vreemde tale

Spreek in vreemde tale as bewys van wedergeboorte ?

Vraag: My kind was na ‘n kerk kamp vir ‘n naweek genooi waar hulle gelei is om hulle lewens vir die Here te gee. Daarna is hulle aangemoedig om in onverstaanbare vreemde tale te praat as bewys dat hulle die Heilige Gees ontvang het. So ver ek weet was my kind alreeds voor die kamp ‘n gelowige gewees en het nog nooit dit reggekry om in vreemde tale te praat nie. Moet almal in vreemde tale praat voordat hulle seker is dat hulle wedergebore is?

Antwoord: Nee, ‘n persoon hoef glad nie in vreemde tale te praat as bewys dat hy wedergebore is nie. Boonop het die vreemde tale wat ons in die boek Handelinge aantref niks met die brabbeltaal wat ons vandag onder sekere denominasies en groepe vind in gemeen nie. Die vreemde tale wat ons in Handelinge vind is nie-aangeleerde menslike tale wat deur mense van verskillende streke gepraat en verstaan is en nie ‘n onverstaanbare gebrabbel nie.
Hand.2:4 “En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. 5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 11 Kretense en Arabiere — ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.”
Onthou, na afloop van die ballingskap van Israel het baie Jode verkies om in die streke waarheen hulle weggevoer is agter te bly en het dus daardie streke se taal aangeleer en gepraat. Toe hulle in Jerusalem was, en die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort was, het hulle die dissipels in die tale van hierdie streke gehoor praat en was dus verwonderd. Bogenoemde teksgedeelte stel hierdie feit baie duidelik. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Spreek in vreemde tale” te lees. In daardie artikel word al die belangrike fasette van jou vraag sorgvuldig en in diepte vanuit die Skrifte beantwoord.)

Wanneer ‘n persoon (of denominasie) die Skrif op ‘n sekere punt verkeerd interpreteer, dan ontstaan verkeerde leerstellings, en hierdie soort van foute kan maklik deur Satan uitgebuit word, en sodoende valse leerstellings in die Kerk in te bring wat dan tot sekere vergrype aanleiding kan gee. Baie mense vergeet dat die Bybel ‘n progressiewe openbaring van God aan die mensdom is en wat met verloop van tyd d.m.v. die verskillende dispensasies uiting vind. Boonop kan mens nie beskrywende stellings (wat vir ons vertel wat tydens ‘n gegewe punt in tyd plaasgevind het en wat as geskiedenis in die Bybel opgeneem is) op ‘n ongeoorloofde wyse as voorskriftelik (as bevele) op byvoorbeeld die Kerk Dispensasie wil toepas nie. Boonop vergeet hierdie mense ook dat die boek van Handelinge hoofsaaklik vertellende/beskrywend van aard is en wat vir ons verstel wat vroeg tydens die Dispensasie van die Kerk gebeur het. Slegs ‘n baie klein gedeelte van die boek Handelinge is voorskriftelik van aard en wat vir ons vertel hoe ons tydens die Kerk Dispensasie moet leef. Die gedeelte in Handelinge 8:14-17, waar die Apostels vir die Samaritane gebid het om die Heilige Gees te ontvang, beskryf slegs vir ons van hoe God op daardie spesifieke stadium verkies het om te werk, en kan nie goedsmoeds as ‘n voorskriftelike bevel op die hele Kerk Dispensasie van toepassing gemaak word nie, naamlik:
Hand.8:14 “En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur. 15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. 17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.”
Nêrens in bostaande teksgedeelte vind ons dat bostaande gebeure as voorskriftelike opdrag aan die hele Kerk voorgehou/voorgeskryf word nie, maar vertel net vir ons hoe God op daardie spesifieke geleentheid, vroeg tydens die Apostoliese Tydperk, en formering van die kerk, gekies het om op te tree. Nêrens vind ons die opdrag dat Kerk leiers vir mense moet bid om die Heilige Gees te ontvang nie.

Inteendeel, daar is nie een teksgedeelte in die briewe, wat direk aan die Kerk gerig is, waar enige iemand aangesê word om vir die ontvangs van die Heilige Gees vir homself, of ander gelowiges te bid nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Die Skrifte verklaar onomwonde hoe gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef die Heilige Gees ontvang, naamlik:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Die briewe wat direk aan die Kerk, wat tydens die Kerk Dispensasie leef, gerig is, en wat hoofsaaklik voorskriftelik van aard is, verklaar baie duidelik hoe gelowiges tydens die Kerk Dispensasie die Heilige Gees ontvang. Dit is nie deur handoplegging, of die bid vir die ontvangs van die Heilige Gees nie, maar slegs op grond van geloof in die evangelie. Niks anders nie! Indien ‘n persoon nie die progressiewe wyse van openbaring in die Bybel, asook die verskillende dispensasies, groepe aan wie dit gerig is, en of dit voorskriftelik van aard, of beskrywend van aard is, in berekening bring nie, dan gaan daardie persoon die Bybel heeltemal verkeerd uitlê. Baie denominasies, soos byvoorbeeld die A.G.S. Kerk begaan hierdie fout en verkondig in hierdie opsig dwaaleerstelling. Geen lidmaat of kerkleier het die gesag ontvang om tydens die Post Apostoliese tydperk van die Kerk vir enige persoon te bid en dan te verwag dat daardie persoon die Heilige Gees moet ontvang nie. Ons plig tydens die Kerk Dispensasie is om slegs die Evangelie te verkondig en om dissipels van mense te maak. (Markus 16:15; Matt.28:19) Wanneer ‘n persoon die evangelie glo, ontvang daardie persoon onmiddellik die Heilige Gees sonder dat enige iemand daarvoor moet bid. Dit is wat die Bybel in werklikheid verkondig.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,” (‘n feit wat in geloof aangeneem moet word)
Mense wat die spreek in vreemde tale op die hele kerk wil toepas, moet indien hulle konsekwent in hulle leerstellings wil wees, ook verklaar dat mense wat vir die gemeente lieg (en dus vir God lieg) in alle gevalle dood sal neerval. Iets wat nie huidiglik plaasvind nie.

Vroeg tydens die Kerk Dispensasie merk ons waar Ananías en sy vrou vir die apostels lieg en onmiddellik deur God op d.m.v. die apostel Petrus gedood word, naamlik:
Hand.5:1 “Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, 2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 3 Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die 4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. 5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.”
En later toe sy vrou ook daar opdaag het, het sy ook dood neergeval. Bogenoemde teksgedeelte is beskrywend van aard en vertel ons wat God op daardie spesifieke geleentheid gekies het om te doen. Nêrens in die vertel van hierdie gebeure word daar enigsins iets gesê dat dieselfde met alle mense wat vir God lieg sal gebeur nie. Hierdie teksgedeelte kan dus nie as voorskriftelik vir die hele Kerk, asook meegaande Kerk Dispensasie, geld nie, want dan sal die meeste van ons nie meer hier gewees het nie. Mens kan nie die vier evangelies, asook die boek Handelinge, lees en dan selektief verklaar dat ons die gesag het om in alle gevalle soos Christus en Sy apostels op te tree nie. Die konteks, die betrokke partye toegespreek, asook of die teksgedeelte beskrywend van aard is, of voorskriftelik van aard is moet in berekening gebring word voordat dit as leerstelling op die Kerk toegepas word. Boonop moet teksgedeelte wat ons in Handelinge en die evangelies vind, in lig van die briewe wat direk aan die Kerk gerig is, bestudeer word voordat dit as leerstelling op die Kerk voorgeskryf kan word. Ons kan nie byvoorbeeld op water loop, soos wat Petrus en Christus gedoen het nie, want nêrens het Christus dit aan ons verklaar dat ons op water sal kan loop nie en ons vind hierdie leerstelling ook nie in die briewe nie. Dit is hierdie mistasting aangaande die uitleg van die Bybel wat veroorsaak dat oorywerige gelowiges, in baie gevalle, ander gelowiges wat pas tot bekering gekom het, aanspoor (en in sekere gevalle selfs manipuleer) om in die een of ander vreemde brabbeltaal te praat wat kwansuis as bewys sou dien dat daardie persoon die Heilige Gees ontvang het. Ek weet baie van my vriende in die A.G.S Kerk (en soortgelyke denominasies en bewegings) moontlik kwaad vir my gaan wees, maar wat ek hier noem bly egter die waarheid volgens die Skrifte. Hierdie artikel is nie bedoel om ‘n aanval teen die A.G.S Kerk of enige groep te wees nie, maar wys net die feit uit dat hulle in hierdie geval dwaaleerstelling verkondig. Boonop is dit ons almal se plig om die Skrifte korrek uit te lê, en dit so te verkondig nieteenstaande die feit dat daar mense sal wees wat ons selfs sal haat. Ons is nie geroep om gewild te wees nie maar om God se woord korrek te verkondig. Hierdie stelling geld ook vir die dwaaleerstelling van die sogenaamde tweede werk van genade.

Maar hoekom het die Here dat gekies om vroeg tydens die Kerk Dispensasie, in sekere gevalle eers die Heilige Gees op mense te laat kom nadat die apostels hulle die hande opgelê het en vir hulle gebid het om die Heilige Gees te ontvang? Die rede vir sodanige optrede was om aan die Jode te demonstreer dat alle gelowiges (heidene sowel as Israeliete) nou deur die glo van die Evangelie deel van die een nuwe liggaam van Christus is en dat daar nou geen onderskeid in hierdie opsig tussen Jood en Nie-Jood bestaan nie. Die kerk sou dus uit gelowiges van alle tale en volke bestaan en sou dus ‘n hele nuwe entiteit wees en nie slegs ‘n sekte van die Jodedom nie. Vir die Jode was dit ‘n moeilik konsep om te verwerk en daarom het die Here deur die teken van nie-aangeleerde menslike tale hierdie feit aan die Jode geïllustreer. Onthou die Jode het nie met die Samaritane, sowel as die heiden nasies omgegaan nie, omrede hulle geglo het dat hulle die afgesonderde/uitverkore volk van God was. (en hulle is, maar die Kerk is nie Israel nie en Israel is nie die Kerk nie. Lees gerus die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?“) En om hierdie rede het God die apostels, wie almal Jode was, gebruik om deur hulle die Heilige Gees aan die Samaritane te gee, sodat die Jode sou besef dat die Kerk uit Jode sowel as heidene sou bestaan wat op gelyke voet in een nuwe liggaam, naamlik die kerk, sou funksioneer.
Rom.10:12 “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek (heiden) nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.
Ef.2:14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei
(Jood en Nie-Jood) een (liggaam) gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; (wat slegs Israel as volk ontvang het, en daarom was hulle vir God ‘n afgesonderde nasie) sodat Hy, deur vrede te maak, die twee (groepe) in Homself tot een nuwe mens kon skep 16 en albei in een liggaam (die Kerk) met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.”
Mens kan nie leerstellings op slegs die optrede van sekere mense in die Bybel bou nie, maar slegs op grond van die voorskriftelike opdragte wat vir die betrokke dispensasie gegee is. Voorskriftelike teksgedeeltes binne die korrekte dispensasionele konteks bepaal dus korrekte Bybelse leerstellings.

Net omrede ‘n bekende pastoor sekere leerstellings verkondig, of ‘n boek daaroor geskryf het, beteken nie dat daardie leerstellings noodwendig korrekte Bybelse leerstellings is nie. Dit is ook opmerklik dat daar nie een opdrag in die briewe, wat direk aan die Kerk gerig is, die opdrag gevind word dat gelowiges aangesê word om deur handoplegging deur sogenaamde uitgekose kerkleiers die tweede werk van genade, of ‘n salwing van die Heilige Gees (“anointing”) moet ontvang nie. Soos reeds gemerk, ontvang ‘n persoon onmiddelik met die glo van die evangelie die Heilige Gees en daar is geen sprake in die briewe van ‘n sogenaamde tweede doping (“anointing”) nie. Waar ‘n pastoor hierdie dwaallering verkondig moet dit aan hom uitgewys word, en indien hy daarmee voortgaan moet hy geïgnoreer en selfs vermy word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Word gelowiges een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop” te lees.) God verwag slegs van gelowiges om herders wat die Skrifte korrek uitlê te eerbiedig en respekteer. Waar ‘n kerk leier die Skrifte verkeerd uitlê, of verdraai, is dit die plig van die gelowige om die Skrifte (wat God se woord aan ons is) te eerbiedig en die pastoor se leerstelling te verwerp. Onthou dit is nog altyd Satan se strewe om God se woord buite konteks aan te haal, en te verdraai, en hy maak graag van kerkleiers wat self verly is gebruik om sy bose doelstellings te bereik. Ons moet alles wat aan ons verkondig word binne die korrekte konteks, (wat die korrekte dispensasionele konteks insluit) met die Skrifte vergelyk om seker te maak dat ons nie verlei word nie.

Ter Afsluiting: Die leerstelling dat alle gelowiges ten tye van wedergeboorte in onbekende tale, as bewys van wedergeboorte, sal praat is nie ‘n Bybelse leerstelling nie. Met die skryf van hierdie artikel het ek gepoog om kortliks hierdie feit te illustreer. Daar kan nog baie oor hierdie onderwerp geskryf word, maar vir eers is hierdie artikel genoeg. Indien enige pastoor, van die teksgedeelte oor die Samaritane, soos in Handelinge 8:14-17 gevind, wil gebruik om jou kind so ver te kry om in vreemde tale te praat, moet jou kind weet dat daardie pastoor die Skrif verkeerd vertolk en sy pogings weerstaan. Jy kan ook hierdie artikel aan jou kind gee om aan die pastoor te gee, sodat hy dit kan bestudeer indien hy wil. Indien jou kind die Evangelie verstaan, en geglo het, kan hy met absolute sekerheid weet (volle geloofsekerheid) dat hy ‘n kind van God is. Wedergeboorte is nie noodwendig op enige gevoel gebaseer nie, maar op geloof in Christus se kruisdood vir al sy sondes en Sy opstanding vanuit die dood op die derde dag. Hierdie feit moet in geloof aangeneem word.
Rom. 1:17 “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) tot geloof, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat van voortgesette dade van geloof afhanklik is.) soos geskrywe is: Maar die regverdige (fase een, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) sal uit die geloof lewe. (die wedergebore gelowige moet nou deur geloof wandel en nie op gevoelens of enige brabbeltaal staatmaak nie.)

En indien jou kind die evangelie geglo het, kan hy met absolute sekerheid weet dat hy die ewige lewe as huidige en ewige besitting het en hy sal nooit verlore kan gaan nie.
1Joh.5:13 “Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
Jou kind het God se woord daarvoor! Boonop sal my raad aan jou wees om jou kind van sulke kampe te onttrek en soek ‘n gemeente wat God se woord korrek uitlê. (baie pastore wanneer hulle met die feit gekonfronteer word dat hulle foutiewe leerstellings verkondig, sal met daardie leerstellings breek en die waarheid verkondig. Ek weet van A.G.S Pastore wat in stryd met die denominasie se leerstelling kies om die waarheid te verkondig, en waar hulle teenstand beleef het, het hulle hulle posisies en inkomste prysgegee om eerder getrou aan God se woord te bly.) En onthou, enige valse leerstelling, maak nie saak hoe goed dit ook al bedoel word, of hoe goed dit ’n persoon mag laat voel nie, bring ‘n persoon nie nader aan God nie, maar neem hom eerder verder van God af weg. Baie van die manifestasies wat ons deesdae in die belydende Christendom waarneem, is nie van die Heilige Gees afkomstig nie, maar is eerder die produk van ‘n vleeslike manifestasie vanuit die persoon self, sielkundige manipulering, en in sekere gevalle het hierdie manifestasies ‘n demoniese oorsprong. Ek het nou die dag ‘n insiggewende plasing op Facebook gesien wat ‘n baie groot gedeelte van die belydende Christendom beskryf. Ek gaan dit presies so in engels hier aanhaal, naamlik: “Christianity where people don’t care if you can back it up with Bible. Their feelings, desires, and emotions override what Scripture says. They don’t follow Christ they follow self.” Dit is my bede dat hierdie artikel jou vraag beantwoord. Indien jy dit nie alreeds gedoen het nie, word jy ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees. Ons moet daarteen waak om teksgedeeltes wat beskrywend van aard is met teksgedeeltes wat voorskriftelik van aard is met mekaar te verwar. Onthou om ook die artikel “Spreek in vreemde tale” in lig van die Bybel te bestudeer.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.