Spreuke 18:21 en krag in die mens se woorde

Spreuke 18:21 en krag in die mens se Woorde

Die leser moet net kennis neem dat my bedoeling met die skryf van hierdie artikel nie ‘n persoonlike aanval op enige spesifieke persoon is nie, maar teen die valse leerstelling wat as waarheid verkondig en geglo word. Daar is baie eerbare gelowiges wat deur hierdie leerstelling beïnvloed is en dit was in my geval ook so gewees. Ek dank God egter dat Hy my van hierdie leerstelling verlos het en dit is my gebed dat ander ook daarvan vrygestel sal word.

Voordat ons na die genoemde teksgedeelte gaan moet ons onsself die vraag afvra naamlik: “ Wat is die bedoeling wat die skrywers van die teksgedeelte aan hulle hoorders wou oordra en wat het die oorspronklike hoorders verstaan toe hulle die skrif ontvang het?” Dit is ook verder waar dat baie mense die bestudering van die Bybel nader met ‘n alreeds gevormde opinie en wêreldbeskouing. Wat hierdie wêreldbeskouing beïnvloed is die mens se kultuur, Godsdienstige agtergrond asook Bybelse boeke en programme waaraan so ‘n persoon blootgestel is. Of ons dit nou wil erken of nie, word ons almal op die een of ander manier deur ander mense beïnvloed en dus bestudeer ons almal die Bybel deur die lens van daardie siening. Wanneer dit by die bestudering van die Bybel kom moet ons almal bewus wees wat ons sienswyse is, want dit gaan beïnvloed hoe ons die Bybel gaan interpreteer en lees. Net omdat ons die Bybel op ‘n sekere manier verstaan bewys nie dat ons noodwendig reg is nie. Die apostel Petrus het hierdie siening baie mooi verduidelik.
2Pe 3:16 “net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.”
Net omdat ons ‘n opinie oor die betekenis van ‘n sekere teksgedeelte het is nie genoegsame bewys dat ons die teksgedeelte noodwendig reg verstaan nie. Om by die regte betekenis van ‘n teksgedeelte uit te kom moet ons seker maak dat ons vasstel wat die betekenis is wat die skrywer oorspronklik aan sy gehoor wou oordra.

Dit moet ook ingedagte gehou word dat waar die Bybel verkeerd geïnterpreteer word, basies enige leerstelling uit die Bybel geregverdig kan word en dit sluit die leerstelling in dat ons woorde skeppende krag het en dat alles wat ons uitspreek waar kan word. (Woord-Geloof leerstellings) Om tot hierdie slotsom te kom moet mens egter die konteks waarin ‘n teksgedeelte geskryf is ignoreer. Dit sluit nie net die onmiddellike konteks in nie, maar die wyer konteks en die konteks van die Bybel as geheel in. Mens sal ook die gesonde reëls vir Bybel uitleg moet ignoreer asook die historiese en kulturele konteks waarin hierdie stellings gemaak word. Die bedoeling van die skrywers asook hulle praktiese toepassing van sulke teksgedeeltes sal ook buite rekening gelaat moet word. Ons as gelowiges word egter gemaan om die woord reg te sny om sodoende die betekenis van die teksgedeelte vas te stel, soos wat God bedoel het toe Hy sy kinders geïnspireer het om die teksgedeelte op skrif te stel. Dus is dit ons plig om vas te stel wat God aan ons wil oordra en moet ons seker maak dat ons nie ons eie siening op die Bybel afdwing nie.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Wat ons moet vasstel is of Spreuke 18:21 wel die leerstelling van positiewe uitsprake (Positive Confession) bevestig. Vir diegene wat nie hierdie leerstelling ken nie moet ek net noem dat dit in die Woord-Geloof (Word-Faith Movement) voorkom. Ek raai ook die leser aan om die artikel “Krag in ons woorde?” ook te lees wat die oorsprong van hierdie leerstelling uitlig en breedvoerig bespreek. Met hierdie feite ingedagte kan ons na die genoemde teksgedeelte gaan en kyk wat Spreuke 18:21 werklik beteken.

Spr 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”
Proponente van die Positiewe Uitspraak beweging beweer dat wat ‘n mens uitspreek is wat ‘n mens gaan ontvang, omrede die mens se woorde krag in hulle het wat die omgewing en werklikheid kan verander. Hulle glo bv dat wanneer ‘n mens genesing oor ‘n persoon in geloof uitspreek daardie persoon genees sal word. As hulle voorspoed en rykdom oor hulleself en ander uitspreek sal hulle dit ontvang omrede hulle woorde skeppingskrag het, omdat hulle in die beeld van God geskape is. Die vraag wat ons hier moet beantwoord is of Spreuke 18:21 wel hierdie leerstelling bevestig, en indien nie wat beteken die teksgedeelte dan? Die eerste gedeelte van die genoemde teksgedeelte word dus aangehaal as bewys dat ons woorde wel krag in hulle het en dus is dit logies dat wat ons uitspreek ons sal ontvang. Om die konteks te bepaal moet mens die hele teksvers deurlees en alreeds hier kry mens al ‘n leidraad wat die konteks wel beteken. Ek gaan die teksgedeelte in die Nuwe Afrikaanse vertaling vir duidelikheid onthalwe ook aanhaal.
Spreuke 18:21 “Die tong het mag oor dood en lewe; die wat lief is om te praat, sal die gevolg dra” (Nuwe Afrikaanse Vertaling)
Let nou op die woorde: “Die wat lief is om te praat, sal die gevolg dra”

Kom ons gaan lees nou Spreuke 18:19 -20 ook saam met hierdie teksgedeelte om die direkte konteks wat hier bedoel word vas te stel.
Spr 18:19 “‘n Broer teen wie oortree is, is erger as ‘n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ‘n paleis. 18:20 Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.”
Hier het ons nou die direkte konteks en dit handel nie oor die feit dat ons woorde skeppingskrag het nie. Dit handel oor die feit, dat wat ons met ons monde preek gevolge sal hê, mag dit nou goed of sleg wees. Dit is nie omdat ons woorde skeppingskrag in hulle self het nie, maar wat ons teenoor ander uitspreek hulle kan affekteer. Ons kan mense met die woorde wat ons uitspreek seermaak of ons kan hulle opbou. As ons vers 19 tot 21 saamlees sal ons sonder moeite die konteks kan bepaal. Kom ons gaan kyk wat Jesus self oor hierdie aangeleentheid gesê het.
Luk 6:45 “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.”
Dit is opmerklik dat Jesus nêrens gesê het dat dit wat die mens uitspreek altyd waar word nie. Indien dit die geval sou wees, moes Jesus dit hier genoem het, maar ons sal opmerk dat Hy het niks daaroor te sê gehad het nie, omrede ons woorde geen skeppings krag het nie.

As ons nou die hele hoofstuk agtien van Spreuke deurlees sal mens gou agterkom dat die breë konteks van die hoofstuk asook die hele boek van Spreuke oor wysheid of die gebrek daaraan handel en nie oor of ons woorde skeppingskrag in hulle het of nie. Om te bevestig moet ons Spreuke 20:6-8 gaan lees en dit dan verder bespreek.
Spr 18:6 “ Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.”
As die dwaas slae kry oor sy dwase uitsprake, is dit omdat sy woorde skeppingskrag in hulle het, of is dit as gevolg van sy eie gebrek aan wysheid?
18:7 “Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe ‘n strik vir sy lewe.”
Baie mense se loopbane en selfs hulle lewens is geruïneer as gevolg van dwase uitlatings wat hulle gemaak het, uitlatings wat hulle nie moes gemaak het nie. Dink maar bv aan die uitlatings wat Joël Stransky gemaak het en wat dit hom alles gekos het. Was dit omdat sy woorde skeppingskrag in hulle gehad het of was dit omdat hy sonder wysheid opgetree het deur om ongehoorde uitlatings te maak?
18:8 Die woorde van die kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste.”
Wat is die woorde van ‘n skinderbek is dit negatiewe uitlatings (negative confessions) of is dit ‘n gebrek aan wysheid? Dit is baie duidelik dat hierdie skrifgedeeltes oor die mens se wysheid of gebrek daaraan handel en nie oor of ons woorde skeppingskrag in hulle het nie.

Kom ons hou nou die konteks in gedagte en gaan lees nou weer Spreuke 18:21
Spr 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”
In die korrekte konteks gelees en in die historiese konteks geplaas is dit baie duidelik wat die skrywer met die teksgedeelte bedoel het. In die tyd van koning Salomo was dit ‘n baie gevaarlike ding om ‘n dwase uitspraak teenoor ‘n koning te maak , want as koning het hy die mag gehad om die spreker te dood as hy beledig gevoel het. As iemand egter wys optree, sy woorde tel en die koning eer was dit in die koning se mag om daardie persoon se lewe te spaar en om hom te beloon. Dit is wat die die teksgedeelte duidelik beteken en kan nie gebruik word as proefskrif om te bewys dat ons krag in ons woorde het waarmee ons dinge kan skep nie. Spreuke 15:1 leer ons hoedat ons woorde ander kan opsweep of hulle kan kalmeer en die hele boek van Spreuke handel grootliks oor ons verhoudinge met ander mense, nie oor krag in ons woorde nie. ( Sien 10:21;11:9;12:18,25;16:24;18:8;29:5 ens) En dit is ook duidelik dat Salomo die teks so verstaan het , omrede die Skrif geen indikasie gee dat Salomo of enige van die gelowiges na hom die leerstelling van positiewe uitsprake geleer of beoefen het nie. As dit waar sou wees dat ons woorde skeppingskrag besit het, hoekom het Jesus of die Apostels dan nie hierdie belangrike leerstelling verkondig nie en hoekom het die apostels dit nie gepraktiseer in hulle lewens en bediening nie?

Kom ek gee nog ‘n illustrasie. As ek sê dat God almagtig is, word God almagtig omdat ek so ‘n uitspraak lewer, omrede ek krag in my woorde het of praat ek maar net die waarheid? As ek nou sou omdraai en ‘n negatiewe uitlating maak en sê dat God nie almagtig is nie, gaan dit enige verskil aan God se Almag maak? Nee nooit nie, as ek so iets sou kwytraak sal ek ‘n leuenaar en ‘n dwaas wees, maar my woorde gaan God se attribute geensins beïnvloed nie. So ‘n stelling gaan net vir myself smarte op die hals haal. Het my woorde dus krag? Nee geensins nie. My woorde gaan net iemand beïnvloed as daardie persoon my woorde glo en reageer op wat ek vir hom sê. As ek aan iemand sou sê dat hy dom is, gaan dit hom net negatief affekteer as hy my glo en ophou leer, omdat hy my glo en dink dat hy dom is en niks sal kan leer nie. As hy my woorde ignoreer en leer sal hy gou opmerk dat hy nie dom is nie en dat wat ek gesê het ‘n leun was. Het my woorde skeppingskrag? Nee! As hy sou kwaad word en my met ‘n hamer slaan, omdat ek so ‘n stelling oor hom gemaak het, dan sou wat Salomo is Spreuke 18:21 bedoel het waar geword het.

Nog ‘n rede hoekom Spreuke 18:21 nie aangewend kan word om te bewys dat ons krag in ons woorde het nie, is omrede so ‘n stelling buite konteks van die Skrif aangehaal met ander teksgedeeltes in die Skrifte sal bots. As ons glo dat die Bybel God se woord is, wat wel die geval is, moet ons besef dat God Homself nie in die Bybel sal weerspreek nie. As ons uitleg van ‘n teksgedeelte met enige ander teksgedeelte in die Bybel in botsing kom moet ons erken dat die probleem by ons uitleg van daardie spesifieke teksgedeelte lê en nie by die Bybel nie. As ons Spreuke 18:21 uit konteks aanhaal as bewys dat ons woorde krag het dan weerspreek daardie teksgedeelte baie ander teksgedeeltes wat dit baie duidelik stel dat dit God is wat die krag het. Ek gaan net een opnoem.
Deu 32:39 “Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.”
As iemand siek is en omrede ek glo dat my woorde krag het, kan ek maar oor daardie persoon uitsprake en deklarasies maak vir genesing tot ek blou in my gesig word, hy gaan nie gesond word as God hom nie gesond maak nie. Die eenvoudige redes is dat ek nie krag in my woorde het nie en dat Spreuke 18:21 oor iets heel anders handel.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek glo dat God mense nog genees! Iemand wat dit nie glo nie is dwaas en ken nie hulle Bybel nie! Maar indien ek vir iemand bid en daardie persoon word genees, dan is dit nie omrede my woorde krag in hulle het nie. (Lees asb die artikel “Het die Kerk dieselfde Mag en Outoriteit as wat die Apostels gehad het om te Genees?“) Die persoon word genees, omdat dit God se wil is om hom te genees, en omdat dit God is wat die persoon genees en niks anders nie. Wie het dus die krag? My woorde of God? Wie maak gesond? Die krag in my woorde of God? God alleen is die bron van alles.
Kol 1:16 “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 1:17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.”
Dit is dus God wat alles in stand hou en hoe hou Hy dit in stand?
Heb 1:3 “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,”
Daar sien ons dit baie duidelik! Deur die woord van Sy krag! Nie die krag in ons woorde nie! As ek met my woorde kan skep dan is God nie meer die alleen Skepper nie en maak ek myself mede-skepper.

Kom ons kyk hoe Paulus moeilike omstandighede in sy lewe hanteer het. Het hy positiewe uitsprake oor sy omstandighede gemaak toe die Here hom ‘n doring in die vlees gegee het?
2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”
Paulus het nie positiewe uitsprake oor sy omstandighede gemaak nie, maar hy het hom tot God in gebed gewend. Indien Paulus sou geglo het dat ons woorde krag in hulle het om sy omstandighede te verander is ek baie seker dat hy dit sou toegepas het. Hy het dit egter nie gedoen nie, maar hom na God in gebed gewend net soos wat God ons geleer het om te doen. (Psa 50:15, Psa 118:5; Jer 33:3; Mat 7:7-8, Mat 21:22; Mar 11:24; Joh 4:10, Joh 14:13; Joh 15:7, Joh 15:16, Joh 16:23-24; 2Co 12:8-9; Heb 4:16; Jak 1:5, Jak 5:15; 1Joh 3:22; 1Joh 5:14-15)
Wat doen Paulus toe? Hy roem toe in sy swakhede! Dit klink nie vir my soos ‘n positiewe uitspraak (positive confession) nie!
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Paulus het ons nie geleer om positiewe uitsprake te maak nie! Hy het ons geleer om ons versoeke in gebed na God te neem.

Nou word die stelling gereeld gemaak dat negatiewe mense altyd depressief is en dat daar altyd slegte dinge met hulle gebeur. Is dit nie ‘n bewys dat ons negatiewe gedagtes en uitsprake krag in hulle het nie. Die eenvoudige feit van die saak is dat slegte dinge met almal gebeur en nie net met negatiewe mense nie. Kyk maar na die plaasmoorde en misdaad wat so gereeld in ons land plaasvind. Is dit omdat die boere en slagoffers van misdaad negatiewe uitlatings en negatiewe gedagtes dink dat hierdie dinge met hulle gebeur? Die feite in die saak bewys inteendeel net mooi die teenoorgestelde. As die boere negatief was dan sou hulle nie op hulle plase aangebly en geboer het nie. So gebeur slegte dinge net met negatiewe mense. Die antwoord is: “Nee!” Ons almal insluitende die Apostels het deur moeilike tye gegaan en nêrens kry mens die idee vanuit die Bybel dat dit a.g.v hulle negatiewe uitlatings of gedagtes is nie. Kyk maar wat het Paulus alles deurgemaak! Meeste van hulle het as martelare gesterf, omdat hulle God getrou gevolg het. Ja, dit is waar dat positiewe mense gelukkiger gaan wees, maar dit is te verwagte. Maar dit is nie omdat hulle denke en woorde krag in hulle het nie. Dit is maar net hulle positiewe uitkyk op die lewe. Slegte dinge gebeur met hulle ook , maar hulle hanteer dit soms anders en dit maak ‘n verskil. Negatiewe mense bereik soms nie wat hulle graag wil bereik nie, maar dit is nie omdat hulle woorde krag het nie. Hulle bereik nie wat hulle wil doen nie, want hulle sê aan hulleself dat hulle waardeloos is en niks sal kan bereik nie. Hulle bereik dan niks nie, maar dit is nie omdat hulle woorde krag in hulle het nie, maar dit is omdat hulle, hulle eie woorde glo en dan niks probeer nie. Dit is die gebrek aan ‘n poging wat verhoed dat hulle bereik wat hulle wil. Dit is een ding om te sê dat my woorde en gedagtes (my gesindheid) my uitkyk op die lewe kan beïnvloed. Dit is waar en heel gepas! Maar om te verklaar dat ons woorde en my gedagtes die werklikheid kan verander is dwaalleer! Dit is okkulties in oorsprong en dit is vals leerstelling. Lees asb die artikel “Krag in ons woorde” vir meer inligting en die oorsprong van hierdie leerstelling.

Dit is my gebed dat die Here hierdie artikel sal gebruik om meer lig op hierdie onderwerp te werp en raai die leser aan om altyd die konteks waarin ‘n teksgedeelte voorkom te bestudeer en in ag te neem. Ons moet uiters versigtig wees vir die wolwe wat in skaapsklere rondloop. Ek los die leser met die volgende waarskuwings en vermaan dat ons die Here Jesus Christus en Sy Apostels se waarskuwings baie ernstig opneem. Hulle het nie hierdie waarskuwings verniet gemaak nie.
Mat 7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
Mat 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
2Pe 2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring;
1Jo 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”
Kom ons gehoorsaam en doen wat Jesus en die Apostels ons geleer het om te doen!
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 4:7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. 4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. 4:9 En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.”

Mag ons Here Jesus Christus u ryklik seën!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.