Vergifnis

Geloof, vergifnis en die vlieg in die salf

Opsigself is die aarde nie ʼn bose plek nie. Ja, daar vind baie bose dinge op aarde plaas, maar dit moet onthou word dat die wêreld nie minder of meer goddeloos is as die mense wat daarop woon nie. Goddeloosheid is menslike gesindhede en die bose optredes wat uit daardie gesindhede voortvloei en is niks anders as om aan die satan se waardesisteem te konformeer nie. Ons almal het ʼn vlieg in die salf. Met vlieg in die salf bedoel ek persone wat sake onnodiglik, en sonder oorsaak vir ons by die huis of werksplek moeilik maak. Dit kan medegelowiges, asook ongelowiges wees. In baie gevalle is ons nie in ʼn posisie om werklik enige iets aan so ʼn situasie te doen nie. Neem as voorbeeld ʼn persoon, of persone wat ander beskinder in stede daarvan om hulle werk te doen. Ek weet byvoorbeeld waar ʼn skinderbek direk daartoe aanleiding gegee het dat ʼn dame haar eie lewe geneem het. Baie het al a.g.v. teistering of skinder hul lewens geneem. Ander het weer die reg in hulle eie hande geneem en wat in baie gevalle selfs tot moord aanleiding gegee het. Getroue gelowiges ondervind soms nog meer druk juis omrede hulle getrou aan die Here wil bly en nie met hierdie soort dinge betrokke wil wees nie. Ons almal gaan, of het al in die verlede mense by die werk ontmoet wat ons beskinder of doodeenvoudig nie hulle pligte wil nakom soos wat hulle moet nie. Onredelike, en onbeskofte base of toesighouers is ʼn algemene verskynsel. ʼn Skriftuurlike perspektief, ons geloof, en die bereidwilligheid om vergifnis te skenk kan ons help om bo ons omstandighede uit te styg en God te behaag. Boonop sal dit verhoed dat ʼn persoon se emosionele toestand die oorhand oor hom kry en iets doen waaroor hy later spyt sal wees.

In hierdie konteks kan vergifnis as die kwytskelding, of vryspreek van ʼn persoon omskryf word, wat ons aanstoot gegee of te na gekom het, of op enige ander wyse ons onreg aangedoen het. Dit geld vir alle fasette van die lewe en nie net vir die werksplek nie. In hierdie opsig het die Here Jesus Christus ons ʼn mooi voorbeeld nagelaat. Dit was juis toe die Here Jesus Christus aan die kruis gehang het, dat Hy Sy Vader gevra het om diegene wat Hom gekruisig het te vergeef, naamlik:
Luk 23:34 “En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.”
Onthou, die mense wat besig was om die Here Jesus te kruisig het Hom nie om verskoning gevra nie alhoewel hulle God se volle oordeel oor hulle optrede verdien het. In baie gevalle moet ons mense vergewe, en dit ten spyte van die pyn en emosies wat ons op daardie oomblik mag ervaar. Vergifnis word altyd, vanuit ʼn plek waar ons die slagoffers van ongeregtigheid is, geskenk.

Alhoewel dit uiters moeilik is, is dit belangrik dat ons die persoon wat teen ons sondig onmiddellik vergewe. Dit beteken geensins dat God nie van die onreg wat ons aangedoen is kennis dra nie, Hy doen. Wanneer ek dus die persoon vergewe, is ek vrygestel om met my lewe aan te gaan wetende dat die ongeregtigheid wat die persoon my aangedoen het nou ʼn saak tussen God en die betrokke persoon self is. Daardie persoon sal nou direk aan God moet verantwoording doen en die Here sal met hom binne die raamwerk van Sy wil en tyd handel. In hierdie opsig het die apostel Paulus ons uitstekende raad gegee, naamlik:
Rom.12:19 “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”
Let op die term “Ek sal vergeld, spreek die Here.” Vergifnis los die regspraak in God se hande en Hy sal in geregtigheid oordeel. Die Here Jesus Christus het in hierdie opsig vir ons ʼn mooi voorbeeld gelos, naamlik:
1Pet.2:23 “wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;”
God is nie blind nie en Hy sien alles wat almal doen. Hy sal op Sy eie goeie tyd en plek ingryp en oordeel. Indien dit nie in hierdie lewe is nie, dan sal dit definitief in die hiernamaals plaasvind. Van een ding kan ons verseker wees en dit is dat God geregtigheid sal laat geskied. Dit geld ook vir gelowiges. Net omrede ons nie verlore kan gaan nie, beteken geensins dat die Here ons nie in hierdie lewe sal tugtig nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees) Onthou, wat ons aan ʼn medegelowige doen, doen ons aan Christus. (Hand.22:4-8)

In teenstelling met wat baie keer verkondig word, is die brief aan die Hebreërs aan gelowiges geskryf en nie aan ongelowiges nie. In hierdie brief sien ons, dat alhoewel God lankmoedig en genadig is Hy nie sal skroom om Sy kinders te tug nie. God se tugtiging kan heel onaangename vorme aanneem en in baie gevalle is dit soms erger as fisiese dood self.
Heb.12:6 “ want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?
Heb.10:31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.”
Moenie ʼn fout maak nie, bostaande twee skrifgedeeltes is aan gelowiges gerig, en dit praat nie van die ewige verderf nie maar smarte wat ʼn gelowige in hierdie lewe kan ervaar omrede hy nie sonde in sy lewe aanspreek nie. Is dit nie dalk hoekom baie gelowiges siek is en self vroeg doodgaan nie?
1Kor.11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ʼn aantal het ontslaap.” 
Indien ons sleg behandel word, juis omrede ons getrou aan die Here is, dan moet ons die saak ook in die Here sal hande los. Hy dra kennis van ons seerkry en weet wat Hy doen. Ons kan verseker weet dat Hy op die regte wyse, plek en tyd sal ingryp om die wat ons te verdruk self te verdruk, naamlik:
2Thess.1:6 “aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde,”

Wraak kom God toe, nie ons nie. (Dit beteken geensins dat ons nie onself en ons geliefdes mag beskerm indien hulle in gevaar verkeer nie. Waar dit in ons mag is om dit te doen dan moet ons hulle lewens beskerm. Die onderwerp van selfverdediging sal indien die Here dit wil in ʼn latere artikel aangespreek word) Dit behoort elke gelowige se lewensbegeerte te wees om tot geestelike volwassenheid op te groei, wat beteken dat ons Sy woord moet gehoorsaam al is dit op daardie spesifieke stadium uiters moeilik, naamlik:
Rom.12:14 “seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie;”
1Pet.3:9 “Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe. 10 Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. 11 Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. 12 Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.”

Ons fokus moet egter op Christus wees en deur die Gees daarna streef om toenemend soos Hy te word. Dit sluit die konsep van vergifnis in. Paulus het ons ook met die volgende woord vermaan, naamlik:
Kol.3:13 “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ʼn klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”
As God se verteenwoordigers op aarde behoort ons God se genade voor die hele mensdom uit te leef, wat by implikasie die gewilligheid om vergifnis aan ander te skenk, insluit. Indien dit vir ons voel asof ons emosies wil handuit ruk, dan moet ons in geloof God se wil nastreef maak nie saak hoe ons mag voel nie. Wanneer ons dit doen, en volgens God se wil optree, dan funksioneer ons as ʼn kanaal wat Sy liefde en genade aan die wêreld demonstreer. Hierdie feit geld ook vir mense wat ons haat en wat ons op die een of ander wyse te na wil kom.
1Pet. 3:14 “ Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie. 15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; 16 met behoud van ʼn goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster. “

Alhoewel geloof in sommige gevalle ʼn invloed op ons emosies uitoefen, is en bly geloof nie ʼn emosie nie. In hierdie opsig transendeer ware vergifnis ons emosies en funksioneer deur geloof in God en Sy woord (die Bybel in die korrekte konteks vertolk). Vergifnis is dus ʼn bewustelike besluit om binne die raamwerk van God se wil op te tree al is dit my emosionele begeerte om dit nie te wil doen nie. Om iemand te vergewe is ʼn geloofsdaad wat van ons menslike wilsbesluit afhanklik is en is ʼn aksie wat God van ons verwag. Dit stel ons vry om met ons lewens aan te beweeg, wetende dat die saak nou in God se hande is en op hierdie wyse verheerlik ons Hom (en is ʼn voortgesette daad van geloof wat deel van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking vorm, en wat tot geestelike volwassenheid bydra). Ware vergifnis vereis van ons om met ons lewens aan te beweeg, en ons moet daarteen waak om onself nie die heeltyd aan die wandaad te herinner nie.
Filip.3:14 “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys (genadeloon) te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
Indien ons onself die heeltyd aan die onreg wat ons aangedoen is herinner, dan kan dit baie maklik ons emosies tot so ʼn mate opsweep dat dit maklik daartoe aanleiding kan gee dat ons buite die raamwerk van God se woord/wil dink en optree.

Fokus eerder op die Here en bespreek die saak met Hom. Hy sien die smart wat ons deurgaan en daarom is dit belangrik dat ons eerder moet kyk hoe ons hierdie situasie kan aanwend, om onsself in ʼn posisie te plaas wat ons sal help om geestelike te ontwikkel. Onthou, hierdie lewe is ons klaskamer en die Here is die leermeester. Indien ons God se perspektief in die lewe handhaaf sal dit ons troos om te weet dat hierdie omstandighede net tydelik is en dat ʼn ewigheid van vrede nog voorlê.
Jak.1:3 “ omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.
Jak.5:11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”
Indien die vlieg in die salf by die werksplek is, moet ons op ons dagtaak fokus en so die Here behaag met die wete dat dit God se wil vir ons is om tot geestelike volwassenheid te ontwikkel.

Ef.6:5 “Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; 6:6 nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen 6:7 en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie, 6:8 omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ʼn slaaf is of ʼn vryman. 6:9 En, here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie.”
Ons moet egter onthou om nooit opdragte by die werksplek uit te voer wat in stryd met God se woord is nie. Dit bly egter die werknemer se plig om sy dagtaak getrou uit te voer en sy toesighouers te respekteer. Werknemer wat nie sy plig doen nie, en wat dit vir sy opsigters oor hom/haar moeilik maak kan verseker weet dat God die een of ander tyd met hom gaan afreken. Die Here het ons op hierdie wêreld geplaas met die doel om as Sy ambassadeurs Hom in die omgewing waarin Hy ons geplaas het te verteenwoordig. Dit sluit ons werksplek ensovoorts in. Alles wat ons doen moet ons tot eer van die Here doen, met die uitsluitlike doel om Hom te verheerlik, naamlik:
1Tim.6:1 “Almal wat diensknegte is onder ʼn juk, moet hulle eie here alle eer waardig ag, sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie
1Kor.10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

Daarenteen is dit elke werknemer se plig om toe te sien dat werk getrou gedoen word, en dat hy behoorlik oor diegene wat onder hom geplaas is toesig te hou. Waar ʼn ondergeskikte voortgaan om nie sy samewerking te gee nie, dan is die toesighouer se plig om die nodige stappe te doen om die saak reg te stel. Genade, is nie ʼn vrybrief aan enige persoon om voort te gaan en te bly sonde pleeg nie. Om nie getrou toesig te hou, en om seker te maak dat die werk gedoen word nie is ʼn teken dat die toesighouer ook nie sy plig nakom nie (iets wat ʼn sonde is). Ons almal behoort egter altyd met welwillendheid op te tree waar die skuldige party sy gesindheid verander. Ons almal maak immers foute. Dit bly egter ʼn feit dat ʼn slagoffer mentaliteit nie ʼn rede vir ons is om nie ons plig na te kom nie. Dit is juis hierdie slagoffer mentaliteit en onvergewensgesindheid wat ons samelewing in flarde ruk. Gewetenlose politieke leiers weet dit en buit hierdie feit uit om hulle eie selfsugtige doelstellings te bereik.

Vergifnis is nie ʼn passiewe daad nie maar is ʼn radikale standpunt wat die waardes van hierdie wêreld verwerp. Wanneer ons ander vergewe dan stel dit ons hart vry sodat God Sy liefde in oorvloed in ons harte kan uitstort. Die liefde van God kan nie deur die bitter en haat van die wêreld oorkom word nie en so sal ons as Sy kinders optree. Dit is boonop voordelig vir ons om ons medemens te vergewe. Om aan bitterheid (en gegriefdheid) vas te hou het ʼn negatiewe invloed op ons emosionele, asook geestelike lewens en dit raak oor die algemeen nie die ander persoon wat dit veroorsaak het nie. Daarom is dit altyd beter om die persoon te vergeef, wetende dat die saak in God se hande is wat met die persoon op die regte tyd en plek sal handel. Boonop maak dit ons hemelse Vader se hart bly wanneer Hy sien dat ons tot geestelike volwassenheid opgroei, wat in een opsig uitdrukking vind in die vergifnis wat ons aan ander skenk. Op die ou einde van die dag is dit wat in werklikheid saak maak.

Ter Afsluiting: Ons moet nooit opgee nie. Dit is juis wat die duiwel wil hê ons moet doen.Wanneer God se liefde in ʼn gelowige se lewe uitrukking vind, dan word die gelowige toenemend na die beeld van Christus verander en ons harte word bitterheid vrygestel. Die weg van liefde vereis ʼn lewe van voortgesette heiligmaking deur geloof, en gehoorsaamheid aan God wat tot geestelike volwassenheid bydrae en waarvoor God ons eendag sal beloon.
Ef.6:8 “omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ʼn slaaf is of ʼn vryman.”
Sodanige lewenswandel neem ons nader aan God en die liefde van die Here Jesus Christus. Ons identiteit moet in Christus geanker wees, en ons emosionele lewe moenie gebaseer word op hoe mense ons behandel of wat hulle van ons dink nie. Ons moet elke nuwe dag wat die Here aan ons skenk ten volle benut en die geleentheid gebruik om by Hom te leer, en dit wat ons by Hom leer in ons lewens toe te pas en sodoende God te verheerlik.

Rom. 12:14 “ seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; 17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; 18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. 20 As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. 21 Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
Ons elkeen word net ʼn gegewe tyd gegun en dan is die resultate van ons keuses vir ewig vasgelê. Hierdie lewe is niks in vergelyking met die ewigheid nie.
2Kor.13:11 “Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.”
Hou moed.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.