God se klassifikasie van gelowiges 2

God se klassifikasie van die mensdom. Deel 2

In die vorige artikel, in hierdie reeks van twee artikels, wat oor die klassifikasie van die mensdom handel, het ons gesien dat die “natuurlike” mens, of te wel die ongeredde persoon, hoogs intelligent mag wees, maar omrede hy nie die Heilige Gees in hom het nie, kan hy nie werklik die “diep dinge” van God soos wat dit in die Bybel opgeteken staan verstaan nie. Vanuit die Skrifte is dit opmerklik dat God die mensdom in hoofsaaklik twee groepe indeel, naamlik gelowiges en ongelowiges. Dit is egter ook duidelik dat die Here gelowiges in twee verdere onderafdelings, naamlik die Geesgevulde gelowige, asook die “vleeslike” gelowige klassifiseer. Die vleeslike gelowige gaan eerstens bespreek word en dan sal ons die Geesgevulde gelowige bestudeer. Omrede hierdie twee groepe gelowiges alreeds die Evangelie geglo het het hulle alreeds die gawe van die ewige lewe by God ontvang en sal dit nooit kan verbeur nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige sekuriteit van die gelowige” te lees.)

Die “vleeslike” gelowige:

1Kor.3: 1 “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die (ongeredde)mens nie? 4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos — is julle nie vleeslik nie? ”
Paulus praat hier met gelowiges, en daarom verwys hy na hulle as broeders, iets wat hy nie sou doen indien die Korintiërs ongelowiges was nie. (fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte is alreeds afgehandel) Hy stel dit ook verder duidelik dat hy nie met hulle as “geestelike mense” kon praat nie, omrede daar jaloersheid, twis en tweedrag onder hulle teenwoordig was. Omrede hierdie gelowiges hulleself in ‘n toestand van vleeslikheid bevind het, tree hulle net soos ongeredde mense op. Solank as wat hulle in hierdie vleeslike toestand voortgaan sal dit onmoontlik wees om enige onderskeid tussen hulle en die ongelowige wêreld om hulle te tref. Die gemeente is dus nie net slegs in die wêreld nie, maar die wêreld is ook in die gemeente, iets wat nie so hoort nie!

Omrede hierdie vleeslike Korintiërs in die vlees wandel kon Paulus nie met hulle die “diep dinge van God” bespreek nie. Die rede hiervoor is eenvoudig! Solank as wat hulle in ‘n vleeslike toestand verkeer, is hulle soos klein kindertjies en sal in hierdie toestand nie die “diep dinge” van God kan verstaan nie, omrede ‘n persoon slegs die “diep dinge” van God kan verstaan, solank as wat hy met die Heilige Gees gevul is. (daar is ‘n verskil om die Heilige Gees deelagtig te wees en met Hom gevul te wees. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees en Vulling met die Gees” te lees.) Babatjies drink net melk omrede hulle nog nie instaat is om vaste kos te verteer nie. Net so kan die apostel nie die “diep dinge” van God met hierdie vleeslike Korinthiërs deel nie, want hulle sou dit nie kon verstaan nie. God verwag van elke gelowige om in die Gees te wandel, iets wat ‘n vleeslike gelowige nie doen nie en so ‘n gelowige leef dus in ‘n voortgesette toestand van sonde.
Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”

Maar solank as wat hierdie vleeslike gelowiges nie in die Gees wandel nie, kan die Heilige Gees nie die vrugte van die Gees in hulle te voorskyn bring nie. In Gal.5:19-21 gaan Paulus verder en gee ‘n lys van die werke van die vlees, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid;
afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en soortgelyke dinge. In teenstelling met die werke van die vlees, is dit God se wil dat gelowiges deur die Gees wandel, sodat die Heilige Gees die vrugte van die Gees in hulle lewens te voorskyn kan bring, naamlik:
Gal.5: 22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Ef.5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (wat korrekte leerstellings insluit)

Daar moet egter gelet word dat die Skrifte ‘n onderskeid tref tussen ‘n persoon wat in die vlees is en ‘n gelowige wat vleeslik is. God beskou ‘n persoon wat in die vlees is, as ‘n persoon wat posisioneel in Adam is en wat dus ongered is. Die rede hiervoor is eenvoudig. Enige persoon wat tydens die Kerk dispensasie lewe, en wat nie die Heilige Gees in hom verseël het nie, behoort nie aan Christus nie, omrede hy nie posisioneel in die tweede Adam, naamlik die Here Jesus Christus is nie. So ‘n persoon behoort dus nie aan Christus nie en sal verlore gaan indien hy in sy ongelowige toestand tot sterwe sou kom.
Rom.8:8 En die wat in die vlees is, (ongelowiges) kan God nie behaag nie; 9 julle (gelowiges) is egter nie (posisioneel) in die vlees (ongered)nie, maar in die Gees, (gered) as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.

En hoe ontvang ‘n persoon die Gees van Christus? (die Heilige Gees)
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte) verseël is met die Heilige Gees van die belofte,” (wat fase drie van verlossing waarborg, naamlik verheerliking)
Omrede ons nou deur die Gees lewe, verwag God van ons om deur die Gees te wandel, naamlik:
Gal.5:25 “As ons deur die Gees lewe, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) laat ons (alle gelowiges) ook deur die Gees wandel.” (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat gelowiges nie die Heilige Gees, wat permanent in hulle verseël is, bedroef nie, naamlik:
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is (fase een van ons verlossing) tot die dag van verlossing.” (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking)
Die leser word aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees) Die vleeslike gelowige is dus nie soos ‘n ongelowige “in die vlees” nie, maar die vlees is egter in die gelowige. (‘n ongelowige se posisionele stand is in Adam en hy is dus verlore, maar die gelowige bevind homself posisioneel in Christus en is gered. Wanneer hy egter vleeslik is, domineer die vlees hom en nie die Gees soos wat dit hoort nie.)

Die vleeslike gelowige kan dus nie die “diep dinge” of te wel “vaste spys” ontvang nie, omrede hy nog ‘n baba in Christus is. Hy is wel God se kind, maar hy ontwikkel nie geestelik soos wat die Here van hom verwag nie. Die rede hiervoor is sy vleeslikheid. Omrede die vleeslik gelowige nie deur die Gees wandel nie, omrede hy op aardse dinge fokus, instede daarvan om op geestelike dinge te fokus, het dit die gevolg dat die vleeslike gelowige vatbaar vir versoeking is en dan die werke van die vlees verrig. Dit is dus moeilik om enige onderskeid tussen ‘n vleeslike gelowige se optrede en die van ‘n ongelowige te tref. Hulle tree in die meeste gevalle dieselfde op. Vleeslike gelowiges is geneig om klieke om kerk leiers te vorm, en vergeet dat hulle almal een in Christus is en dat die kerk leierskap aan Christus verantwoordelik is. (ons moet daarteen waak om mense te verheerlik. Slegs God mag verheerlik word.) Daar moet ook gelet word, dat die tweedrag wat hier genoem word, niks met die wegbreek met valse leerstellings te doen het nie, maar eerder met die Korinthiërs se liefdeloosheid en vleeslike gesindheid. Indien ‘n persoon God werklik liefhet, sal hy niks met valse leerstellings te doen wil hê nie, want valse leerstellings is nie die waarheid nie, en een van die vrugte van die Gees is “alle waarheid” (wat ware leerstellings insluit)

1Kor.3:3ff want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na (soos)die (ongeredde)mens nie?”
Indien ‘n gelowige nie met die Gees gevul is, en in die Gees wandel nie, lyk hy in sy optrede net soos ‘n ongelowige. Dit is om hierdie rede waarom skinder so ‘n verskriklike sonde is.
Jak.1:26 “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.”
‘n Gelowige wat skinder mislei homself as hy dink dat hy gemeenskap met God geniet. Die Skrifte stel dit duidelik dat so ‘n persoon se godsdiens tevergeefs is. Dit verbaas my nog steeds dat mense hulle as geestelike gelowiges voordoen, en dit terwyl dit juis hulle is wat skinder en ander sleg maak. Hulle kal Sondae die kerke se banke warm sit, Jesus se naam gereeld in gesprekke noem, Bybelstudie bywoon en selfs sleutelposisies in die plaaslike gemeente besit, maar so ‘n persoon mislei net homself. God sien alles raak en kan nie mislei word nie. Hierdie vleeslike gelowiges kan dus nie die “diep dinge” van God verstaan nie, en in hulle vleeslike toestand kan hulle ook nie God behaag nie nie. (al mag hulle dink dat hulle geestelik is) Die volgende stelling kan maklik aan diesulke persone gerig word, naamlik:
2Tim.3:7 “wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.”
En nee, die vrugte van die Gees is nie om in die Gees te val, of te bibber en beef nie. Die Skrifte stel duidelik wat die vrug van die Gees is. (Gal.5:22; Ef.5:9)

Om te verhoed dat ons onsself mislei, en in die vlees wandel, is dit van uiterste belang om Paulus se opdrag aan ons te gehoorsaam, naamlik:
Gal.5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Bostaande teksgedeelte kan ook soos volg vanuit die Grieks vertaal word, wat nogal die betekenis van Paulus se opdrag mooi illustreer, naamlik:
Gal.5:16 “Maar ek sê: “Deur die Gees wandel, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Slegs wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees in, en deur ons, Christus uitleef, sal die Gees werklik die vrugte van die Gees in ons lewens kan voortbring en hiervoor het mens voortgesette geloof nodig. Mens kan nie in eie krag die vrug van die Gees voortbring nie. En daarom moet ons volkome op die Heilige Gees staatmaak om die vrugte van die Gees in ons lewens te voorskyn te bring. (die leser word aangeraai om die reeks artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” sorgvuldig deur te lees.) Die vrug van die Gees kan egter tot ‘n sekere mate deur ‘n persoon nageboots word, maar dit sal nooit werklik aan die hoë standaarde van God se karakter kan voldoen nie. Ons kan slegs die onmoontlike standaard van Christus se karakter uitleef, indien die Heilige Gees toegelaat word om dit in en deur ons te bewerkstellig. Die Here Jesus Christus het hierdie feit duidelik gestel, naamlik:
Joh.15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle (gelowiges is) die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Onthou, ‘n loot kan nie vrugte voortbring as dit van die wynstok geskei is nie! ‘n Vleeslike gelowige is van die wynstok deur sy vleeslikheid geskei, en sal nie werklik die vrugte van die Gees te voorskyn kan bring nie.

Die “geestelike” gelowige:

‘n Verdere klassifikasie van gelowiges is die van die geestelike gelowige. Slegs die geestelike gelowige is instaat om die “diep openbarings” van God te verstaan, omrede hy deur die Gees gevul is en sodoende kan hy die diep dinge van God verstaan.
1Kor2:15 Maar die geestelike (Geesgevulde) mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy (die geestelike gelowige) deur niemand beoordeel (verstaan) nie. 16 Want wie het die sin (denke) van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons (geestelike gelowiges) het die sin (denke) van Christus. (Wat slegs deur die Geesgevulde gelowige ontvang en verstaan kan word) Hierdie is dan ook een van die groot redes waarom die ongelowige mensdom, asook die vleeslike gelowiges nie ‘n Geesgevulde gelowige werklik kan verstaan nie. En hierdie gebrek aan insig, kan maklik tot afguns en twis in die gemeente aanleiding gee. Hierdie feit verduidelik ook hoekom Paulus so gereeld deur gelowiges sowel as ongelowiges aangeval en beskinder is.

Wat het Paulus met die term “sin/denke” van Christus bedoel? Die antwoord op hierdie vraag vind ons dan ook in die onmiddellike konteks, naamlik:
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
En boonop handel dit ook oor die “dieptes van God” en dus die “diep dinge” van God, wat slegs deur die Heilige Gees geopenbaar kan word, naamlik:
1Kor.2:10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.”
En om hierdie rede het gelowiges die Gees van God ontvang, sodat hulle ook instaat kan wees om die diep dinge van God te verstaan, naamlik:
1Kor.2:11 “Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. 12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.” (wat die diep dinge van God insluit)

God se denke (wat die diep dinge van God insluit) is in Sy woord (die Bybel) verberg, maar die geestelike inhoud daarvan kan slegs verstaan word, soos wat die gelowige geestelike dinge met die geestelike vergelyk, en slegs soos wat die Heilige Gees, Wie die dieptes van God deursoek, dit aan die gelowige kan bekend maak, naamlik:
1Kor.2:13 “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.”
Onthou, die mens kan nie God se gedagtes ontdek of verstaan indien dit nie aan hom deur die Gees geopenbaar word nie. Die rede hiervoor is eenvoudig, naamlik:
Jes.55:8 “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”

Maar om geestelike dinge te verstaan, is dit egter nodig dat ‘n persoon die Heilige Gees in hom moet hê. Maar omrede ‘n ongelowige of te wel die “natuurlike man” nie die Heilige Gees in hom het nie kan hy nie werklik geestelike dinge verstaan nie, naamlik:
1Kor.2:14 “Maar die natuurlike mens (ongeredde persoon) neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
In teenstelling hiermee, het die “vleeslike gelowige” wel die Heilige Gees d.m.v. wedergeboorte (fase een van ons verlossing) ontvang, maar sy vleeslikheid hinder die die Heilige Gees in die uitvoer van Sy bediening.
1Kor.1 “En ek, broeders, (gelowiges) kon met julle nie spreek soos met geestelike mense (gelowiges) nie, maar soos met vleeslike, (gelowiges) soos met klein kinders in Christus. 2 (hulle is dus in Christus en wedergebore, maar die vlees domineer hulle.)Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys (diep dinge) nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?”

Die Heilige Gees sal nie aan hierdie vleeslike gelowiges die “diep dinge” van God openbaar nie want hulle sal a.g.v. hulle vleeslikheid dit nie kan verstaan nie. Die brief aan die Hebreërs het met ‘n soortgelyke probleem gesukkel. Die Hebreeuse gelowiges in daardie gemeente wou a.g.v. vervolging na die Joodse geloof teruggaan en het sodoende geestelik agteruit gegaan. Hulle was dus ook nog klein kinders in die geloof iets wat nie so moes wees nie.
Heb.6:1 “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, (fase een van ons verlossing , naamlik wedergeboorte)maar na die volmaaktheid voortgaan (fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking) sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God,” (fase een)

In teenstelling met die vleeslike gelowige, kan die geestelike gelowige alle dinge, wat die “diep dinge van God” insluit, beoordeel en verstaan, maar omrede hy die “diep dinge” van God kan beoordeel en verstaan, kan hy nie deur die ongelowige, asook die vleeslike gelowige beoordeel of werklik verstaan word nie.
1Kor.2:15 “Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.”
Die rede waarom die ongelowige sowel as die vleeslike gelowige nie die geestelike gelowige kan verstaan nie is omrede die geestelike gelowige die ‘diep dinge’ van God by die Heilige Gees kan ontvang, omrede hy in die Gees wandel.

Die Heilige Gees sal slegs die volle aanvang van Christus se gedagtes aan die geestelike gelowige bekendmaak.
1Kor.2:16” Want wie het die sin (denke) van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin (denke) van Christus.” (deur die Heilige Gees ontvang)
Hierdie feit verduidelik ook die verskynsel waar gewone mense wat nie oor ‘n teologiese graad beskik nie, soms die Skrifte beter verstaan as die liberale teoloë in die bekendste universiteite. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die Heilige Gees sal slegs Christus se gedagtes aan die Geestelike gelowige openbaar en mag dit dalk heeltemal van ‘n ongeredde, asook die vleeslike teoloog weerhou. ‘n Doktors graad maak nie noodwendig van ‘n persoon ‘n geestelike gelowige nie. Slegs die persoon wat in die Gees wandel is geestelik en sal die diep dinge van God werklik kan verstaan.

Dit kan dus gebeur dat ‘n persoon die evangelie glo en wedergebore word, maar in sy vleeslike toestand voortgaan en nooit die “diep dinge” van God verstaan nie. In teenstelling met hierdie vleeslike gelowige kan ‘n persoon die evangelie glo en wedergebore raak, en op dieselfde tyd in die Gees begin wandel, waardeur die Heilige Gees die ‘diep dinge” wan God aan die gelowige kan bekendmaak. (omrede hy Geesgevulde gelowige is) Paulus dien as goeie voorbeeld van so ‘n persoon, en sy geskiedenis bewys hierdie feit, naamlik:
Hand.9:3 “En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; 4 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 5 En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. 6 En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.”
Dit is duidelik dat Paulus by hierdie geleentheid in die Here geglo het en wedergebore geraak het. Daarbenewens het hy onmiddellik die Here gevra wat hy nou moes doen. Indien mens Paulus se lewensgeskiedenis bestudeer, word dit duidelik dat hy nooit van hierdie gesindheid af weg beweeg het nie. Hierdie gebeure verduidelik Paulus se kennis aangaande God se gedagtes, omrede hy die korrekte verhouding t.o.v. die Heilige Gees gehandhaaf het, en om hierdie rede kon die Heilige Gees, Paulus aangaande die diep dinge van God onderrig.

Ter afsluiting:

Met die skryf van hierdie artikel is daar onderneem tussen die vleeslike gelowige en die Geesgevulde gelowige getref. Al wat God van ‘n ongeredde persoon verwag is om die Evangelie te glo en niks meer nie. Sodra ‘n persoon die Evangelie op ‘n gegewe punt op tyd glo, dan is daardie persoon die ontvanger van die ewige lewe en as sulks God se kind.
Joh.3:36 “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; (fase een wedergeboorte) maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”
Niks meer nie.

Wat God egter van die vleeslike gelowige verwag is om sy sonde te bely en homself aan God as lewende offer aan te bied, naamlik:
Rom.12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, (gelowiges, fase een, naamlik wedergeboorte wat alreeds op ‘n spesifieke punt in tyd afgehandel is) by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (fase twee, naamlik heiligmaking/dissipelskap)
So ‘n gelowige moet dus deur die Gees wandel, en dan sal hy instaat wees om die diep dinge van God te verstaan. Sodra ‘n vleeslike gelowige sy sonde bely is God getrou en sal hom vergewe, naamlik:
1Joh.1:9 “As ons (gelowiges) ons sondes bely, Hy (God) is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Die Heilige Gees kan nou die gelowige vul en die diep dinge van God aan hom begin openbaar.

Onthou, skuldbelydenis red nie ‘n ongelowige nie, slegs geloof in Christus se Persoon, en Sy voltooide werk aan die kruis, en opstanding vanuit die dood verseker dat ‘n persoon die ewige lewe sal ontvang. God verwag daarenteen van die vleeslik gelowige om sy sondes te bely en deur die Gees te wandel. Mens moenie hierdie twee vereistes met mekaar verwar nie. God verwag van alle gelowiges om met die Gees gevul te wees en deur die Gees te wandel. ‘n Vleeslike gelowige is ‘n teleurstelling vir God. En onthou: “Die Gees van God, gebruik die Woord van God, in die kind van God, om die wil van God te doen, en dit alles deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, met die heerlikheid van God as doel, sodat ons werklik ‘n seën vir ander kan wees”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.