Rassehaat en die Christen

Rassehaat en die Christen

Vraag: Wat sê die Bybel oor rassehaat en kan ons verwag dat dit sal toeneem soos wat Jesus se wederkoms nader kom? Het die Bybel enigsins hieroor iets te sê?

Antwoord: Voordat ons hierdie onderwerp bespreek is dit van uiterste belang dat die Bybel as maatstaf vir ons antwoord gebruik word en nie ons menslike tradisies en vooropgestelde idees nie. Rassehaat is ook ‘n baie sensitiewe onderwerp wat met uiterste omsigtigheid benader moet word. Dit gaan ons egter niks baat as ons nie die onderwerp eerlik en openlik benader nie. Ook gaan dit niks help as ons, ons koppe onder die sand insteek en voorgee asof hierdie probleem nie bestaan nie. ‘n Eerlike blik na ons samelewing sal duidelik bewys dat rassehaat deel van ons alledaagse lewens is, en selfs ook aan die toeneem is. Die feit van die saak is dat rassehaat nie net in ons eie land bestaan nie, maar dat dit regoor die wêreld bestaan en selfs aan die toeneem is. Wat ons as gelowiges moet vasstel is of die Bybel iets oor hierdie aangeleentheid te sê het en watse optrede God van ons as Sy kinders verwag.

Die Bybel gee aan die gelowige wel antwoorde op hierdie vra en daarom is dit belangrik dat ons gaan kyk wat die Here oor hierdie aangeleentheid te se gehad het.
Luk 21:9 “En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie. Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.”
Die Griekse woord “ethnos” wat in die 1953 Afrikaanse vertaling as nasie vertaal word kan ook as stam of ras vertaal word en vanuit hierdie woord is die Afrikaanse woord “Etnies” afgelei. Die Here het ook gesê dat net voor Sy wederkoms die liefde van die meeste mense sal verkoel, iets wat ons alreeds sien gebeur. Dink maar net aan die verskriklike wreedhede wat die kinders van vandag teenoor hulle eie ouers pleeg dan praat ek nie eers van rassehaat of haat oor die algemeen nie.
Mat 24:12 “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”
In die meeste gevalle is Jesus Christus nie meer ons, as mens, se rolmodel nie, maar goddelose mense wat deur hulle leefwyse God onteer asook mense wat openlik met God spot en in rebellie teenoor Hom lewe. Paulus het ook Timoteus oor hierdie stand van sake gewaarsku en hoe profeties was sy woorde nie!
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Daar sal opgemerk word dat Paulus hier van mense praat wat as gelowiges voorkom, maar wat die krag daarvan verloën het. Dus is dit mense wat beweer dat hulle in Christus glo maar wat nooit werklik wedergebore geraak het nie.

Dit is baie duidelik dat haat maar net een van baie uitvloeisels van ‘n goddelose hart is. Haat, wat diep in die mens se hart gesetel is en wat soms in die vorm van rassehaat manifesteer, kan as aanduiding dien dat ‘n persoon nie werklik die liefde van God in hom het nie.
1Jo 4:7 “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.
Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”
Ons moet ook daarop let dat haat op verskeie maniere kan manifesteer en om hierdie onderwerp volledig te bespreek sal ‘n boek geskryf moet word. Daarom is dit belangrik dat ons in hierdie artikel net op rassehaat konsentreer om sodoende nie van die onderwerp af te dwaal nie. Ons moet dus nie verbaas wees as ons rassehaat of enige vorm van haat onder mense vind wat nie wedergebore is nie. Wat egter skokkend is is dat mens rassehaat onder mense vind wat beweer dat hulle Christene is.

Die Bybel is God se woord aan die mens, en daarin stel God dit baie duidelik dat God Adam in Sy beeld geskape het.
Gén 1:27 “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”
Ook stel die Bybel dit baie duidelik dat alle mense op aarde afstammelinge van Adam en Eva is. Dit sluit alle sogenaamde rasse in en geen mens is uitgesluit nie. Verder stel die Bybel dit baie duidelik dat die Here Jesus Christus vir die sondes van die hele wêreld gesterf het.
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
1Ko 15:22 “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;”
Dus praat die Here hier van mense van alle rasse en word daar geen onderskeid getref nie.

Verder stel die Bybel dit baie duidelik dat die ware Kerk uit alle mense van alle rasse, wat werklik wedergebore is, saamgestel is, en is daar geen sprake van enige uitsonderings op grond van ras nie.
Gal 3:26 “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; 3:27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. 3:28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”
In die Ou Testament sal ons vind dat die Here wel die mensdom in twee groepe verdeel het, nl. Jode en Heidene. Die Here se doel met Israel was dat hulle, as ‘n koninkryk van priesters, die heiden nasies moes bedien. Die Jode as geheel het nie die edel doel wat die Here met hulle gehad het verwesenlik nie. Inteendeel het hulle hoogmoedig geword en die heidene verag en ook nog die heidene se afgode gedien. Jesus Christus het egter die skeidingslyn tussen die twee groepe verwyder en almal in Homself met God versoen.
Efs 2:14 “Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 2:15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 2:16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.”

As ons die Bybel ernstig opneem sal ons besef dat die Here nie ‘n aannemer van die persoon is nie en dat Hy ook niemand sal voortrek nie.
Deu 10:17 “Want die HERE julle God is die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie;
Rom 2:11 Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.”
Verder het die Here ons beveel om mekaar lief te hê, en dit met dieselfde liefde as wat ons onsself lief het. Dit sluit mense van alle rasse in.
Luk 10:27 “En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.”
Daar is dus absoluut geen rede vir rassehaat, in enige van sy vorms, in die lewe van die gelowige nie. As die Here bereid was om vir ‘n broeder van ‘n ander ras te sterwe, dan is daar geen rede dat ons enige vorm van rassehaat in ons harte vir ons broeders van ander rasse koester nie. Ons almal het immers dieselfde Heilige Gees met wedergeboorte ontvang en dus word van gelowiges verwag om mekaar in liefde te dien en mekaar nie te haat nie. Iemand wat sy broeder (van enige ras) kan haat moet ernstig gaan kyk of hy wel in die geloof is.
1Jo 3:15 “Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.
4:20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?”
Wat ons aan ‘n medegelowige doen doen ons aan die Here. ‘n Mooi illustrasie van hierdie feit vind ons in Mattheus 25. Alhoewel hierdie hoofstuk hoofsaaklik oor die tydperk net na die groot verdrukking handel, geld die beginsel vir gelowiges van alle tye en dien dit as ‘n ernstige waarskuwing teen enige vorm van haat insluitende rassehaat.
Mat 25:42 “Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. 25:43 Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. 25:44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? 25:45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”

Die Here verwag van ons om soos ligte in ‘n donker wêreld te skyn.
Mat 5:14 “Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 5:16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.
Luk 11:35 Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. “
Ons kan nie as ligte in ‘n donker wêreld skyn as ons harte van binne af vol duisternis is nie. Hierdie optrede kan mens van ongeredde mense verwag, maar dit hoort nie by mense wat veronderstel is om die Heilige Gees in hulle hê nie. Jesus het ook nie gesê dat ons moet probeer om ander lief te hê nie, maar Hy het ons die opdrag gegee om ander lief te hê. Liefde is meer as net ‘n emosie. Dit sluit die wil van die mens in en as ons onsself verloën en toelaat dat die Heilige Gees deur ons leef, sal ons vind dat ons in staat is om nie net ons naaste van ander rasse lief te hê nie, maar self ons vyande. As hierdie tipe van liefde in ons lewens begin manifesteer dan sal ons werklik bewys dat ons Jesus se dissipels is.
Joh 13:35 “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”

Ons kan verwag dat alle vorms van boosheid wel sal toeneem soos wat Jesus se wederkoms nader kom.
2Ti 3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”
Dit sal ongelukkig haat, waarvan rassehaat maar net een uitvloeisel is, insluit. Ons as gelowiges moet egter deur God se Gees gelei word en ons moet nie toelaat dat ons deel van die probleem word nie. Ons moet die oordeel aan God oorlaat en dit doen wat Hy van ons verwag, nl om die Evangelie te verkondig en as die sout van die aarde mekaar in liefde te dien.
Rom 13:10 “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.”
Ons moet alles in liefde en tot eer van die Here doen. Onthou dat alle vorme van rassisme, vooroordeel, partydigheid en diskriminasie ‘n belediging is vir dit wat die Here vir ons aan die kruis gedoen het. Om enige persoon met minagting te behandel is om iemand wat in God se beeld geskape is te mishandel. Ongelukkig is rassisme in verskeie vorms al duisende jare saam met ons, maar dit is iets wat nie so hoort nie en wat nie eers ‘n kwessie onder wedergebore Christene behoort te wees nie. Dit maak nie saak of dit gewone of omgekeerde rassisme is nie. Ons is nie veronderstel om soos die wêreld op te tree nie, veral as ons besef dat hierdie wêreld nie ons as gelowiges se tuiste is nie, maar dat ons tuiste saam met Jesus Christus in die hemel is. Mense wat rassisties optree moet tot bekering kom en toelaat dat God deur hulle Sy liefde met die wêreld deel.
1Jo 3:11 “Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; 3:12 nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.”
Rom 12:21 “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Dit is nie te sê dat ons nie die probleem van rassehaat mag uitlig en aanspreek nie. Ons moet dit egter onder leiding van die Heilige Gees doen en seker maak dat ons in liefde optree en nie God se naam enigsins in oneer bring nie. Ek hoop hierdie antwoord help die leser en versoek dat ons almal vir vrede in ons land bid.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.