droefheid

Bekering vir wedergeboorte is nie droefheid oor sondes nie

Daar is ongelukkig ‘n leerstelling wat verkeerdelik beweer dat indien ‘n persoon nie genoegsaam trane en droefheid oor sy sonde getoon het, daardie persoon nie werklik tot bekering t.o.v. wedergeboorte gekom het nie. Daar word dan van 2Kor. 7:10 as bewys aangehaal om hierdie leerstelling te verdedig, naamlik:
2Kor. 7:10 “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.” (lees asb die hele artikel omrede genoemde teksgedeelte later binne die korrekte konteks bestudeer en verduidelik sal word.)
Met die skryf van hierdie artikel sal gedemonstreer word, dat droefheid nie met bekering t.o.v. wedergeboorte verwar moet word nie. In ‘n poging om ‘n term of leerstelling te omskryf en te verduidelik, is dit soms uiters raadsaam om te beskryf wat daardie term of leerstelling nie beteken nie. Die rede vir hierdie tegniek is die feit dat die kontras tussen die twee stellings ‘n persoon help om die onderwerp wat bespreek word, in ‘n duideliker lig te sien en derhalwe kan dit met die begryp en verstaan van die onderwerp help. Droefheid is nie bekering nie, en boonop kan droefheid nie by geloof alleenlik in die Evangelie, as nog ‘n vereiste, bygevoeg word nie. Droefheid kan, en mag dalk tot bekering lei, maar droefheid is nie ‘n vereiste vir wedergeboorte nie. Slegs geloof in die Evangelie word in die Skrifte aan ‘n persoon voorgehou om die geskenk van die ewige lewe by God te ontvang. Om enige ander vereistes, behalwe geloof in die Evangelie alleenlik, aan ‘n ongeredde persoon voor te hou is om ‘n onnodige hindernis in die weg van daardie persoon t.o.v. wedergeboorte te plaas. Iets wat die Here nooit sou goedkeur nie! (die leser word ten sterkste aangeraai om ook die ander artikels in hierdie reeks te lees, naamlik: “Bekeer, of bekering, is nie reformasie in eie krag nie” en “”Bekering ten opsigte van wedergeboorte is nie boetedoening nie” en “Die Waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie” asook “”Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe

In baie gevalle verkeer mense onder die indruk dat hulle aan die Here moet demonstreer dat hulle gered/verlos wil word, en dan wil hulle deur hulle trane, en droefheid, poog om God sover te kry om hulle in genade aan te sien en hulle dan die ewige lewe te skenk. Mense wat droefheid en trane as vereiste aan ongeredde persone voorhou, alvorens God hulle sal red, demonstreer deur hulle uitlatings hulle beperkte kennis oor God en Sy woord. Indien mens die Skrifte sorgvuldig bestudeer, sal mens opmerk dat God nie traag is om te vergewe nie. Inteendeel, Hy staan met ope arms gereed, om enige persoon wat geloof in Sy Seun se voltooide werk aan die kruis plaas, die genadegawe van die ewige lewe kosteloos te skenk! Dit is God wat in Sy ewige Raadsplan, lank voordat Hy die mens op aarde geplaas het, alreeds besluit dat die Seun vir die mensdom se sondes aan sie kruis sou sterwe, en daardeur sou Hy Sy onbeperkte liefde en genade (asook Sy absolute geregtigheid) aan Sy skepsels tentoonstel. Ongelukkig kyk baie mense (insluitende gelowiges) hierdie feit mis en koester eerder die idee dat God traag is om die mens te red. Dit is die Drie-Enige God, wat deur die Seun se kruisdood, eens en vir altyd die probleem van die mensdom se sonde opgelos het, en die mensdom het, en kan, absoluut geen bydrae tot hierdie verlossingsplan lewer nie. Derhalwe gaan dit nie oor wat die mens met sy eie sonde kan maak nie, maar eerder oor wat die sondige mens met die Seun (en Sy voltooide werk aan die kruis) doen.

God staan met geopende arms en wag dat die erkende sondaar die Evangelie glo. (dit is al wat Hy van ‘n ongelowige verwag om die ewige lewe as geskenk uit Sy genadige hand te ontvang!) God is nie traag om die sondaar te verlos nie, maar die probleem lê by die feit dat die mens nie God se verlossing op God se terme wil aanvaar nie! (naamlik geloof alleen in die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis alleen! Dit is die mens wat die heeltyd ander vereistes, behalwe geloof alleenlik, by die Evangelie van Christus wil byvoeg en daardeur verhef hulle die mens se werke tot ‘n vlak waar dit met God se heilsplan en werke ten opsigte van die mensdom gelykgestel word. Dus, ‘n werke Evangelie, waar die mens se werke ‘n bydrae tot God se verlossingsplan lewer. Onthou, dit is in die eerste plek die Here wat die mensdom na Homself toe aantrek sodat Hy ons kan verlos en wat Sy verlossingsplan aan die mens voorgehou het!
Joh.12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.

Indien die Here ons nie na Homself getrek het nie, sou nie een van ons ooit die Here om verlossing/wedergeboorte genader het nie.
Joh.6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Indien hierdie stelling waar is (en dit is) hoekom wil sommige mense dan die heeltyd ander vereistes by God se alreeds volledig voltooide verlossingsplan byvoeg? Is die rede nie dalk dat ons Hom nie werklik glo, wanneer Hy dit duidelik in Sy woord stel, dat die ewige lewe kostelose gawe is nie? Boonop is hierdie leerstelling verkeerd omrede dit verkeerdelik die indruk by mense skep dat God basies onwillig is om sondaars te verlos, en dat die mens eers God se hart met hulle droefheid en trane moet sagmaak, alvorens Hy gewillig sal wees om hulle die gawe van die ewige lewe te skenk. Hierdie leerstelling skep verder die idee dat God nie werklik gretig is om sondaars te wil verlos nie, en weerspreek dus duidelik God se uitsprake in Sy woord.
2Pet.3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Die leerstelling wat droefheid t.o.v. sonde as nog ‘n vereiste by slegs geloof alleenlik in die Evangelie byvoeg, maak ook ‘n bespotting van die feit dat God goedgunstig is, en dat Hy slegs op grond van Sy genade die ewige lewe as gawe/geskenk aan enige sondaar bied wat dit deur geloof in ontvangs wil neem.
Openb. 22:17 “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Om droefheid, as ‘n verdere vereiste by slegs geloof in die Evangelie te voeg, verklaar indirek (of dalk direk) dat die Here se werk aan die kruis (dus Sy kruisdood en opstanding vanuit die dode vir al ons sondes) nie as ‘n genoegsame basis beskou kan word waarop God die sondaar se sonde kan vergewe nie, derhalwe is geloof in Christus alleenlik nie genoeg om die gawe van die ewige lewe te ontvang nie, en om hierdie rede word droefheid ook as verdere vereiste by slegs geloof in die Evangelie vir die ontvangs van die ewige lewe vereis. So ‘n leerstelling verander dus die Evangelie van God se genade in ‘n evangelie waarvan die mens se droefheid deel van uitmaak. (‘n werke, en dus ‘n ander evangelie) Dit is dus niks anders as ‘n direkte aanval op die genoegsaamheid van God se verlossingsplan, asook die terme wat Hy bepaal het om die gawe van die ewige lewe in ontvangs te neem nie! Die Bybel stel dit onomwonde dat verlossing slegs op grond van God se genade deur geloof in Christus ontvang kan word.
Ef.2:4 “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. 8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Rom.11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”

Indien ons alreeds dood in ons sondes met geboorte is, en God alreeds uit Sy pad gegaan het om ons deur Sy seun se kruisdood te verlos, hoekom verkondig sekere mense nog steeds dat ons eerstens genoeg droefheid moet demonstreer alvorens God bereid sal wees om ons te verlos?

Dit gaan nie soseer oor die hoeveelheid trane ons stort of hoe groot ons droefheid moet wees nie. Dit gaan oor die feit dat ‘n persoon tot die besef moet kom, dat hy ‘n sondaar is, en derhalwe verdien om die ewigheid in die verderf deur te bring, en om hierdie rede moet hy om ‘n Verlosser soek wat hom van daardie verdiende lot sal kan red. Wat van uiters belang is, is die feit dat ‘n persoon tot die slotsom kom dat hy homself nie sal kan verlos nie, en dan moet hy in geloof na God draai, wat in Sy Seun se voltooide werk aan die kruis, alreeds die persoon se sonde probleem eens en vir altyd opgelos het. Derhalwe is dit van uiterste belang, dat die sondaar ‘n verandering in denke moet ondergaan, (bekeer) en vanuit ‘n posisie van ongeloof, na ‘n posisie van geloof in Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir die sondaar moet bekeer. (slegs geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis word van die sondaar verwag, en geen ander menslike werk mag by geloof in die Evangelie gevoeg word nie. Om enige menslike werke by die evangelie te voeg demonstreer dat daardie persoon nie werklik glo dat Christus se voltooide werk aan die kruis, voldoende is om die persoon se sondeskuld voor God aan te spreek nie en is ‘n indikasie dat so ‘n persoon nie werklik reddende geloof uitgeoefen het nie.)

Dit is nie te sê dat dit verkeerd is om trane te stort, of om droefheid oor ons sonde te beleef nie, en die Heilige Gees mag van hierdie middele gebruikmaak om die ongelowige sondaar se aandag te trek, maar die doel van die Heilige Gees is altyd om die sondaar sover te kry om in geloof na Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir die sondaar te vertrou. Geen persoon wat geloof in die Evangelie alleen plaas sal ooit verlore gaan nie. Dit is die Here Jesus Christus wat aan die kruis vir ons sondes gesterwe het en wat deur Sy kruisdood volkome versoening vir ons sondes gedoen het.
2Kor.5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 18 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, 19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. 20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. 21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

Dit is aan die kruis waar die Here Jesus Christus betaling vir al ons sonde (‘n eenmalige gebeurtenis in tyd) gedoen het, toe Hy al ons sondes op Homself geneem het en in ons plek daarvoor deur God die Vader gestraf is. Sodoende is God se regverdige oordeel oor sonde bevredig, en is Hy volkome vry, om in Sy onbeperkte liefde, die gelowige in Christus se toegerekende geregtigheid regverdig te verklaar. (omrede die gelowige deur geloof in die Evangelie die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid as geskenk ontvang het, nie op grond van sy eie goeie werke, droefheid of trane nie.)
1Joh.2:2 “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”
Dit is slegs op grond van Christus se voltooide werk aan die kruis, waarop God die ewige lewe aan die sondige mensdom kan voorhou. (nie op grond van ons droefheid nie!)
Joh. 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 7 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.”

Nêrens in die Bybel word ‘n ongelowige persoon ooit aangesê om sekere hoeveel droefheid te toon, of om ‘n sekere hoeveelheid trane te stort, alvorens hy die Here Jesus Christus in geloof om verlossing kan nader nie. Die leerstelling wat beweer dat ‘n persoon eers ‘n genoegsame mate van droefheid moet toon, alvorens hy die gawe van die ewige lewe deur geloof in die Evangelie in ontvangs mag neem, is ‘n mensgemaakte leerstelling en is nie vanuit die Bybel afkomstig nie.

Dit is nie te sê dat ‘n persoon afgeraai moet word om berou vir sy sonde te toon nie, en ‘n persoon behoort selfs aangemoedig word om openlik droefheid te toon, indien hy so wil, maar mens mag nooit droefheid vir sonde gedoen, as vereiste, by slegs geloof in die Evangelie byvoeg nie. Om so iets te doen is om nog ‘n verdere menslike stap by slegs geloof in die Evangelie te voeg en verander die Evangelie van God se genade na ‘n valse evangelie waarvan die mens se werke/droefheid deel van uitmaak. (en dus ‘n ander evangelie)
Gal.1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

Maar wat dan van 2Kor.7:10 wat ek weer hier gaan aanhaal en bespreek, naamlik:
2Kor. 7:10 “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.”
Indien ons in gedagte hou, dat albei briewe wat aan die gemeente van die Korintiërs gerig is, aan mense gerig is wat alreeds wedergebore was, en dus was fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel, en was hulle alreeds die ontvangers van die ewige lewe wat hulle nooit kan verloor nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Drie fases van verlossing” asook die “ewige sekuriteit van die gelowige” te lees.)

Tweedens, moet ons die konteks waarin ‘n stelling in voorkom in ag neem. Indien ons na 2Kor.7:1 gaan kyk, sal ons opmerk dat die konteks waarin Paulus die stelling van bekering maak binne die raamwerk van heiligmaking plaasvind. Derhalwe, praat hy met mense wat alreeds die Evangelie geglo het, en wat alreeds die ewige lewe deelagtig geword het en wat hulle nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik die heiligmaking fase bevind. Vers 1 in hierdie hoofstuk verskaf aan ons die korrekte konteks waarin Paulus sy stelling aangaande droefheid gemaak is, naamlik:
1Kor.7:1 “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking (fase twee van ons verlossing) in die vrees van God volbring.”
‘n Persoon word nie wedergeboorte deur heiligmaking nie, maar deur die glo van die Evangelie. Na afhandeling van fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, moedig ons nou die gelowige aan om heiligmaking in die Gees te bewerkstellig net soos wat Paulus in 2Kor.7:1doen. (Lees asb die artikel “Bekering, geloof en die ewige lewe.” asook “Heiligmaking op grond van genade deur geloof”)

Derdens, moet ons ook onthou, dat die term “bekeer of bekering” beteken dat ‘n persoon ‘n verandering in opinie, of gedagte verandering moet ondergaan. Ons moet egter die konteks waarin die stelling “bekering” in voorkom toelaat om die betekenis van die term bekering te bepaal. Die vraag is dus: “Ten opsigte van wat moet hierdie gelowiges ‘n verandering in opinie ondergaan?” (Bekeer) Dit was nie om die gawe van die ewige lewe te ontvang nie (toe hulle vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof in die Evangelie bekeer het nie) want hulle was alreeds wedergeboorte en daarom verwys Paulus na hulle as broeders. Hy het hulle in sy eerste brief as medegelowiges aangespreek oor hulle wêreldgesindheid, vleeslikheid, asook die feit dat hulle openlike sonde in die gemeente toegelaat het sonder om dit aan te spreek. (dus fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking.) Let mooi op die konteks, naamlik:
2Kor.7: 8 “Want, al het ek julle ook deur die brief bedroef gemaak, is ek nie jammer nie, al was ek ook jammer. Want ek sien dat daardie brief, al was dit vir ‘n kort tydjie, julle bedroef gemaak het. 9 Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie. 10 Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. 11 Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God — wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. (heiligmaking fase twee van hulle verlossing) In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.”

Paulus praat hier van heiligmaking en die feit dat hierdie gelowiges bedroef was volgens die wil van God, wat as bewys dien dat hierdie gelowiges d.m.v. Paulus se eerste brief daartoe gelei het dat die Heilige Gees hierdie gelowiges oor hulle sondes en wêreldgesindheid oortuig het, wat daartoe gelei het dat hulle bedroef was oor hulle optrede, wat tot ‘n verandering in opinie oor hulle sondige optrede gely het, (bekeer) wat daartoe gelei het dat hulle met hulle sondes gebreek het en hulle familie verhouding met God herstel het. (Lees asb die artikel “Voor verlossing, verlossings en post-verlossing bediening van die Heilige Gees” asook “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n Dissipel” Die redding waarvan hier gepraat word, handel geensins oor redding van die poel van vuur (Ewige verderf) nie, want daardie probleem is met die glo van die Evangelie vir eens en altyd opgelos. Die redding/verlossing waarvan Paulus in 2Kor.7:10 van praat, handel oor verlossing fase twee, naamlik heiligmaking, waar die gelowige van die houvas wat sonde nog op sy lewe na aanvanklike wedergeboorte het gered/verlos word. Hierdie is ‘n lewenslange proses en sal eers met aanvang van fase drie van ons verlossing naamlik die verheerliking finaal afgehandel wees. Konteks, konteks en nogmaals konteks!

Boonop stel Paulus dit duidelik dat die ongeredde wêreld ook droefheid oor hulle sondes kan ervaar, maar dit lei nie na redding nie, omrede hierdie mense ongered is omrede hulle nie die Evangelie (deur slegs geloof) wil glo nie en derhalwe kan hulle nie werklik, as kinders van God, met fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking begin nie, omrede hulle nooit werklik wedergebore geraak het nie. Slegs werklike wedergebore kinders van God, kan na afloop van wedergeboorte met werklike heiligmaking begin! En boonop mag die wêreld dalk berou oor hulle sondes beleef, maar dit lei nie noodwendig daartoe dat hulle vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof (as erkende sondaars) bekeer nie! (Droefheid is nie bekering nie! Die een mag na die ander lei, maar hulle is nie een en dieselfde terme nie.) Hierdie tipe droefheid wat die ongeredde wêreld demonstreer lei na die dood wat die ewige verderf in die poel van vuur insluit! En dit juis omrede hulle droefheid nie tot geloof in die ware Evangelie lei nie! (Dit sluit mense in wat hulle vertroue in enige vorm van ‘n werke evangelie plaas!)

Ja, dit is van uiterste belang dat ‘n ongeredde persoon onder die oortuiging van sy sonde, asook die gevolge daarvan, naamlik die ewige gruwelike bestaan in die poel van vuur, moet kom, maar sodra ‘n persoon bewus van sy persoonlike sondeskuld voor ‘n heilige God gebring is, moet ons onmiddellik aan daardie persoon God se verlossingsplan t.o.v. sy dilemma voorhou, naamlik die Evangelie en ‘n beroep om hom maak om die Evangelie te glo. (Niks anders nie!) Ons moet dit ook duidelik stel, dat slegs geloof in die Evangelie tot sy redding sal lei, en dit moet ook aan hom voorgehou word dat hy geensins enige menslike werke by slegs geloof in die Evangelie mag byvoeg nie. (om so iets te doen sal demonstreer dat hy nie werklik God se verlossingsplan op God se terme wil aanvaar nie, en dit kom dus op rebellie en ongeloof neer, wat tot die ewige verderf sal lei.) Slegs geloof in die Evangelie alleen sal tot wedergeboorte lei! Om enige ander stappe by slegs geloof in die Evangelie by te voeg, is om die Evangelie van God se genade in ‘n ander evangelie te verander! (mens kan hierdie feit nie genoegsaam beklemtoon nie, omrede so baie “Christene” hierdie presiese fout begaan of alreeds die slagoffers van hierdie dwaalleerstelling is!)

Dit is dan ook gevolglik my oortuiging, dat by verre die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom, verkeerdelik onder die indruk verkeer dat hulle op pad hemel toe is, omrede hulle die slagoffers van ‘n valse evangelie is. Onthou die Here se waarskuwing, naamlik:
Luk.13: 23 “Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: 24 Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.”
Let mooi op die Here se woorde. Hierdie is mense wat gered wil word, maar dit om die een of ander rede nie maak nie. Hy praat nie hier van mense wat ‘n traak-my-nie-agtige houding rondom sonde en die ewige lewe handhaaf nie. Die Here praat hier van mense wat die ewige lewe deelagtig wil word! En om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons self die Bybel bestudeer, en seker maak dat ons ‘n gemeente bywoon waar die woord van God die sentrale en enigste fokus is en waar die Evangelie van God se genade suiwer verkondig word. Ons moet weet wat ons glo en hoekom ons dit glo!
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die ewigheid is ‘n lang tydperk en daar gaan geensins tweede kanse gegun word nie!

Die absolute wonder van God se verlossingsplan, is die feit dat dit nie van die mens se werke afhanklik is nie. Die gawe van die ewige lewe gaan nie oor wat die mens aan God gee nie, maar eerder oor wat God die mens, in Sy genade, skenk. Vir ‘n persoon om die gawe van die ewige lewe in ontvangs te neem, moet daardie persoon slegs die Evangelie glo, niks anders nie!
Rom.3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”
Glo jy bostaande stelling? Moet dan nie ander stappe, soos byvoorbeeld droefheid en trane as vereiste by slegs geloof in die Evangelie byvoeg nie! Daar is niks met droefheid oor ons sondes verkeerd nie, maar ons mag nie droefheid en trane as nog ‘n vereiste stap by slegs geloof in die evangelie byvoeg nie. Indien ons werklik tot die volle besef van God se liefde vir ons kom, en wat dit alles behels het om ons te verlos, sal ons baie meer droefheid, t.o.v. ons sondes na afloop van ons verlossing demonstreer. Maar droefheid vorm nie deel van die Evangelie nie!

Ter Afsluiting:Reddende geloof is, om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om die gelowige se volledige persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Die gelowige glo dus, dat die Here Jesus Christus sy enigste Verlosser van sy volledige sondeskuld, asook die gevolge daarvan, naamlik die ewige verderf, is. Die rede hiervoor is dat Christus, God is, en dus oor die krag beskik om die gelowige volkome te verlos, omrede die Here Jesus Christus met eie Sy lewe vir al die gelowige se sondes aan die kruis gesterf het. Die waarde, meriete of krag van ons geloof, is in die voorwerp waarin ons ons geloof plaas, gesetel, naamlik die Here Jesus Christus, wat God in die vlees is en wat nooit kan misluk nie. Omrede die Here Jesus vir al die gelowige se sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis versoening gedoen het, kan die gelowige nooit a.g.v. enige sonde verlore gaan nie. Glo jy dit?

Seën groete!

Vic