Heiligmaking in drie Fases

Heiligmaking in drie Fases

Vraag: Met die lees van die Bybel het ek agtergekom dat in Hebreërs belowe die Here ons, dat ons deur een offer vir altyd geheilig is. Ek haal die teksgedeelte vir jou aan:
“ Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” (Heb.10:10)
Maar op ‘n nader plek beveel die Here ons om ons heiligmaking in vrees te voldoen. Ek haal weer genoemde teksgedeelte vir jou aan:
“Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2Kor.7:1)

Nou my vraag. Indien ons deur Christus se dood geheilig is hoekom moet ons dan nog heiligmaking in die vrees van God volbring? Dit maak nie saak hoe mens na die teksgedeeltes kyk nie, daar is ‘n weerspreking. Ek hoor graag jou opinie.

Antwoord: Ek moet jou komplimenteer! Jy is baie opmerksaam, maar nee daar is nie ‘n weerspreking nie. Onthou, as God se woord aan die mens kan daar nie weersprekings in die Bybel wees nie.
2Tim.3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,”
Indien dit wil voorkom dat daar ‘n weerspreking is, moet ons egter die probleem by die wyse waarop ons die Bybel uitlê soek. Dit is dan ook met jou stelling die geval.

Eers bietjie agtergrond: Dit is die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis en Sy opstanding vanuit die dood wat die mens se verlossing bewerkstellig het. Christus het dus die gelowige verlos, naamlik:
Ef.1:7 “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,”

Daarbenewens het Christus die gelowige van God se oordeel bevry, naamlik:
Rom.3:7 “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,”
Boonop is die gelowige voor God geregverdig verklaar, naamlik:
Rom.5:1 “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;”
En is volkome vergewe:
Kol.2:13 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,”
Hierdeur is die gelowige volkome geheilig:
1Kor.1:2 “aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here: 3 Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
Heb.10:10 Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.”
En omrede die gelowige geheilig is is hy deur die Heilige Gees verseël, wat as waarborg dien dat die gelowige nooit verlore sal kan gaan nie, naamlik:
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
Ef.4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”

Nog ‘n uiters belangrike aspek van verlossing is heiligmaking. Heiliging of heiligmaking beteken in kort om ‘n persoon of voorwerp vir God af te sonder. Sover as wat dit die Nuwe Testamentiese gelowige aangaan vind heiligmaking, net soos verlossing, in drie fases plaas, naamlik posisionele heiliging, ervaringsmatige of progressiewe heiligmaking, asook afgehandelde of voltooide heiligmaking. (Die Leser word aangeraai om ook die artikel “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” te lees.)

Posisionele heiligmaking: Posisionele heiliging handel oor die gelowige se posisionele stand voor God, wat nooit kan verander nie en dit alleenlik op grond van ons geloof in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis. Met aanvanklike wedergeboorte, word die gelowige posisioneel as volkome geheilig voor God gestel, omrede die gelowige Christus se toegerekende geregtigheid, deur geloof in die Evangelie, ontvang het. Dit is na hierdie aspek van heiligmaking waarna die skrywer van Hebreërs verwys het, naamlik:
Heb.10:10 “ Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.”
En omrede die gelowige posisioneel, deur die eenmalige offer van Christus, vir eens en altyd geheilig is, verwys die Skrifte na alle gelowiges as geroepe heiliges.
Rom.1:7 “aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!” (Sien verder ; 2Kor.1:1; Ef.1:1)
Dit is ook verder opmerklik dat Paulus die vleeslike Korinthiërs as geheiligdes aanspreek, ten spyte van die feit dat hulle daaglikse optrede alles behalwe heilig was.
1Ko.1:2 “aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:”
Dit is slegs op grond van geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis, waardeur ‘n persoon se posisie voor God as volmaak bestempel kan word. Heb.10:14 bevestig hierdie feit, naamlik:
Heb.10:14 “Want deur een offer (Christus se kruisdood) het Hy vir altyd volmaak (fase een van ons heiligmaking, naamlik ons posisionele stand as geheilig voor God) die (gelowiges) wat geheilig word.” (ervaringsmatige of toenemende heiligmaking.)
Posisionele heiligmaking word altyd in die Skrifte na verwys as ‘n gebeurtenis wat alreeds afgehandel is.

Ervaringsmatige of progressiewe heiligmaking: Alhoewel die gelowige posisioneel voor God heilig verklaar is, kan die progressie van die gelowige se heiligmaking in sy daaglikse lewe fluktueer. Dit is egter God se wil dat die gelowige volkome in sy daaglikse lewe, na aanvanklike wedergeboorte, toenemend heilig gemaak word. Dit is ‘n werk wat die Heilige Gees sal verrig, indien die gelowige sy liggaam aan God as lewende offer aanbied, en toelaat dat die Heilige Gees heiligmaking in en deur die gelowige bewerkstellig.
1Thess.5:23 “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”
Rom.12:1“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. (fase twee van ons heiligmaking, naamlik ervaringsmatige of progressiewe heiligmaking.)
Om hierdie rede word gelowiges aangesê om volkome in hulle daaglikse lewenswandel toenemend heilig te word. In hierdie opsig is heiligmaking ‘n proses wat die res van die gelowige se lewe op aarde sal voortduur.
1Pet.1:15 “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, 16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”

Praktiese of te wel progressiewe heiligmaking (fase twee) sal slegs suksesvol deur die Gees in die gelowige se alledaagse lewe bewerkstellig word, indien die gelowige homself as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer aan God beskikbaar stel.
Rom.12:1“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
Rom.6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
Dit is en bly egter ‘n doelbewuste keuse wat die gelowige moet maak. Derhalwe is dit vanuit die Skrifte duidelik, dat as dit by ervaringsmatige of progressiewe heiligmaking kom, daar meer faktore as slegs geloof in die Evangelie betrokke is. Dit is in die toepassing van hierdie fase van heiligmaking waar die gelowige genadeloon bymekaar kan maak, maar nooit ter enige tyd is sy posisionele stand as volkome geheiligde voor God in die drang nie. (die leser word te sterkste aangeraai om die artikel, “Ewige sekuriteit van die gelowige” te lees.) Die Skrifte verwys altyd na ervaringsmatige of toenemende heiligmaking as ‘n proses wat voortdurend in die hede plaasvind.

Afgehandelde of voltooide heiligmaking: Die finale aspek van heiligmaking sal plaasvind wanneer die gelowige met die wegraping/eerste opstanding verheerlik word en sal dan volkome na die beeld van Christus verander word. (fase drie van ons heiligmaking) Hierdie aspek van heiligmaking is ‘n toekomstige gebeurtenis waarin die gelowige geen aandeel het nie, maar is slegs van God afhanklik. Dit is dan ook tydens die finale fase van heiligmaking waartydens die gelowige perfek voor God gestel sal word.
Ef.5:26 “om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, 27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.”

Ter Afsluiting: Net soos wat die gelowige se verlossing in drie fases plaasvind, so ook vind die gelowige se heiligmaking in drie fases plaas. In lig van bogenoemde feite maak Heb.10:14 volkome sin, naamlik:
Heb.10:14 “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.”
Daar is dus geen weerspreking indien die Skrifte korrek deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees uitgelê word nie. Dit geld ook vir enige beweerde weerspreking in die Bybel.

Die skrifte, soos gevind in die oorspronklike grondteks, is God foutlose geïnspireerde woord aan die mens en is sonder enige fout of weersprekings. Die probleem ontstaan wanneer die mens die skrifte sonder die instaatstellende krag van die Heilige Gees verklaar. Omrede die Bybel God se woord aan die mens is, is dit van uiterste belang om die Skrifte op ‘n gereelde basis deeglik te bestudeer. Die voorreg om God se woord te bestudeer is een van die grootste seëninge wat die mens ooit kon ontvang. Dit is my bede dat hierdie artikel jou vraag beantwoord en jou vertroue in die Bybel sal herstel. En onthou: “Die Gees van God, gebruik die Woord van God, in die kind van God, om die wil van God te doen, en dit alles deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, met die heerlikheid van God as doel, sodat ons werklik ‘n seën vir ander kan wees”

Seën Groete!

Vic.

Deel met ander asb.