Bekeer, Bekering, Geloof en die Ewige Lewe

Bekering, Geloof en die Ewige Lewe

Vraag: Vic, jy sê dat wedergeboorte en bekering op dieselfde tyd plaasvind? Ek glo in Jesus en is n ______ dosent en verkondig die Evangelie en lei dissipels op deur die genade van die Here. Ek is in die Volle Evangelie kerk en vra vir baie Pastore en selfs Dr’s die vraag en kry na my mening n grys antwoord. Hier is my storie, ek vind myself sonde doen selfs wanneer ek voel dis verkeerd. Ek sal saam my vrou by die huis sit en n paar biere drink wanneer ons bordspeletjies speel, en dan nog my rook verslawing. Nou beoefen ek my geliefde ou sonde by my huis omdat ek nie skade aan God se koninkryk of n struikeling vir ander gelowiges wil wees nie. Waar plaas dit my en loop ek gevaar om verlore te gaan?
Dankie 

Antwoord: As jy nie omgee nie gaan ek jou vraag in dele opbreek in ‘n poging om dit beter te kan beantwoord. Alvorens ek sal poog om jou vraag te beantwoord, gaan ek die Apostel Paulus toelaat om self met jou te praat. Ek gaan Gal.3:1-4 parafraseer en dit direk op jou van toepassing maak.
Gal 3:1″ o, Onverstandige _________ (plaas jou naam hier), wie het jou betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, jy voor wie se oë Jesus Christus (Christus se Persoon, volkome mens en volkome God) afgeskilder is as onder julle gekruisig? (Christus se voltooide werk aan die kruis, waar Hy die hele mensdom se sonde van alle tye betaal het, en na drie dae uit die dood uit opgestaan het, as bewys dat God die Vader Sy dood as voldoende beskou, om versoening vir die mens se sonde te doen. In kort, die Evangelie) 3:2 Dit alleen wil ek van jou weet: het jy die Gees ontvang uit die werke van die wet (doen van goeie werke of wet nakoming) of uit die prediking van die geloof? (die oomblik toe jy die Evangelie gehoor verstaan en geglo het. Geen werke van jou kant af nie.) 3:3 Is jy so onverstandig? Nadat jy met die Gees begin het, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, waar ons verlos word van die gevolge van ons sonde, naamlik die poel van vuur.) eindig jy nou met die vlees? (Jy wandel dus nie meer in die Gees nie, en ook nie meer in genade nie, omrede jy die wet wil gebruik om jou gered te hou, en as bewys dat jy voor God regverdig verklaar is, en nie deur geloof in Christus se woord en voltooide werk vir jou aan die kruis nie! Dis ‘n ernstige sonde. Baie ernstiger as rook! Die Here het of al jou sondes (verlede, hede en toekomstige) sondes aan die kruis betaal (dit sluit jou huidige rokery in) of Hy het niks betaal nie. Daar is nie ‘n middeweg nie. Ek sal later meer oor hierdie punt uitbrei. Lees asb die artikels “Drie fases van Verlossing” asook “Heiligmaking op grond van genade deur geloof”, wat in drie dele op die webtuiste geplaas is.) Jy wil dus die wet gebruik om heiligmaking in jou lewe te bewerkstellig, en besef nie dat heiligmaking, net soos aanvanklike wedergeboorte, slegs op grond van God se genade deur geloof bewerkstellig word, en dit alleenlik soos wat jy die Here vertrou om in en deur jou te werk sodat Hy Sy lewe in en deur jou kan lewe.

Jou vraag: Vic, jy sê dat wedergeboorte en bekering op dieselfde tyd plaasvind?

My antwoord: Ja dit is korrek. Jy moet egter verstaan, dat die Bybel dit duidelik maak dat ‘n persoon slegs op grond van geloof in die Here Jesus Christus gered/wedergebore kan word. God, in Sy alwetendheid, het die sonde probleem van die mens eens en vir altyd, deur middel van Sy Seun se voltooide werk aan die kruis opgelos. Wedergeboorte/verlossing is dus nie nou soseer ‘n sonde probleem nie maar ‘n Seun probleem. Waar ‘n persoon die ewigheid gaan spandeer hang af van wat hy met die Seun doen. Die Here Jesus self het hierdie feit baie duidelik gestel.
Joh 16:7 “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster (die Heilige Gees) nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; 16:8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:”
Dit is opmerklik dat die Here voorspel dat die Heilige Gees die wêreld van sonde (enkelvoudvorm), nie sondes (meervoudsvorm) nie, sal oortuig. Dus het die Here hoofsaaklik slegs een sonde hier in gedagte gehad en Hy self maak dit aan ons duidelik wat daardie spesifieke sonde is.
Joh. 16:9 “van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;” (die een sonde wat ‘n persoon tot die tweede dood verdoem, is die sonde van ongeloof! Nie rook, drink of enige ander sonde nie! Onthou, God het in die Here Jesus Christus, klaar die oplossing vir die mens se sonde probleem verskaf, en daarom is die probleem van die mens se sonde reeds in Jesus Christus vir eens en vir altyd opgelos. Die mens se reaksie op God se voorsiening gaan bepaal waar hy die ewigheid gaan deurbring. Onthou, ons moet God se terme aanvaar, en nie ons eie opstel nie anders is dit niks anders as valse godsdiens nie. Al wat God van ‘n persoon verwag is om die Evangelie te glo. Dit is God se terme! Die oomblik wat die persoon die Evangelie glo, ontvang daardie persoon die ewige lewe as geskenk, en is fase een van die persoon se verlossing, naamlik wedergeboorte finaal afgehandel omrede God die Here Jesus Christus se geregtigheid aan die persoon toegereken het, en op grond van Christus se toegerekende geregtigheid verklaar die Vader daardie persoon as geregtig, asof daardie persoon nog nooit gesondig het nie. Dit is so eenvoudig soos dit.)
Die Bybel stel dit baie duidelik dat slegs geloof vereis word om wedergebore te raak.
Gal 2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
En onthou wat die Here Jesus Christus self gesê het!
Joh 3:35”Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; (‘n Huidige besitting! Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte!) maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, (nie in Hom glo nie) sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom”

Tweedens is dit belangrik om te besef wat bekering werklik beteken. Die twee primêre woorde wat in verband met verlossing in die Nuwe Testament vir bekering gebruik word is die Griekse woorde “metanoia” en “metanoeδ” (“meta” beteken “na” en “noeδ” beteken “gedagte”) wat basies beteken om van gedagte of opinie te verander of om te heroorweeg. Dus moet die konteks waarin die woord bekeer gebruik word toegelaat word om te betrokke betekenis van die woord te bepaal. As ek byvoorbeeld sê dat jy moet bekeer, dan moet jy vra: “Bekeer van wat?” Omrede daar baie dinge in die lewe is waarvan jy kan bekeer. Ek kan bv van jou verwag om te bekeer (van sienswyse verander of heroorweeg) om vir enige span behalwe die Blou Bulle te skreeu. Dus moet die konteks waarin die term “bekeer” gebruik word, die betekenis in verband met die woord “bekeer” bepaal. Waar die woord “bekeer” in terme van verlossing/wedergeboorte in die Bybel gebruik word, handel die konteks altyd om vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof in Christus te beweeg. Dit word nooit van die gelowige verwag, om homself van alle sondes te reinig, of om op te hou sonde doen, alvorens hy die ewige lewe as geskenk kan ontvang nie. Slegs geloof in die Here Jesus Christus word as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe aan ‘n persoon voorgehou. Niks anders nie!

Daar is mense wat beweer dat mens “goedkoop genade” verkondig, indien mens verkondig dat slegs geloof alleen, in Christus alleen, benodig word om gered te word. Daar word byvoorbeeld verkondig dat ‘n persoon eers berou moet toon; sy rug volkome op sy sonde moet draai; ophou om te sondig, ens voordat daardie persoon die ewige lewe deelagtig kan word. Wat hierdie mense egter vergeet, is dat genade by implikasie kosteloos vir die ontvanger daarvan moet wees. Om te beweer dat genade goedkoop is, is om te beweer dat daar in ‘n sekere mate wel ‘n koste aan genade verbonde moet wees en genade kan dus nie werklik genade wees nie. Vir genade om genade te wees, moet daar geen koste vir die ontvanger daarvan wees nie. God nooi ons uit om die water van die ewige lewe kosteloos te neem. Dit is nie afslag en dus goedkoop nie! Dit is kosteloos en ons ontvang dit sonder enige koste aan ons kant. Die gawe van God se genade het Hom alles gekos en kos ons niks nie!
Opn 22:17 “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
Indien ons enige koste by die Evangelie van God se genade, as vereiste vir wedergeboorte voeg, verwerp ons in werklikheid God se genade wat op ‘n ramp in ons lewens sal uitloop!

Om te verkondig dat bekering ten opsigte verlossing ‘n totale wegdraai van sonde beteken skep in my sienswyse ernstige probleme, nie net vir die verlore sondaar nie, maar ook vir die Evangelie van God se genade.
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; (fase een, naamlik wedergeboorte) 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Indien dit van ‘n persoon verwag word om self sy rug volkome op sonde te draai, of ophou sondig, dan sou daardie persoon iets gehad het om op te roem wanneer hy voor God staan. So iets sou beteken dat bogenoemde stelling foutief is, iets wat nie kan gebeur nie, want die Bybel is God se woord en God kan nie foute begaan nie. Om boonop vir ‘n sondaar te beveel om sy rug totaal op sonde te draai, en hom beveel om op te hou sondig, is dieselfde as om vir vrot vleis te sê dat dit moet ophou stink. Die vrotheid in die vleis is deel van die vleis anders kon dit nie vrot vleis genoem word nie. Net so word alle mense met ‘n sonde natuur gebore en sondig hulle juis omdat hulle sondaars is. Ons word nie sondaars omdat ons sondig nie, ons doen sonde omrede ons alreeds sondaars is. Slegs Adam en Eva is sonder ‘n sonde natuur geskape en slegs Adam het ‘n sondaar geword omdat hy sonde gepleeg het. Die res van sy nasate (ons almal) is met ‘n sonde natuur gebore, en daarom sondig hulle omrede dit in hulle aard is om so te doen. Ons sal nie van ons sonde natuur bevry word, alvorens fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking fase, afgehandel is nie, en wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee is en nie voor die tyd nie. Ons Verheerliking is ‘n gebeurtenis wat nog in die toekoms lê! Selfs na wedergeboorte sondig ons nog steeds, en daarom is fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking waar God ons van die houvas van sonde in ons lewens bevry, nodig. Hierdie fase is egter nie soos fase een, ‘n eenmalige gebeurtenis in tyd nie, maar dit is ‘n proses wat die res van ons lewens sal voortduur. Slegs gedurende fase twee van ons verlossing, naamlik die heiligmaking fase, behoort ons in die krag van die Heilige Gees van ons sondeste  bekeer en dit te laat staan. Dit neem egter tyd!

Om enige koste of menslike daad anders as geloof alleen, in Christus alleen, as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe voor te hou of by te voeg, is om van God se genade, wat by implikasie kosteloos ontvang moet word, vir die sondige mens onbekostigbaar duur te maak, omrede slegs Goddelike geregtigheid by God aanvaarbaar is om voor Hom as regverdig verklaar te kan word. So ‘n persoon sal dan op die vlak van menslike geregtigheid funksioneer, en dit is nie die vlak van geregtigheid, waarop die Here verlossing/redding aan die mens aanbied nie. Ons beste werke is vir God soos ‘n besoedelde kleed.
Jes 64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede (al ons goeie dade) soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Dit is sinneloos om ons eie menslike geregtigheid aan God te wil voorhou, in ‘n poging om Hom daardeur te oorreed om ons as goed genoeg te beskou, sodat Hy ons kan red. Ons hoef nie die Here op enige wyse, insluitende self opgewerkte trane en berou, te oorreed om ons te verlos nie. Dit is God in Sy onbeperkte genade en liefde wat die hele heilsplan in die eerste plek uitgedink en bewerkstellig het! Boonop dit alles het God deur middel van Sy Seun se voltooide werk aan die kruis, die volle kostes in verband met ons verlossing gedra. Daarbenewens is dit God wat ons in die eerste plek na Hom toe trek, nie andersom nie!
Joh 12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”
Dit is God wat alles gedoen het om ons te red! Hoekom moet ons Hom nou probeer sagmaak of demonstreer dat ons goed genoeg is. Hy weet alreeds dat ons nie goed is, en ons sal boonop ook nooit goed genoeg kan wees nie, want dan sou die dood van Sy Seun onnodig gewees het. Dit is nie ‘n kwessie van God se onwilligheid om ons te wil red nie, maar ons onwilligheid om die Here Jesus Christus alleenlik vir ons verlossing te vertrou en daarom probeer ons Hom omkoop met ons eie dade/pogings! God wag vir elke selferkende sondaar om in Sy Seun te glo, sodat ons die Seun se toegerekende geregtigheid as geskenk kan ontvang. As dit by wedergeboorte/verlossing kom, staan geloof en werke apart en kan die twee nie vermeng word nie. Indien enige werke by geloof as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe bygevoeg word, verander dit die Evangelie van God se genade in ‘n valse evangelie wat op menslike werke gebaseer is (enige menslike werk anders as geloof alleenlik in Christus alleenlik) wat niemand sal red nie.
Gal 3:11 “En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. 3:12 Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.”
Daar is slegs een Verlosser en dit is die Here Jesus Christus. Dit is nie Jesus Christus plus jouself nie, of Jesus Christus plus enige iets of iemand anders nie. Christus het alleen op die kruis gehang, en alleenlik Hy is deur God vir die mens se sonde gestraf, daarom kan daar geen ander verlosser of mede-verlosser saam met Hom wees nie. Niemand anders sou ooit kon kwalifiseer nie!

Onthou, dit is God wat besluit het om Sy Seun aarde toe te stuur om daar aan die kruis vir ons sondes te betaal.
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, (God se aandeel in ons verlossing. Wie God is! Sy attribuut van geregtigheid vereis dat Hy ons sondes straf. Sy attribute van liefde vereis dat Hy ons verlos. Die oplossing?) dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, (God se aandeel in ons verlossing. In Sy onbeperkte liefde doen Hy alles om ons te red. Hy stuur Sy Seun om vir ons sondes aan die kruis te sterf. Daardeur bevredig Hy Sy attribuut van geregtigheid en demonstreer ook Sy liefde vir ons. Let wel, alles van God se kant af.) sodat elkeen wat in Hom glo, (Ons aandeel. Die enigste vereiste wat van die mens verwag word is geloof. Daar word niks gesê van ophou sonde doen, goeie werke doen of berou toon ens nie) nie verlore mag gaan nie,(God se belofte aan ons. Dit is Sy werk om te verseker dat ons nie mag verlore gaan nie, nie ons werk nie. Ons kan onsself nie red of gered hou nie, maar Hy kan en sal!) maar die ewige lewe kan hê.” (God se belofte aan ons. God is die een wat op grond van Sy genade, nie ons verdienste nie, die ewige lewe as geskenk aan ons gee. Die ewige lewe is nie iets wat ons ooit kan verdien of in ons eie krag kan bewerkstellig nie. Indien ons nie die ewige lewe in die eerste plek kan verdien nie, maar in genade moet ontvang, is dit net logies dat ons niks kan doen om dit te verloor nie. Dink mooi oor hierdie stelling na.)

Indien “bekeer” in konteks van fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, beteken dat ons van al ons sonde moet bekeer, ontstaan die vraag tot watse mate ons dan moet bekeer? Hoe sal enige mens ooit kan weet of hy genoeg “bekeer” het of nie? Baie mense beweer ons moet van alle bewuste sonde bekeer. Waar word hierdie vereiste ooit in die Bybel in die konteks van wedergeboorte aan ‘n persoon voorgehou? En hoe gaan ons weet of ons, onsself nie mislei deur om te beweer dat ons van al ons bewuste sondes bekeer het nie? En wat dan as ek dieselfde sonde weer doen? Het ek dan werklik “bekeer”? Die Bybel maak egter die stelling dat ons harte bedrieglik is.
Jer 17:9 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”
Indien bostaande teksgedeelte waar is, en dit is, hoe sal ek ooit op my eie hart kan vertrou om te bepaal of ek genoeg “bekeer” het of nie? Soos alreeds gedemonstreer, is die enigste standaard van heiligheid wat vir die Here aanvaarbaar is, Sy Eie! En nie een mens sal dit ooit regkry om tot daardie vlak te bekeer nie. As dit dan as vereiste vir verlossing voorgehou word, sal niemand ooit gered kan word nie. Om so ‘n vereiste, aan die voorkant van die Evangelie in te voeg, is om ‘n ander vereiste behalwe geloof alleen as vereiste vir die ontvangs van die Ewige Lewe voor te hou. Dan sou dit beteken dat ons verlossing wel op ‘n indirekte wyse van ons eie werke afhanklik is en as sulks niks anders as ‘n werke evangelie wees nie. En hoe kan ‘n ongelowige sondaar wat slegs oor ‘n sonde natuur beskik, en nog nie ‘n nuwe natuur ontvang het nie se goeie werke enigsins by ‘n absoluut Heilige God aanvaarbaar wees. Onthou, ons werke van geregtigheid is vir God soos ‘n vuil kleed.
Jes 64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Omrede ons met ‘n sonde natuur gebore is, is ons hele aard/natuur in God se oë boos! Hoe kan so ‘n persoon se eie goeie werke God dan beweeg om hom te red? Die oplossing lê nie by ons werke van bekering nie maar in ons geloof in die Here Jesus Christus, en wat Hy aan die kruis vir ons gedoen het en niks anders nie. Om die hele kwessie van verlossing na die vlak van menslike werke af te bring om sodoende ons in ‘n posisie te plaas waar die Here bereid sou wees om ons te verlos, is om heeltemal die punt van die Evangelie van God se genade mis te loop. Die Skrifte stel dit baie duidelik, dat dit Christus se voltooide werk aan die kruis is wat ons verlossing bewerkstellig en nie ons trane, werke of enige iets of iemand anders nie. In Christus het God die sonde probleem van die mens alreeds opgelos en die wêreld met Homself versoen. Al wat ons moet doen is om die Evangelie te glo.
2Ko 5:18 “En dit alles is uit God (nie ons nie) wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, 5:19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.”

Nog ‘n bewys dat die term “bekering” in lig van die konteks waarin dit gebruik word verstaan moet word, en wat bewys dat “bekering” nie ‘n tweede aparte stap, soos byvoorbeeld ons rug op sondes draai, as vereiste vir wedergeboorte voorgehou kan word nie, is die feit dat die term “bekeer” of “bekering” nie een keer in die Evangelie volgens Johannes, wat spesifiek met die doel geskryf is om aan ons te verduidelik hoe om die ewige lewe deelagtig te word, asook in die brief aan die Galasiërs, wat niks anders as ‘n verdediging van die Evangelie is nie, voorkom nie. Die Evangelie volgens Johannes word nie verniet die Heilige Gees se Evangelisasie pamflet genoem nie, omrede die Evangelie volgens Johannes die enigste boek in die Bybel is, wat as rede vir die skryf daarvan, die ontvangs van die ewige lewe as doel voorgehou.
Joh 20:31 “maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.”
Moenie die fout begaan en dink net omrede die woord “bekeer” nie in die Evangelie van Johannes voorkom nie dat bekering nie nodig vir verlossing is nie. Dit is! Dit is egter verkeerd om te beweer dat bekering, as ‘n tweede stap, en wat die wegdraai van sonde, ophou met sonde pleeg, berou toon ens insluit vir die ontvang van die ewige lewe vereis word. Volgens die Evangelie van Johannes het iemand wat glo alreeds bekeer. Dus is bekering, waar dit in konteks van verlossing/wedergeboorte gebruik word niks anders as om vanuit ‘n posisie van ongeloof na ‘n posisie van geloof in die Here Jesus Christus, se Persoon, en Sy voltooide werk aan die kruis te beweeg en niks meer nie.
Joh 3:18 “Hy wat in Hom (die Here Jesus Christus) glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. (Geen ander vereiste word voorgehou om die ewige lewe deelagtig te word nie. Dit geld vir die res van die Evangelie volgens Johannes.)
Joh 3:36 “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; (as huidige besitting) maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, (nie in Jesus Christus wil glo nie, of Hom op sy eie terme wil glo) sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”

Soos reeds gestel, was die rede vir die skryf van die brief aan die gemeente van die Galasiërs juis gewees om die Evangelie van God se genade teen die byvoeging van enige menslike werke te verdedig. In hierdie brief word daar baie duidelik onderskeid tussen geloof en werke getref, en word dit baie duidelik gestel dat slegs geloof in die Evangelie, as vereiste vir die ontvangs van die Ewige Lewe, vereis word. Ook in hierdie hele brief word die woord “bekeer” nie een maal genoem nie. Die weglating van die term “bekeer” of “bekering” in beide bogenoemde Bybel boeke behoort die doodsknal te wees vir die leerstelling wat beweer dat “bekering” ‘n tweede stap is wat nodig is, en wat by geloof as vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe gevoeg moet word. In Gal. 1:8-9 rig Paulus ‘n baie ernstige waarskuwing aan diegene wat met die boodskap van die Evangelie van God se genade wil peuter.
Gal 1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking. Die brief is aan gelowiges gerig wat toe alreeds wedergebore was.) na ‘n ander evangelie (wat op werke gebaseer is) toe, 1:7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 1:8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 1:9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

Jou vraag: Hier is my storie, ek vind myself sonde doen selfs wanneer ek voel dis verkeerd. Ek sal saam my vrou by die huis sit en ‘n paar biere drink wanneer ons bordspeletjies speel en dan nog my rook verslawing. Nou beoefen ek my geliefde ou sonde by my huis omdat ek nie skade aan God se koninkryk of ‘n struikeling vir ander gelowiges wil wees nie. Waar plaas dit my en loop ek gevaar om verlore te gaan? Dankie

My antwoord: Die eerste vraag wat beantwoord moet word is wat moet mens glo om as gelowige te kwalifiseer. ‘n Gelowige is ‘n persoon wat glo dat die Here Jesus Christus die Seun van God is, en dus self God is, en wat glo dat Jesus Christus aan die kruis in sy plek gesterf het, en sodoende sy (persoonlike) volle sondeskuld betaal het, en wat verder glo, dat Jesus Christus liggaamlik uit die dood uit opgestaan het, en as opgestane Verlosser, Hom alleen vertrou om die gelowige volkome van die gevolge van sy sondeskuld te verlos.
1Ko 15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 15:2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”

Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Geloof alleen in die Here Jesus Christus alleen! Punt!
Rom 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Geen goeie werke, doop, tradisies, wetsonderhouding, sabbatdag onderhouding, kerkbywoning ens kan as vereiste by geloof in Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir wedergeboorte gevoeg word nie.
Rom 3:19 “Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 3:21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 3:27 Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Ja, goeie werke is uiters belangrik, en word vir heiligmaking vereis, maar nie as dit by aanvanklike wedergeboorte kom nie. Goeie werke behoort a.g.v wedergeboorte, deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, in en deur die gelowige bewerkstellig te word, maar goeie werke kan nooit by die Evangelie as vereiste vir wedergeboorte gevoeg word nie, anders verander dit die inhoud van die Evangelie na ‘n werke evangelie toe wat tot niemand se verlossing aanleiding sal lei nie. Om in Christus plus iets anders te glo (dit sluit jou en jou pogings tot goeie werke in) is om redding op jou terme te soek, wat daartoe sal lei dat God jou op jou werke moet oordeel en jou verdoem. Onthou, dit is ons reaksie op God se voorsiening in Sy geliefde Seun, en Sy voltooide werk aan die kruis, wat gaan bepaal waar ons die ewigheid gaan deurbring!

Indien jy in bostaande vereistes voldoen het, het God jou op grond van Christus se voltooide werk aan die kruis posisioneel geregtig verklaar, en is jy wedergebore, en is fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte finaal afgehandel met die waarborg dat jy nooit verlore sal kan gaan nie. Wedergeboorte is ‘n eenmalige gebeurtenis is tyd en sal nooit weer herhaal word nie.)
Rom 4:4 “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; 4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”

Nadat fase een van jou verlossing, naamlik wedergeboorte, afgehandel is gaan jy outomaties oor na fase twee van jou verlossing, naamlik heiligmaking. Met wedergeboorte wederbaar God jou gees en skep Hy ‘n nuwe natuur in jou. Boonop plaas, en verseël Hy Sy Gees in jou, en dit is in die krag van die Heilige Gees wat heiligmaking moet plaasvind. Heiligmaking vind nie voor wedergeboorte plaas nie maar slegs na wedergeboorte. Neem net kennis dat met wedergeboorte wanneer God jou geregtig verklaar Hy nie in liefde optree nie maar eerder in Sy geregtigheid. Hy het in liefde opgetree toe Hy Sy Seun gegee het om aan die kruis vir jou sondes te sterwe. Noudat jy in die Here Jesus Christus geglo het (dus verlossing op Sy terme aanvaar het, naamlik geloof alleenlik in Christus alleenlik.) en Jesus Christus se toegerekende geregtigheid deelagtig geword het, moet God jou in Sy geregtigheid regverdig verklaar. Hy kan nie anders doen nie, anders sou Hy ongeregtig wees. Onthou God kan nie in stryd met enige van Sy attribute optree nie.

Maar nou ontstaan die vraag, naamlik: “Indien die Here Jesus Christus al jou sondes op Hom geneem het en daarvoor gestraf is, en jy boonop deur God as geregtig verklaar is, hoe kan daar enige toekomstige sonde wees wat jou uit die hemel kan hou? Die eenvoudige antwoord is dat daar absoluut geen sonde is wat jou uit die hemel kan hou, of kan veroorsaak dat jy verlore kan gaan nie, anders sou dit beteken dat die Here Jesus Christus nie al jou sondes aan die kruis betaal het nie, en sou Hy dus ‘n leuenaar wees toe Hy aan die kruis verklaar het dat alles volbring is. Boonop sou so iets beteken dat God die Vader ‘n fout begaan het toe Hy jou geregtig verklaar het (onthou God is alwetend) terwyl jy nie was of sou word nie. (dit is nie op grond van jou geregtigheid waarop God jou geregverdig verklaar nie, maar op die toegerekende geregtigheid van die Here Jesus Christus anders sou God jou nooit kon geregverdig verklaar het nie.) Boonop sou die Here Jesus Christus gelieg het toe Hy die onderstaande stalling gemaak het.
Joh 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 10:30 Ek en die Vader is een.”
Niemand beteken niemand, en dit sluit jou in, anders kon die Here nie die woord “niemand” hier gebruik het nie. God kan nie lieg of foute begaan nie, maar die mens kan wel. Ons moet gaan op wat God in Sy woord aan ons openbaar en nie ons eie teologie in die Bybel in lees nie. (Lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir ‘n meer omvattende verduideliking van hierdie leerstelling.)

Indien jy die Evangelie geglo het, is jy net soos enige ander gelowige in fase twee van jou verlossing, naamlik heiligmaking. Neem net kennis dat heiligmaking ‘n proses is wat die res van jou lewe sal voortduur, en gedurende fase twee van jou verlossing sal jy nog steeds sonde pleeg. Jy besit ook nog steeds jou ou sonde natuur en dit sal eers verwyder word wanneer jy jou verheerlikte liggaam ontvang het. (Die wegraping) Slegs wanneer fase drie, naamlik die verheerliking afgehandel, en jy jou verheerlikte liggaam ontvang het, sal al drie fases van jou verlossing voltooi wees en nie voor die tyd nie.
2Ko 3:18 “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”
Soos reeds gestel is dit egter ‘n proses en neem tyd! Jy sal nooit ‘n stadium in fase twee van jou verlossing kan bereik waar jy abseluut sondeloos is nie.

Ter Afsluiting: Ek glo nie die drink van bier is sonde nie. Dit is ‘n sonde om dronk te word. Wat jou rokery aanbetref sal jy die Here moet vra om jou te help. Indien jy werklik gewillig is om op te hou sal Hy jou die krag daarvoor gee. Soos wat enige verhouding op kommunikasie gebaseer is, geld dieselfde beginsel vir ons verhouding met God. Jy is Sy kind en daarom moet jy alles met Hom bespreek net soos wat jy met jou aardse vader sou doen. Laat die Heilige Gees jou in hierdie opset lei en onthou dat heiligmaking ‘n lewenslange proses is. Ek dink egter dat die feit dat jy dink jy verlore kan gaan net omrede jy rook (of a.g.v. van enige sonde) is ‘n groter sonde as rook ooit sal wees. Indirek beweer jy dat Jesus Christus nie al jou sonde op Homself geneem en daarvoor aan die kruis betaal het nie. In effek glo jy in ‘n ander evangelie wat jou nie sal kan red indien jy nie alreeds werklik wedergebore is nie. Jy sal daarvan moet bekeer. Indien jy hierdie leerstelling na aanvanklike wedergeboorte aangeleer het, dan is jy nog steeds gered (omrede Die Here Jesus Christus ook vir hierdie sonde van jou versoenning gedoen het) maar jy is nie meer in gemeenskap met God nie. Indien jy hierdie leerstelling van die begin af geglo het, dan het jy by implikasie nie geglo dat die Here Jesus Christus nie vir al jou sondes aan die kruis betaal het nie! Indien jy glo dat Jesus Christus vir al jou sondes aan die kruis betaal het, hoekom dink jy dan, dat daar ‘n sonde is wat jou tot die ewige dood kan verdoem? Dink mooi hieroor na!

Maar wat dan van die teksgedeeltes waar dit wil voorkom dat ‘n gelowige verlore sal kan gaan? Indien mens egter hierdie teksgedeeltes, in lig van die konteks waarin dit voorkom ondersoek, en die drie fases van verlossing in ag neem, is dit nogal maklik om hierdie teksgedeeltes reg te verklaar. Onthou, God kan Homself nie weerspreek nie. As dit wil voorkom asof daar ‘n kontradiksie in die Bybel is, moet ons weet dat die fout by ons uitleg van die Bybel lê en nie in die Bybel self nie. Die Bybel stel dit bo enige twyfel, dat waar dit by wedergeboorte kom werke geen aandeel daarin het nie maar slegs geloof alleenlik. Al die onduidelike teksgedeeltes moet in lig van die duidelik gestelde teksgedeeltes in die skrifte verklaar word en nie anders om nie. Lees asb die artikel “ Geloof sonder werke is dood?” vir een so ‘n voorbeeld. Ek hoop my antwoord help en beantwoord jou vraag. Ek plaas dit op die webtuiste want daar is baie mense wat met dieselfde vrae worstel . En onthou: “Verlustig jou in Here. Jy volg nie ‘n stel reëls na nie maar ‘n lewende Persoon.” Jou horisontale belewenis van jou Christelike lewenswandel is afhangend van jou vertikale gemeenskap met God. Jy is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Hierdie stelling geld vir al drie die fases van jou verlossing.
Rom 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Neem hierdie stelling in geloof aan en maak dit jou eie! Moenie sondes skep waar daar nie sonde is nie. Dit is wettisisme (ook ‘n sonde). Daar is niks mee fout om ‘n paar biere te drink nie. Dit is egter sonde om dronk te word. Maak baie seker dat jy jou fondasie op die Rots, naamlik die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir jou bou en nie op die sand van menslike leerstellings nie. Indien jy op ‘n verkeerde fondament bou gaan die hele gebou foutief wees en sal eendag, wanneer dit dalk te laat is, in duie stort.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.