Die Sewe Vernaamste vorms van Oordeel in die Bybel

Die Sewe Vernaamste vorms van Oordeel in die Bybel

Daar word in baie kringe van die belydende Christendom verkondig dat daar net een finale oordeel aan die einde van die wêreld se geskiedenis sal plaasvind, en dat alle mense (gelowiges sowel as ongelowiges van alle tye by hierdie oordeel sal moet verskyn om rekenskap vir hulle lewens aan God te moet gee, en dat by hierdie een groot oordeelsdag besluit sal word waar ‘n persoon die ewigheid sal moet spandeer. Indien ons egter die Bybel noukeurig bestudeer, sal opgemerk word, dat die Bybel nie slegs van een oordeelsdag praat nie, maar van sewe afsonderlike oordele wat op verskillende tydperke en waar daar verskillende groepe mense deel van sal uitmaak. In hierdie artikel gaan hierdie sewe verskillende oordele kortliks aangehaal word, asook die verskillende groepe mense wat by elke oordeel betrokke sal wees.

1. Die oordeel van sonde:

Wanneer: Omstreeks 30nC

Die Plek: Golgota

Alle sondes, van alle tye, deur alle mense gepleeg is finaal aan die kruis van Golgota deur die Here Jesus Christus betaal. Dit was daar aan daardie kruis van Golgota, waar Christus, wat geen sonde geken het, ons sondes op Homself geneem en met Sy lewe daarvoor betaal het.
2Ko 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Dit is aan die kruis van Golgota waar God sonde finaal en volledig in die Here Jesus Christus veroordeel het. Op Golgota het God finaal die mens se sonde probleem, wat skeiding tussen Hom en die mens veroorsaak het, opgelos. Dit is nie nou meer ‘n kwessie van ons sondes wat ons uit die hemel gaan hou nie, maar wat ons met Christus doen. Gaan ons Sy Evangelie aanvaar of gaan ons Hom verwerp en in ons sondes sterwe?
Heb 10:11” En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; 10:12 maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God 10:13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete. 10:14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak (Fase een – Wedergeboorte) die wat geheilig word.” (Fase twee – Heiligmaking)
Naas Jesus Christus se soendood aan die kruis, is daar geen verdere offer wat vir sonde gebring kan word nie. Onthou die Here se woorde aan die kruis:
Joh 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
In Christus se kruisdood het God ons sonde vir eens en altyd geoordeel, en al wat ‘n persoon kan doen om die ewige lewe te ontvang, is om die Evangelie, as geskenk en sonder die doen van enige werke, in geloof, te ontvang. Glo net dood eenvoudig die Evangelie!
Efs 2:4 “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 2:5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 2:6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 2:7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

2. Ons moet onsself oordeel:

Wanneer: Nou!

Waar: Tydens ons aardse bestaan, (fase twee van ons verlossing – heiligmaking) na aanvanklike wedergeboorte (fase een – wedergeboorte.) (Lees asb die artikel “Drie Fases van Verlossing” vir verdere inligting rondom hierdie onderwerp.)

1Ko 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. (gesterwe) 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
Alle gelowiges behoort hulle geestelike lewens, in die lig van die Skrifte en onder leiding van die Heilige Gees, in oënskou te neem, om daardeur God se Vaderlike tugtiging, wat die dood kan insluit, in hierdie lewe vry te spring.
Heb 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?”
Indien die Heilige Gees ons van enige sonde oortuig, dan moet ons daardie sonde laat staan en dit aan God bely, wat ons vrylik sal vergewe.
1Jo 1:9 “ As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

3. Die gelowige se werke gaan beoordeel word :

Wanneer: Na afloop van die Wegraping.

Waar: Die Hemel by die Regterstoel Oordeel van Christus.

Die Regterstoel Oordeel van Christus, is slegs van toepassing op wedergebore Christene, omrede die probleem van hulle sondes, deur Jesus Christus se soendood aan die kruis ten volle opgelos is. Dus is daar geen moontlikheid dat ‘n gelowige, wat die Evangelie geglo het, ooit na die poel van vuur gestuur kan word nie, want God het alreeds Christus vir al die gelowige se sondes aan die kruis gestraf. (verlede, hede en toekomstige sondes en daar is dus geen sonde wat ‘n gelowige na die poel van vuur kan verdoem nie, want alle sonde is betaal. Indien daar ‘n sonde is wat ‘n gelowige na wedergeboorte na die poel van vuur kan verdoem, dan beteken dit dat Christus nie vir al ons sondes aan die kruis betaal het nie, en dan is ons almal nog in ons sondes. Om so iets te beweer is om Christus se voltooide werk aan die kruis te verwerp!) Let wel, dat geen ongeredde persoon voor die Regterstoel Oordeel van Christus sal verskyn nie. Die oordeel van alle ongeredde persone vind eers na afloop van die duisendjarige vrederyk van Christus plaas, wat meer as duisend jaar na afloop van die Regterstoel Oordeel van Christus, sal plaasvind. By die Regterstoel Oordeel van Christus sal alle gelowiges rekenskap van hulle werke, optredes asook die motiewe agter daardie werke en en optredes moet gee. Moenie die Regterstoel Oordeel van Christus met die Groot Wit Troon oordeel, wat eers na afloop van Christus se duisendjarige Vrederyk sal plaasvind, verwar nie.
2Ko 5:9 “Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
1Ko 3:12 “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur (God se alwetende oordeel) sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Soos reeds genoem, is daar geen moontlikheid dat die gelowige na die poel van vuur gestuur kan word of enigsins verlore kan gaan nie, want die gelowige is in Christus en dit is God se werk om die gelowige gered te hou. (lees asb die artikel “Ewige sekuriteit van die gelowige” vir meer inligting rondom hierdie waarheid.)

Die gelowige kan egter loon by die Regterstoel Oordeel van Christus verloor, en beskaamd by die Regterstoel Oordeel van Christus af weggaan, en daarom is dit uiters belangrik dat ons goeie werke deur en in die krag van die Heilige Gees voorbring. By die Regterstoel Oordeel van Christus sal die Here Jesus Christus die gelowige volgens daardie werke in Sy genade beloon, indien die gelowige daarvoor kwalifiseer.
1Ko 3:14 “As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
1Ko 4:5 Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.
2Ti 4:8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid (loon wat na wedergeboorte verdien kan word) wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.
Jak 1:12 Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe (loon) ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.
1Pe 5:4 En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon (loon) van heerlikheid ontvang.”
Ons sal nooit aan hierdie kant van die graf werklik kan begryp, wat ons as gelowiges, in die hiernamaals staan om te verloor nie! Ons kan egter weet dat die verlies groot sal wees, baie groter as wat ons ooit sal kan besef. Hoe ons ons lewens nou lewe gaan ewige implikasies vir ons inhou. (Die leser word aangeraai om die artikels “Gelowiges se werke gaan beoordeel word”; “Lone Krone en Goeie werke”; Die gelykenisse van die Ponde asook die Talente; en “ Wat is die Ewige Lewe” te lees om ‘n meer omvangryke verduideliking rondom hierdie aangeleentheid te bekom.)

4. Die volk Israel se oordeel. (Nie die Kerk nie)

Wanneer: Na Afloop van die Groot Verdrukking en voordat Christus self Sy Duisendjarige Vrederyk fisies op aarde vestig.

Waar: Op aarde.

God stel dit baie duidelik in Sy woord, dat Hy die volk Israel in hierdie oordeel (nie die Kerk nie) gaan oordeel. Hierdie gebeurtenis is in Esegiël 20:33-44 voorspel en beskryf:
Esg 20:23 “Tog het Ék my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle sal versprei onder die nasies en hulle sal verstrooi in die lande; 20:24 omdat hulle my verordeninge nie gehou het nie, maar my insettinge verwerp het en my sabbatte ontheilig het en hulle oë agter die drekgode van hulle vaders aan was. 20:25 So het Ék dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie. 20:26 En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die HERE is. 20:27 Daarom, mensekind, spreek met die huis van Israel (nie die Kerk nie) en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Verder het julle vaders My in hierdie saak smaadheid aangedoen, dat hulle troubreuk teen My begaan het: 20:28 toe Ek hulle in die land gebring het waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee, het hulle uitgekyk na al die hoë heuwels en al die digte bome, en hulle het daar hul offers geslag en daar hul aanstootlike offergawe gegee en daar hul lieflike offergeur gebring en daar hul drankoffers uitgegiet. 20:29 Toe het Ek aan hulle gesê: Wat is dit vir ‘n hoogte waarheen julle gaan? En hulle het dit Hoogte genoem tot vandag toe. 20:30 Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Wat? Julle is verontreinig in die weg van julle vaders, en julle hoereer agter hulle verfoeisels aan; 20:31 ja, deur die aanbieding van julle offergawes, deur julle seuns deur die vuur te laat gaan, is julle verontreinig met al jul drekgode tot vandag toe—en sou Ek My deur julle laat raadpleeg, o huis van Israel? So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek laat My deur julle nie raadpleeg nie! 20:32 En wat in julle gees opgeklim het, sal sekerlik nie gebeur nie—dat julle sê: Ons wil soos die nasies, soos die geslagte van die lande wees, deur hout en klip te dien. 20:33 So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal gewis met ‘n sterke hand en met ‘n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid oor julle regeer. 20:34 En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur ‘n sterke hand en deur ‘n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid. 20:35 En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig. 20:36 Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE. 20:37 En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond. 20:38 En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is. 20:39 Maar julle, o huis van Israel, so sê die Here HERE: Gaan weg en dien elkeen sy drekgode; maar hierná—sekerlik sal julle na My luister en my heilige Naam nie meer ontheilig met julle offergawes en julle drekgode nie. 20:40 Want op my heilige berg, op die verhewe berg van Israel, spreek die Here HERE, daar sal die hele huis van Israel, hulle almal, My dien in die land; daar sal Ek ‘n behae in hulle hê en daar sal Ek julle offergawes eis en die eerstelinge van julle aanbiedinge by al julle heilige gawes. 20:41 As ‘n lieflike geur sal Ek ‘n behae in julle hê wanneer Ek julle uit die volke uitlei en julle uit die lande versamel waarin julle verstrooi was, en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies. 20:42 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle in die land van Israel bring, in die land waar Ek my hand oor opgehef het om dit aan julle vaders te gee. 20:43 Daar sal julle dan dink aan julle weë en al julle handelinge waarmee julle jul verontreinig het, en julle sal vir julself walglik wees vanweë al jul slegte dinge wat julle gedoen het. 20:44 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek met julle handel ter wille van my Naam en nie volgens julle verkeerde weë of julle verdorwe handelinge nie, o huis van Israel, spreek die Here HERE.”
Wanneer die Here na afloop van die Groot Verdrukking fisies aarde toe terugkeer, net soos wat Hy vanaf die Olyfberg opgevaar het hemel toe, gaan hy die volk Israel van alle rebelle en ongelowiges reinig, deur hulle te dood, en die gelowige Jode gaan met hulle fisiese liggame Christus se aardse Koninkryk binnegaan. (Die leser word aangeraai om die reeks artikels “Profetiese rede op die Olyfberg” vir meer inligting omtrent hierdie onderwerp te lees.)

5. Die Oordeel van die Nasies:

Wanneer: Na afloop van die Groot Verdrukking en voor die aanvang van Christus se duisendjarige koninkryk op aarde.

Waar: Die aarde.

Die oordeel van die Nasies vind ons in Mat 25:31-46 wat soos volg lees:
Mat 25:31 “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; 25:32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; 25:33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. 25:34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. 25:35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; 25:36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. 25:37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? 25:38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? 25:39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? 25:40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. 25:41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. 25:42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. 25:43 Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. 25:44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? 25:45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. 25:46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”
Ons sien duidelik dat al die Nasies, nie Israel, by hierdie geleentheid voor Christus verskyn. Die oordeel vind nie in die hemel plaas nie, maar op aarde, na afloop van Jesus Christus se wederkoms aarde toe. Die skape is al die mense wat tydens die Verdrukking tot geloof in Christus gekom het. Hulle het dus nie deel van die Kerk, wat alreeds meer as sewe jaar tevore weggeraap is Hemel toe, gevorm nie. Die bokke verteenwoordig alle mense wat die Evangelie verwerp het. Hulle word dus op hulle werke geoordeel en daarvolgens veroordeel. Onthou die kwessie van die mens se sonde is aan die kruis deur Christus se dood opgelos, en daarom hang dit af of ‘n persoon Christus se soendood vir homself in geloof toeëien of verwerp. Daarom word die bokke en skape van die staanspoor af van mekaar geskei en nie eers nadat hulle werke in ag geneem is nie. Die skape wat die Koninkryk beërwe, is die getroue gelowiges, wat Christus heelhartig nagevolg het. Die ontroue skape, wat ook die koninkryk sal binnegaan, maar nie alles wat daar te beërwe is noodwendig as besitting sal beërwe nie, of ‘n aanprysing by Christus sal ontvang nie, omrede hulle nie Christus as getroue dissipels nagevolg nie, word nie hier behandel nie, want die Here Jesus Christus het van die twee uiterstes gebruik gemaak om Sy punt te stel. (Vir meer inligting, word die leser aangeraai om die gelykenis van die Ponde asook die gelykenis van die Talente vir verdere inligting te lees.) Net soos wat ons van swart en wit sal praat, om die uiterstes tussen goeie en slegte dade te illustreer, en die grys areas, wat wel bestaan uitlaat, omrede dit nie noodwendig deel van die huidige besprekingspunt uitmaak nie, het Jesus van hierdie tegniek gebruik gemaak om Sy punt aan ons oor te dra, sonder om onnodiglik verder daaroor uit te brei.

6. Die oordeel van Satan en sy demone:

Wanneer: Na afloop van Christus se duisendjarige Vrederyk op aarde en voor die aanvang van die Dispensasie van die Ewigheid.

Waar: Die aarde.

In Judas 1:6 lees ons:
Jud 1:6 “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;”
Alhoewel hierdie teksgedeelte hoofsaaklik oor die demone handel, wat in ‘n poging om die bloedlyn van die mens waardeur die Christus gebore sou word te besoedel, deurnat hulle met die vroue van die mensdom in Gen ses gepaar het, is daar egter ‘n dag van afrekening vir Satan en al sy demone, soos wat bostaande teksgedeelte baie duidelik voorspel. Hierdie dag van oordeel sal teen die einde van die Duisendjarige Vrederyk van Christus plaasvind, wanneer Satan en sy demone vir ewig in die poel van vuur gewerp sal word, waar hulle vir ewig gepynig sal word.
Op 20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Die Bybel stel dit ook baie duidelik, dat die poel van vuur spesifiek vir Satan en sy demone geskep is, en dat hierdie afskuwelike plek, nie spesifiek vir die mens geskep is nie. Dit moet egter gelet word, dat die meeste van die mensdom egter in die poel van vuur gaan beland, omrede hulle die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis vir hulle in ongeloof verwerp het, of Sy kruisdood as nie voldoende genoeg beskou het om hulle van hulle sondes te red nie, deurdat hulle hulle eie werke by Christus se voltooide werk wou voeg in ‘n poging om hulleself te red of hulleself gered te hou, wat maar net weer op ongeloof en ‘n werke evangelie neerkom.
Mat 25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”
Alhoewel die konteks van bostaande teksgedeelte oor die oordeel van die Nasies, na afloop van die Groot Verdrukking, handel het ek hierdie teksgedeelte net aangehaal om aan te dui dat die poel van vuur vir Satan en sy demone voorberei is en nie aanvanklik vir die mensdom nie.

7. Die oordeel van die ongelowiges (Die Groot Wit Troon Oordeel):

Wanneer: Na afloop van Christus se duisendjarige Vrederyk op aarde en voor die aanvang van die Dispensasie van die Ewigheid.

Waar: In die hemele.

Hierdie oordeel wat ook as die Wit Troon Oordeel bekendstaan, sal net vir die ongelowiges van alle tye wees, en geen ware gelowige sal hier sy verskyning maak nie. Hierdie oordeel moet nie met die Regterstoel Oordeel van Christus, wat net vir gelowiges is, verwar of saamgevoeg word nie. (Vir meer besonderhede oor hierdie oordeel word die leser aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel” te lees.) Na afloop van Christus se Duisendjarige Vrederyk op aarde, sal al die ongelowiges wat nog nie in die poel van vuur gewerp is nie, opgerig word en voor die Wit Troon Oordeel van God (die Here Jesus Christus) verskyn om daar op grond van hulle werke deur Christus beoordeel en verdoem te word. Indien iemand se naam nie in die Boek van die Lewe gevind is nie, en omdat die mens nie op grond van sy eie werke gered kan word nie , maar slegs op grond van geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis alleenlik, gaan al hierdie mense in die poel van vuur gewerp word. Al wat by hierdie oordeel bepaal gaan word, is met watse mate van straf die ongelowige die poel van vuur binne sal gaan, waar hulle vir ewig die gevolge van hulle dade sal moet dra.
Opn 20:11”En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 20:12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 20:13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 20:15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Soos reeds genoem, is die poel van vuur nooit vir die mens geskep nie en is dit nie God se wil dat enige persoon daar moet opeindig nie. Al wat Hy van die mens verwag is om die goeie nuus van die Evangelie te glo, so maklik soos dit.
2Pe 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Dit is God se wil om alle mense te red. Maar omrede Hy aan die mens ‘n vrye wil gegee het, gaan Hy Homself nie op mense afdwing nie. Elke persoon gaan egter vir sy eie keuses verantwoordelik gehou word. Hierdie teksgedeelte weerlê die leerstelling dat God sekere mense uitgekies het om verlore te gaan en dat Hy ander uitverkies het om gered te word.

Ter Afsluiting: As dit by die bestudering van die Bybel kom is dit belangrik om onderskeid tussen die Kerk en Israel; tussen wedergeboorte en dissipelskap (Drie Fases van Verlossing) en die verskillende fases van Christus se wederkoms ens, te tref. Anders ontstaan die gevaar dat ons sekere groepe mense, of die verskillende dispensasies, met ander gaan vermeng en sodoende op ‘n dwaalspoor beland. Dit is my bede dat hierdie artikel duidelik die onderskeid tussen verskillende oordele uitlig en dat dit die leser in sy Christelike wandel tot voordeel sal strek.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.