verassing

Vraag rakende Verassing

Vraag: Goeie dag. Baie dankie vir al die deeglike en Bybels korrekte artikels. Ek het ‘n vraag oor verassing. Daar is baie gelowiges wat verassing kies, asook baie mense wat hulle geliefdes veras al was dit nie noodwendig daardie persoon se keuse nie. Ek wil graag weet wat sê die Bybel oor verassing?

Vriendelike groete

Antwoord: Baie dankie vir jou mooi woorde en dit is ‘n groot eer om jou met die woord te kan bedien. Ek kan net die Here daarvoor dank.

Wat jou vraag rakende verassing aanbetref, gee die Bybel nie aan ons voorskrifte wat gelowiges wie tydens die Kerk Dispensasie leef moet doen nie. In hierdie opsig staan dit die gelowige vry om self die keuse te maak. Ek persoonlik wil graag veras word, juis omrede dit baie goedkoper as ‘n gewone begrafnis is. (Ek hoop egter die wegraping vind plaas sodat ek nie hoef veras te word nie.)

Die skrifte gee egter vir ons inligting aangaande wat met ons liggame sal gebeur wanneer die Here d.m.v. die voorverdrukking-wegraping ons kom haal. Gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot sterwe gekom het, en dus deel van die kerk vorm, se geeste sal saam met die Here kom en met hulle opgestane verheerlikte liggame verenig word.
1Thess. 4:16 “ Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”

Diegene wat nog tydens die wegraping lewe sal met hulle verheerlikte liggame beklee word en saam met die opgestane gelowiges ook die Here in die lug tegemoet gaan.
1Kor.15:52 “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. 15:53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. 15:54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.”
Dan sal ons almal in oorwinning kan uitroep:
1Kor.15:55 “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?

Tydens die wegraping sal die Here Jesus Christus nie Sy voete op aarde neersit nie, maar ons sal Hom in die lug tegemoetgaan, vanwaar Hy ons na die hemel sal neem waar Hy vir ons plek voorberei het.
Joh 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Die wyse wat daar met die gelowige se liggaam na sy afsterwe gehandel word het absoluut niks met waar hy die ewigheid gaan deurbring te make nie. Wat egter van uiterste belang is, is die feit dat die persoon in Christus gesterwe het. Dit is wat werklik saak maak, en om dit te bewerkstellig moet ‘n persoon slegs die evangelie glo en niks anders nie.

Indien die persoon die evangelie geglo het (sonder die doen van enige werke) dan sal die Here hom kom haal om vir ewig by Hom te wees. Dit staan jou dus vry om self te besluit wat met jou liggaam gedoen moet word indien jy voor die wegraping tot sterwe sou kom. Die wyse waarop jy begrawe word het ook geen invloed op die feit of jy genadeloon gaan kry of nie. Die mate van ‘n gelowe se genadeloon word bepaal terwyl hy nog gelewe het en met sy afsterwe is die mate van sy loon vir ewig vasgestel. Hierdie feit geld ook vir gelowiges wat veras is al wou hulle begrawe word. Soos ek reeds genoem het, sal die wyse waarop ‘n persoon begrawe is geensins bepaal waar hy die ewigheid gaan deurbring nie. Indien jy die evangelie geglo het, kan jy heeltemal gerus wees, en weet dat jy veilig in jou Hemelse Vader, asook die Here Jesus Christus se hande is en dat niemand (selfs jyself) jou uit Sy hande kan ruk nie.
Joh.10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand (niemand beteken niemand en dit sluit jou in)sal hulle uit my hand ruk nie. 29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”
Waarop jy egter op moet konsentreer, is om in geloof saam met Hom te wandel, sodat die Heilige Gees in, en deur jou goeie werke kan verrig waarvoor Hy jou met genadeloon sal beloon. As gelowige hoef jy dus glad nie bekommerd te wees oor watse wyse ‘n persoon begrawe is of was nie.

Ek hoop hierdie antwoord beantwoord jou vraag, en indien jy onrustig daaroor was, dat jy nou volkome gemoedsrus in Christus sal hê wetende dat jy eendag met jou sondelose verheerlikte liggaam oorklee sal word, wat nooit weer sal kan sonde pleeg nie, en nooit weer siek sal word, pyn sal ervaar of dood sal gaan nie.

Ek vra om verskoning dat ek so lank geneem het om jou vraag te beantwoord. Ek is nogal besig en die beurtkrag help glad nie, en daarom werk ek so stelselmatig deur die lys eposse wat ek van mense ontvang het. Ek plaas hierdie vraag op die webtuiste, want ek glo dat dit ‘n goeie vraag is en dat ander mense ook by die antwoord kan baatvind.

Seën groete!

Vic.

Deel met ander asb.