Israel Gog en Magog

Israel en die oorlog van Gog en Magog Esegiël 38–39

In die artikel genaamd “Dit is God wat Israel in hulle eie land hervestig” is daar vanuit die skrifte gedemonstreer dat dit God is wat Israel weer gedeeltelik in ongeloof in hulle land hervestig. Toe Satan opmerk dat God wel Israel gedeeltelik in hulle land hervestig het, en dat hulle op 14 Mei 1948 onafhanklikheid bekom het, het hy gepoog om hulle hervestiging in hulle land ongedaan te maak. Gevolglik gaan ek ‘n lys van oorloë en konflikte waarby Israel betrokke was hier weergee wat die bostaande stelling sal staaf. In sommige van hierdie oorloë het Israel letterlik vir hulle voortbestaan teen oorweldigende militêre magte geveg en geseëvier. Indien God nie Israel beskerm het nie, dan sou Israel se bestaan al lankal iets van die verlede gewees het. Die 1948 Arabies-Israeliese Oorlog (November 1947 – Julie 1949); Palestynse Fedayeen-opstand (1950’s–1960’s); Die Sesdaagse Oorlog (5 tot 10 Junie 1967); Die Uitputtingsoorlog (1967–1970); Die Yom Kippur-oorlog (Oktober 1973); die Palestynse bevrydingsorganisasie se Palestynse opstand in Suid-Libanon waarvan die 1982 Libanon-oorlog deel vorm. (1971–1982); Die Suid-Libanon-konflik (1985–2000); Die Eerste Intifada (1987–1993); Die Tweede Intifada (2000–2005); 2006 Libanon-oorlog (somer van 2006); Gaza-oorlog (Desember 2008 – Januarie 2009); Die 2012 Israeliese operasie in die Gaza-strook (November 2012); 2014 Gaza-oorlog (Julie–Augustus 2014); Die Iran-Israel konflik tydens die Siriese burgeroorlog; 2021 Israel-Palestina-krisis (Mei 2021) en laastens die huidige 2023 Israel-Hamas-oorlog (Oktober 2023- ) Hierdie stand van sake sal voortgaan totdat die Antichris, wat uit die Westerse magsblok te vore sal kom, ‘n vredesverdrag met Israel teken wat hulle sekuriteit sal waarborg. (Dan.9:27) Dit sal beteken dat enige aanval op Israel, as ‘n direkte aanval op die Weste beskou sal word. Die vredesverdrag sal soortgelyk aan artikel 5 van die NAVO. (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) wees.

Eseg.38: 1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 2 Mensekind, rig jou aangesig teen Gog, (Gog is die naam of titel van ‘n leier) en in die land Magog, (verwys na die antieke Skithiërs wat in die gebied van Sentraal-Asië, asook die suidelike steppe van moderne Rusland bewoon het. Dit sluit Kasakstan, Kirgisië, Oesbekistan, Turkmenistan en Tadjikistan, asook moontlik gedeeltes van Afghanistan in.) die vors van Ros, (Rusland) Meseg (Turkye) en Tubal, (albei antieke gebiede is in die moderne staat van Turkye) en profeteer teen hom 3 en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal! 4 En Ek sal jou weglok en hake in jou kakebene sit en jou laat uittrek ( wanneer die Westerse Konfederasie, na afloop van die tekening van die vredesverdrag met Israel, sal poog om Midde-Ooste onder hulle gesag te konsolideer.) en jou hele leër, perde en ruiters, almal volkome toegerus, ‘n groot menigte met die groot en die klein skild, wat almal die swaard hanteer; 5 Perse, (Iran) Kusiete (Sudan) en Putéërs (Libië) saam met hulle, almal met skild en helm; 6 Gomer ( die antieke Galásië wat vandag in sentraal Turkye geleë is) en al sy leërs, die huis van Togarma, (ook in die huidige grondgebied van Turkye geleë) in die uithoeke van die Noorde, en al sy leërs — baie volke saam met jou. 7 Hou jou reg en maak jou klaar, jy en al jou menigtes wat by jou vergader het; en wees vir hulle ‘n leidsman. 8 Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die jare sal jy ‘n land intrek (Israel)wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel wat gedurigdeur as puinhoop daar gelê het (lees asb die artikel “Dit is God wat Israel in hulle land hervestig”) — ja, dit is uit die volke uitgebring, en hulle woon almal in veiligheid. (Omrede hulle met die Antichris is vredesverdrag aangegaan het sal hulle glo dat niemand dit sal waag om hulle aan te val nie. Dan. 9:27) 9 Dan sal jy optrek soos ‘n onweer wat aankom, jy sal wees soos ‘n wolk om die land te oordek, jy en al jou leërs en baie volke saam met jou.(Daar sal nog volke, behalwe die wat hier weergegee is, saam met Gog die leier van die Russies-Islamitiese magsblok teen Israel opmars. Dit kan lande soos Irak en Sirië insluit) 10 So sê die Here HERE: In dié dag sal daar gedagtes in jou hart opkom, en jy sal ‘n listige plan beraam 11 en sê: Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie; 12 om buit te maak en roof te rowe, om jou hand uit te steek teen die puinhope wat weer bewoon is, (Israel wat weer in hulle land hervestig is) en teen ‘n volk wat uit die nasies versamel is, wat vee en goed verwerf het, wat op die middelpunt van die aarde woon. (In God se oë is Israel die sentrale punt in die wêreld)13 Skeba en Dedan (Skeba en Dedan is ‘n verwysing na groepe wat hier onder in die Arabiese Skiereiland bedrywig was en sluit Saoedi Arabië in) en die koopmans van Tarsus (Tarsus is in Spanje geleë, en die koopmans van Tarsus verwys na Europese handelaars wat met Arabiese Skiereiland handel gedryf het.) en al sy jong leeus (Wes-Europa en die Verenigde State.)sal vir jou sê: Kom jy om buit te maak? Het jy jou menigte bymekaar laat kom om roof te rowe? Om silwer en goud weg te dra, om vee en goed weg te neem, om ‘n groot buit te maak? (die Weste sal dus teen die inval van Israel beswaar maak) 14 Daarom, profeteer, o mensekind, en sê aan Gog: (die leier van die Rusies-Islamitiese Konfederasie) So spreek die Here HERE: Sal jy dit nie opmerk in dié dag as my volk Israel veilig woon nie? 15 Dan sal jy kom uit jou woonplek, uit die agterhoeke van die Noorde, (Indien mens ‘n reguit lyn Noord vanaf Israel trek dan is die verste nasie in daai rigting Rusland) jy en baie volke saam met jou wat almal op perde ry, ‘n groot menigte en ‘n magtige leër; 16 en jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees — dan sal Ek jou teen my land (Israel)laat aankom, sodat die nasies My kan ken as Ek My in jou, o Gog, voor hulle oë as die Heilige laat ken. 17 So sê die Here HERE: Is jy dit van wie Ek in die voortyd gespreek het deur my knegte, die profete van Israel, wat in dié dae geprofeteer het, jare lank, dat Ek jou teen hulle sal laat aankom? 18 Maar in dié dag, die dag as Gog teen die land van Israel aankom, spreek die Here HERE, sal my grimmigheid in my neus opkom. 19 Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid: Waarlik, in dié dag sal daar ‘n groot aardbewing wees in die land van Israel, 20 sodat van my aangesig af weg sal bewe die visse van die see en die voëls van die hemel en die wilde diere van die veld en al die gedierte wat op die grond kruip, en al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaarstort en al die mure op die aarde val. 21 En Ek sal die swaard oproep teen hom (Die leier van Rusland en sy hele Russies-Islamitiese invalsmag)na al my berge, spreek die Here HERE; die swaard van die een sal teen die ander wees. (God sal veroorsaak dat die invalsmag teen mekaar sal draai en veg)22 En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is. 23 So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.”

Eseg.39:1 “En jy, mensekind, profeteer teen Gog en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal. 2 En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel. 3 Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val. 4 Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee. 5 Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE. 6 En Ek sal ‘n vuur slinger in Magog en onder hulle wat in die kuslande veilig woon; en hulle sal weet dat Ek die HERE is. 7 En Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, die Heilige in Israel. 8 Kyk, dit kom en gebeur, spreek die Here HERE. Dit is die dag waarvan Ek gespreek het. 9 En die inwoners van die stede van Israel sal uitgaan en vuur maak en stook met die wapens: klein en groot skilde, met boë en pyle en knopkieries en spiese; en hulle sal daarmee vuur maak sewe jaar lank; 10 sodat hulle geen hout uit die veld sal dra of in die bosse sal kap nie, maar met die wapens vuur sal maak; en hulle sal plunder die wat hulle geplunder het, en berowe die wat hulle beroof het, spreek die Here HERE.”
Die leser word self aangeraai om die res van Eseg.39 te lees, anders gaan hierdie artikel te lank raak.

Nadat die Antichris, wat die Weste verteenwoordig, die vredesverdrag met Irsael aangegaan het, (Dan. 9:27) sal Israel vir die eerste 3½ van die Verdrukking in veiligheid verkeer, wetende dat die Weste hulle sal verdedig indien hulle aangeval sou word. Die Antichris, wat beheer oor die Westerse Konfederasie bekom, sal dan poog om Midde-Ooste onder sy beheer te konsolideer. Onthou, die Antichris gaan in die begin van die Verdrukking as die ruiter op die wit perd uit waar hy skynbaar as ‘n vredemaker in die wêreld politiek sal funksioneer. Hierdie strategiese magspel sal ‘n teenreaksie van die Noord Suid Geopolitieke Magsblok wat deur Rusland gelei word uitlok, wat dan Israel sal binneval. Hierdie oorlog staan as die Gog en Magog oorlog bekend en is in die Bybel in Eseg 38-39 voorspel. Omrede Irsael valslik onder die indruk sal verkeer dat niemand dit sou waag om hulle aan te val nie, sal hulle nie op militêre gebied voorbereid wees vir die Gog en Magog oorlog nie. Hulle sal meen dat hulle onder die beskerming van die Westerse konfederasie (die herstelde Romeinse Ryk) verkeer en dat nie eers Rusland dit sal waag om hulle aan te val nie. Die Russies-Islamitiese koalisie sal Israel dan onverwags binneval, en poog om hulle heeltemal uit te wis (wat die begeerte van baie Moslem lande in die Midde-Ooste is) en hulle self te verryk. ‘n Bonatuurlike ingryping van God sal Israel van totale uitwissing verlos en hulle Russies-Islamitiese vyande ‘n nekslag toedien.

Die feit dat ons nou alreeds sien hoe die Russies-Islamitiese magsblok vorm aanneem dien as bewys dat die wegraping nou nader as ooit moet wees. God is nou huidiglik besig om die tafel vir die Verdrukking en Sy wederkoms te dek. Boonop dien die huidige gebeure in die wêreld, as bewys dat die Bybel, wat duisende jare oud is, die geïnspireerde woord van God is. In teenstelling met die sekulêre wêreld, is gelowiges wat die Bybel korrek verstaan in ‘n posisie om die gebeure wat ons in die wêreld, en veral die Midde Ooste, waarneem vanuit die Bybel te kan verstaan. God is nog volkome in beheer van alles al lyk dit of die wêreld uit mekaar wil val. Om hierdie rede behoort die bestudering van die profetiese woord, soos wat ons dit in die Bybel vind, ons nie bang te maak nie, maar eerder gerusstel wetende dat alles volgens God raadsplan geskied en dat Hy te volle in beheer van alles is. Ons kan nou al opmerk hoe die gebeure in die wêreld presies in lyn is met dit wat in Esegiël voorspel is. Onthou, God is volkome in beheer van Sy raadsplan al wil dit vir ons lyk of die wêreld uit beheer wil spin. Hy is immers ook die God van die wêreld se geskiedkundige proses en ons weet dat die eindresultaat presies sal wees soos wat God bepaal het. En boonop het Hy ons nie in die duister gelaat oor hierdie profetiese gebeure nie en daarom moet ons nie dat hierdie gebeure ons ontstel nie. God die Vader het ons immers net so lief soos wat Hy die Here Jesus Christus het. Dink bietjie mooi oor die implikasies van hierdie stelling na.

Dit is belangrik om ons oë op Israel te hou. Die wêreld mag dalk Israel as ‘n onbeduidende landjie beskou, maar vir God is Israel die sentrale punt van die wêreld. God verwys na Israel as die volk wat op die middelpunt van die aarde woon, naamlik:
Eseg.38:12ff “wat op die middelpunt van die aarde woon.
God beskou Israel as die middelpunt van die goddelike drama, en is die verhoog waarop die finale eindtydse eskatologiese gebeure gaan plaasvind. Indien ons die eskatologiese gebeure in wêreld vanuit ‘n korrekte Bybelse oogpunt wil benader, dan moet ons ons oë op Israel hou. Israel is God se stophorlosie, en indien ons, ons plek/posisie in die groot opmars van God se raadsplan vir die historiese verloop van die eindtydse gebeure op aarde wil bepaal, dan moet ons na Israel kyk. Onthou, as ons sien hoe die tafel vir die komende slag van Gog en Magog (Esegiël 38–39) gedek word, en ons onthou dat die oorlog van God en Magog eers in die eerste helfte van die Verdrukking plaasvind, en die feit dat wegraping voor al hierdie gebeure moet plaasvind hoe naby moet die wegraping dan nie wees nie?

Ter Afsluiting: Onthou, dit is Satan se begeerte, en doelstelling om Israel uit te wis. Sodoende sal hy verseker dat God se profetiese uitsprake aangaande Israel misluk het. Dit sal Satan dus die reg gee om vir ewig op aarde, as die god van hierdie wêreld, te kan regeer. Elkeen van ons sal moet besluit aan watter kant van hierdie geestelike stryd ons wil standpunt inneem. Die proponente van Vervaging Teologie verkondig dat God klaar met Israel is en dat die kerk Israel as God se verbondsvolk vervang het. Hierdie dwaalleerstelling veroorsaak dat baie Christene teen Israel gekant is, en so neem hulle dan onwetend die duiwel se kant in hierdie geestelike stryd. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” te lees. Dit is ‘n feit dat indien Israel se vyande hulle wapens sou neerlê, dat daar vrede sal sal wees. Indien Israel daarenteen hulle wapens sou neerlê, dan sal hulle onmiddellik uitgemoor word. Dink mooi oor hierdie feit na. Onthou, daar is bose magte agter die mens se optredes werksaam wat poog om die mens vir hulle eie doeleindes te manipuleer.

Die tekens van die naderende Gog en Magog oorlog dien as waarskuwing dat die wegraping, wat voor al hierdie gebeure moet plaasvind, nie meer ver kan wees nie. Boonop, behoort dit ons ook aan te moedig om heiligmaking in ons lewe te bewerkstellig, en om genadeloon vir onsself bymekaar te maak, sodat ons nie onsself moet skaam wanneer ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus moet verskyn nie.
1Joh.3: 2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”
1Joh.2:28 En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.”
Hierdie feit behoort alle gelowiges aan te spoor om op die een of ander wyse by die verkondiging van die Evangelie van God se genade betrokke te wees.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.