Al is dit net deur die bydraes (fisies en finansieel) wat ons maak. Indien ons God se koninkryk en Sy geregtigheid soek, sal die Here in al ons behoeftes voorsien. Het Hy nie self so gesê nie? Om vry van bekommernis te wees, beteken dat ons besorgd moet wees om God vandag te behaag. Om God te behaag behoort die gelowige se grootste bekommernis in hierdie lewe te wees.
2Ko 5:9 “Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees.”

Leef een dag op ‘n slag:

Mat 6:34 “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”
In bostaande teksgedeelte stel die Here dit duidelik dat ons onsself nie oor die dag van môre moet bekommer nie. Die dag van môre het sy eie probleme. Bekommernis kan as besorgdheid en angstigheid oor die toekoms omskryf word. Baie keer bekommer ons, ons oor wat moontlik môre kan gebeur, maar in werklikheid weet ons nie wat môre voorlê of wat môre kan gebeur nie.
Jak 4:13 “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak 4:14 julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.”
Wie weet wat more gaan gebeur?
Spr 27:1 “Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.”
Ons mag dalk nie weet wat die toekoms inhou nie, maar God weet. Vandag se probleme is genoeg vir vandag. Dit is onwys om môre se probleme deel van vandag se probleme te wil maak. Spring weg en spreek vandag se probleme aan en los môre se probleme vir môre. Die Here gee net aan ons genoeg krag om vandag se probleme aan te spreek. Ons moet nie poog om môre se probleme vandag aan te spreek nie. Indien ons môre se bekommernis by vandag se probleme voeg, maak ons dit net vir onsself moeiliker om vandag se probleme op te los. Ons moet al ons krag vandag inspan om vandag se probleme op te los en môre se probleme vir môre los. Indien ons hard werk om vandag se probleme op te los, sal ons nie tyd hê om oor môre se probleme te bekommer nie!

Ter Afsluiting:

Om sorgvry te wees beteken nie dat die gelowige sorgloos moet wees nie. Daar is ‘n verskil. Die Bybel stel dit duidelik, dat ons nie sorgloos of nalatig moet lewe nie.
Efs 5:15 “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; 5:16 en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. 5:17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.
Jak 1:5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”
Ons moet oor niks bekommer wees nie, maar oor alles bid. Ons kan in enige situasie of belewenis ons versoeke aan God rig, omrede Hy die enigste Persoon is wat werklik ons probleme kan oplos. Indien ons moeilike omstandighede beleef, moet ons die Here vra om ons deur daardie situasies te lei en te help. God mag nooit ons laaste opsie wees nie! Hy behoort die eerste Persoon te wees, wat van ons bekommernis hoor. Ons kan altyd met sekerheid weet, dat as ons na ons hemelse Vader bid, Hy ons sal aanhoor, omrede Hy deeglik kennis van ons omstandighede dra
Psa 121:2 “My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.”

Indien ons na iemand anders, as God, vir die oplossing van ons probleme gaan kyk, gaan ons in die moeilikheid beland. Slegs God is almagtig, en slegs Hy kan op die ou einde van die dag ons situasie verander of ons probleem oplos. In Mat 14:30-32. sien ons hoe Petrus op water kon loop, terwyl hy sy fokus op Christus gehou het, maar toe hy sy fokus van Christus afhaal en na die onstuimige see kyk, het hy begin sink. Die Christelike lewe is ‘n lewe van geloof. Indien ons ons fokus van Christus afneem en op ons probleme begin fokus, gaan ons ook sink.

Die Bybel beveel ons, om al ons bekommernis op die Here Jesus Christus te werp. Dit is Sy opdrag aan ons, nie ‘n voorstel nie.
1Pe 5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Die woord werp is ‘n sinoniem vir gooi en daarom moet ons al ons bekommernis op Christus gooi. Hy is ons Verlosser en Vriend en sal ons bekommernis op Homself neem, sodat ons nie daaroor bekommerd hoef te wees nie. Ons moet egter verstaan, dat God nie namens ons bekommerd gaan wees nie, want God bekommer Hom oor niks nie, want Hy weet dat Hy almagtig is, en dat geen probleem vir Hom te groot of te ingewikkeld is om op te los nie. Indien ons, ons bekommernis om Hom werp, het ons nie rede om bekommerd te wees nie. Ons moet toelaat dat die Here ons laste dra, want Hy wil dit graag doen.
Psa 55:22 “Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”
Indien ons egter self ons laste wil dra, gaan dit te swaar vir ons raak en kan ons maklik onder die gewig daarvan tot struikeling kom.

En onthou: “Hoekom vrees en bekommernis in ons harte toelaat as ons kan bid?”
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 4:7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
Ons moet ons versoeke aan ons hemelse Vader rig! Nog voordat ons kan vra, weet Hy alreeds wat ons nodig het.
Mat 6:7 “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. 6:8 Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra”.

Dit is belangrik dat ons geloof-rus in ons Christelike lewens toepas. Geloof-rus beteken dat ons God en Sy beloftes, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, ken en dit in ons lewens van toepassing maak. Dus moet ons God en Sy beloftes deel van ons lewens maak. Geloof-rus is nie passiwiteit of luiheid nie. Ons verander wat ons kan en die res, wat ons nie kan verander nie, los ons in God se hande. Geloof-rus is nooit stagnant of stilstaande nie. Bybelse geloof is altyd, aktief in die teenswoordige nou besig, daarom lê die Bybel altyd die klem op vandag.
Heb 3:7 “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, 3:8 verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie,”
Die implikasie is dat daar altyd iets sal wees waarvoor die gelowige God sal moet vertrou, of in Hom sal moet rus. En onthou, alles wat nie uit die geloof is nie is sonde! (Rom 14:23)

Indien die Gelowige die verskillende afdelings, soos wat dit in hierdie artikel uiteengesit is, naamlik onnodige bekommernis is sonde; dit is ‘n kwessie van geloof; onthou Wie jou Vader is; onthou watse prioriteite eerste in jou lewe moet wees en leef een dag op ‘n slag, onthou en in sy lewe van toepassing maak, sal dit verhoed dat hy onnodiglik bekommernis in sy hart sal ronddra, wat slegs negatiewe gevolge kan voortbring. Die Here wil egter nie hê dat Sy kinders met bekommernis in hulle harte rondloop nie. Bekommernis en vrees los geen probleme op nie. Bekommernis lei altyd tot meer bekommernis en vrees tot meer vrees. Die Here wil egter hê dat die gelowige, deur geloof in die Here Jesus Christus, tot geestelike volwassenheid moet groei en vrees en bekommernis hinder egter hierdie groei proses. Bedink God se attribute, met die wete dat Hy nooit ten koste van een van Sy attribute sal optree nie, en rig dan jou lewe volgens hierdie waarheid in. Maak bekommernis deel van jou verlede en moenie vrees nie! God is met jou.
Mat 28:20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.