Is ek God se kind as ek struikel?

Is ek God se kind as ek struikel?

Vraag: Kan jy my asb help om vas te stel of ek waarlik ‘n kind van die Here is. Laat my toe om my situasie aan jou te verduidelik. Ek was ‘n alkoholis en het met die genade van God opgehou drink en ‘n geheel onthouer geword, maar onlangs het ek besluit om ‘n drankie met vriende te geniet en niks daarmee verkeerd gesien nie. Een drankie het toe na meer drankies gely en voordat ek my oë kon uitvee het ek gestruikel en was ek onder die invloed. Nou kom daar gereeld ‘n gedagte by my op dat ek nie werklik God se kind is nie en dat my Christenskap net ‘n klug is. Het jy enige raad vir my.

Antwoord: Hierdie antwoord geld vir enige sonde wat veroorsaak het dat die gelowige struikel. Net die blote feit dat jy hierdie vraag stel is vir my ‘n indikasie dat jy wel God se kind is. Iemand wat nie die Gees van God in hom het nie, sal met gemak in sonde kan bly en gemaklik daarin voel. Dit is nie te sê dat hulle gewetes hulle nie soms sal pla nie, want die Here het in almal van ons ‘n gewete geplaas.
Rom 2:14 “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; 2:15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,”
So ‘n persoon sal weet dat wat hy doen verkeerd is, maar hy sal nie dink dat sy sonde ‘n sonde teenoor die God van die Hemele is nie, want hy weier om in Hom te glo. As gelowiges sal ons altyd voel dat ons teenoor God gesondig het en in hierdie feit alleen lê daar ‘n groot verskil en daarom sal ons kan saamstem met die woorde van koning Dawid.
Psa 51:4 (51:6) “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.”

Dit is goed om te erken dat jy gestruikel het, maar jy moet besef dat die Heilige Gees jou van sonde sal oortuig, maar as jy Sy kind is, sal Hy jou nooit veroordeel nie. Dit is ook dan van uiterste belang dat jy besef dat jou werke jou nie ‘n kind van die Here maak nie, maar jou geloof in God en wat Hy aan die Kruis vir jou gedoen het. (Die Evangelie)
Rom 3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”
Rom 1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
As jy nie vanuit hierdie waarheid uit leef nie sal jy nooit oor jou sondige natuur kan seëvier nie en sal jy bly struikel. Baie mense verkondig dat jou geloof in die Evangelie die enigste vereiste is om gered te word, (en hulle is korrek) maar dan wil hulle die wet gebruik om heiligmaking in ‘n persoon se lewe teweeg te bring (en dit is inkorrek en ook ‘n baie ernstige fout) Die Bybel stel dit baie duidelik dat die gelowige deur geloof sal lewe.
Rom 1:17 “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”
Dus word jy geregverdig verklaar deur jou geloof in Jesus en wat Hy aan die Kruis vir jou gedoen het en daarom praat Paulus van jou as ‘n regverdige. (Lees die laaste gedeelte van bogenoemde teksgedeelte weer mooi deur en hou hierdie waarheid in gedagte)Nou dat jy geregverdig (Wedergebore) is, word jy as ‘n regverdige (Kind van die Here) aangespreek en word daar dan van jou verlang om vanuit hierdie posisie, as alreeds geregverdig, (Kindskap posisie) in geloof te lewe. Dus moet jy glo(Geloof) dat jy gered is, omrede jy God se woord daarvoor het (Die Bybel) en omrede jy hierdie waarheid glo (Geloof) moet jy vanuit hierdie posisie leef. Moenie op jou gedagtes en gevoelens staatmaak nie, want jou gevoelens en gedagtes asook jou omstandighede kan baie misleidend wees. Jou geloof moet in God alleen en op Sy woord (Die Bybel) alleen gebaseer wees. Die feit dat jy gestruikel het maak jou nie ‘n ongelowige nie! (Lees ook gerus die arikel “Die Gelowige se Posisie in Christus vs sy Optrede” asook die “Drie Fases van Verlossing” en “Voorbeelde van die Gelowige se seëninge in Christus“)

Jy moet ook verder besef dat jou geloof in God en Sy woord geplaas moet wees en nie in jouself nie. Die oomblik wanneer jy jou fokus van God afhaal en op jou eie insig en krag gaan konsentreer is jy oopgestel om te struikel. (en ons almal struikel omrede ons nie hierdie waarheid gehoorsaam nie) Wat jy moet doen is om vergifnis te vra en in geloof aan te neem dat God jou vergewe het, omrede Hy dit so in Sy woord belowe. (Lees ook gerus die reeks van drie artikels naamlik “Heiligmaking op Grond van Genade deur Geloof“. Inteendeel sal ek jou baie sterk aanbeveel om die artikels te bestudeer en deel van jou lewe te maak!)
1Jo 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
As jy dit gedoen het kan jy verseker weet dat jy vergewe is en ignoreer enige gedagtes wat met hierdie waarheid bots. God kan nie lieg nie en Hy het geweet dat jy ‘n sondaar is en daarom het Hy aarde toe gekom en aan die Kruis vir jou sondes betaal.
1Ti 1:15 “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.”

Jy moenie nou by hierdie waarheid alleen bly staan nie, maar jy moet gaan lees wat die Here nog oor jou te sê het en wat Hy wil hê jy oor jouself moet glo. (jou hele lewe moet op God en Sy woord aan jou gebaseer wees.)
Rom 6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
Rom 6:10 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”
Glo ook hierdie waarheid oor jouself en gaan leef daarvolgens. Onthou dit is die Heilige Gees wat jou in Jesus se liggaam indoop en daarom moet jy glo dat Hy alreeds al Sy krag aan jou beskikbaar gestel het om oor sonde te heers en heiligmaking in jou lewe toe te pas. Wat van jou verwag word is om hierdie waarheid te glo en vanuit hierdie posisie te lewe en jy sal opmerk dat jy al hoe minder sal struikel. Glo dat jy dood is vir die sonde en dat jy lewend gemaak is deur die Gees om vir Jesus te lewe. Reageer op sonde soos wat ‘n dooie op sonde sal reageer. Hy reageer nie want hy kan nie deur sonde versoek word nie, want sy sondige liggaam is dood en ‘n dooie liggaam kan nie versoek word om sonde te pleeg nie. Jy sal nooit ‘n dooie persoon kan kry om saam met jou te gaan drink nie. Dit is presies hoe jy ook op versoekings moet reageer.

Jy moet ook verder besef dat heiligmaking ‘n proses is wat jou hele lewe lank gaan voortduur. Jy gaan nie oornag sondeloos lewe nie en jy kan verseker wees dat jy wel soms nog sal struikel. Inteendeel, daar is geen mens wat sondeloos is nie, behalwe Jesus Christus.
1Jo 1:8 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”
Ons almal struikel van tyd tot tyd maar ons is nie veronderstel om in die modder van sonde te bly lê nie. Staan op, bely jou sonde en aanvaar in geloof jou Vader se vergifnis en leef in die geloof in Sy krag dan vir Hom, dit is immers Hy wat jou die krag gee om dit te doen. Onthou ook, dat Satan en die wêreld altyd sal poog om jou so ver te kry om op jouself te fokus en nie op God nie. Ook sal hy jou altyd wil herinner dat jy gestruikel het. Vergeet jou eie identiteit en wie jy is, of wat jy dink jy is. Dit gaan nie oor wie en wat jy is nie, maar oor wie en wat God is. Wat saak maak is jou verhouding met Hom en wat Hy vir jou beteken en wat Hy vir jou gedoen het. Haal jou oë van jou en jou eie mislukkings af en fokus op Jesus Christus alleen en op niks anders nie. As jy dit doen sal jy agterkom dat jy al hoe minder sal struikel. In die mate wat jy toelaat dat Hy deur jou lewe in daardie mate sal jy minder struikel. Jy moet toelaat dat Hy al hoe meer in jou lewe word en jy moet minder word.
Fil 3:9 “en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;”
Hy is jou lewe, krag, wysheid, redding en heiligmaking (Alhoewel ons ook in die krag en deur die inwerking van die Heilige Gees deur geloof met heiligmaking moet besig wees.) Rus in hierdie waarhede en onthou Jesus se belofte.
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
1Jo 1:1 Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe— (Dit was oor Jesus Christus wat Johannes hier geskryf het)
1:2 en die lewe (Jesus Christus)is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is-” (Lees asb die artikel “Wat is die Ewige Lewe”)

Alleenlik omrede jy in Christus geplaas is, word jy as ‘n regverdige bestempel en is God se oor oop vir jou hulpgeroep en op geen ander manier nie. (Dit sluit jou versoek om vergewe te word ook in.)
1Pe 3:12 “Want die oë van die Here is op die regverdiges (die persone wat die Evangelie geglo het) en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.” (Diegene wat die Evangelie verwerp)
As jy die Evangelie geglo het, dan is jy God se kind en jy het God se woord daarvoor en nie mense sin nie! Jy sal dus nooit verlore kan gaan nie. Ook sal niemand (insluitende jy) jou uit God se hand kan uitruk nie.
Joh 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Wees verseker as God sê niemand dan beteken dit presies wat Hy sê, niemand. Dus as jy die Evangelie verstaan en geglo het dan is jy God se kind en sal dit nooit kan verander nie. Ek bid dat my antwoord jou rus sal gee en dat dit jou sal aanmoedig om die Heilige Gees toe te laat om volkome deur jou te lewe. Alleenlik dan sal jy besef dat jy werklik lewe. Ons dien ‘n onbeskryflike God! Hou jou oë op Hom gefokus!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.