gelowige

Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe

Reddende geloof is, om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om die gelowige se volledige persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Die gelowige glo dus, dat die Here Jesus Christus sy enigste Verlosser van sy volledige sondeskuld, asook die gevolge daarvan, naamlik die ewige verderf, is. Die rede hiervoor is dat Christus, God is, en dus oor die krag beskik om die gelowige volkome te verlos, omrede die Here Jesus Christus met eie Sy lewe vir al die gelowige se sondes aan die kruis gesterf het. Die waarde, meriete of krag van ons geloof, is in die voorwerp waarin ons ons geloof plaas, gesetel, naamlik die Here Jesus Christus, wat God in die vlees is en wat nooit kan misluk nie. Omrede die Here Jesus vir al die gelowige se sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis versoening gedoen het, kan die gelowige nooit a.g.v. enige sonde verlore gaan nie. Dit is my oortuiging dat indien ‘n persoon ten tye van die aanhoor van die Evangelie, glo dat hy a.g.v. enige sonde, na wedergeboorte, verlore kan gaan, daardie persoon nie werklik geglo het dat die Here vir al sy sondes versoening gedoen het nie, en derhalwe het daardie persoon nie werklike reddende geloof uitgeoefen nie en is dus nog ongered. (lees asb die artikels “Bekering, geloof en die Ewige Lewe” asook “Ewige sekuriteit van die gelowige” op die webtuiste.)

Omrede ‘n gelowige nooit verlore kan gaan nie, beteken dit geensins dat hy goedsmoeds in sonde kan voortleef nie. Dit is die Here se wil dat na aanvanklike wedergeboorte daar heiligmaking in die gelowige se lewe moet plaasvind.
I Thess. 4:7 “Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.
I Thess. 4:3 Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel (Heiligmaking op grond van genade deur geloof” te lees.) Boonop moet die gelowige verstaan dat sonde altyd gevolge het, en dit kan in die vorm van verliese (tydelike asook ewige verliese) voorkom, en boonop dit alles, kan die gelowige onder die tugtiging van sy Hemelse Vader deurloop wat in sekere gevalle erger as fisiese dood self kan wees. (Ons sal later weer na hierdie feit terugkeer.) Maar eerstens gaan ons ‘n lys van dinge hier weergee wat die gelowige a.g.v. voortgesette vleeslikheid en sonde kan verbeur. (iets waaraan ons almal ons die een of ander tyd aan skuldig maak en wat nie so hoort nie.)

Dinge wat ‘n gelowige kan verloor is soos volg:

1) Die gelowige kan genadeloon in die hemel verloor.
1Kor. 1:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels —13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Bogenoemde teksgedeelte demonstreer baie duidelik dat al ‘n gelowige se werke voor die Regterstoel Oordeel van Christus verbrand kan word, maar daardie gelowige sal nog steeds gered wees maar al sy genadeloon wat hy op aarde kon vergader sal verbeur. Selfs Paulus was bang dat dit met hom kon gebeur en derhalwe het hy die onderstaande stelling gemaak, naamlik:
1Kor: 9: 27 “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”

Ons neem egter waar dat Paulus later in sy lewe, toe dit duidelik was dat hy as martelaar sou sterwe, oortuig daarvan was dat hy wel genadeloon sou ontvang, omrede hy getrou aan die Here gebly het.
2Tim. 4: 6 “Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. 7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. 8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; (Regterstoel Oordeel van Christus) en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.”
In 2Joh. 1:8 vind ons hoe die Apostel Johannes ‘n soortgelyke waarskuwing aan ons rig, naamlik:
2Joh. 1:8 “ Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang.”
Hierdie stelling geld veral vir my want ek is nie altyd op my hoede soos ek behoort te wees nie. Die leser word aangeraai om die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word.” te lees)

2) Die gelowige kan gemeenskap met sy Hemelse Vader verloor:
1Joh.1:3 “wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4 En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees. 5 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. 6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. 7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. 8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Bogenoemde teksgedeelte is aan wedergebore gelowiges wat hulleself in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking bevind het, gerig en nie aan ongelowiges nie.(Lees ook Luk.15:11-24) Die leser word sterk aangeraai om die artikel “Drie fases van verlossing” te lees.

3) Die gelowige kan die vrugte van die Gees in sy lewe verloor waarvan vreugde deel van vorm.
Gal.5: 16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;
Gal. 5: 22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap,
(vreugde) vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
(Lees gerus die artikel “Doop met die Heilige Gees en vulling met die Heilige Gees”)

4) Die gelowige kan ook sy rigting, betekenis, ware doel, asook sy kapasiteit om die Here te dien in die lewe verloor.
Markus 8:34 “En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. 35 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. 36 Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?”
Onthou ‘n persoon word nie wedergebore deur homself te verloën en sy kruis op te neem en die Here te volg nie, maar slegs deur die glo van die Evangelie wat kosteloos aan die mensdom voorgehou word. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) Ware heiligmaking/dissipelskap kan slegs na afloop van die glo van die Evangelie/wedergeboorte in aanvang neem, en dit is wanneer die gelowige homself moet verloën, sy kruis opneem en die Here as getroue dissipel navolg. (wat die gelowige baie sal kos) Die leser word aangeraai om die artikels “Die onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel” asook “Die onderskeid tussen wedergeboorte en die loon vir goeie werke” te lees.

5) Die gelowige kan ook sy getuienis asook sy bediening aan sy medemens verloor.
Mat. 5:10 “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 11 Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. 12 Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het. 13 Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. 14 Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. 16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”
Hoeveel Pastore moes a.g.v. sonde hulle ampsbedieninge verlaat? Baie! Maar bogenoemde stelling geld nie net vir die herders nie maar ook vir elke gelowige! (my inkluis)
Filip. 2:14 “ Doen alles sonder murmurering en teëspraak, 15 sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,” (lees gerus die artikel “Die Duiwel se werksaamhede sover dit die gelowige aanbetref

6) Die gelowige kan sy geestelike insig asook perspektief oor die ewigheid verloor.
2Pet.1: 2 “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here! 3 Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, 4 waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 5 En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, 6 en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, 7 en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. 8 Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie. 9 want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” (Die leser word aangeraai om die artikel “Wat is die Ewige Lewe” ook te lees.)

7) Die gelowige kan die sekerheid, gerusstelling asook die doel van sy verlossing verloor.
2Pet.1:9 “want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet. 10 Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.”
Bostaande teksgedeelte is aan gelowiges wat hulle in fase twee van hulle verlossing, naamlik die heiligmaking fase bevind. Wanneer so ‘n gelowige in sonde of vleeslikheid verval, kan dit gebeur dat sy geloof tot so ‘n mate agteruitgaan dat hy op die punt kom waar hy aan sy ewige verlossing twyfel en dink dat hy dalk nooit wedergebore is nie. Die gelowige verloor nie die geskenk van die ewige lewe wat op God se getrouheid rus nie, maar hy kan die sekerheid of gerusstelling dat hy die ewige lewe deelagtig is verloor en in vrees verval. Boonop dit alles kan die gelowige ook God se wil vir sy lewe misloop.
Ef. 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Wat weer op sy beurt tot verlies van genadeloon voor die Regterstoel Oordeel van Christus sal verbeur.

8) Die gelowige kan sy stabiliteit verloor en in sy geestelike groei veragter .
2Pet. 3:17 “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. 18 Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.”
Onthou Petrus spreek gelowiges aan wat hulleself in fase twee van hulle verlossing, naamlik die heiligmaking fase bevind. Dit beteken geensins dat hierdie gelowige uit genade kan verval nie, maar indien hulle in hulle geestelike lewens veragter kan dit gebeur dat hulle in hulle geestelike groei, kennis van die Here en Sy woord, asook in hulle geloof veragter en vanuit hulle vastigheid kan uitval, wat sou beteken dat hulle met leë hande voor die Here by die Regterstoel Oordeel sal verskyn. Onthou alles wat nie in die geloof gedoen word nie is sonde!
Rom. 14:23ff “ en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.” (Lees gerus die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word

9) Gelowiges kan tot so ‘n mate in hulle geestelike lewe veragter dat hulle op ‘n punt kom waar hulle selfs geloof in Bybelse leerstellings verloor.
1Tim.1: 19 “en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely,
ITim. 6:10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
(Lees gerus die artikel “Sewe verskillende vorm van dood in die Bybel

10) Die gelowige kan selfs sy gesondheid asook sy fisiese lewe op aarde verloor.
Hand.5:1 “Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop,2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 3 Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? 4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. 5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. 6 Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe. 7 En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. 8 En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. 9 En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. 10 Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. 11 En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.” (Die leser word te sterkste aangeraai om die artikels “Waarom sterf ons nog” asook “Pyn en lyding en God se liefde” te lees) Gelowiges wat beweer dat hulle nie onder die wet van Moses is nie maar onder die genade, en dink dat hierdie feit hulle toestemming gee om goedsmoeds te sondig verkeer onder ‘n groot delusie. Voor die gee van die wet van Moses was daar alreeds sonde in die wêreld gewees, omrede sonde enige optrede is wat nie met God se karakter ooreenstem nie, asook enige optrede wat God spesifiek verbied, en positief gestel, is dit enige versuim van die mens om vereistes wat God vir ‘n spesifieke dispensasie beveel het om te doen en wat die gelowige nie doen nie. Ware liefde soek altyd die beste en hoogste geestelike standaard vir die persoon wat die onderwerp van daardie liefde is en dit geld veral ten opsigte van ons Hemelse Vader! Indien ‘n gelowige in voortgesette vleeslikheid en sonde voort bly leef, kan hy verwag om deur sy Hemelse Vader getugtig te word, wat siekte en selfs die dood kan insluit.
1Kor 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”

Hebr.12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? 10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. 12 Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; 13 en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.”
God se tugtiging en veral Sy kastyding kan ernstige afmetings aanneem en dit is geen geheim dat daar omstandighede in hierdie lewe is wat baie erger as fisiese dood is. (Hierdie stellig geld slegs vir gelowiges. Vir die ongelowige is sy sterfte ‘n absolute ramp en gaan hy die ewige verderf en smarte van die poel van vuur in sonde enige hoop op uitkoms! Om hierdie rede is dit van absolute belang om die ware Evangelie suiwer en aan almal te verkondig!) Kyk maar in watse haglike toestand ons land en die samelewing in die algemeen is. Is dit nie gedeeltelik ons skuld, omrede ons as gelowiges nie doen wat die Here ons beveel nie? (Lees gerus die artikel “Maak God mense siek, ‘n moeder se vrae.”)

Elke persoon wat die Evangelie geglo het het die ewige lewe as ewige besitting by God as geskenk ontvang. Onthou egter, net omdat ‘n gelowige ‘n spesifieke sonde bely en laat staan beteken dit geensins dat hy nie noodwendig die gevolge van daardie sonde sal moet dra nie. Ja, die Here sal so ‘n gelowige altyd vergewe en sodoende die Vader kind verhouding herstel, maar dit beteken geensins dat die gelowige nie die gevolge van sy sonde sal moet dra nie. Indien ‘n gelowige sou besluit om dronk te word, en kom a.g.v. daardie dronkenskap in ‘n botsing waar hy sy nek breek en verlam is, dan beteken dit dat daardie gelowige heel waarskynlik vir die res van sy lewe in ‘n rystoel sal moet sit al het die Here hom vir daardie spesifieke sonde vergewe. Dit geld vir enige sonde wat sondes soos skinder, selfliefde/eiewaan, hoogmoedigheid, geldgierigheid, wêreldgesindheid, ensovoorts insluit. En dan praat ek nie eens van die ewige verlies aan genadeloon wat die gelowige in die hiernamaals kan verbeur nie!
Gal. 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” (lees gerus die artikel “Genees en genesing tydens die Post Apostoliese tydperk”)

Ter Afsluiting: In die gelykenis van die ponde sien ons dat die Here aan elkeen van Sy dissipels een pond gee en hulle beveel om daarmee handel te dryf. Elkeen van ons het slegs een lewe, en een Evangelie wat aan ons opgedra is om met die hele mensdom te deel. Ons het slegs hierdie een lewe om die Here te dien en daardeur genadeloon te bokom. Hoe ons hierdie lewe uitleef gaan ewigdurende implikasies vir ons inhou. Alhoewel ons nie die gawe van die Ewige lewe kan verbeur nie is daar baie ander dinge wat ons kan verbeur. Onthou, ons almal se bekers gaan vol wees maar ons bekers gaan nie almal dieselfde grote wees nie. Boonop dit alles, is daar gesagsposisies van diens wat ons in Christus se koninkryk kan verdien of verbeur. Die gelykenis van die ponde demonstreer hierdie feit baie mooi. (Ek raai die leser aan om die artikel” Gelykenis van die Ponde” te lees.)
Luk.19:23 “Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. 24 En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het — 25 en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde 26 want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.”
Die Here het ook die volgende waarskuwing gegee, naamlik:
Mark. 10:31 “31 “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons mekaar in liefde vermaan, en ons moet dankbaar wees indien die Here mense in ons lewens sit wat bereid is om die waarheid te praat en ons te vermaan indien dit nodig is. Dit is hierdie mense wat werklik lief vir ons is, want dit is juis hulle wat die beste vir ons soek.
II Timothy 4:2 “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;”
Onthou die lewe wat ons nou leef het ewige implikasies! (lees gerus ook die artikel “Hebr.12:14 En die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.”

Dit sal ‘n tragedie wees om eendag voor die Here te staan, net om uit te vind dat ons lewens, hier op aarde, geen ewigdurende betekenis gehad het nie en dat alles wat ons gedoen het in lig van die ewigheid betekenisloos was!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.