Antichris en Covid-19

Covid-19 pandemie en hoe dit ons wêreld verander het

Met die skryf van hierdie artikel sal daar gepoog word om te demonstreer hoe die Covid-19 pandemie ons wêreld onherroeplik verander het. (of gaan verander.) Dit egter duidelik gestel word, dat die Covid-19 pandemie nie die begin van die geboortepyne, waarvan Jesus Christus in Matt.24:8 en Markus 3:18 van praat, is nie. Daar is nou baie mense wat verkondig dat ons nou alreeds die geboortepyne waarvan Christus gepraat het beleef en hierdie sienswyse kan nie met die Skrifte versoen word nie. Die Covid-19 pandemie kan wel as ‘n skaduwee van die Verdrukking bestempel word, wat ‘n aanduiding is dat die Verdrukking nie meer baie ver in die toekoms kan wees nie. Die Skrifte voorspel onomwonde dat die volgende wêreldwye koninkryk die van die Antichris gaan wees. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om baie kortliks ‘n agtergrond skets van die gebeure net voor, tydens en na afloop van die groot verdrukking hier weer te gee. Die leser word ook baie ernstig versoek om die illustrasies “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking” asook die illustrasie “Die sewe dispensasies” sorgvuldig te bestudeer.

‘n Kort agtergrond: Die Skrifte stel dit onomwonde dat die Antichris oor ‘n een wêreldregering diktatorskap gaan beskik. Dit is egter van uiterste belang om seker te maak dat ons weet wanneer hy sy een wêreld diktatorskap gaan instel, en daarom is dit belangrik om in chronologiese volgorde toekomstige gebeure kortliks hier weer te gee. Dit sal aan ons ‘n raamwerk gee van waar af ons kan werk om tot ‘n korrekte Skriftuurlike slotsom te kom.

Die Wegraping: Die Wegraping het geen tekens wat die gebeurtenis voorafgaan nie en kan enige tyd plaasvind. Al die tekens wat die Skrifte aan ons voorhou, is tekens van Christus se wederkoms aarde toe om Sy koninkryk hier te vestig, nie tekens vir die wegraping nie. Dit is belangrik om hierdie feit te onthou, want die wegraping is ‘n tekenlose gebeurtenis en kan op enige tydstip plaasvind. Met die wegraping kom die Kerk Dispensasie tot ‘n einde, wanneer die Here sy Kerk van die wêreld af verwyder en hulle hemel toe neem. (Joh.14:2-3; 1Thess.5:9) Dit is dus duidelik dat die Kerk nie die Here se Messiaanse koninkryk op aarde is of vestig nie. Na afloop van die wegraping vind die Regterstoel Oordeel van Christus plaas, waaraan slegs persone wat tydens die Kerk Dispensasie (Dispensasie van Genade) gelowig geword het aan deel sal neem. By die Regterstoel Oordeel van Christus word gelowiges vir hulle arbeid in die Here geëvalueer en daarvoor beloon. (2Kor.5:10) Dit is belangrik om te onthou dat die verdrukking nie met die wegraping begin nie.

Die Voorbereidings tydperk: Daar is ‘n voorbereidings tydperk tussen die afhandeling van die Wegraping en die aanbreek van die Verdrukking. Slegs wanneer die Heilige Gees, wie d.m.v. die Kerk die Antichris se verskyning weerhou, uit die weg geruim is sal die Antichris sy opmars in wêreld politiek kan begin. (Daarom is dit ‘n ernstige mistasting om te probeer vasstel wie die Antichris is. Hy sal slegs na afloop van die wegraping na vore kom. Boonop kan sy politieke opmars slegs begin nadat daar alreeds ‘n tien nasie konfederasie bestaan. (Iets wat nie nou die geval is nie) Hierdie tien nasie konfederasie sal hoofsaaklik uit westerse nasies bestaan wat niks anders as die herstelde Romeinse Ryk sal wees nie. (Dan.7:23-24; 2:33) Nadat die tien nasie konfederasie (wat moontlik ‘n verkleinde weergawe van die Europese Unie kan wees) op die been gebring is sal die Antichris op die toneel verskyn, en sal dan drie van die tien leiers neerwerp en daardeur beheer oor die westerse konfederasie bekom.
Dan.2:33 “sy bene van yster, sy voete (met tien tone) gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.”
Dan.7:23 “Só het hy gesê: Die vierde dier — die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. 24 En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, (tien nasie konfederasie)en ‘n ander een (die elfde heerser, wat laaste op die toneel verskyn, is die Antichris) sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.”
Slegs wanneer die Antichris sy politieke opmars in die tien-nasie konfederasie voltooi het, sal hy oor die mag beskik om ‘n vredesverdrag op Israel af te dwing en oor die vermoeë beskik om dit te eerbiedig. Hierdie voorbereidings tydperk, wat na afloop van die wegraping plaasvind, kan van etlike dae tot self dekades neem om afgehandel te word.

Die aanbreek van die Verdrukking: Slegs wanneer die Antichris ‘n verbond met Israel as onafhanklike nasie teken sal die Verdrukking begin wat ook die begin van die geboortepyne is. (Dan.9:27, 1Thess.5:3) Tydens die eerste helfte (Drie en ‘n halwe jaar) sal Israel (Joodse geloof) asook die valse ekumeniese Christendom godsdiensvryheid geniet. (slegs ware gelowiges sal vervolg word.) Israel sal ook vrede geniet, omrede hulle deur die vredesverdrag met die Antichris beskerm sal wees. Die res van die wêreld, wat nie saam met die Antichris se politieke beleidsrigtings stem nie, sal oorlog beleef wat tot verskriklike lewensverlies aanleiding sal gee. (Die vier ruiters van die apokalips wie niemand anders as die Antichris is nie! Openb.6:2-8) Sien ook Matt.24:4-28 ook bekend as Daniël se Sewentigste Jaarweek (Dan.9:24-27;) Die groot dag van die Here (Zef.1:14-18); Lees ook Openbaring hoofstukke 6-19. Teen die einde van die eerste drie en ‘n halwe jaar van die sewe jaar verdrukking sal die Esegiël 38-39 veldslag plaasvind wanneer Rusland aan die hoof van ‘n groep hoofsaaklik Moslemlande (Sentraal Asië, Turkye, Iran, Sudan en Libia ) Israel binneval. Die Here sal dan intree en op bonatuurlike wyse die Konfederasie van Rusland en haar Moslem bondgenote ‘n ernstige nederlaag toedien, wat Rusland militêr tot so ‘n mate sal verswak, dat dit die weg vir die Antichris ooplaat om die nederlaag van die Russies-Moslem Alliansie vir homself toe te eien en dan volle heerskappy oor die wêreld te bekom.

Aanbreek van die Groot Verdrukking: Ook bekend as die Benoudheid van Jakob (Jer.30:7). Teen die middel van die sewe jaar verdrukking word Satan (die draak) en sy engele uit die hemele gewerp en word tot die aarde beperk. (Openb.12:7-9) Die Antichris verbied nou enige ander vorm van godsdiensbeoefening wat die Joodse geloof en tempeldiens insluit.(Dan.9:27; Dan.11:36-37; Matt.24:15). Die Antichris sal die herstelde tempel binnegaan en hom self as God verklaar.
2Thess.2:4 “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”
Die hele wêreld sal nou gedwing word om die Antichris te aanbid. Die leser word aangeraai om self die hele hoofstuk van Openbaring 13 te lees. Ek gaan slegs die nodigste teksgedeeltes hier weergee.
Openb.13:4 “En hulle het die draak (Die Duiwel) aanbid wat die dier (Die Antichris) mag gegee het, en die dier (Antichris )aanbid en gesê: Wie is aan die dier (Antichris) gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? 5 En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen. (die laaste drie en ‘n halwe jaar van die Verdrukking, naamlik die Groot Verdrukking) 6 En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. 7 Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. (Die hele wêreld) 8 En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, (slegs ongelowiges) almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.

In Open,13:11 word ons ook aan die valse profeet voorgestel naamlik:
Openb.13:11 En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak.
(Die vals profeet)12 En hy oefen al die mag van die eerste dier (Die Antichris) uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. (Slegs die duiwel en die Antichris mag nou aanbid word. Alle ander gelowe word onwettig verklaar.)13 Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. 14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier (Die Antichris) te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. 15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier (Antichris)se beeld nie aanbid nie. (Die Gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël en die Here Jesus Christus van gepraat het. Matt.24:15; Mark.13:14)

Openb.13:16 “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op (op nie in nie) hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; 17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. 18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.
Ons sien dus dat teen die middel van die Verdrukking, met die aanbreek van die Groot Verdrukking, die stigting van ‘n een-man Regering, (diktatorskap) onder aanvoering van die Antichris, en ‘n een wêreld godsdiens wat niks anders as duiwelaanbidding is nie. Globalisering gaan dus ‘n werklikheid word. Nou draai die Antichris teen die volk Israel en begin hulle vervolg. (almal wie hom nie wil aanbid nie. Matt.24:15-22. Hierdie volksmoord op die Jode gaan baie erger as die Joodse-volksmoord onder Hitler wees.) Baie meer kan oor hierdie onderwerp geskryf word maar ek gaan vir eers hier stop.

Die Here Jesus Christus se Wederkoms: Die Oordele van die seëls, trompette, asook skale/bakke, wat ons in Openbaring vind, volg kort op mekaar en loop direk op Christus se Wederkoms en die finale slag van Armageddon uit. (Matt. 24:29-31) Daarna word Satan vir duisend jaar gebind (Openb.20:1-3)

Christus se Duisendjarige Vrederyk (Die Millennium): Presies 75 dae na afloop van Christus se wederkoms word Christus se Duisendjarige Vrederyk amptelik ingestel, en dit slegs nadat Hy ‘n einde aan al die mensdom se koninkryke gemaak het. (Dan.12:8-13)

Die ewigheid en die Wit Troon Oordeel: Teen die einde van die Duisendjarige Vrederyk van Christus, word die Satan vir ‘n laaste keer vrygelaat om die ongeredde mensdom, wat tydens die Vrederyk gebore word, vir een finale keer in rebellie teen Christus se heerskappy op aarde aan te spoor. Die Here verdelg hierdie rebelle met vuur uit die hemel en daarna word Satan vir ewig in die poel van vuur gewerp. Daarna vind die Wit Troon Oordeel plaas, waar alle ongelowiges van alle tye veroordeel sal word. Geen gelowiges neem aan hierdie oordeel deel nie. (Openb.20:11-15) Daarna word die nuwe Hemel en Nuwe aarde geskape. Waar geen boosheid of dood weer sal binnekom nie. (Openb.21; 2Pet.3:7-13). Die leser word aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel” te lees.

Met hierdie kort agtergrond kan ons nou gaan kyk hoe die Covid-19 pandemie ons wêreld verander het en hoe dit ‘n bydrae tot die Antichris se verskyning op die wêreld toneel kan lewer.

  • Geskiedenis vind nie in ‘n vakuum plaas nie. Net soos wat die wêreld vir Christus se eerste koms voorberei moes word, word dit ook nou vir Sy wederkoms voorberei. In hierdie opsig het die Here ons nie oningelig gelaat nie. Onthou, ons praat hier van die Here Jesus Christus se wederkoms aarde toe, om na afloop van die Groot Verdrukking, Sy Koninkryk op aarde te vestig. Ons praat nie hier van die wegraping wat nog voor al hierdie gebeure reeds afgehandel moet wees nie. Die wegraping het geen vooraf profesie of tekens wat as aanduiding sal dien dat dit op hande is nie. Dit kan ter enige tyd plaasvind, en veral indien mens in ag neem, dat daar bo enige twyfel bewys kan word dat die wêreld nou alreeds vir Christus se wederkoms voorberei word. Die wêreld se reaksie op die Covid-19 het hierdie hele proses versnel. Ons bly in die algemene tydperk van Christus se wederkoms. Net soos wat daar getroue gelowiges was, wat tydens Christus se eerste koms bewus van daardie feit was, is daar ook nou baie gelowiges wat bewus is dat Christus se wederkoms nie meer ver in die toekoms kan wees nie. Soos wat daar met Christus se eerste koms tekens was, is daar vandag tekens dat Sy koms nie meer ver in die toekoms kan wees nie. Die geboorte pyne het egter nog nie plaasgevind nie, omrede die wegraping nog nie plaasgevind het nie en die sewe jaar verdrukking nog nie aangebreek het nie. Daar is egter baie onmiskenbare tekens dat die wêreld vir Christus se wederkoms voorberei word, en om hierdie feite te ignoreer sal ‘n ernstige mistasting wees en tot ons eie nadeel strek.
  • Die Skrifte stel dit onomwonde dat die Antichris oor ‘n een-man diktatorskap gaan beskik. Globalisering in dus ‘n werklikheid wat sy hoogtepunt teen die middel van die Verdrukking sal bereik. Teen daardie tyd sou die Here alreeds die Kerk Dispensasie d.m.v. die wegraping tot ‘n einde gebring het, en derhalwe kan die ware Kerk, wat uit alle ware gelowiges bestaan, wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof in Christus gekom het nie deur die toekomstige gebeure, wat tydens die Verdrukking sal plaasvind, aangeraak word nie. (Wat God se oordele oor ‘n goddelose wêreld en die merk van die dier insluit.)
  • Die Antichris sal die tegnologie en ander stelsels wat alreeds bestaan gebruikmaak. Hy sal nie nuwes hoef uit te dink nie. Hy is slegs ‘n mens en sal nie alwetend wees nie. Hy kan dus onmoontlik alles weet en daarom sal hy hoofsaaklik van bestaande tegnologie en politiese ideologieë en wette gebruikmaak. In hierdie opsig speel die tegnologiese, politiese en godsdienstige ontwikkeling wat ons vandag sien ‘n groot rol. (dit sluit ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom in, wat die Wêreld Raad van Kerke insluit) Die wêreld word dus onherroeplik vir Christus se wederkoms voorberei. Ons weet ook vanuit die Skrifte, dat voor Christus se wederkoms kan plaasvind, die wêreld eerstens onder ‘n een-man diktatorskap van die Antichris sal kom. Ons sien wêreldwyd die skepping van krises wette om gebeure soos die Covid-19 virus pandemie aan te spreek en dit met tegnologiese hulpmiddele te monitor. Hierdie wette sal nie na afloop van die Covid-19 pandemie net skielik in die wind verdwyn nie. Daardie wetgewing, en metodes, wat tydens die pandemie gebruik is sal in die boeke vir ‘n toekomstige krises aangeleenthede bly en moet ook in plek wees vir die Antichris om later te misbruik.
  • Die kriteria vir die huidige krises wetgewing wat orals in die wêreld voorgestaan, en ingestel word, kan later baie maklik verbreed word om ‘n sekere groep, ouderdom groep, geloof ensovoorts in te sluit. ‘n Opmerksame politikus sal nooit n krisis laat verbygaan sonder om dit vir sy eie politieke doelstellings uit te buit nie. Sodanige krises wetgewing kan ook baie maklik gemanipuleer en aangewend word op spesifieke ideologiese uitkomste te bewerkstellig. (wat korttermyn politieke doelstellings insluit) Daarbenewens kan dit aangewend word om vrye spraak, asook reg op privaatheid, te beperk wat die media as geheel, asook sosiale media sal insluit. ‘n Regering wat jou reg op privaatheid verontagsaam, sal ook nie skroom om sy hande op jou eiendom te lê nie, en daarna ook nie skroom om sy hande op jou liggaam/lewe te lê nie. Satan is agter die skerms besig om die wêreld se regerings vir sy eie bose doeleindes te beïnvloed, en die Here gaan hom dit toelaat, omrede die wêreld as geheel God en Sy heerskappy verwerp. (Die leser word aangeraai om die artikel “Satan se optrede ten opsigte die nasies” te lees) Ook in hierdie opsig het die wêreld se reaksie op die Covid-19 pandemie ‘n bydrae gelewer.
  • Binne die raamwerk van onafhanklike state sal daar toenemend gepoog word om sosialistiese regerings te vestig. Aanvanklik sal die spesifieke vorm van sosialistiese regering van nasie tot nasie verskil, maar daar sal toenemend in die rigting van een of ander sosialistiese regering beweeg word. Onafhanklike state kan dan later onder die vaandel van globalisering individuele identiteit en soewereiniteit prysgee om sodoende ‘n een wêreld regering te vorm. Iets wat slegs teen die middel van die Verdrukking (na afloop van die eerste drie en ‘n halwe jaar van die verdrukking) bereik sal word. Die wêreld se reaksie op die Covid-19 pandemie het hierdie hele proses vergemaklik. Daar sal toenemend aan die publiek voorgehou word, dat om krisisse te oorkom, die wêreld as geheel moet saamwerk. Dit is tot ‘n groot mate korrek, maar dit beteken nie dat onafhanklike state hulle soewereiniteit vir ‘n klein sentrale wêreld liggaam, groepe persone, organisasie ensovoorts moet prysgee nie. So ‘n situasie kan net tot ‘n magsvergryp aanleiding gee. (iets wat die Bybel duidelik voorspel sal gebeur!)
  • Die rede hoekom ek glo dat die wêreld toenemend na sosialistiese politieke stelsels sal beweeg is as volg: Vir die Antichris om die wêreld te beheer, sal hy van ‘n politieke stelsel gebruik moet maak om sy doelwitte te bereik, en sosialisme sal aan hom die hierdie oplossing bied, omrede sosialisme van ‘n sentrale regering met ‘n groot burokrasie afhanklik is, en wat aan die mense in daardie sisteem alles kan voorskryf, en waarvan die publiek ook grootliks vir hulle finansiële oorlewing afhanklik is. (Sosialisme as politieke stelsel fasiliteer beheer, omrede die staat alle fasette van die samelewing beheer) Derhalwe kan ons verwag dat privaat instellings toenemend onder beheer van die staat geplaas sal word, of selfs heeltemal met staatsinstellings vervang sal word. (Byvoorbeeld private siekefondse) Om daardie doel te bereik, sal regerings toenemend van ‘n toelaes ekonomie gebruikmaak wat die gewone man op straat toenemend van die staat afhanklik sal maak. (Toelaes verseker stemme) Privaat ondernemings, asook werkgewers, sal toenemend deur die staat gereguleer word om hulle voortbestaan ook van die staat afhanklik te maak. In kort gaan alles oor beheer, en dit is iets wat toenemend op ‘n wêreldwye grondslag sal moet plaasvind, om later as platvorm te dien van waar die Antichris toenemend beheer oor die wêreld kan uitoefen. Derhalwe kan mens verwag dat die Verenigde Nasies ‘n groot rol in hierdie opsig sal speel.
  • Die ou gesegde dat mag ‘n persoon korrup bevestig die feit dat algehele mag ‘n persoon algeheel sal korrup. Slegs God, Wie absoluut heilig is, kan algehele mag korrek hanteer. Satan se val is ‘n duidelike bewys van die feit dat mag selfs ‘n perfek geskape wese met ongekende intelligensie kan korrup. Dit is derhalwe ten alle tye gevaarlik om volle politieke mag in een persoon se hande oor te gee. (En veral indien mens in ag neem dat alle mense oor ‘n sonde natuur beskik, en geneig is om ons eie belange bo die van ons medemens te plaas en geneig is om onsself te verheerlik.) Ons kan maar gerus as voorbeelde na die die verskriklike bloedvergieting wat onder diktators soos Hitler, Stalin, Pol Pot en vele ander soos hulle plaasgevind het gaan kyk. Om hierdie rede het die Here self die grense van onafhanklike nasies vasgestel, met die doel dat waar die een nasie die wêreld wil oorheers, en in ‘n een-man diktatorskap wil verenig, daar ander lande sal wees wat hulle kan teëstaan. Die oorwinning van die geallieerde magte oor die magte van die spilmoonthede (Duitsland, Italië en Japan) tydens die tweede wêreldoorlog dien as goeie voorbeeld hiervan. Derhalwe is dit uiters belangrik om geskiedkundige gebeurtenisse te bestudeer, omrede die Here sekere gebeurtenisse toegelaat het sodat die mensdom lesse daaruit kan leer. Een sodanige les is die feit dat waar regerings onder die gesag van ‘n diktator beland dit tot ellende, smarte en lewensverlies aanleiding gee. ‘n Les wat die rebelse mensdom, in hulle poging om sonder God ‘n Utopia op aarde te vestig, net nie wil leer nie. Boonop het politieke stelsels nie op aarde sonder ‘n doel ontstaan nie. Satan en sy engele is agter die skerms besig in ‘n poging om ‘n een man diktatorskap op die aarde te vestig, waardeur hy deur die hele mensdom as god aanbid wil word. Die evolusieleer beweer (valslik) dat biologiese wesens na hoër vlakke evolueer, en derhalwe sal baie van hulle maklik onder die invloed van Nietzsche se super mens, in hierdie geval die Antichris, se invloed val en selfs so ver gaan en hom aanbid. (Hierdie mense sal, net soos Nietzsche, op die harde manier leer dat God nie dood is nie!)
  • ‘n Verdere punt wat as aanduiding dien dat die Covid-19 pandemie ‘n gebeurtenis is wat die weg vir die Antichris se wêreldryk fasiliteer, is die feit dat daar nou sprake is dat hulle ‘n entstof met een of ander inplanting wil kombineer, wat as bewys sou dien dat ‘n persoon wel die entstof ontvang het. Hierdie plan dui ook onmiskenbaar daarop dat die wêreld vir die verskyning van die Antichris voorberei word. Op sigself is daar niks daarmee verkeerd op inenting met ‘n een of ander elektroniese inplanting te kombineer nie, maar dit kan (en sal later) in die verkeerde hande vir bose doeleindes aangewend word. Iets wat die Antichris wel teen die middel van die Verdrukking sal doen. En dan sal die kriteria wat gebruik sal word nie entstof wees nie, maar ‘n verpligting om die Antichris te aanbid en trou aan hom te sweer.
    Openb.13:16 “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op (op nie in nie)hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; 17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.
    Dit gaan een metode wees waarop die Antichris aanbidding van homself kan verseker, en ook as hulpmiddel dien om gelowiges, wat weier om die merk te neem, te identifiseer, hulle finansieel te ruïneer en hulle selfs te dood. Persone wat die merk aanvaar sal Satan indirek aanbid, en sal nie meer deur die Heilige Gees na Christus vir verlossing getrek word nie. ‘n Persoon wat die merk van die dier ontvang het sal dus nie gered kan word nie. Neem egter kennis dat sulke persone willens en wetens die merk van die dier aanvaar as bewys dat hulle hom aanbid. (Daar sal geen onduidelikheid ten opsigte van hierdie feit wees nie.)
  • Ons moet egter daarop let dat verpligting om die merk van die dier te neem, slegs aan mense wat tydens die Verdrukking leef voorgehou sal word, en dit eers teen die middel van die Verdrukking, nadat die eerste drie en ‘n halwe jaar alreeds versterk het. Ongelukkig is daar mense wat op WhatsApp en ander media verkondig dat as ‘n persoon vandag die inplanting, wat as bewys sou dien dat hy teen die Covid-19 virus ingeënt is, sou aanvaar, so ‘n persoon sy siel aan die duiwel verkoop het en nooit weer gered kan word nie. Sulke mense praat onsin en gaan nog onnodiglik vrees en bekommernis veroorsaak. Dit gaan ook veroorsaak dat mense onnodiglik ‘n entstof, wat hulle lewens kan red, sal weier en self hulle werk sal verloor. Wanneer ‘n persoon die merk van die dier gaan aanvaar, gaan dit wees omrede hy willens en wetens die Antichris aanbid. Dit gaan ‘n bewustelike geloofsbesluit van daardie persoon se kant af vereis, en die merk sal dus met ‘n Antichris aanbidding (Duiwelaanbidding) gekombineer wees, nie met entstof nie. Die feit dat hulle entstof met ‘n elektroniese inplanting wil kombineer, dien net as teken dat die wêreld vir die Verdrukking voorberei word, niks meer nie. Boonop stel die Bybel dit duidelik dat die merk van die dier op (nie in nie) die hand of voorkop van ‘n persoon geplaas sal word, wat moontlik ‘n biometriese tatoeëermerk of iets soortgelyks kan wees. Gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef gaan nie voor die toets, om die merk van die dier te aanvaar, geplaas word nie. Slegs persone wat na afloop van die wegraping, en aanbreek van die Verdrukking, hulleself nog op aarde bevind sal daardie keuse moet maak. Mens moet nie in hierdie opsig kop verloor nie!

Ter Afsluiting: Die Here het die mens ‘n geleentheid gegee om die wêreld te regeer en ongelukkig gaan dit op ‘n ongekende ramp uitloop. Die mensdom is alreeds tot so ‘n mate deur sy eie hubris verblind, en derhalwe besef hy nie dat hy nie sonder God (en Sy fisiese teenwoordigheid) die aarde suksesvol kan regeer nie. In ‘n poging om ‘n mensgemaakte Utopia te bewerkstellig, is hulle egter spoedig op pad om die mees verskriklikste tydperk van die mens se geskiedenis, naamlik die Verdrukking, binne te gaan. In hulle poging om van God se heerskappy bevry te word, gaan die mens homself egter in die mees onderdrukkende, wreedaardige vorm van slawerny van alle tye bevind, naamlik die Sataniese heerskappy onder bewind van ‘n een man diktatorskap van die Antichris. Hoe harder die mens poog om ‘n humanistiese Utopia op aarde te vestig, hoe erger maak hy dinge.

Dit wil voorkom asof die mensdom se rebellie, wat in die tuin van Eden begin het, nou vinnig besig is om sy hoogtepunt te bereik. Derhalwe is die mens vasbeslote om ten alles kostes te demonstreer dat hy die wêreld, sonder Christus se fisiese teenwoordigheid, op ‘n sinvolle, en ordelike wyse kan bestuur. A.g.v. die mens se eiewaan, en selfverheffing, is hy besig om sy lewe in teenstand met God se opdragte uit te leef. God beskou die menslike lewe as waardevol, juis omrede Hy die mens in Sy beeld geskape het. Maar die mensdom vermoor jaarliks miljoene kinders d.m.v. aborsie maar wil dan in vrees vir ‘n pandemie leef wat baie minder lewens opeis. God gaan die mens egter gee wat hy so graag wil hê, en die mens gaan dan op die harde manier moet uitvind dat slegs God die wêreld met geregtigheid kan regeer, en hierdie feit sal die Here Jesus Christus dan ook tydens die duisendjarige Vrederyk op aarde, na afloop van Sy wederkoms, demonstreer.

Hierdie beginsels geld ook vir Christene wat enige vorm van Christelike rekonstruksionisme, asook enige vorm van koninkryksteologie voorstaan. Koninkryk nou en rekonstruksie proponente maak ‘n ernstige fout indien hulle dink dat die kerk die wêreld gaan oorneem en die wêreld in ‘n Christelike gemeenskap gaan verander. (en dit terwyl Christus fisies afwesig is.) Die Here het nooit aan die Kerk die opdrag gegee om die wêreld oor te neem nie. Die Kerk se plig is om die Evangelie te verkondig en om dissipels te maak. Hy het alreeds in Sy woord dit duidelik gestel dat Hyself Sy koninkryk op aarde sal vestig. Christene wat nie God se profetiese woord in hierdie opsig wil aanvaar nie, maar die Koninkryk self op aarde wil vestig, weerspreek die Here en is Hom ongehoorsaam. Dit is maar net nog ‘n vorm van eiewaan wat ook met die Skrifte in botsing is.) Die Skrifte stel dit onomwonde dat die volgende wêreldheerskappy wat op die toneel gaan verskyn die van die Antichris sal wees, nie Christus se Messiaanse Koninkryk nie. (kyk maar in watse swak geestelike, en leerstellige toestand die Kerk as geheel is, en dan is daar nog steeds mense wat beweer dat die Kerk die wêreld volgens God se standaarde kan regeer. Die Kerk handhaaf self dan nie eers daardie standaarde nie. Die Kerk verbeter nie maar word eerder meer afvallig! (Net soos wat die Skrifte voorspel het!)
2Tim.4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer (Bybelse leerstellings) nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid (Bybelse leerstellings) en hulle sal wend tot fabels.
2Tim.3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
2Tim.3:1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid
(mense wat beweer hulle is godsdienstig en gered) het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Die leser word aangeraai om die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk Kom” te lees

Die wêreld se geskiedenis (wat die van die Kerk insluit) demonstreer bo enige twyfel dat die wêreld slegs deur die Here Jesus Christus se fisiese teenwoordigheid met alle geregtigheid regeer kan word. En daarom moet ons bid dat Sy Koninkryk kom.
Luk.11:2 “En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;” (Die Here se wil geskied nie huidiglik op die aarde, sowel as in die Kerk, soos wat dit in die hemel die geval is nie. Dit sal slegs ‘n werklikheid word nadat Christus Sy Koninkryk op aarde gevestig het. En daarvoor moet ons bid!)
Christus se Messiaanse koninkryk sal egter slegs kom, wanneer Hy na afloop van die Groot Verdrukking, fisies/liggaamlik Sy verskyning op aarde maak, en self Sy koninkryk op aarde vestig, vanwaar Hy fisies vanuit Jerusalem sal regeer. Alles wat ons nou sien gebeur is ‘n indikasie dat die Here die wêreld vir Sy wederkoms voorberei. Nie meer lank van nou af nie, gaan God se profetiese woord, soos wat ons dit in die Skrifte staan, in vervulling begin gaan, en dan sal die geboortepyne eers begin. Maar voordat die geboortepyne (of begin van die smarte) kan plaasvind moes die wegraping eers plaasvind. ‘n Gebeurtenis wat in my opinie baie naby moet wees. Die wegraping sal die finale kataklismiese gebeurtenis wees wat die weg vir die Antichris se verskyning oopmaak en wat tot die Verdrukking en Christus se Wederkoms aanleiding sal gee. Wat ons nou sien gebeur is die plasing van die verhoogrekwisiete, en een van die dae gaan die gordyn, met die aanbreek van die wegraping, gelig word en dan gaan die toneelstuk werklik begin. In hierdie opsig het die wêreld se reaksie op die Covid-19 pandemie ‘n rol gespeel.
Openb.22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.
Openb.22:20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!

Maranata! Ons Heer kom!”

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.