Gelykenis van die Ponde

Gelykenis van die Ponde

Die gelykenis van die ponde is soortgelyk aan die gelykenis van die talente. Indien ons hierdie twee gelykenisse met mekaar vergelyk, dan sal ons opmerk, dat daar sekere dinge in gemeen is, asook sekere opmerklike verskille. Dus, is dit baie duidelik dat die Here Jesus twee verskillende gelykenisse hier vertel het, waardeur Hy sekere punte duidelik van mekaar wou onderskei. Die leser word aangeraai om die gelykenis van die talente ook weer te lees. Deur die verskille in die twee gelykenisse te bestudeer, sal die gelowige se kennis aansienlik verbreed word en sal die gelowige ‘n beter idee kry van wat God van hom verlang.

Die belangrikste opmerklike verskille tussen die twee gelykenisse, is die feit dat die gelykenis van die ponde handel oor beloning wat die diensknegte op grond van gelyke vermoëns en geleenthede ontvang. Die gelykenis van die talente (Mat 25:14-30) handel oor loon wat die diensknegte op grond van oneweredige gawes en geleenthede ontvang. Die les wat ons uit hierdie feite kan leer is, dat met Christus se Wederkoms, beloning volgens kwantitatiewe asook kwalitatiewe kriteria toegeken gaan word.

Die Here sal by hierdie geleentheid, beide die gelowiges se geleenthede asook verskillende gawes om vir Hom te kan werk, asook die gelowige se werke self volkome in ag neem, alvorens beloning toegeken gaan word.
Opn 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
In die gelykenis van die ponde lees ons dat die Heer na ‘n ver land gaan. (Luk 19:12) In die gelykenis van die talente gee die Here nog verdere aanvullende inligting, deur dit duidelik te stel dat die Heer eers na ‘n lang tydperk terug sal keer. (Mat 25:19)

Hiervolgens ‘n kort agtergrond, dan sal ons hierdie gelykenis mooi in konteks kan verstaan. Die Here Jesus Christus is op pad Jerusalem toe, met die wete dat Hy daar deur die volk Israel verwerp en gekruisig sal word, en daarmee saam sal Hy met Sy eie bloed versoening vir die mensdom se sondes maak.
Efs 1:7 “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,”
Jesus se volgelinge besef nog nie mooi, dat die Here gaan om gekruisig te word, en nie om Sy Vrederyk nou al op aarde te vestig nie. Daarom koester hulle nog steeds die verwagting dat Hy nou Sy koninkryk gaan oprig. Hulle het nie mooi verstaan dat Hy eers sal moet ly, en daarna vir ‘n tydperk van hulle geskei sal wees, vanwaar Hy in die Hemel as hulle hoëpriester by God sal optree en dan eers, wanneer die tyd daarvoor reg is, terug aarde toe sal kom, vanwaar Hy as Koning sal regeer. Hulle het kennis gedra van wat die profete soos Daniël in Daniël 7:14 geprofeteer het.
Dan 7:14 “En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
Hulle het hierdie profesieë reg verstaan, maar hulle tydsberekening was verkeerd en daarom het die Here hierdie gelykenis vertel, sodat hulle sou verstaan wat eers moet gebeur. Gewapen met hierdie agtergrond kennis, kan ons nou na die gelykenis van die ponde gaan en dit bestudeer.

Luk 19:11 “En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ‘n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn.”
Opmerking: Dit is baie duidelik, dat Jesus se volgelinge nie kon verstaan waarom die politieke sege van Sy Messiaanse koninkryk nie onmiddellik sou plaasvind nie. Hulle het dus verwag dat Hy binne kort Sy koninkryk op aarde sou vestig. Die Here vertel hulle toe die gelykenis van die ponde, om aan hulle te verduidelik dat daar ‘n interval tussen Sy eerste koms en Sy Wederkoms sal wees, waartydens Sy dissipels met Sy belange besig moet wees.

Luk 19:12 “Hy het dan gesê: ‘n Man van hoë geboorte het na ‘n ver land gereis om vir homself ‘n koningskap te ontvang en dan terug te kom.”
Opmerking: Die man van hoë geboorte, verteenwoordig Jesus Christus, wat na Sy kruisiging na die hemel sou opvaar, waar Hy sou wag totdat die tyd sou aanbreek om Sy koninkryk op aarde te kom vestig. Dus verteenwoordig die ver land waarvan die Here hier praat die Hemel, vanwaar Jesus met Sy wederkoms aarde toe sal kom.

Die gelykenis van die ponde sluit dus die tydperk van Jesus Christus se eerste koms, wat die verwerping deur die Joodse volk insluit, in en sluit verder die tydperk tussen Sy Hemelvaart en tot en met Sy Wederkoms in. Hierdie tydperk sluit die Kerk dispensasie asook die sewe jaar verdrukking in, waartydens die Here fisies afwesig sou wees. Met Sy Wederkoms, na afloop van die Groot Verdrukking, sal Hy weer aarde toe kom en Sy koninkryk op aarde te vestig en waartydens Hy ook Sy getroue diensknegte sal beloon vir die werke wat hulle gedoen het. (Ps 2 Op 22:12)

Luk 19:13 “En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom.”
Opmerking: Die tien diensknegte verteenwoordig die totale getal van al Jesus Christus se diensknegte wat tydens die tydperk tussen Sy twee komste sal leef. Dit sluit dus al die gelowiges, wat tydens die Kerk dispensasie, asook al die gelowiges wat met die afsluiting van die Kerk dispensasie, asook diegene wat tydens die verdrukking, na afloop van die wegraping tot geloof in Christus kom, in.

‘n Pond was omtrent 100 Denarii, wat omtrent gelykstaande aan drie maande se salaris was. Net soos in die gelykenis van die talente, verteenwoordig die geld God se woord, wat die Evangelie insluit, aan ons en verwag Hy, dat ons met die verspreiding daarvan besig moet wees. In die gelykenis van die talente sien ons dat die talente volgens die vermoëns en gawes van die gelowiges uitgedeel is. (Mat 25:15) In die gelykenis van die ponde, merk ons egter dat die ponde nie volgens die persone se vermoëns en begaafdheid uitgedeel is nie, maar dieselfde hoeveelheid geld word aan al die diensknegte eweredig gegee, naamlik een pond elk. Alhoewel God se diensknegte in vermoëns en begaafdheid mag verskil, (die gelykenis van die talente. Mat 25:14-30) beskik ons almal egter oor sekere gawes wat ons almal in gemeen het, soos bv die woord van God, die voorreg om die Evangelie met ander te deel, om Christus voor die mensdom te verteenwoordig, deur om heilig te lewe, en Hom daardeur te verheerlik en die gawe van gebed ens.

Jesus Christus se opdrag om handel te dryf, beteken nie dat ons onsself uit die verkondiging van die Evangelie moet verryk, soos wat sommige mense op televisie doen nie, maar dit beteken dat ons, op die een of ander wyse, met die verkondiging van die Evangelie besig moet wees. (Lees asb die artikel “persoonlike Evangelisasie en “Gelowiges se werke gaan beoordeel word“). Ons doel moet wees, om so veel as moontlik mense uit die mag van die bose verlos te kry, deurdat hulle tot geloof in Jesus Christus kom. Indien ons die Bybel by onsself bestudeer, sal ons opmerk dat ons kennis van God se woord aan ons verdiep, en sal dit voorkom dat ons verlei kan word en ook dalk ander mense kan verlei. Indien ons toepas wat ons daarin leer, sal die Here Homself tot ‘n groter mater aan ons openbaar.

Luk 19:14 “Maar sy medeburgers het hom gehaat en ‘n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.”
Opmerking: Die medeburgers verteenwoordig die Joodse volk as geheel (uitsluitende die klein minderheid wat wel gelowig was) en sluit die leierskap van die volk, wat in die stad Jerusalem gesetel was, ook in, wat Jesus Christus as die Messias verwerp het. Dus het die volk Israel as geheel Jesus Christus se heerskappy oor hulle verwerp, net soos wat die meeste mense vandag doen.

Die gesantskap wat hulle agter die Heer aangestuur het, verteenwoordig die vyandige optrede van die meerderheid Jode teenoor Jesus Christus se volgelinge, nadat Jesus opgevaar het hemel toe. Hierdie vervolging het ook op die dood van die eerste Christen martelaar, naamlik Stéfanus uitgeloop. In ‘n groot mate verteenwoordig die gesantskap ook al die mense wat die Evangelie, in die tydperk tussen Jesus Christus se twee komste, verwerp.

Luk 19:15 “En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het.”
Opmerking: Die Heer se terugkoms verteenwoordig Jesus Christus se Wederkoms aarde toe, wanneer Hy kom om Sy koninkryk op aarde te vestig. Jesus sal dan fisies, vanaf koning Dawid se troon, die aarde regeer. (Ps 2; Ps 110) Soos reeds genoem, vind hierdie gebeure eers na die afloop van die Groot Verdrukking plaas. Dan sal Jesus Christus alle gelowiges, wat gedurende die verdrukking, tot geloof in Hom gekom het beoordeel oor wat hulle met Sy woord gedoen het en hulle dan beloon volgens hulle werke. (onthou ons word gered deur geloof alleen in Jesus Christus alleen, sonder enige werke, maar ons gaan beoordeel word en beloon word vir werke wat ons na wedergeboorte gedoen het.)

Daar moet ook net verder daarop gelet word, dat die gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof in Christus kom, nie deur die verdrukking sal hoef te gaan nie. Hulle sal egter, voor die aanvang van die verdrukking, met die wegraping deur Jesus Christus Hemel toe geneem word, waar hulle voor die Regter Stoel Oordeel van Christus sal moet verduidelik wat hulle met hulle lewens na wedergeboorte gedoen het. Die oordeel wat in Lukas 19:15 bespreek word, is hoofsaaklik die oordeel van Joodse gelowiges sowel as gelowiges van al die ander nasies wat tot geloof gekom het, nadat die die Kerk met die wegraping uit die wêreld geneem is. Die kriteria wat vir die berekening van loon gebruik gaan word, geld egter vir al die gelowiges van alle tye.

Luk 19:16 “En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak.”
Opmerking: Uit bostaande teksgedeelte kan mens waarneem, dat die diensknegte se beoordeling in trappe volgens hulle betroubaarheid plaasvind, en word die dienskneg wat tien ponde wins gemaak het, eerste beoordeel en beloon. Die gelykenis beskryf egter net drie van die diensknegte se evaluering, elkeen simbolies van hoë aanprysing, slegs aanprysing en geen aanprysing onderskeidelik. Omdat die syfer 10 in die Bybel as die somtotaal van volledigheid verteenwoordig, verteenwoordig die tien ponde wins, wat die eerste dienskneg gemaak het, die volkome of volledige mate van wins wat enige gelowige in sy diens aan God kan lewer. Hierdie dienskneg het dus besef, dat alles wat hy besit op die einde van die dag nie aan homself behoort het nie, maar dat dit die eiendom van sy Heer was en dat hy slegs ‘n rentmeesterskap opgelê is. Daarom wend hy alles wat hy ontvang het in die diens van sy Heer aan. Omrede hy al sy gawes tot hulle volkome potensiaal aangewend het, maak hierdie getroue dienskneg tien ponde wins!

Luk 19:17 “En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede.”
Opmerking: Slegs die dienskneg wat tien ponde wins gemaak het, ontvang die aanprysing van: “Mooi so, goeie dienskneg”. Benewens die feit dat die goeie dienskneg deur die Here aangeprys word, word daar ook aan hom ‘n gesagsposisie in die koninkryk van die Here toegeken. Die heerskappy oor tien stede, verteenwoordig die volle mate van gesag wat ‘n gelowige a.g.v getroue diens kan ontvang en daarom behoort dit alle gelowiges se doel op aarde te wees om hierdie doel te bereik! Onthou die Here se waarskuwing!
Luk 16:10 “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig. 16:11 As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? 16:12 En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?”
Dink mooi hieroor na! (Lees asb die artikel “Wat is die Ewige Lewe?”)

Ons ontvang dus die ewige lewe slegs op grond van genade alleen, deur geloof in Jesus Christus alleen, sonder enige werke.
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Ons moet egter baie mooi verstaan, dat ons op die goeie werke wat ons na wedergeboorte doen beoordeel gaan word, en volgens hierdie goeie werke gaan ons beloon word. Daarom vorm goeie werke so ‘n belangrike rol na wedergeboorte in die gelowige se lewe !
Efs 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Ons moet egter waak teen die tendens om goeie werke as deel van die Evangelie te wil maak. Indien ons enige werke by die Evangelie voeg, as vereiste vir wedergeboorte, verander ons die Evangelie en skep ons ‘n valse evangelie, wat niemand sal red nie.

Ons goeie werke gaan bepaal hoe groot ons loon gaan wees en met watter gesagsposisies ons in Christus se koninkryk beloon gaan word en gaan nie bepaal of ons gered is of nie.
Opn 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
Die arm straatwerker wat vandag op neergekyk word, kan moontlik met ‘n belangrike gesagsposisie beloon word, en die gelowiges wat op hom neergekyk het, en wat in hulle weelde sonder kommer voort geleef het, sal aan hom onderdanig wees. Wie jou vandag dien, kan moontlik in die ewigheid jou heerser wees!!
Mar 10:31 “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.”

Luk 19:18 “En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien.”
Opmerking: Getrou aan sy eie posisie van getrouheid, naamlik die tweede posisie, rapporteer die tweede dienskneg, dat hy vyf ponde minder wins gemaak het as die eerste dienskneg. Die vyf ponde wins reflekteer ‘n afname in die vlak van getrouheid en toewyding van die tweede dienskneg teenoor sy Heer. Hy toon presies die helfte minder wins as die eerste dienskneg, alhoewel al die diensknegte met dieselfde hoeveelheid ponde begin het.

Luk 19:19 “En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede.”
Opmerking: Die Meester beloon die tweede dienskneg egter ook deur om hom oor vyf stede aan te stel. Die beloning wat toegeken word, word bepaal deur die mate van getrouheid wat die tweede dienskneg aan die dag gelê het. Daar skort egter iets! Die tweede dienskneg ontvang egter nie die Heer se aanprysing van:” Mooi so, goeie dienskneg” nie! Daar is dus ‘n opmerklike verskil i.v.m wat die eerste en tweede diensknegte hoor. Dit is iets vir alle gelowiges om oor na te dink!

Luk 19:20 “En ‘n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in ‘n doek weggesit het;”
Opmerking: Die laaste dienskneg maak dan sy verskyning voor sy Heer. Sy reaksie, op sy Heer se versoek, om rekenskap te gee oor wat hy met sy pond gemaak het, is egter heeltemal verskillend as die van die ander diensknegte. Met die woorde:” Hier is U pond” erken die laste dienskneg, dat die pond op die einde van die dag in werklikheid aan sy Heer behoort het, maar hy het egter niks met die pond gedoen nie, behalwe om dit in ‘n doek weg te sit. Is dit nie wat baie van ons met God se woord doen nie?

Luk 19:21 “want ek was bang vir u, omdat u ‘n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie.”
Opmerking: Die verskoning wat die laaste dienskneg aan sy Heer aanbied, demonstreer sy onopregtheid. Indien die dienskneg werklik die stelling wat hy oor sy Heer gemaak het , geglo het, sou dit hom aangespoor het om wel met die pond van sy Heer handel te dryf, met die wete dat daar van hom verantwoording vereis gaan word. Sy ingesteldheid om nie sy Heer se wil te gehoorsaam nie, demonstreer die feit dat hy nie werklik geglo het dat sy Heer sou terugkom nie. Daarom het hy ‘n traak-my-nie-agtige houding ingeneem en niks met die pond gedoen nie. (Daar is baie sulke gelowiges in die wêreld van vandag!)

Luk 19:21 “want ek was bang vir u, omdat u ‘n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie.”
Opmerking: Die dienskneg se eie verduideliking dien as basis waarop hy ‘n negatiewe evaluering ontvang. Soos reeds genoem, indien hy werklik geglo het dat sy Meester: “n strawwe man is U neem weg wat U nie uitgesit het nie, en maai wat U nie gesaai het nie” sou hierdie feite die dienskneg juis aangemoedig het om getrou sy pond in diens van sy Heer aan te wend. Die omskrywing van die dienskneg as:” ‘n slegte dienskneg” verwys geensins na die dienskneg as ‘n ongelowige/ongeredde persoon nie, maar dit verwys na sy ontrouheid in die hantering van sy Meester se pond in belang van die Heer se sake. Hierdie dienskneg kwalifiseer nog steeds as ‘n dienskneg, wat saam met die ander diensknegte evalueer word. Die negatiewe evaluering wat hy ontvang, beteken dat hy nie ‘n heersers posisie in Christus se duisendjarige vrederyk sal ontvang nie. Hierdie feit is duidelik opmerklik indien ons ingedagte hou dat die Heer eers later in vers 27 met Sy vyande afreken deur hulle te dood.

Daar moet net gelet word, dat die Heer nie met die beskrywing van Homself deur die slegte dienaar saamstem nie. Die negatiewe stellings wat deur die dienskneg oor sy Heer gemaak is, reflekteer net dood eenvoudig die boosheid van die dienskneg se eie hart en daarom het hy gepoog om sy Meester vir sy eie luiheid en slegtigheid te blameer.

Luk 19:23 “Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het.”
Opmerking: Dit wil voorkom asof die Meester die slegte dienskneg se besluitneming bevraagteken, omrede die pond en alle winste wat deur die korrekte aanwending daarvan gemaak kon word, op die einde van die dag aan die Meester behoort het. Dit wil ook verder voorkom asof hierdie teksgedeelte gelowiges aanraai om hulle gawes, waaroor hulle die rentmeesterskap opgelê is, aan ander betroubare gelowiges oor te dra, indien hulle nie hulle gawes voordelig vir die Here se doelstellings kan aanwend nie. Hierdie persone moet dan hierdie gawes namens die gelowige vir die Here se belange aanwend en sodoende kan die Meester se geld rente versamel, en sal die gelowiges ten minste nie verloor wat hulle het nie en moontlik nog beloning ook ontvang.

Luk 19:24 “En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het”
Opsomming: Met Sy Wederkoms, beveel die Heer vir diegene wat daar naby staan (‘n moontlike verwysing na engele) om die pond by die slegte dienskneg weg te neem en dit aan die getroue dienskneg wat tien ponde het, te oorhandig. Die ontroue dienskneg moes liefs sy pond aan ‘n bediening oorhandig het, wat dit namens hom in God se belange sou aanwend. Indien hy dit sou gedoen het, sou hy minstens wins op sy pond getoon het, en dan sou hy ten minste nie die pond wat hy gehad het verloor het nie. Omrede hy egter nie sy Heer se woorde ernstig opgeneem het nie, sal hy nou verloor wat hy nie gebruik het nie. Dit wat hy gedink het dat hy het, word by hom weggeneem en aan die getroue dienskneg wat tien ponde wins gemaak het gegee.

Luk 19:25 “en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde”
Opmerking: Nadat die Meester hierdie uitspraak gemaak het, wil dit voorkom asof diegene wat daar staan verbaas is, omdat die pond van die slegte dienskneg, aan die dienskneg wat alreeds tien pond het, gegee word wat alreeds oor tien stede sou heers. Omdat ons weet dat die Here altyd regverdig is, moet dit ons nie verbaas indien die Here so ‘n opdrag uitgevaardig nie. Ons moet onthou, dat al die diensknegte oorspronklik met dieselfde hoeveelheid ponde begin het, en is dit net logies dat die getroue dienskneg met meer eer en verantwoordelikheid in Jesus Christus se koninkryk beloon sal word.

Luk 19:26 “want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.”
Opmerking: Met hierdie uitspraak, gee die Here ons ‘n leidraad van hoedanige beginsel Hy van gebruik gaan maak, wanneer Hy Sy diensknegte gaan beoordeel. Diegene wat het, naamlik die oorspronklike belegging wat Jesus Christus aan die diensknegte gegee het, plus die wins wat daarop gemaak word, sal beloon word. Diegene wat dus het sal meer ontvang. Diegene wat dink dat hulle die pond wat hulle ontvang het sal kan behou indien hulle niks daarmee doen nie, sal daardie pond verloor en dit sal aan ‘n ander gegee word wat getrou Jesus Christus se opdragte uitgevoer het. Dit wil verder voorkom asof die slegte dienskneg wel in die koninkryk van Jesus Christus sal ingaan, maar hy sal nie saam met die Here regeer nie. Hy het sy geleentheid vir hierdie voorreg op aarde verbrou!

Luk 19:27 “Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood.”
Opmerking: Nadat die Meester Sy diensknegte geëvalueer en beloon het, (gelowiges) vestig Hy nou Sy aandag op Sy vyande, wat Hom nie as Koning en Messias oor hulle wou aanvaar nie. Dus het hulle Hom verwerp. Onthou die gelowiges word beoordeel en beloon met heersers posisies in die duisendjarige vrederyk van Christus, wanner Hy fisies op aarde gaan regeer. Die diensknegte waarvan die gelykenis van praat is almal gelowiges en dus wedergebore en is daar geen sprake dat enige van hulle verlore sal gaan nie. Dit sluit die slegte dienskneg ook in. Die slegte dienskneg gaan egter verlies ly. In hierdie geval is dit die eer om saam met Christus te regeer. (sien verse 19-26)

Die Meester spreek dan Sy vyande aan en hulle word gedood. Dit dien as bewys dat hulle nooit wedergebore was nie, en verteenwoordig alle mense wat God se genadegawe van die ewige lewe in Sy Seun verwerp. (die Evangelie) Die tydperk wat in hierdie gelykenis bespreek word, is die tydperk tussen Jesus Christus se eerste koms en Sy Wederkoms en sluit die Kerk dispensasie, sowel as die tydperk van die verdrukking in. Die beoordeling wat hoofsaaklik in die gelykenis van die ponde op gefokus word, is die oordeel wat met Jesus Christus se Wederkoms aarde toe plaasvind, en is die wegraping van die Kerk nie hier die fokus nie, omrede die wegraping alreeds meer as sewe jaar tevore plaasgevind het. ( 1Thess 4:16-18; Johannes 14:3; 2 Thess 2:6-8 ens) Met Sy wederkoms keer die Kerk saam met Christus terug aarde toe, maar hulle sou alreeds op die selfde wyse as die gelowiges wat die Groot Verdrukking oorleef het, beoordeel gewees het.

Luk 19:28 “En toe Hy dit gesê het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem.”
Opmerking: In vers 28 sien ons dat Jesus Christus na die vertel van hierdie gelykenis doelgerig na Jerusalem gaan waar Hy Sy vyande asook die kruis sou ontmoet, en wat sou verseker dat die stad Jerusalem se lot verseël was toe die stad in 70nC verwoes was omrede die volk hulle eie Messias en Koning verwerp het.

Ter Afsluiting: Indien ons na die teksgedeeltes voor die gelykenis van die ponde gaan kyk, sal ons agterkom watter soort gesindheid die Here van Sy volgelinge verwag. Hulle behoort so dankbaar, soos die melaatse man wat van sy siekte genees is, te wees. Ons almal is besmet met die siekte van sonde, en die Here het ons genees deur om aan die kruis met Sy bloed vir ons sondes te betaal. (Luk 17:11-19) Ons moet ook aanhoudend bid en nooit moed opgee nie. (Luk 18:1-8) Ons moet soos kindertjies na Jesus gaan. (Luk 18:15-17) Ons moet verder soos die blinde man wees, wat ons oë op Christus gefokus hou en ons nie steur aan wat mense mag sê nie. (Luk 18:35-43) Laastens, moet ons soos Saggéüs wees en volkome tot inkeer kom, omdat ons weet dat Jesus Christus ons gered het. (19:1-10). Ons moet egter nie soos die ryk jongman wees, wat Sy rug op die Here gedraai het, omdat hy liewer vir sy rykdom was nie. (Luk 18:18-25)

Die gelykenis van die ponde is dus ‘n opsomming van alles wat die Here Sy dissipels in die vooraf gedeeltes geleer het. Elke dissipel het opdragte wat hulle moet uitvoer en daar word van hulle verwag dat hulle daardie opdragte getrou uitvoer. Dit moet ook verder ingedagte gehou word, dat hierdie gelykenis hoofsaaklik aan Israel as volk gerig was, om ook aan hulle te wys dat die nasie as geheel ook verantwoordelikhede gehad het, en as hulle nie na Jesus Christus bekeer nie, hulle gestraf sou word. Dit het toe ook so in 70nC gebeur, toe die stad Jerusalem, deur die Romeine, verower en verwoes is en die Jode na alle windrigtings verstrooi is. Ons as gelowiges sal baie wys wees, indien ons ook hierdie waarskuwing ernstig opneem en begin doen wat die Here ons beveel het om te doen. Onthou die Here is nie die aannemer van die persoon nie!
2Ko 9:6 “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.”

Seën groete!!

Vic

Deel met ander asb.