engele

Die Leerstelling van die Heilige Engele

Voordat ons met hierdie studie begin, moet net gelet word dat hierdie artikel hoofsaaklik oor heilige engele handel en nie oor bose geeste of gevalle engele nie. Indien dit die Here se wil is, sal ek ‘n aparte artikel, wat spesifiek oor bose geeste handel, skrywe. Die bestaan van engele word in minstens 34 boeke van die die Bybel bevestig en die term “engel en engele ” kom minstens 275 keer in die Bybel voor. Verder het die Here Jesus Christus self die bestaan van engele bevestig en het ook self oor hulle bestaan geleer.
Mat 18:10 “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.”

Slegs God beskik oor ‘n eie self bestaan en daarom is dit net logies dat engele ook geskape wesens is.
Joh 1:1 “In die begin was die Woord, (die Here Jesus Christus) en die Woord was by God, en die Woord was God. 1:2 Hy was in die begin by God. 1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, (die Here Jesus Christus as Skepper) en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Kol 1:16 want in Hom (die Here Jesus Christus) is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge (dit sluit die engele in) is deur Hom en tot Hom geskape. 1:17 En Hy is voor alle dinge, (God se ewige en Self bestaan) en in Hom hou alle dinge stand.”

Dit wil vanuit die Skrifte voorkom, dat die engele voor die skepping van die aarde geskape was, omrede hulle alreeds met die grondlegging van die aarde bestaan het.
Job 38:4 “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. 38:5 Wie het sy afmetinge bepaal? —jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? 38:6 Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? 38:7 Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God (engele) gejuig het?”
Boonop was alle engele in heiligheid geskape, en kon van hulle Godgegewe vrye wil gebruik maak om te kies, of hulle teen God wou rebelleer of Hom gehoorsaam wou dien.
Jud 1:6 “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;”

Die Bybel sê nie vir ons die presiese getal engele wat God geskape het nie, maar vanuit die Bybel blyk dit dat God ‘n groot getal engele geskape het. Sekere Bybel kommentators glo dat die engele ontelbaar is en hulle siening kan heel moontlik korrek wees.
Heb 12:22 “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele,
Opn 5:11 Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende;”
Hoe dit ook al sy, die Bybel stel dit baie duidelik, dat God groot getalle engele geskape het.
Mat 26:53 “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?”

Engele beskik oor persoonlikheid, en is dus persoonlike wesens, en daarom beskik hulle, net soos die mens, oor individuele persoonlikheid, en as sulks, beskik hulle oor hulle eie intellek en die vermoë om te kommunikeer.
1Pe 1:10 “Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, 1:11 en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. 1:12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien. (Net soos die mens wil engele ook sekere dinge ondersoek en verstaan)
Verder beskik engele oor emosie, wat ‘n essensiële eienskap vir enige wese is wat oor ‘n eiesoortige persoonlikheid beskik.
Luk 15:10 “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
Hulle is boonop hoogs intelligente wesens
2Sa 14:20 “Om die saak ‘n ander voorkoms te gee, het u dienaar Joab hierdie ding gedoen. Maar my heer is wys soos die wysheid van ‘n engel van God om alles te weet wat op die aarde gebeur.”
Engele beskik oor groter krag as die mens.
2Pe 2:11 “terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.”

Engele is geestelike wesens, maar hulle beskik soms oor die vermoeë om fisies in die vorm van ‘n menslike liggaam te verskyn of manifesteer.
Gén 19:1 “En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe
Joh 20:11 Maar Maria het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe 20:12 en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het.”
Indien daar in die Skrifte na engele verwys word, word daar gewoonlik na hulle in die manlike geslag verwys.
Gén 18:1 Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. 18:2 Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe.
Gén 19:1 En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe 19:2 en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag. 19:3 Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle ‘n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet. 19:4 Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. 19:5 En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.”
‘n Moontlike uitsondering op hierdie reël is Sag. 5:9
Sag 5:9 “Toe slaan ek my oë op en kyk—daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van ‘n groot sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel.”
Ek persoonlik, is nie daarvan oortuig, dat die vroue waarna in bostaande teksgedeelte verwys word, heilige engele is nie.

Alhoewel alle engele op ‘n gegewe punt in tyd deur God geskape is, is hulle egter onsterflik en sal vir altyd bly voortbestaan.
Luk 20:34 “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; 20:35 maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. 20:36 Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.”
Daar moet egter gelet word, dat engele unieke wesens apart van die mensdom is. Dit wil egter voorkom, of sekere gevalle engele, nadat hulle in menslike liggame gemanifesteer het, oor die vermoeë beskik het om met die mensdom seksueel te verkeer en nasate voort te bring.
Gén 6:4 “In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God (engele) by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.
Jud 1:6 “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;”
Dit wil dus voorkom, dat gevalle engele oor die vermoë beskik om, wanneer hulle in menslike liggame manifesteer, seksueel met mense kan verkeer en selfs voortplant. Hierdie praktyk is egter ‘n gruwel in God se oë en is ‘n daad wat engele nie geoorloof is om te doen nie. Toe Jesus Christus die bostaande stelling gemaak het, het Hy van heilige engele gepraat en nie van gevalle engele nie. Dit is duidelik, dat die heilige engele nie voortplant nie, en ook nie in die huwelik uitgegee word nie, en dus nie in hierdie bose praktyk sal deelneem nie.
Mar 12:25 “Want wanneer hulle uit die dode opstaan, trou hulle nie en word hulle nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele wat in die hemele is.”
Dit is opmerklik dat die Here nie hier sê, dat die engele nie oor die vermoeë beskik om voort te plant nie, maar Hy stel dit duidelik dat hulle nie in die huwelik uitgegee word nie en dus maak hulle nie gebruik van hierdie vermoëns nie. (Hierdie hele onderwerp is egter stof vir ‘n ander artikel en gaan nie verder in hierdie artikel bespreek word nie. Pas egter op, want daar is baie mense wat hierdie leerstelling misbruik en onskriftuurlike opinies daarby voeg, om geld daaruit te maak en om boeke te verkoop.) Heilige engele plant dus nie voort nie.

Die bediening van die heilige engele:
Die Engele het die Here Jesus Christus tydens Sy eerste koms bedien:
Die heilige engele het die Here Jesus Christus op verskeie wyses tydens Sy aardse bediening gedien. Die Engele het Sy geboorte voorspel.
Luk 1:26 “En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galiléa met die naam van Násaret, 1:27 na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. 1:28 En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. 1:29 En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. 1:30 En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. 1:31 En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. 1:32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, 1:33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”
Dit was ook engele wat die Here Jesus Christus se geboorte aan die herders aangekondig het.
Luk 2:8 “En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 2:9 En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. 2:10 En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, 2:11 dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. 2:12 En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. 2:13 En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: 2:14 Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!”
Soos wat ons uit bostaande teksgedeelte kan waarneem, beskik die engele oor die vermoë om skielik in liggaamlike vorm te manifesteer en dan weer te verdwyn. Dit is ook verder vanuit die Bybel opmerklik, dat wanneer engele aan mense verskyn, hulle altyd die taal van die mens praat en nie in ‘n taal wat spesiale uitleg nodig het nie.

God die Vader het ook van engele gebruik gemaak om Sy Seun, as kind, te beskerm.
Mat 2:13 “En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die HERE in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.”
Dit was ook engele wat die Here Jesus Christus na Sy veertig dae lange versoeking in die woestyn versterk het.
Mat 4:11 “Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.”
Onthou, die Here Jesus Christus, het tydens Sy aardse bediening gekies om sekere fasette van Sy Godheid nie te gebruik nie, en gevind in die liggaam van ‘n mens, het Hy ook honger en dors gekry, en was dit ook soms nodig dat Hy, net soos enige ander persoon, versterk moes word.

Die engele het boonop reg gestaan om Jesus Christus te beskerm indien Hy dit van die Vader sou versoek.
Mat 26:53 “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?”
Let wel: As God self, is die Here Jesus Christus almagtig en het Hy nie nodig dat engele Hom moet beskerm nie. Soos reeds genoem, het Hy egter gekies, om nie van al Sy Goddelike attribute, tydens Sy aardse bediening, gebruik te maak nie, en het Hy gekies om soos ‘n gewone mens van God die Vader afhanklik te wees. Ook in hierdie opsig dien die Here Jesus Christus as ‘n perfekte voorbeeld aan ons as gelowiges. Alle dade, in onafhanklikheid van God verrig, is goddeloosheid! Om hierdie rede, sal alle werke (insluitende goeie werke) wat nie deur die Heilige Gees, in en deur die gelowige bewerkstellig is nie, by die Regterstoel Oordeel van Christus verwerp word.

In die tuin van Getsémané, net voor die Here Jesus Christus se inhegtenisneming en kruisiging, vind ons ook dat dit ‘n engel is wat Hom kom versterk het.
Luk 22:41 “En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ‘n mens met ‘n klip kan gooi, en neergekniel en gebid 22:42 en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! 22:43 En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.”
So vind ons ook, dat dit ‘n heilige engel was, wat die klip voor die ingang van die Here se graf, na afloop van Sy opstanding vanuit die dood, weggerol het.
Mat 28:2 “En daar kom ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit.”
Dit kom dus ook as geen verassing, dat God die Vader, van ‘n engel gebruik gemaak het, om die Here Jesus Christus se opstanding vanuit die dood aan te kondig nie.
Mat 28:5 “Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 28:6 Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; 28:7 en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.”
Nadat die Here Jesus Christus na die Hemel opgevaar het, was dit ook engele wat aan Sy dissipels voorspel het, dat Hy ook fisies aarde toe terug sal keer.
Hnd 1:9 “En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. 1:10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, 1:11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”

Die bediening van engele so ver as wat dit gelowiges aanbetref:
Soms word engele gebruik, om spesifieke gebede wat aan God gerig is, te beantwoord of om God se antwoord op spesifieke gebede uit te voer.
Hnd 12:1 “En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen. 12:2 En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring.12:3 En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode. 12:4 Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die paasfees voor die volk te bring. 12:5 So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan.12:6 En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak.12:7 En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hom, en ‘n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.12:8 En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my! 12:9 En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy ‘n gesig sien.12:10 En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat. 12:11 Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk. 12:12 En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was.”
Engele staan ook gelowiges in ‘n algemene sin by, alhoewel die gelowige nie noodwendig bewus van die feit is dat hy deur engele bygestaan word nie.
Heb 1:14 “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?”

Ons vind egter ook, dat God van engele gebruik gemaak het om Sy dienaars tydens ongunstige situasies te bemoedig.
Hnd 27:23 “Want daar het in hierdie nag by my gestaan ‘n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. 27:24 En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar.”
Selfs wanneer ‘n gelowige tot sterwe kom, word hy deur engele versorg en bygestaan.
Luk 16:22 “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.”
Selfs tydens die gelowige se lewe op aarde, is daar engele wat oor hom waak en hom beskerm. Ons sal nooit aan hierdie kant van die graf werklik kan besef, hoeveel keer ons deur engele van lewensgevaarlike situasies bewaar is nie. Indien mens Heb.1:14 , Matt. 18:10 en Ps 91:11 saamvoeg en in ag neem, wil dit voorkom, dat die engele se sorg vir ‘n gelowige, vanaf sy geboortedag, tot en met sy dood, voortduur.
Mat 18:10 “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.
Heb 1:14 Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?
Psa 91:11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.”

As gelowiges moet ons dit altyd ingedagte hou, dat die engele ons dophou en sien wat ons doen.
1Ko 4:9 Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense.”
Alhoewel ek glo dat die amp van apostel nie vir die Post-Apostoliese tydperk van toepassing is nie, beteken dit geensins dat die engele nie kan waarneem wat in ons lewens aangaan nie. Hulle is bewus van wat in ons lewens aangaan! Hoe kan hulle ons bewaar en oppas, indien hulle nie kan waarneem wat in ons lewens aangaan nie? En hoe anders kon die apostel Paulus die engele as getuies roep, indien hulle nie in staat is om te sien wat ons doen en verkondig nie?
1Ti 5:21 “Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele dat jy hierdie dinge sonder vooroordeel in ag neem en niks uit partydigheid doen nie.”
Die feit dat engele ons dophou en sien wat ons doen, behoort ons, as gelowiges, te motiveer om heilig in hierdie bose wêreld te lewe.

Die bediening van engele so ver as wat dit die ongelowiges aanbetref:
God gebruik soms engele om ongelowiges te straf.
Hnd 12:21 “En op ‘n bepaalde dag het Herodes ‘n koninklike kleed aangetrek en op die troon gaan sit en hulle toegespreek. 12:22 Daarop het die volk hom toegeroep: ‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie! 12:23 En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.”
Gedurende die sewe jaar verdrukking, gaan God ook van engele gebruik maak om Sy oordele op die wêreld uit te giet.
Opn 8:5 “En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing.8:6 En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas. 8:7 En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand.” (Die leser word aangeraai om self die boek Openbaring te lees. Vir sover dit die engele se aandeel in God se oordele aanbetref, word die leser aangeraai om veral hoofstukke 8, 9 en 16 van die boek Openbaring deur te lees.)

Dit wil verder voorkom, of die engel Mígael die volk Israel (Jode) se beskermengel is, en dit wil verder voorkom, dat God van die engel Mígael gebruik sal maak, wanneer Hy teen die einde van die Groot Verdrukking, die volk Israel, van totale uitwissing sal verlos.
Dan 12:1 “En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk (Israel) staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”
Die enigste ander engel wat by name in die Bybel genoem word, is die engel Gabriël waarvan dit duidelik gestel word, dat hy in die teenwoordigheid van God staan.
Luk 1:19 “En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.”

Engele sal ook betrokke wees, wanneer die Here Jesus Christus, met Sy wederkoms, Sy fisiese koninkryk op aarde kom vestig.
Mat 13:37 “En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, 13:38 en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, 13:39 en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. 13:40 Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: 13:41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, 13:42 en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 13:43 Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.” (‘n persoon wat die Evangelie verwerp, of in ‘n ander evangelie glo as wat God in Sy woord bekendmaak, sal in sy eie ongeregtigheid gevind word, omrede daardie persoon nie in die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid gevind is nie. So ‘n persoon sal op sy eie werke beoordeel word en verlore gaan. Dit is van uiterste belang, om God op Sy terme (die Evangelie) te nader, en nie soos Kain, op ons eie terme of werke nie.)

Klassifikasie van engele:
Die Bybel praat van die aartsengel Mígael wie se naam beteken: “Wie is soos God?” Of “Wie is soos U God?”
Jud 1:9 “Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!”
Die Bybel praat verder van uitverkore engele. Dit is engele wat gekies het om nie teen God te rebelleer nie, en wat God getrou dien, dus, heilige engele.
1Ti 5:21 “Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele dat jy hierdie dinge sonder vooroordeel in ag neem en niks uit partydigheid doen nie.”

Gerubs word in die Skrifte as wesens wat God se heiligheid teen die besoedeling van die sondige mens beskerm.
Gén 3:24 “So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.
Eks 25:17 Maak ook ‘n versoendeksel van suiwer goud. Twee en ‘n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte wees. 25:18 Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel. 25:19 En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente. 25:20 En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees.”
Satan was ook, as gerub, spesifiek geskape om te beskut, wat moontlik impliseer dat hy God se troon moes bewaak of bedek.
Esg 28:14 “Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.”
Die leser word aangeraai om Esegiël 1:1-28 self deur te lees, om ‘n baie goeie en deeglike beskrywing van gerubs te bekom.

In Jes 6:2-7 vind ons wesens wat as Serafs bekendstaan en wat voortdurend God aanbid en prys.
Jes 6:1 “In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. 6:2 Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. 6:3 En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!”

Ter Afsluiting: Met Sy inkarnasie het die Here Jesus Christus vir ‘n tyd lank ‘n laer posisie as die van die engele aangeneem.
Heb 2:9 “maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.”
Die redes waarom die Here Jesus Christus die laer posisie van die mens aangeneem het, was om vir die mensdom se sondes te sterwe, en dan diegene wat geloof in Hom plaas, tot ‘n hoër posisie as die van die engele te verhoog. Die gelowige word dus posisioneel in die Here Jesus Christus geplaas en dan saam met Hom verhoog.
Efs 2:4 “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 2:5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 2:6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 2:7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.”
En daarom gaan gelowiges ook die bose engele oordeel.
1Ko 6:3 “Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?”
En dit alles op grond van God se onbeskryflike genade sonder verdienste van ons kant af. Hierdie feit alleenlik behoort gelowiges aan te moedig om waardig, volgens hulle posisie in Christus, te lewe.

Dit is egter van uiterste belang, dat die gelowige, sekere punte altyd in gedagte hou, wanneer dit by die leerstelling van die engele kom, anders ontstaan die gevaar dat hy ernstig sal dwaal of verlei word. Ons gebede moet altyd aan God gerig word en nooit aan engele nie. Ons kan ook nie die engele direk vir hulp vra nie, maar moet ons versoeke slegs aan God rig.
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Dit is God wat die engele sal stuur om ons by te staan, indien Hy dit so verkies. As heilige engele van God, sal die engele altyd die Here gehoorsaam en Sy wil uitvoer en nie die van die mens nie. Mens hoor nogal gereeld hoe sekere tel-evangeliste die engele, in die naam van die Here, beveel om hulle opdragte uit te voer. Hoe weet daardie persone, dat dit God se wil is dat die engele daardie spesifieke opdrag moet gehoorsaam? Hierdie optrede is niks anders as arrogansie nie! Nêrens in die Bybel sien ons dat die Apostels ooit so iets gedoen of verkondig het nie! Verder moet slegs God die fokuspunt van ons geloof wees en nooit die engele nie. Om ons aandag op die engele, vir ons beskerming of verlossing te fokus, haal ons ons oë van die Here af wat rampspoedige gevolge vir ons geestelike lewens sal inhou. Onthou die Duiwel doen homself voor as ‘n engel van die lig en sodoende word miljoene mense verlei.
2Ko 11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.”
Die feit dat God engele gebruik om ons by te staan, beteken nie dat Hy nie volkome in beheer is nie. God is almagtig en het nie die engele of ons enigsins nodig nie. Dit is slegs op grond van Sy genade, dat Hy kies om engele sowel as die mensdom, in die uitvoer van Sy wil, gebruik. Onthou, die krag of waarde van ons geloof is nie in ons geloof self, engele of mense gesetel nie, maar slegs in die Here Jesus Christus alleenlik!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.