Werp al julle bekommernis op God

Werp al julle bekommernis op Hom – dieskrifte.org

1Pet. 5: 7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Baiekeer bevind ons, onsself in donker situasies en beleef dan erge bekommernis en self angs. Die rede hiervoor is dat ons die situasies en omstandighede in ons lewe self op ons skouers wil dra, wat dan tot bekommernis en angs aanleiding gee. Seker die grootste rede hiervoor is die feit dat ons nie die Here se opdrag om al ons bekommernis op Hom te werp, gehoorsaam nie. Nou praat ek nie net van blote lippetaal nie. Met die wete dat ons God se kinders is, is dit van uiterste belang dat ons al ons bekommernis, met die vaste geloofsoortuiging dat Hy vir ons sorg, op Hom moet werp. Wanneer die gelowige nie werklik sy bekommernis op die Here werp nie, gee dit aanleiding tot donker angsvolle tye in ons lewens en wonder ons waarom die Here ons dan nie van ons bekommernis en angs verlos nie. In situasies soos hierdie los die Here ons somtyds om in ons vrees voort te woeker, omrede Hy wil hê ons moet leer om die bekommernis/situasie/probleem op Hom te werp en volkome op Hom vir die oplossing daarvan te vertrou. Hierdie tipe lesse is gewoonlik lesse wat deur erge smarte en harts-wroeginge en baie trane geleer moet word. In situasies soos hierdie beteken nie dat God ons straf nie, maar ons straf onsself, deurdat ons nie werklik, met ‘n vaste geloofsoortuiging, op Hom vertrou met die vaste wete dat Hy vir ons sorg nie. Die smarte wat ons dan beleef is smarte wat ons oor onsself gebring het. (want ons glo Hom nie werklik wanneer Hy deur Sy woord met ons praat nie!) Hierdie smartlike situasies kan egter heeltemal vermei word, indien ons eerstens die situasie in geloof aan God oorgee, en al ons bekommernis op Hom werp. Sodra ons, ons bekommernis op Hom gewerp het, kan ons met blymoedigheid op take fokus waarop die Here wil hê ons moet fokus. Sodra die gelowige toelaat dat vrees en bekommernis hom oorweldig, sal hierdie feit die gelowige lamlê, wat hom dan aan verdere aanvalle van die duiwel sal blootstel. Hierdie situasie kan dan tot ‘n bose kringloop aanleiding gee wat daartoe kan lei dat die gelowige ‘n senuwee ineenstorting kan beleef. (Alles a.g.v. ongeloof, wat sonde is!) Die leser mag dalk vra hoe weet ek al hierdie dinge? Ek weet dit want ek het dit die afgelope paar maande beleef en slegs God in Sy genade het my tot insig gebring.

Bybelkennis, so belangrik soos wat dit is, is nie altyd genoeg nie. Bybelse wysheid is net so belangrik en hierdie twee elemente, Bybel kennis en wysheid werk as eenheid saam en moet in geloof toegepas word anders gaan ons smartlike lesse moet leer. Bybelse wysheid is Bybelse kennis wat deur geloof getrou toegepas is. Ons almal kan met meer Bybelse wysheid doen en daarom vermaan die Skrifte ons dat ons daarvoor moet bid. Ons almal kort Bybelse wysheid. Maar vir die Here om vir ons hierdie wysheid te gee is dit van uiterste belang dat ons Bybelstudie doen en die Bybel ken, iets wat die Here van elke gelowige verwag. God kan ons nie verlos indien ons self beheer van die situasie wil neem, en alles in ons eie krag wil oplos nie. Ons met eers onsself aan Hom onderwerp, wat beteken dat ons nie die situasie in ons eie krag wil aanpak nie, maar eerder op Hom en Sy krag staatmaak. Wanner ons enige situasie in ons eie krag aanpak, beweer ons in werklikheid dat ons God nie nodig het nie, omrede ons in onsself genoegsaam is. Dit is niks anders as selfverheerliking en dus afgodery nie! Sodoende raak ons bekommerd en verstaan nie hoekom ons so voel nie. In werklikheid tree ons dan in ongeloof op en poog om self God te wees. Wanneer dinge dan nie uitwerk nie, wil ons God blameer eerder om die fout by onsself te soek.

Die Bybel vermaan ons om al ons bekommernisse op God te werp, maar ons doen dit slegs in woord en nie in geloof nie. In werklikheid werp ons, ons bekommernisse op onsself en verwag dan dat God ons moet help deur om by ons planne in te val. Dit is nie geloof in God nie, dis rebellie! In werklikheid kan ons net doen wat God in ons vermoë geplaas het om te doen. Ons kan byvoorbeeld nie namens ‘n ander persoon die Evangelie glo nie, maar ons kan vir daardie persoon bid (wat God se wil vir ons is) en die Evangelie met daardie persoon deel. (wat God se wil vir ons is) Die res moet ons in God se hande los, maak nie saak wat die uiteindelike uitslag mag wees nie. Dieselfde beginsel geld vir ons gesondheid. Ons beskik oor die vermoeë om teen God te rebelleer, en Hom nie in ons liggame te verheerlik deur te ooreet nie. Dit is egter in ons vermoeë om die Here in ons liggame te verheerlik (wat God se wil vir ons is) en nie te ooreet nie. (wat God se wil vir ons is.) Ons kan God egter eer deur nie te ooreet nie, maar ons lewens bly egter in God se hande en Hy sal besluit wanneer en hoe ons tot sterwe sal kom. Ek glo ons gehoorsaamheid aan God speel wel ‘n groot rol in Sy besluit, maar die besluit rus nog steeds by Hom. Dit gaan ons niks help om oor al hierdie dinge bekommerd te wees nie. Ons kan net die regte ding doen, deur God nougeset as dissipels na te volg en die res in Sy hande te los. (wat Sy wil vir ons is)

God verwag van ons om ons bekommernisse op Hom te werp. (wat God se wil vir ons is) Ons kan God egter ongehoorsaam wees, en nie werklik deur ‘n bewustelike wilsbesluit, in geloof, ons bekommernisse op Hom werp nie. Indien ons God nie in hierdie opsig gehoorsaam gaan wees nie, sal beteken dat ons bekommerd en angstig sal raak wat ons fisiese, asook geestelike, gesondheid negatief sal beïnvloed. (wat self ons fisieke lewens sal verkort en kan meebring dat ons genadeloon by die Regterstoel oordeel van Christus kan verbeur! Sonde het altyd gevolge, al merk ons dit nie onmiddellik op nie. En in hierdie geval dra ons dus die gevolge van ons eie sonde van ongeloof!) Daar is slegs een God, en Verlosser, naamlik God en derhalwe is dit van uiterste belang om in nougesette gemeenskap met Hom te wandel en al ons smarte en laste op Hom te werp. (soos wat Hy ons deur Sy woord vermaan.) Daarom is voortgesette heiligmaking, wat op die Heilige Gees se instaatstellende krag vertrou, so belangrik.

Daar is slegs een God, en as Soewereine God, is slegs Hy in beheer van alles. Die mens is nie God nie en is dus ook nie in beheer van alles nie. Dinge wat God in ons vermoë geplaas het om op te los, behoort ons deur geloof in Hom, en in Sy krag op te los. Daar is egter altyd situasies, en omstandighede, wat buite ons beheer is. Sulke omstandighede of situasies moet aan God oorgelaat word, en ons moet veral daarteen waak, om nie onder sulke omstandighede, sake in ons eie hande te wil neem en ons dan dood wil bekommer nie. Dis sonde!

Baiekeer werp ons wel ons bekommernis op die Here net om weer oor die verloop van tyd, op baie subtiele wyse, hierdie bekommernis weer op onsself te neem wat beteken dat die laste van die lewe weer te swaar vir ons raak. In gevalle soos hierdie is dit van uiterste belang om tot bekering te kom en ons bekommernis weereens op die Here te werp. Dit sluit die feit in dat ons, ons sonde aan Hom moet bely, sodat ons Vader, kind gemeenskap met Hom herstel kan word. God wil uiters graag met gelowiges vreugdevolle gemeenskap geniet, maar ons verhinder dit baiekeer, deur om self God te wil speel en ons bekommernis op ons eie skouers te wil dra. Sodoende ontneem ons God van Sy plek in ons lewens, en ontneem Hom die vreugde om ons laste op Homself te neem en dit vir ons te dra. (Hy het immers ons sondelas op die kruis op Homself geneem en met Sy lewe daarvoor betaal, [sonder dat enigeen van ons ‘n hand kon bysit] hoekom wil ons dan nie ook toelaat dat Hy ons bekommernis, na wedergeboorte, op Homself neem en dit vir ons dra nie?) Ons vergeet gereeld die feit dat God se dra van ons laste deel van Sy algehele plan vir ons oomblik tot oomblik gemeenskap met Hom vorm, en baie keer breek ons daardie gemeenskap deur om self ons bekommernis op ons skouers te wil dra. Onthou, met wedergeboorte word ons deur die Heilige Gees in Christus geplaas/gedoop wat beteken dat ons in ‘n verhouding van eenheid met God staan. Om dus onafhanklik van God, en in ons eie krag te wil optree, is sonde, en sal beteken dat ons geestelik sal misluk en geestelike babas sal bly. Daarom is dit van uiterste belang om in nougesette gemeenskap met Christus te wandel. (wat beteken dat ons Hom gehoorsaam deur ons bekommernis op Hom te werp, soos wat Hy ons beveel!)
Joh.15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Om apart van God op te tree beteken dat ons nie in Christus bly nie en dit sal beteken dat ons geestelik sal struikel. (so ‘n persoon sal nie die ewige lewe verbeur nie, maar hy sal wel sy gemeenskap met God verbeur, wat sal beteken dat so ‘n gelowige die nodige krag, sy vreugde, asook sy vrede sal verbeur.) Moenie onafhanklik van God probeer lewe of optree nie! Ons doen dit so maklik!

Derhalwe is dit ook uiters belangrik vir gelowiges om met ander gelowiges in kontak moet wees wie as toegewyde dissipels van die Here wandel. Sulke gelowiges sal baiekeer aan ons optredes kan uitwys wat ons moontlik heeltemal vergeet het of selfs miskyk. Alle gelowiges moet met gelowiges in verbinding wees wat volkome vertrou kan word. (God verwag van alle gelowige om betroubaar te wees. Ongelukkig is dit in die meeste gevalle nie die geval nie!) Ons almal kyk dinge mis wat baiekeer deur ‘n getroue vriend raakgesien word, omrede die Here dit aan so ‘n persoon openbaar. Wanneer ons, ons bekommernisse met so ‘n vriend deel, is dit van uiterste belang dat hy dit nie sonder toestemming met ander sal deel nie. Onthou, vergifnis is verniet, maar vertroue word verdien. Baiekeer fokus gelowiges so op die openlike immorele sondes, soos byvoorbeeld homoseksualiteit, dat hulle vergeet hoe ernstig die sonde van skinder in werklikheid is. Die Bybel waarsku ons egter dat ‘n persoon wat nie sy tong in toom kan hou nie se godsdiens waardeloos is.
Jak.1:26 “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.”
Mens sou dwaas wees om sulke mense te vertrou. Boonop pleeg hulle sonde, en dit onder die vaandel van godsdiens en “heiligheid”!

Kom ons gaan plaas 1Pet.5:7 binne die konteks waarin hierdie teksgedeelte in voorkom en bespreek dit dan kortliks.
1Pet. 5: 6 “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. (Om ons onder die magtige hand van God te onderwerp beteken dat ons erken dat ons nie krag in onsself het om ons bekommernisse te oorkom nie. Dit beteken ook dat ons Hom moet gehoorsaam wees, en dit geld ook vir die feit dat ons, ons bekommernisse op Hom moet werp.) 7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. 8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. (Satan weet wanneer gelowiges hierdie opdrag van God verontagsaam en sy bekommernisse op homself dra. Satan sal dan poog om nog meer bekommernisse op so ‘n gelowige se skouers te werp in ‘n poging om die gelowiges se geloof te laat verkrummel wat daartoe aanleiding sal gee dat die gelowige depressief, moedeloosheid en in toestande van angs verval wat so ‘n gelowige se geestelike lewe asook gesondheid negatief sal beïnvloed.)9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, (een faset hiervan, is om ons bekommernisse, in geloof, op die Here te werp en dit by Hom te los.) omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. (Alle gelowiges sonder uitsondering ervaar die een of ander tyd lyding/bekommernis, smarte in hierdie bose wêreld. Die Here het ons immers vooraf gewaarsku. Joh.16:30)10 En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! (Die Here gebruik egter hierdie omstandighede om ons geestelik te laat ontwikkel. Onthou, om versoek te word is nie sonde nie. Om aan daardie versoeking toe te gee is wel sonde.)11 Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.” (wanneer ons, ons bekommernis op Hom werp, gee ons die nodige eer aan die Here, want net Hy beskik werklik oor die krag om ons van ons bekommernis te verlos! Om ons bekommernis op Hom te werp erken ons die feit dat slegs Hy oor die krag beskik om ons probleme op te los en dat ons volkome van Hom afhanklik is.) God laat niks sonder rede toe nie, en dit sluit die redes vir ons bekommernisse en lyding in. Wanneer gelowige leer om God te gehoorsaam, en hulle bekommernisse op Hom te werp, die volle wapenrusting van God aan te trek, en op Sy krag staatmaak sal hulle die oorwinning oor Satan behaal. Sodoende sal hulle, hulle Hemelse Vader verheerlik. (en onthou hierdie stryd/wroeging/angs kan soms baie intens wees!)

Derhalwe behoort elke probleem en bekommernis as ‘n aanval op ons geloof beskou te word, en moet ons hierdie onaangename belewenisse as geleenthede beskou waaruit ons geestelike waarhede kan leer en God toelaat om ons geestelik te ontwikkel.
Jak.1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. 5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. 6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. 7 Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie — 8 so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.”
Slegs wanneer ons God volkome met ons bekommernis vertrou sal ons werklik vrede ervaar. En daarom is dit van uiterste belang om mekaar aan hierdie feite te herinner.
Filip. 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
Indien ons onsself dood bekommer kan ons nie God daarvoor blameer nie. Die fout lê by ons ongehoorsaamheid en gebrek aan geloof. Ons beskryf onsself maklik as gelowiges maar ons tree soms eerder as ongelowiges op. Die Here word nie deur sulke optredes verheerlik nie. Hierdie stryd is nie altyd maklik nie, anders sou ons dit nie ‘n geloofstryd of worsteling genoem het nie. Moet nooit aan ongeloof toegee nie!
Ef. 6:13 “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.”

Dit is my beskeie opinie dat selfgesentreerdheid een van die grootste redes is waarom gelowiges se bekommernis hulle oorval. Hoe meer selfgesentreerd mens is, (en minder Christus-gesentreerd) hoe meer bekommernisse sal daardie persoon beleef, omrede die fokuspunt waarom die wêreld draai hyself is, en sy eie belang, asook oorlewing in hierdie wêreld vorm dan die fokuspunt waarom alles draai. Die logiese uitvloeisel wat uit so ‘n gesindheid tevore sal kom is bekommernis en vrees. Die rede hiervoor is eenvoudig. As mens, kan ons nie alle omstandighede beheer nie, en indien die “eie ek” die sentrale fokuspunt is waarom alles draai, sal vrees en bekommernisse vanuit sodanige gesindheid voortvloei. Indien God werklik die spil is waarom ons lewens draai, dan sal ons ook bereid wees om ons lewens vir Hom prys te gee, en sodoende sal ons nie bang wees om alles, insluitende ons fisiese lewens en materiële besittings, vir Sy Naam te verbeur nie.

Luk.9: 23 “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. 24 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.”
Slegs wanneer ‘n persoon homself volkome verloën sal hy werklik die kwalitatiewe aspek van die gawe van die ewige aan hierdie kant van die dood ervaar. Derhalwe moet gelowiges hulle met die Here Jesus Christus beklee en nie met hulleself nie. (iets wat ons baie maklik doen!)
Rom.13:14 “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.”
Selfgesentreerdheid (wat ‘n logiese uitvloeisel van selfliefde is) is sonde en die Bybel waarsku ons teen hierdie tendens. (en hierdie stelling geld veral in die laaste dae van die Kerk dispensasie waarin ons nou lewe.)
2Tim.3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Maak die meeste van ons, onsself nie dalk aan hierdie sondes (wat selfliefde insluit) skuldig nie? Bekommernis kan dus as een van die simptome van selfliefde bestempel word! (wat op niks anders as afgodery neerkom nie!) Ons moet onsself verloën!

Die ewige lewe bestaan uit twee aspekte, naamlik ‘n kwantitatiewe aspek sowel as ‘n kwalitatiewe aspek. Alhoewel die gelowige nie die ewige lewe kan verbeur nie, kan hy na aanvanklike wedergeboorte, deur sonde en ongeloof, die kwalitatiewe aspek van die ewige lewe tot ‘n groot mate in hierdie lewe verbeur. Wat tot die verlies van sy gemoedsrus, vrede en gemeenskap met God aanleiding sal gee. Hierdie toestand kan ook tot fisiese siektes en selfs vroeë dood aanleiding gee. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons nougesette aandag aan ons geestelike lewens skenk, wat deur voortgesette geloof, na aanvanklike wedergeboorte, op ‘n praktiese wyse in hierdie leeftyd uitgeleef behoort te word. Indien ons hierdie opdrag nie nakom nie, lewe ons in sonde wat ernstige gevolge in hierdie leeftyd te weeg kan bring. Ek moes hierdie les weer in die laaste paar maande op die harde wyse leer, en ek dank die Here dat Hy in Sy genade hierdie feite aan my geopenbaar het. Ons moet ons lewens as ‘n groot les beskou, waarvan die Here die leermeester is en ons die dissipels/leerlinge. En dit wat Hy ons leer, moet ons deur voortgesette geloof uitleef en ander weer leer. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Wat is die Ewige Lewe” te lees.)

Ter afsluiting: Ons almal ervaar die een of ander tyd omstandighede wat tot bekommernis aanleiding kan gee. Maar ons moet egter altyd onthou dat hierdie omstandighede nie vir die Here as verassing kom nie. Hy dra kennis daarvan en van die geestelike stryd wat mens in tye soos hierdie moet deurgaan. Hy is egter die heeltyd saam met ons en is volkome in beheer van alles, al beteken dit dat ons lyding moet ervaar. Die Here het ‘n ewige perspektief op alle gebeure en wil ons eendag voor die Regterstoel Oordeel van Christus graag vir ons lewens op aarde met genadeloon vereer, wat Hom weer sal verheerlik. Wanneer ons versoekinge of toetse ervaar behoort ons dit as geleentheid te beskou om te leer om volkome op die Here te vertrou met die wete dat Hy ons daarvoor sal beloon. Onthou, as gelowiges, het ons alreeds die ewige lewe as ewige geskenk ontvang en kan dit nooit verloor nie. (lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die gelowige.”) Hierdie feit waarborg ons ook dat ons nooit van die liefde van God geskei kan word nie en dat die Drie-enige God ons permanent inwoon. Die Here wil egter hê dat ons almal tot geestelike volwassenheid moet opgroei, en hierdie proses mag soms pynlik wees. Maar indien ons die toets suksesvol deurstaan het, sal die Here ons eendag voor die Regterstoel Oordeel van Christus beloon, en boonop kan ons alreeds aan hierdie kant van die dood die geestelike kwalitatiewe aspek van die ewige lewe in ons verhouding met die Here ervaar.
Jak.1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
Onthou, die kroon van die lewe, wat in die bostaande teksgedeelte aan die gelowige voorgehou word, is nie die gawe van die ewige lewe, wat slegs op grond van geloof in die Evangelie ontvang word nie, maar die kroon van die lewe is genade loon wat na aanvanklike wedergeboorte (fase een, naamlik wedergeboorte) deur voortgesette geloofsdade en toegewyde dissipelskap/heiligmaking (fase twee, naamlik heiligmaking/dissipelskap) as genade loon verdien word. (Lees gerus weer die artikel “Drie fases van verlossing”) Ons hoef nooit ons bekommernis self te dra nie, maar die Here verwag eerder van ons om dit op Hom te werp. Kom ons doen dit!

Seën groete!

Vic