Heilige Gees 2

Word gelowiges een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop

Hoeveel keer word ‘n gelowige deur die Heilige Gees gedoop? Of anders gestel: “Leer die Bybel dat mense wat tydens die Kerk Dispensasie die Evangelie glo, en wedergebore raak, (en dus met die Heilige Gees gedoop word) weer ‘n keer deur die Heilige Gees gedoop moet word, alvorens die Here van hulle in Sy diens gebruik kan maak?” Daar heers tans groot meningsverskille rondom hierdie aangeleentheid en derhalwe sal ek my siening oor hierdie aangeleentheid by die gesprek toevoeg. Johannes 20:22 word dan as proef-teks voorgehou deur diegene wat glo dat daar ‘n tweede doop met die Heilige Gees, na afloop van aanvanklike wedergeboorte, moet plaasvind as bewys van hierdie leerstelling. Johannes 20:22 lees soos volg:
Joh 20:22 “En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.”
Met hierdie studie sal daar gepoog word om hierdie teksgedeelte binne die korrekte konteks te bestudeer en tot ‘n Skriftuurlike slotsom te kom. Die leser word egter nog serk aangeraai om self die Bybel te bestudeer en my slotsom met die Skrifte te vergelyk en self tot ‘n slotsom te kom. (Die leser word ook aangeraai om die artikel “Hand.19:1-6 en die tweede doop met die Heilige Gees” te lees.)

Wanneer ons by sulke kontroversiële teksgedeeltes soos Joh. 20:22 kom, is dit belangrik om te onthou dat ons Skrif met Skrif moet vergelyk. Verder moet ons ook ingedagte hou, dat die Skrifte ‘n progressiewe openbaring van die Here aan die mens is, en derhalwe moet ons kyk in watse dispensasie ‘n spesifieke stelling gemaak is en vir watse dispensasie ‘n spesifieke opdrag gegee is. Indien ons nie hierdie waarhede in gedagte hou nie kan dit tot ernstige foute in ons leerstellings lei. (Dwaalleer) Een so ‘n voorbeeld is dat mense wat glo dat ‘n gelowige tydens die Kerk Dispensasie uit genade kan val en verlore kan gaan, en dan word Ps. 51:11 as proefteks gebruik, omrede Dawid bang was dat die Here die Heilige Gees a.g.v. sonde van hom kon wegneem. (Ek haal slegs hierdie as ‘n voorbeeld aan, omrede dit so baie keer as proefteks misbruik word. Ek is ook verder van mening dat die konteks waarin hierdie stelling van Dawid gemaak is, geensins verlossing van die ewige verderf in gedagte gehad het nie, maar eerder Dawid se koningskap en gemeenskap met God op aarde, asook die bediening van die Heilige Gees wat daarmee saamgegaan het. Want ons weet dat gedurende die Ou Testament die Heilige Gees op mense gekom het en hulle toe later weer verlaat het.
Psa 51:11 “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.”
Wat hulle egter nie ingedagte hou nie, is die feit dat Dawid tydens die Dispensasie van die Wet gelewe het, en tydens daardie dispensasie was gelowiges nie deur die Heilige Gees verseël soos wat dit wel die geval tydens die Dispensasie van Genade/Kerk is nie. Tydens die Dispensasie van die Wet het die Heilige Gees op mense gekom en hulle weer verlaat. Dink maar aan Saul en Simson om maar net twee voorbeelde te noem. Maar die Skrifte stel dit baie duidelik, dat gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie lewe met die Heilige Gees verseël word en dat Hy hulle nooit weer sal verlaat nie.
2Ko 1:21”Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, 1:22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het”
Efs 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”

Omrede daar ‘n verandering in die dispensasies van God se plan in Sy progressiewe openbaringe aan die mensdom plaasgevind het, is dit nou heel onnodig vir gelowiges, wat tydens die dispensasie van Genade/Kerk leef, om soos Dawid te bid, want ons het mos God se woord dat die Heilige Gees ons tot die dag van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking/wegraping verseël het.
Efs 4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
( Paulus kon slegs fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking in gedagte gehad het, toe hy hierdie stelling gemaak het, want hy praat met gelowiges wat alreeds wedergebore was en dus alreeds kinders van God was. Fase een, naamlik wedergeboorte is reeds afgehandel en hierdie gelowiges bevind hulle dus nou in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking, en hulle wag vir fase drie van hulle verlossing wanneer hulle verheerlik sal word en met hulle nuwe verheerlikte liggame oorklee sal word, iets wat toe nog in die toekoms moes plaasvind. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.) Dieselfde beginsel geld vir die eet van varkvleis ens. Tydens die Dispensasie van die wet, mag die Jode nie spek geëet het nie, maar tydens die Dispensasie van Genade/Kerk kan daar nou vrylik spek geëet word. (Hoera!!!) Teksgedeeltes wat op ‘n vroeëre dispensasie van toepassing was, kan nie goedsmoeds, en sonder Skriftuurlike gesag, op ‘n latere dispensasie van toepassing gemaak of afgedwing word nie! Al wat ek probeer sê is dat mens nie die verskeie dispensasies met mekaar moet verwar nie anders gaan ons ernstige uitleg foute begaan.

Derhalwe is dit van uiterste belang om skrifte binne hulle korrekte kontekste te bestudeer om vas te stel wat die skrywer aan ons wil sê. Ons moet toelaat dat God aan ons deur Sy woord praat, sonder om ons sienswyses op die Bybel af te dwing. Dus moet die Bybel ons leerstellings bepaal, en moet ons daarteen waak om ons leerstellings vooraf op te stel en dit dan in die Bybel te wil inlees! Daarom moet Joh. 20:22 in lig van Jesus Christus se ander stellings rondom die uitstorting van die Heilige Gees bestudeer word. Dit is my bede om met hierdie studie dan so te maak.

Tydens die Dispensasie van die Wet was dit van pas om vir die ontvangs van die Heilige Gees te bid, maar die aand net voor Sy kruisiging (toe die Here alreeds geweet het dat die hele volk Hom as hulle beloofde Messias verwerp het en Sy kruisdood op hande was) het die Here aan die dissipels duidelik gestel dat Hy namens hulle vir die Vader om die Heilige Gees sou bid.
Joh 14:16 “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 14:17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly (teenswoordige tydvorm dus is Hy alreeds by hulle teenwoordig) en in julle sal wees.” (toekomstige tydvorm, iets wat nog moes plaasvind.)
Onthou die Here het geweet dat hulle op die rand van die aanvang van ‘n nuwe dispensasie gestaan het. Hy het immers vroeër voorspel dat Hy self Sy Kerk sou oprig.’n Gebeurtenis wat toe die Here daardie stelling gemaak het nog in die toekoms gelê het. (Mat16:16-17) Dit is ook opmerklik dat gelowiges nooit weer na hierdie stelling van Christus, soos in Joh. 14:16-17 gevind, aangesê word om vir die doop met die Heilige Gees te bid of te vra nie. Dit is iets wat outomaties met wedergeboorte plaasvind! (Ondersoek jou eie Bybel dan sal jy sien!)

Maar indien ons begryp dat die Heilige Gees se bediening na afloop van Pinksterdag nie presies dieselfde sou wees as wat Sy bediening tydens die Ou Testamentiese tye was nie, sal ons nie in die strik trap om die Heilige Gees se bediening op verskillende tye met mekaar te verwar nie. Die Here het byvoorbeeld tydens Sy gesprek met die dissipels in die bovertrek, gereeld na die koms van die Heilige Gees verwys, en dit terwyl die Heilige Gees in ‘n seker sin alreeds op aarde by hulle teenwoordig was. (Hy was immers ook tydens die hele Ou-Testamentiese tydperk op aarde teenwoordig en werksaam gewees. Die heilige Gees is God, en as God, is Hy alomteenwoordig!) Maar aan die ander kant, het die Here die heeltyd beloof dat die Heilige Gees nog na hulle sal kom. Iets wat met die maak van hierdie beloftes van Christus nog in die toekoms gelê het.
Joh 15:26 “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.
Joh 16:13 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
Boonop het die Here Jesus spesifiek verklaar dat die Heilige Gees nie na hulle sou kon kom, alvorens Hy (Jesus Christus) nie met Sy hemelvaart weggaan het nie. (‘n Baie belangrike stelling om in gedagte te hou!)
Joh 16:7 “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan,(hemelvaart en verheerliking) sal Ek Hom na julle stuur; 16:8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:”
Maar indien ons die konteks waarin hierdie stellings gemaak is verstaan, dan is dit opmerklik dat die Here dit duidelik maak dat met die verandering van die dispensasies daar ook ‘n verandering in die wyse sal wees waarop die Heilige Gees Sy bedrywighede sou uitvoer. In daardie sin kon die Here na die koms van die Heilige Gees verwys as Sy koms na hulle toe, en dit was ook dan ‘n gebeurtenis wat nog in die toekoms moes plaasvind. Onthou, die Here het tyd self, asook ons, in tyd geskep en binne die raamwerk van tyd, en met verloop van tyd is Hy as God vry om op verskillende wyses met die mens te werk en Sy doelstellings aan ons te openbaar. Dit is wat ek bedoel met die term progressiewe openbaring. Die Here se openbaring aan ons volg ‘n chronologiese volgorde in tyd, wat uit die verlede, (geskiedenis) hede en toekoms bestaan. Die Here werk op Sy vooraf opgestelde skedule en alles sal presies op die regte tyd plaasvind of in vervulling gaan. Dit beteken ook dat Hy op verskillende dispensasies, op verskillende wyses en deur verskillende groepe sal werk. As voorbeeld het die Here, tydens die Dispensasie van die Wet, hoofsaaklik met die volk Israel, wat uit gelowiges sowel as ongelowiges bestaan het gewerk. En vir daardie Dispensasie het sekere reëls gegeld. Tydens die Dispensasie van Genade/Kerk werk die Here hoofsaaklik deur die Kerk, wat uit wedergebore gelowiges van alle volke bestaan. Ook vir hierdie dispensasie geld daar spesifieke reëls. (baie belangrik om te onthou!)

Soos reeds genoem, moet ons toelaat dat Skrif, Skrif verduidelik en derhalwe is dit belangrik om ook moeilike teksgedeeltes in lig van meer duideliker teksgedeeltes te vertolk. Daarom is dit belangrik om teksgedeeltes wat vertellend van aard is, soos byvoorbeeld Joh. 20:22, in lig van teksgedeeltes wat in die briewe (wat spesifiek aan die Kerk gerig is) te vergelyk alvorens ons dit as leerstelling vir die Kerk Dispensasie van toepassing wil maak. Ons weet byvoorbeeld, dat tydens die Kerk Dispensasie alle persone wat die Evangelie glo, nie net slegs met die Heilige Gees gedoop word nie, maar ook deur die Heilige Gees verseël word. (‘n waarborg wat nooit aan iemand wat tydens die Ou Testament gelewe het gemaak is nie! Dus ‘n verandering op die wyse waarop die Heilige Gees Sy werk sou doen!)
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, (ook iets nuuts) slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Efs 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Boonop stel Paulus dit duidelik dat daar slegs een doop is en nie twee nie.
Efs 4:5 “een Here, een geloof een doop,” (Met die Gees)
Wanneer ons in die Here glo word ons slegs eenmaal met die Heilige Gees gedoop. Dus is daar slegs een Here, een geloof en een doop! Soos alreeds genoem het ons Jesus Christus se woord, volgens Joh. 16:7-8, dat die Trooster nie sal kom alvorens die Here se hemelvaart plaasgevind het nie.
Joh 16:7 “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan,(hemelvaart en verheerliking) sal Ek Hom na julle stuur; 16:8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:”
Toe die gebeure in Johannes 20:22 plaasgevind het, het die Here nog nie weggegaan nie en dus kon die Heilige Gees nog nie, in terme van die dispensasie van die Kerk, op die apostels uitgestort gewees het nie! Onthou die gebeure van Joh.20:22 het na afloop van Christus se opstanding uit die dode, maar voor Sy hemelvaart plaasgevind.
Joh 20:19 “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! 20:20 En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. 20:21 Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. 20:22 En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.”

Die vraag ontstaan dus hoe ons Joh. 20:22 met al die ander feite soos hierbo genoem kan versoen, met die wete dat die Bybel, as God se woord, homself nie kan weerspreek nie? Eenvoudig! Omrede die dissipels alreeds gelowiges in die Ou-Testamentiese sin van die woord was, was die Heilige Gees ook in daardie sin in hulle lewens werksaam, maar omdat die Here hulle ook voor Sy kruisiging gewaarborg het dat die Heilige Gees permanent in hulle sou kom inwoon, en dus sou daar ‘n verandering, in terme van hoe die Heilige Gees tydens die dispensasie van die Kerk met die dissipels sou werk, plaasvind, naamlik:
Joh 14:16 “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 14:17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 14:18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.”
En omrede Hy geweet het dat Hy binne kort, met Sy Hemelvaart, van hulle sou weggaan, het Hy op hulle geblaas en vir hulle gesê dat hulle die Heilige Gees moes ontvang. Maar hierdie absolute noodsaaklike doop met die Heilige Gees moes egter op die regte tyd en binne die raamwerk van God se tydsberekening plaasvind. (Onthou daar word niks in die Bybel genoem dat die dissipels op daardie presiese tydstip met die Heilige Gees, in die sin van die Kerk Dispensasie, gedoop en verseël is nie.) Hierdie sienswyse maak sin, indien mens die Here Jesus se opdrag, dat hulle in Jerusalem moet wag totdat hulle met die Heilige Gees gedoop is, ook saam met bogenoemde teksgedeeltes in ag neem.
Luk 24:49 En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.
Hnd 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”

Dit is ook dan opmerklik dat die dissipels in Jerusalem vertoef het, totdat die Here die Heilige Gees op hulle uitgestort het, net soos wat Hy vooraf belowe het. Dus ‘n progressiewe verloop van tyd en gebeure volgens die God se raadsplan!
Hnd 2:1”En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2:2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 2:3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. 2:4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”

En as verdere bewys dat die Heilige Gees eers op Pinksterdag op die dissipels uitgestort is, en hulle verseël het, kan ek die apostel Petrus as getuie roep. (Hy was immers daar en hy weet al die feite!)
Onthou toe die Here, Petrus na Cornelius se huis gestuur het en wat toe daar plaasgevind het?
Hnd 10:44 “En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. 10:45 En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.10:46 Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek:”
Toe die Joodse gelowiges (Post Pinkster Kerk wat toe slegs uit bekeerde Jode bestaan het.) in Jerusalem gehoor het dat Petrus in die huis van ‘n heiden met hulle gaan praat het was daar ‘n Kerkvergadering gehou waarop Petrus sy optrede moes verdedig het. (Die Joodse gelowiges het toe nog nie mooi begryp, dat tydens die Kerk Dispensasie, Jood en nie Jood op gelyke voet deel van Christus se liggaam, die Kerk, sou vorm nie) Dit blyk duidelik uit bogenoemde teksgedeelte dat die oomblik toe die mense in Cornelius se huis die Evangelie geglo het, die Heilige Gees onmiddellik op hulle geval (gedoop) het en hulle toe in vreemde tale gespreek het. (menslike tale wat hulle nie aangeleer het nie! Nie die een of ander brabbeltaal wat deesdae hoogmode in so baie gemeentes is nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Spreek in vreemde tale” te lees) Die vraag is: “Waar het ‘n soortgelyke gebeurtenis die eerste keer in die Bybel plaasgevind?” Die antwoord: “Pinksterdag” Maar kom ons laat die apostel Petrus toe om self verder te praat!”
Hnd 11:4 “En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê: 11:5 Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in ‘n verrukking van sinne het ek ‘n gesig gesien: ‘n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos ‘n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom. 11:6 En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel. 11:7 En ek hoor ‘n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet! 11:8 Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie. 11:9 En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. 11:10 En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel. 11:11 En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was. 11:12 En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan.11:13 En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word; 11:14 hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word. 11:15 En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.11:16 En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word. 11:17 As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? 11:18 En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

Sover dit hierdie onderwerp aangaan is dit van uiterste belang om ‘n belangrike gedeelte van Petrus se stelling weer hier te noem en dan kortliks te bespreek, naamlik:
Hnd 11:15 “En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. 11:16 En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.
Wat is die begin waarna Petrus verwys? Ja, Pinksterdag toe die Heilige Gees op hulle uitgestort is en hulle in nie aangeleerde menslike tale kon praat, sodat die Jode wat van ander streke afkomstig was die boodskap in daardie spesifieke streke se taal kon aanhoor! (Die spreek in vreemde tale het as teken aan die Jode daar teenwoordig gedien, dat die boodskap wat hulle gehoor het wel van God afkomstig was.) En wie is die “ons” na wie Petrus verwys? Die gelowiges wat op Pinksterdag wedergebore geraak het toe God Sy Gees op hulle uitgestort het en die Kerk tot stand gebring is! Dit is ook opmerklik dat Petrus na die gebeure op Pinksterdag as die begin verwys, nie na die gebeurtenis in Joh. 20:22 nie! (uiters belangrik!)

Ter Afsluiting: Die Here het in baie gevalle in die Ou Testament met gelowiges op hierdie wyse gewerk en is dus nie ‘n vreemde verskynsel nie. Hy het byvoorbeeld Dawid as koning gesalf, maar ons weet dat Dawid eers vir Saul moes vlug en die koningskap eers jare later, op God se tydsberekening in ontvangs kon neem. Dieselfde beginsel geld vir ons as gelowiges. Met die oomblik van wedergeboorte ontvang ons die ewige lewe as ewige besitting, met alles wat daarmee saamgaan. Maar ons weet ook dat ons verlossing in fases plaasvind, en ontvang ons ook nie alles wat die Here ons belowe het onmiddellik met wedergeboorte nie! Met fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte is ons onmiddellik mede-erfgename van God. Maar ons ontvang nie ons volle erfporsie onmiddellik met wedergeboorte nie! Ons sal byvoorbeeld ons verheerlikte liggame eers na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking/wegraping in ontvangs neem, en dan eers sal ons volkome van die teenwoordigheid van siektes en sonde geskei wees, en nie ‘n oomblik voor die tyd nie. Alhoewel dit alreeds deur God aan ons belowe is, sal ons ons verheerlikte liggame slegs op God se tydsberekening in ontvangs kan neem. Tot en met dan gaan ons sondige liggame nog steeds gebuk onder die invloed van die vloek en verwag God van ons om in geloof in Sy wonderlike beloftes aan ons te leef. Kyk maar in die spieël en vergelyk die beeld wat jy daar waarneem met ‘n foto van jou toe jy sestien was! Die rede is eenvoudig. Ons moet soos alle ander gelowiges wag totdat fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking/wegraping plaasvind, alvorens ons volkome van die gevolge van fisiese siekte en dood bevry sal wees en ons beloofde erfporsies in besit kan neem. Die Bybel is vol sulke voorbeelde. Dink aan Abraham en die beloofde land, ens. Dieselfde beginsel geld vir Joh. 20:22 en derhalwe is daar geen Skriftuurlike regverdiging om Joh. 20:22 as proefteks te gebruik om te bewys dat ons twee keer deur die Heilige Gees gedoop moet word nie. Derhalwe deurstaan die teologiese leerstellings, van die twee dope met die Heilige Gees, nie die Skriftuurlike toets nie en moet my insiens heeltemal verwerp word!

Nie in een enkele teksgedeelte, wat spesifiek aan die Kerk gerig is, word gelowiges beveel om ‘n tweede keer met die Gees gedoop te word nie. Hoekom nie? Eenvoudig! Want die Heilige Gees wat die Skrifte geïnspireer het, het nie hierdie leerstelling verkondig nie. Na wedergeboorte word gelowiges aangemoedig om met die Gees gevul te word en om in die Gees te wandel.
Efs 5:18 “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Hoe word mens met die Gees gevul? In kort, deur jouself te verloën, jou kruis op te neem en die Here as toegewyde dissipel na te volg, wat beteken dat ons Sy woord aan ons gehoorsaam. (Lees asb die artikel “Word met die Gees vervul” )
Gal 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;
Gal 5:25 As ons deur die Gees lewe, (en alle ware gelowiges doen op grond van fase een , naamlik wedergeboorte waar ons met die Gees gedoop en verseël is) laat ons ook deur die Gees wandel.” (Fase twee, naamlik heiligmaking! Lees asb die reeks artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof“)

Inaggenome al hierdie feite, is ek oortuig dat die Skrifte onomwonde leer dat ons slegs eenmaal met die Heilige Gees gedoop word! Boonop is hierdie ‘n gevaarlike leerstelling wat heeltemal verwerp moet word. (Lees ook gerus artikels “Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees” asook “Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.