Vertrou op die Here

Vertrou op die Here

Spreuke 3:5 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”
Ag, hoeveel keer moes ek nie al op die harde manier leer om nie op my eie insig staat te maak nie, maar eerder op God se insig te vertrou. Kom ons Kyk hoe koning Dawid op God se insig staat gemaak het en daarna geseëvier het. (1Sameul 17:4 – 17:54) Ons almal ken die storie van Dawid en hoe hy Goliat verslaan het. Ons moet egter dieper gaan en vasstel hoe Dawid geredeneer het om werklik ‘n mooi prentjie te kry van wat werklik gebeur het.

1 Samuel 16:1-16:13 lees ons hoe die Here die profeet Samuel opdrag gegee het om Dawid as Koning te salf, wat Samuel ook dan gedoen het. Maar Dawid het geweet dat Koning Saul nog amptelik op die troon van Israel gesit het en dat sy tyd vir Koningskap nog nie aangebreek het nie. Dit is na hierdie gebeure dat Goliat die laers van Israel uitgedaag het. Wat was dan Dawid se aansporing om Goliat die stryd aan te sê? Dawid het net soos wat die Here van ons verwag, vanuit God se Woord geredeneer.

Dawid het geweet God het hom as koning gesalf het, en hy het ook geweet dat hyself nog nie amptelik op die troon van Israel sit nie. Sy redenasie moes soos volg gewees het. Indien God hom as koning gesalf het, (en Hy het) dan kon hy nie deur sy vyande gedood word, sonder dat God se woord verbreek word nie. (iets wat nie moontlik is nie.) Hy het immers God se Woord gehad dat hy eendag koning sou word. Hy moes ook maar bang gewees het, maar hy het nie op sy eie insig, gevoelens en omstandighede staat gemaak nie. Hy het eerder op God en Sy woord staatgemaak. Dus het hy op God vertrou. Ek glo indien Dawid op sy eie insig staat gemaak het, hy net soos enige redelike mens, sou redeneer dat die reus hom gaan verslaan. Dan sou die moontlikheid groot gewees het, dat hy ook net soos die Israeliete in die woestyn in ongeloof sou opgetree het, toe die Here hulle beveel het om die land Kanaan in te gaan. (Numeri 13-14) Maar Dawid het nie op sy eie insig staat gemaak nie, maar wat God aan hom belowe het. Ons weet almal wat die uitslag van die geveg was. Dawid het Goliat verslaan omdat hy op sy God (en Sy woord) vertrou het en nie toegelaat het dat sy omstandighede hom intimideer nie.

Maak jy op jou eie insig staat? Of gaan jy ook soos Dawid op God vertrou en reageer op die beloftes wat Hy in Sy Woord aan jou gemaak het? Net die tyd sal leer. Doen God se Wil soos wat Hy dit in Sy Woord openbaar en jy sal deur God self geprys word. Moenie die eer van mense soek nie. Onthou die wêreld sal jou altyd beskuldig en slegsê, juis om jou te kry om nie op God en Sy Woord alleen te vertrou nie. Die wêreld is immers in die mag van die duiwel. Moenie na jou omstandighede, gevoelens of teëspoed kyk nie. Vertrou net op God en Sy woord. Jy mag dalk nou deur ‘n woestyn gaan ,maar onthou met God saam is daar altyd ‘n oases aan die anderkant. Kyk wat Charles Studd alles prysgegee het om vir die Here te werk. Hy het ‘n belowende loopbaan, rykdom (hy het die meeste van sy geld weggegee) en die eer om vir sy nasionale span krieket te kon speel, prysgegee en die Here se plan as sendeling nagevolg.  Hy het God op Sy Woord gevat en nie gegaan op wat die wêreld gesê het nie. Dink net wat gaan sy loon eendag in die Hemel wees. Dan reken mens nie eers die lewe wat hierdie man in God se diens gelewe het nie. God sal altyd die persoon beloon wat sonder twyfeling op Hom vertrou.

Net vir interessantheid. Die geskiedenis van die salwing van Dawid as koning stem baie ooreen met die van die Kerk. Op die oomblik van ons geloof, in Jesus Christus, word ons gesalf as konings deur die Heilige Gees, omrede ons dan onmiddellik mede erfgename saam met Christus word. Maar ons moet net soos Dawid wag, totdat ons tyd vir koningskap aangebreek het. Dit sal eers plaasvind as Jesus Christus terug aarde toe kom en Sy Koninkryk fisies hier kom oprig.
Openbaring 12:10 “Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.
19:6 En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.”

Ons moet nie nou al as konings wil regeer nie, maar ons moet mekaar in liefde dien. Sommige mense beweer ons regeer al klaar, maar hoe kan dit dan wees?
1Korintiers 4:8 “Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!”

Jesus Christus regeer dan nog nie as fisiese Koning hier op aarde nie. Ons wag vir Sy wederkoms, wanneer Hy die koningskap sal aanvaar en opneem. Nou Regeer Hy net in die harte van gelowiges en tree as middelaar by die Vader vir ons op.
2Timoteus 2:12 “As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.
Openbaring 5:10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.
1 Johannes 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.”

As jy dus die Evangelie geglo het kan jy maar gerus op God en Sy beloftes vertrou, met die wete dat jy alreeds as koning gesalf is. Met sekerheid kan jy vertrou dat God Sy belofte aan jou sal nakom. Dus net soos Dawid moet ons wag totdat God ons aanstelling bevestig en moet ons nie voor die gegewe tyd as konings wil regeer nie. Daarom is dit belangrik om die werk wat die Here ons op aarde gegee het om te doen getrou uit te voer. Dit maak nie saak hoe moeilik jou omstandighede nou mag wees nie. Jy kan met sekerheid weet dat Jy saam met God sal regeer en dit beteken ook dan, dat geen probleme of omstandigheid dit ooit sal kan verhoed nie. Vertrou nou net op God en weet dat alles saamwerk ten goede vir die wat in Christus is! Vertrou op die Here!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.