Soeke na Rykdom

Soeke na Rykdom

Vraag: Is dit verkeerd om rykdom na te jaag, dit is tog wat almal deesdae doen, maar ons Pastoor waarsku ons gereeld daarteen. Ek vermoed hy het voeling met die hedendaagse lewe verloor. Antwoord asb!

Antwoord: Hierdie is ‘n vraag waarmee almal worstel , en soos altyd moet ons na die Bybel gaan vir die antwoord. Weereens moet ek jou waarsku, om na die Bybel alleen te gaan vir jou antwoorde en nie op menslike opinies staat te maak nie. Mense kan foute begaan en jy kan daardeur verlei word. Om jou Bybel te bestudeer, en te weet wat daarin staan is een van die grootste gawes wat God die mens gegee het, tog word dit die meeste afgeskeep. Kom ons gaan na die Woord.

1Ti 6:3 “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 6:4 dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, (beledigings) bose agterdog, (gemene verdagmakery)
6:5 nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid (godsdiens) winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.”
Opmerking: Soos uit bostaande teksgedeelte afgelei kan word, gaan die opinies van mense niks tel wanneer ons almal eendag voor God moet verskyn om verslag te doen oor ons lewens op aarde nie. Die maatstaf wat gebruik sal word is die Bybel en of ons God se woord gehoorsaam het of nie. Baie mense gebruik godsdiens as middel om materiële voorspoed te bekom en hulleself geldelik te verryk, maar hulle misgis hulleself lelik. Die Skrif maak dit baie duidelik, en teksgedeeltes soos hierbo weergegee, word nie gereeld genoeg in ons gemeentes gepreek nie. Die rede hiervoor kan wees dat meeste predikers ook vir die afgod Mammon geval het.

1Ti 6:6 “Maar die godsaligheid (godsdiens)saam met vergenoegdheid (tevredenheid) is ‘n groot wins. 6:7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”
Opmerking: Hoeveel hedendaagse Christene dink jy sal tevrede wees met net die basiese benodigdhede soos hierbo genoem? Kom ons wees maar eerlik en erken dat bitter min van ons, veral in die westerse wêreld, tevrede sal wees met net die basiese benodigdhede. Dit gaan vir hulle oor status geld en ‘n gerieflike lewe, min vergeet hulle Jesus se ernstige waarskuwings teen die gevare van rykdom en die liefde vir geld. (Mat 19:24, Mar 10:24-25; Luk 18:25; Joh 5:44 ) Lees asb die teksgedeeltes self dit is nogal baie insiggewend.

1Ti 6:9 “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. 1Ti 6:10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”
Opmerking: Ons hoor gereeld van mense wat selfmoord gepleeg het oor geld. Ons hoor ook van baie bedrog, diefstal, korrupsie en oneerlike praktyke a.g.v. geldgierigheid op alle vlakke van die samelewing en dikwels in die kerk self. Die najaag van geld het al male sonder tal gesinne vernietig en kinders word groot sonder ouers wat hulle opvoed in die weë van die Here. Hulle volg dus in hulle ouers se voetspore en baie gaan so verlore, omrede hulle nooit tot reddende geloof kom nie, omrede mammon hulle God geword het. Mammon is ‘n ongenaakbare slawedrywer en sy juk is swaar. Hy dryf sy slawe sonder ophou en sonder genade, sodoende weerhou hy hulle van die vryheid wat daar in Jesus Christus is. Hoe baie mense verloën die geloof, net om genoeg geld op te gaar en meer status te verkry? In die proses verloor hulle ‘n intieme vertrouensverhouding  saam met Christus en skeep soms hulle kinders en gesinne ook af. Kyk maar op TBN , en ander soortgelyke Christelike kanale op televisie is en jy sal gou opmerk dat onderwerp wat die meeste bespreek word oor geld handel. Vir predikers soos daardie, het godsdiens ‘n baie winsgewende bedryf geword en hulle dink verniet dat hulle God se oordeel sal vryspring.

1Ti 6:11 “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”
Opmerking: Ek sê nie dit is verkeerd om vir geld te werk nie, (en om goeie geld te verdien nie) maar die doel daarvan moet wees om ons huidige behoeftes te voorsien, en met die oorblywende geld, in die verspreiding van die Evangelie te belê. Dit is immers wat die Here van ons verwag. Die Here het ons met gawes geseën om vir Hom te leef en te werk, nie vir onsself nie. Geld moet ons dien, en ons daarenteen moet God dien en nie geld nie. Dit is egter jammer om te sê, maar die meerderheid van die mense dien Mammon, en hulleself, en nie vir die Here nie. Hoeveel mense werk werklik met dieselfde toegewydheid, sover dit die Here se belange aangaan, as wat hulle vir hulleself werk. Dink mooi oor hierdie stelling na. Wie dien hulle dan werklik? Hoe kan hulle dan sê hulle dien die Here? (Mat 25:14 – 25:30 ; Luk 6:46 ; Luk 12:15-12:21) Hulle streef nie om die Evangelie verkondig te kry nie, maar hulle jaag om nog meer rykdom op te gaar. Kyk maar mooi, en jy sal baie duidelik opmerk, dat die meeste mense, op die een of ander wyse, rykdom najaag. Soos wat ons uit die bostaande teksgedeelte duidelik kan waarneem, word ons nie aangesê om rykdom na te jaag nie, maar wel die dinge wat regtig saak maak, soos geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, geduld, sagmoedigheid. (wat alles vrugte van die Gees is)

Indien ek jy was sou ek dankbaar wees dat jou Pastoor die waarheid volgens God se Woord verkondig, omrede sulke pastore by verre in die minderheid is. Die Skrifte stel dit duidelik dat vir iemand om soos die wêreld te wil wees, daardie persoon indirek (of direk) ‘n vyand van God is.
Jak 1:27 “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld.
1Jo 2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 2:17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”

Onthou net om ryk te wees is nie ‘n sonde nie, maar om rykdom na te jaag is wel. Baie mense erf ryk, of die Here mag hulle selfs met rykdom seën, met die doel dat hulle met die verspreiding van die Evangelie behulpsaam moet wees. Maar sodra jou lewe, om geld, of die opgaar daarvan  draai, dien jy Mammon en nie God nie. Daar is ‘n bekende gesegde wat soos volg lees: “Wys my die inhoud van ‘n man se tjekboek dan sal ek jou sê wie hy dien.” Dit is nogal ‘n treffende stelling! Dit waarop iemand sy tyd, geld, verstand en vermoëns spandeer is die voorwerp wat hy dien. Dit is eenvoudig maar net die waarheid. Ons mag onsself dalk anders oortuig, maar God ken die hart van die mens en niks ontgaan Hom nie.

Onthou ons woon in ‘n tydperk van ongekende materialisme, en dit is ongelukkig ook ‘n verskynsel wat grootliks in baie gemeentes posgevat het. Kyk egter baie mooi na al die waarskuwings wat Jesus self oor die opgaar van rykdom gemaak het, dan sal jy duidelik opmerk dat ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom van ons dag nie noodwendig Jesus Christus aanbid nie maar eerder rykdom. Hulle aanbid nie Jesus vir wie Hy is nie, maar wat Hy hulle kan gee en dit is baie hartseer. Dit gaan nie oor God se wil nie, maar oor wat hulle wil hê God moet vir hulle doen. Dink mooi oor hierdie feite na, en vra die Heilige Gees om jou verstand te verlig, sodat jy die waarheid kan raaksien. Die Bybel waarsku ons egter dat dinge in die laaste dae so sal wees, en dan besef mens weer hoe akkuraat (sonder enige foute) die Bybel in werklikheid is. Dit is nog ‘n bewys dat die Bybel God se Woord aan die mens is.          
II Tim. 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;

Hou hierdie waarheid altyd in gedagte sodoende sal dit verhoed dat jy op ‘n verkeerde weg beland. In meeste gevalle word Jesus Christus Sondae gepreek, maar deur die week word Mammon gedien! ‘n  Verdere toets om te bepaal wie jy werklik dien, is om te bepaal aan wat jy jou status koppel. Is jou status en geluk gekoppel aan die hoeveelheid besittings, en aardse wysheid waaroor jy beskik, of is jou status en geluk gekoppel in die Here Jesus Christus self, die bestudering van Sy Woord en om Hom, as toegewyde dissipel, na te volg?

Ek hoop my antwoord beantwoord jou vraag. En dank die Here vir ‘n pastoor soos joune!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.