Gelykenis van die Arbeiders

Gelykenis van die Arbeiders

Voordat ons begin moet ons eers kennis neem dat Jesus hierdie gelykenis vertel het as ‘n verdere verduideliking op ‘n vraag wat Petrus Hom gevra het.
Mattheus 19:27 “Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? 19:28 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte(wanneer alles nuut gemaak word) wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. 19:29 En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.”
Opmerking: Let op dat die Here verwys na die wedergeboorte d.w.s die millennium, wanneer Jesus fisies op aarde gaan wees en Sy Messiaanse Koninkryk hier sal oprig. Dit sal die tyd wees wanneer Jesus die koninkryk geestelik, (Jesaja 2:3; 4:2-4 en 11:9) polities (Jesaja 2:4; 11:1-5; 11:10 -11 en 32:16 – 18) geografies en fisies ( Jesaja 2:2; 4:5 – 6; 11:6 – 9; 35: 1 – 2) gaan vestig. Hy gaan op die herstelde troon van Dawid sit en die wêreld vir duisend jaar lank regeer. (Mattheus 25:31) Dit alles vind hier op aarde, in die fisiese geografiese landgebied van Israel plaas . Dit is opmerklik, dat die genadeloon, wat die dissipels vir getroue diens in hierdie lewe aan God gelewer, met gesagsposisies van administrasie en heerskappy in die vrederyk van Jesus beloon gaan word. . (Lukas 19:17- 27) Lees asb die artikels “Die gelykenis van die Ponde” asook “Gelowiges se werke gaan beoordeel word”

Mat 19:30 “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”
Opmerking: Baie mense wat hoë en eerbare posisies in hierdie lewe besit, gaan dit nie noodwendig weer in Jesus se vrederyk besit nie. Jesus se waarskuwing is baie duidelik. Moenie verbaas wees as die ou straatveër, wat almal hier op aarde verag het, ‘n baie hoë posisie in Jesus se koninkryk ontvang, omrede hy met die bietjie wat hy ontvang het in diens van God aangewend het. (Lukas 19:17-27)

Mattheus 20:1 “Want die koninkryk van die hemele is soos ‘n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. 20:2 En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir ‘n penning op ‘n dag, stuur hy hulle in sy wingerd.
Opmerking: Die tyd kan omtrent 06:00 in die oggend wees. Die huisheer is Jesus en die wingerd is die wêreld (Mensdom) Die arbeiders is gelowiges. Merk ook op dat die Huisheer met die werkers ooreenkom oor die besoldiging wat hulle vir die dag se werk sal ontvang. Daar vind dus ‘n ooreenkoms plaas. Hulle loon word dus vasgestel voordat hulle wingerd toe gestuur word.

Mat 20:3 “En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. 20:4 En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan.”
Opmerking: Die tyd sou dus 09:00 wees en ons merk op dat die Huisheer (Jesus) die werkers (gelowiges) wingerd toe stuur (Die Wêreld of mensdom). Hy kom egter nie ooreen met hulle wat Hy hulle sal betaal nie, maar verseker hulle dat Hy hulle regverdig sal beloon. Hulle glo Hom en gaan wingerd toe.

Mat 20:5 “Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen.”
Opmerking: Die tyd sou 12:00 en 15:00 wees. Die Huisheer stel dieselfde versoek aan hierdie twee groepe as wat hy aan die bostaande groep gestel het.

Mat 20:6 “En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? 20:7 Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang.”
Opmerking: Let op dat hierdie mense nie lui is nie, hulle kry net nie werk nie. Weereens stuur die Huisheer hulle na die wingerd met die belofte dat Hy hulle regverdig sal beloon. Die tyd sal omtrent 17:00 in die middag wees.

Mat 20:8 “En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes.”
Opmerking: Die Huisheer gee opdrag, dat die arbeiders wat laaste begin te werk het, eerste betaal moes word. Mens kry die gevoel dat die Huisheer wou hê dat al die arbeiders moes sien hoeveel almal beloon word. Ek dink dit is ‘n verwysing na die Bema Oordeel van Christus, waar alle beloning openlik gaan plaasvind en almal gaan getuies wees van die loon wat ons daar gaan ontvang.( Romeine 14:10; 2 Korintiërs 5:10) Die Bybel stel dit duidelik dat Jesus gaan oordeel en nie die Vader, soos wat baie mense verkeerdelik dink nie.
Johannes 5:22 “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,”

Mat 20:9 “En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen ‘n penning ontvang. 20:10 Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen ‘n penning ontvang. 20:11 En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer 20:12 en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het. 20:13 Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir ‘n penning nie? 20:14 Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou.
Opmerking: Ons moenie met die Here onderhandel oor die werk wat Hy aan ons gegee het om te doen nie, dit wys dat ons vergoeding eis vir alles wat ons doen, en vergeet die prys wat Hy betaal het om ons los te koop. Ons sal dalk ook net die loon ontvang wat ons met die Here ooreen gekom het. Dit wys ook dat ons harte nie reg teenoor die Here is nie. Motiewe speel ‘n groot rol in die werk van die Here, en die Here gaan doen wat reg is. Hy is immers geregtig, wat beteken, dat Hy altyd doen wat reg is. Die Here gaan ook nie die maatstawwe gebruik wat ons as mens gewoonlik sou gebruik by die uitdeel van genadeloon nie. Hy gaan Sy eie maatstawwe gebruik, wat gebaseer is op Sy kennis, genade, wysheid en geregtigheid. 

Mat 20:15 “Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?”
Opmerking: Die arbeiders wat nie met die Here onderhandel het nie kry dieselfde loon as die wat met die Here onderhandel het, al het hulle vir ‘n korter tydperk gewerk. Ons moenie met die Here onderhandel nie, maar net doen wat Hy ons beveel om te doen.(Lukas 17:10) Ons moet op Jesus vertrou en weet dat Hy ‘n genadige God is wat altyd sal doen wat reg is. In Sy liefde en wysheid beloon hy almal volgens behoeftes en nie volgens ons selfsugtige begeertes nie.

Mat 20:16 “So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.”
Opmerking: Daar gaan ‘n paar verassings by die Regterstoel Oordeel van Christus wees! (Romeine 14:10; 2 Korintiërs 5:10). Baie wat dink hulle moet eerste wees, gaan uitvind dat hulle egter laaste gaan wees. Aan die anderkant, gaan daar baie wees wat dink hulle laaste moet wees, maar hulle sal eerste geplaas word. Wat ook egter waar is ,is die feit dat die Here baie mense roep, maar net sekeres kies om Hom te glo en weergebore te word. Daardie mense gaan met ‘n skok agterkom dat hulle miskien in hierdie wêreld eerste was maar dat hulle in die hiernamaals heeltemal laaste gaan wees.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.