Voorspoed Evangelie 2

Die Voorspoed Evangelie Dwaalleer

Dwaalleer wat nie opgemerk en korrigeer word nie sal tot verdere dwaalleer lei. Baie van dit wat ons op die Christelike kanale op televisie te siene kry, kan nie as normatiewe Bybel gebaseerde Christenskap van die vroeë kerk omskryf word nie. Die Here het ons vooraf van hierdie tendens in Sy woord gewaarsku, en ons kan verwag dat sake net sal vererger soos wat Christus se wederkoms nader kom. Derhalwe kan die meeste van die leerstellings wat ons in die Christelike media vind nie met God se hele openbaring, soos wat ons dit in die Skrifte vind, versoen word nie. ( Enige leerstelling kan vanuit die Bybel geregverdig word wanneer teksgedeelte buite konteks aangehaal of stuk stuk aan die hoorders daarvan voorgehou word. Al die kultusse soos bv Jehova Getuies, die Rooms-Katolieke Kerk, Sewedaagse Adventiste, Nuwe Apostoliese Reformasie, “Christian Science”, die Woord Geloof Beweging en vele ander maak hulle hieraan skuldig.) Een so ‘n aberrasie van ‘n leerstelling is die Voorspoed Evangelie wat deur mense soos Joel Osteen, Kenneth Copeland, Joyce Meyer en vele ander verkondig word.

Maar voordat ons met hierdie studie begin is dit belangrik om net kortliks ‘n bietjie agtergrondskennis te verskaf. Dit moet gelet word dat die onvoorwaardelike Abrahamitiese verbond, waaruit die vier ander verbonde, (naamlik die Landgebied/grondgebied van Israel verbond, Dawidiese verbond, en die Nuwe verbond, asook die voorwaardelike Mosaïese verbond) voortvloei met die volk van Israel gemaak is en daarom verklaar Paulus onomwonde dat die verbonde aan Israel behoort. Moet nie hierdie feit uit die oog verloor nie.
Rom.9:4 “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; 5 aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.”
Die Here Jesus Christus se kruisdood het as finale grondslag gedien waardeur die Abrahamitiese verbond, die Land van Israel verbond, Dawidiese verbond, asook die Nuwe verbond met Christus se wederkoms, en aanbreek van Sy Vrederyk op aarde, finaal met die volk Israel in vervulling sal gaan. Slegs die Mosaïese verbond (die enigste verbond wat voorwaardelik was en wat van Israel se gehoorsaamheid afhanklik was.) is finaal in Christus vervul. Christus se voltooide werk aan die kruis dien as die grondslag waarop die res van die Abrahamitiese verbond in die toekoms met Israel vervul sal word. Omrede die die Abrahamitiese verbond, en die drie verbonde wat daaruit voortvloei, naamlik die Land/grondgebied van Israel verbond, Dawidiese verbond, asook die Nuwe verbond onvoorwaardelik deur God met die volk Israel aangegaan is, en die vervulling daarvan volkome van Hom afhanklik is, sal Hy die verbonde met Christus se wederkoms en die aanbreek van Christus se Vrederyk met Israel vervul. Hy het Sy woord aan Israel gegee en sal dit nooit verbreek nie. Die leser word aangeraai om die illustrasie genaamd “Bybelse Verbonde” deeglik te bestudeer. Die leser kan gerus ook die illustrasies genaamd “Die sewe dispensasies” asook ‘Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Verdrukking” weer bestudeer. Met hierdie feite as raamwerk sal die inhoud van hierdie studie makliker verstaan word.

Met hierdie agtergrondskennis kan ons met die studie begin, en demonstreer dat die dwaalleerstellings genaamd Koninkryksteologie, asook ‘n ander weergawe, naamlik dominionisme, wat so gewild is, die grondslag lê waardeur baie ander dwaalleerstellings wat die Kerk huidiglik teister van uitvloei. Een so ‘n dwaalleerstelling is die Voorspoed Evangelie. Volgens die proponente van die Voorspoed Evangelie, is alle gelowiges kinders van ‘n Koning, en as kinders van die Koning is dit hulle reg om ‘n lewe van materiële voorspoed, asook fisiese gesondheid te geniet. Hierdie dwaalleerstelling is juis gewild omrede dit materiële voorspoed, asook die reg tot fisiese gesondheid, as belofte, aan persone wat tydens die Kerk Dispensasie leef voorhou. (en wie wil dan nie gesond en ryk wees nie?) En wanneer hierdie beloftes nie in hulle volgelinge se lewens realiseer nie, word die rede daarvoor nooit by die valse profesieë, of die dwaalleerstelling van die Voorspoed Evangelie gesoek nie, maar word die redes vir die gebrek aan genesing en finansiële voorspoed gewoonlik aan die volgende vier redes toegeskryf, naamlik: 1. Die persoon beskik nie oor genoeg geloof nie. 2. So ‘n persoon beskik nie oor genoegsame geestelike insig, en derhalwe weet hy nie hoe om van sy geloof gebruik te maak om genesing en rykdom te bekom nie. 3. So ‘n persoon dra nie kennis van, of maak nie van die sogenaamde wette van geloof gebruik deur om finansiële voorspoed en liggaamlike gesondheid oor hulleself uit te spreek nie. (die leerstelling dat mense krag in hulle woorde beskik, waardeur hulle omstandighede verander kan word, kom nie vanuit die Bybel nie maar het sy oorsprong in die okkult. Die leser word aangeraai om die artikel “Krag in ons woorde?” te lees) 4. Die slagoffers van hierdie leerstelling gee nie genoeg geld “Seed Faith ” aan die betrokke bediening nie, wat kwansuis maar net ‘n verdere teken van die slagoffer se gebrek aan geloof was. Met hierdie verskonings kan die valse profeet, apostel of leeraar enige persoonlike verantwoordelikheid van sy dwaalleerstelling (en valse profesieë) omseil.

Maar hoekom is die boodskap van die Voorspoed Evangelie so gewild?: (Veral indien mens in ag neem dat baie wat daarin verkondig word in die okkult te vinde is.) Die rede hoekom die Voorspoed Evangelie so gewild is, is omrede dit juis dit aan die mens voorhou wat hy die meeste begeer, naamlik finansiële/materiële voorspoed en liggaamlike gesondheid. Maak beloftes/profesieë van finansiële voorspoed, asook liggaamlike genesing, en meng daarmee saam ‘n paar Bybelse teksgedeeltes wat buite konteks aangehaal word en mense sal na jou stroom; aan jou lippe hang; jou boeke, DVD’s koop en mildelik aan jou bediening skenk. Veral indien jy byvoeg dat jy jou boodskap van Christus ontvang het en ‘n bietjie selfbemarking doen! Wie sal dan so ‘n aanbod wil misloop! Vir die meeste mense is geldelike voorspoed en liggaamlike gesondheid ‘n drywende begeerte en baie mense sal alles prysgee om dit te bekom. En hierdie feit word deur baie van die proponente van die Voorspoed Evangelie uitgebuit en hulle verryk hulleself willens en wetens daardeur. Vir hulle is dit ‘n gerieflike manier om ryk te word, en in hierdie opsig is dit niks anders as ‘n godsdienstige ponzi-skema nie. Hierdie goddelose mense maak op die feit staat dat hulle aanhangers nie oor genoegsame Bybelkennis beskik nie en/of nie weet hoe om die Skrifte korrek uit te lê nie.

Die vraag moet dan gevra word: “Wat gebeur met ‘n gelowige wat om genesing, en finansiële voorspoed bid en dit nie ontvang nie?” Indien dit beweer word dat die persoon nie oor genoeg geloof beskik het om genees te word, of finansiële voorspoed te ontvang nie, dan kan daar met regte gevra word of daardie persoon ooit oor genoeg geloof beskik het om in die eerste plek wedergebore te raak? En wat het van die proponente van die Voorspoed Evangelie geword wat a.g.v. siekte dood gegaan het. (en daar is baie van hulle!) Moet hulle dan nie in die hel sit nie, want hulle het ook nie oor genoeg geloof beskik om hulleself te genees nie. Die Voorspoed Evangelie is ‘n gruwel en gaan nog oneindige smarte tot gevolg hê. (Die leser word aangeraai om die artikels “ Genees en Genesing tydens die Post Apostoliese Tydperk” asook “Genesing ‘n Skriftuurlike perspektief” te lees.)

Daar is egter ook baie mense (selfs pastore) wat die Here ernstig opneem en wat onwetend die slagoffers van hierdie bose leerstellings is. Hulle dra dan onbewustelik tot die verspreiding van hierdie dwaalleerstellings by en is nie eens bewus daarvan nie. (Ons almal is menslik en maak foute. Ook weet ons nie alles nie.) Hierdie feit is juis wat dwaalleerstellings so gevaarlik maak. Die meeste mense (wat pastore insluit) wat opreg, en eerlik is, sal van dwaalleerstellings wegbreek indien hulle bewus word daarvan, maar baie mense is nie bewus dat hulle die slagoffers van dwaalleer is nie en derhalwe bekeer hulle nie daarvan nie. Iets wat hulle met graagte sou doen indien hulle bewus van die dwaalleerstelling was. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die Bybel op ‘n konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese wyse te interpreteer. Baie ander pastore/leraars is egter van dwaalleerstelling bewus, maar weier om daarmee te breek, uit vrees dat hulle finansieel benadeel sal word of dalk hulle werk kan verloor.

Wat dien as die grondslag waaruit die Voorspoed Evangelie ontwikkel het?: Die antwoord is eenvoudig en kan voor die deur van die koninkryksteologie, asook dominionisme gelê word, waar daar beweer word dat die Kerk die Koninkryk van Christus op aarde is, of dat die Kerk die Koninkryk op aarde moet vestig. Albei hierdie leerstellings kom direk met die Bybel in botsing en is nie van God afkomstig nie. Om hulle vorm van koninkryksteologie te regverdig, word veral profetiese teksgedeeltes wat slegs aan die volk Israel gerig is, en wat eers na Christus se wederkoms, en die oprigting van Sy koninkryk op aarde, ten volle in vervulling sal gaan, buite konteks aangehaal en word dan op die Kerk, wat tydens die Kerk Dispensasie leef, afgedwing. Derhalwe word die Kerk se mandaat om die Evangelie te verkondig, en dissipels van almal te maak, (Mark.16:5; Matt.28:19) verander en word dit nou die Kerk se plig om die Koninkryk van Christus op aarde te vestig en uit te brei. Daarbenewens word teksgedeelte soos byvoorbeeld Jes.35:5-6, wat in werklikheid ‘n beskrywing van die Messiaanse Koninkryk van Christus is, en wat Hyself met Sy wederkoms na afloop van die Groot Verdrukking op aarde sal vestig, uit sy konteks uitgeruk en word dit dan op die Kerk wat tydens die Kerk Dispensasie lewe toegepas.

Ook teksgedeeltes wat bonatuurlike genesing, as die norm, tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus aan Israel voorhou, word sonder enige Skriftuurlike regverdiging op die Kerk, wat tydens die Kerk Dispensasie leef, toegepas.
Jes.35:5 “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. 6 Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.”
Mens moet egter hierdie teksgedeelte in die korrekte konteks plaas, en daarvoor moet die hele teksgedeelte waarin dit voorkom gelees word en dan sal dit duidelik blyk dat daar van Christus se Vrederyk op aarde gepraat word wanneer Hy persoonlik kom en Israel verlos. (die Kerk is glad nie hier ter sprake nie!)

Nog ‘n teksgedeelte wat buite konteks aangewend word, om die Voorspoed Evangelie se leerstelling van ongekende materiële welvaart te regverdig, is Amos 9:13-14. Hierdie teksgedeelte word ook dan buite die korrekte dispensasionele konteks aangehaal en aan die Kerk as belofte voorgehou.
Amos 9:13 “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. 14 En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. 15 En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die HERE jou God.”

Dit is hier waar die grootste mistastings plaasvind.Indien die Koninkryk nou alreeds ‘n werklikheid op aarde is, dan is dit net logies te wagte dat gesondheid en materiële oorvloed die reg van elke kind van God behoort te wees. Indien dit nie die geval is nie het God beloftes gemaak wat Hy nie nakom nie! (iets wat nooit kan gebeur nie!) Indien die Kerk alreeds die Koninkryk op aarde is, of indien die Kerk as God se werktuig beskou word, waardeur Hy, Sy Koninkryk op aarde gaan vestig, kan dit net logies te wagte wees dat alle gelowiges gesond en voorspoedig moes wees. Droogte en voedsel te korte moes dan met die ontstaan van die Kerk op Pinksterdag, omstreeks tweeduisend jaar gelede, iets van die verlede gewees het. Om hierdie rede probeer mense wat in koninkryksteologie glo so hard om mense van hierdie “vloeke” te verlos en belowe aan hulle aanhangers genesings wat nooit werklik plaasvind nie. Indien hulle egter die Skrifte mooi bestudeer sou hulle opgemerk het dat siekte nie ‘n algemene verskynsel tydens Christus se Koninkryk op aarde sal wees nie. (Siekte sal ‘n uitsonderlike verskynsel tydens Christus se Duisendjarige Vrederyk op aarde wees, nie die norm nie! Jes.35:5 en vele ander soortgelyke Ou Testamentiese profesieë bevestig hierdie feit.) ‘n Feit wat nie huidiglik, tydens die Dispensasie van die Kerk die geval is nie! Inteendeel, tydens die Kerk Dispensasie is siekte ‘n algemene verskynsel en gelowiges is geensins van siekte of krankhede gevrywaar nie.

Volgens baie proponente van die Voorspoed Evangelie, asook sommige proponente van die Koninkryksteologie, beskik die gelowige oor al die outoriteit om hierdie bose invloede volkome uit sy lewe te verban. Die middel tot die doel vind hulle in die geloof van die gelowige. En derhalwe kan die koninkryk volkome in die lewens van persone wie die korrekte geloof beginsels/tegnieke gebruikmaak bewerkstellig word. Dit volg dan logies dat die Kerk se fokus op die Koninkryk, wat kwansuis alreeds op aarde teenwoordig is, geplaas word en nie op die Koninkryk wat met Christus se wederkoms deur Homself opgerig gaan word nie. (Die leser word aangeraai om die artikel Koninkryk nou vs Koninkryk kom” te lees.) Beloftes wat slegs aan persone wie tydens Christus se komende Messiaanse Koninkryk gemaak is, word dan verkeerdelik aan gelowiges wie tydens die dispensasie van die Kerk/genade leef voorgehou. ‘n Ernstige mistasting wat nog tot groot ontnugtering en trane aanleiding gaan gee.

Die feit van die saak is dat die huidige dispensasie waarin ons, onsself bevind die Kerk Dispensasie is en nie Christus se Koninkryk op aarde nie. Hierdie feit behoort duidelik te wees indien ons God toelaat om deur Sy woord aan ons te sê wat Hy wil sê. Ons moet teen die versoeking waak, om dit wat ons graag wil hoor, in die Bybel in te lees. Sodoende skep ons maar net vir onsself ‘n valse godsdiensstelsel wat in werklikheid met God se woord (en wil) in botsing is. Iets waarteen die Bybel ons ernstig waarsku, naamlik:
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
2Tim.4:1 Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk op aarde nie” te lees.)

Indien ons bogenoemde waarskuwing ernstig opneem en die Skrifte binne die regte konteks bestudeer, sal ons opmerk dat die apostels, en Nuwe Testamentiese profete, asook baie ander gelowiges nie lewens van oorvloed en gesondheid geniet het nie. Die rede hiervoor is eenvoudig. Nadat Israel hulle Messias met Sy eerste koms verwerp het is die Koninkryk op aarde uitgestel, en sal eers na afloop van die Groot Verdrukking, met Christus se wederkoms, op aarde gevestig word. En dit slegs nadat die Satan vir duisend jaar gebind is (Openb.20:2) en dus nie meer die god van hierdie wêreld sal wees nie. As bewys van die feit dat Christus se Koninkryk nog nie op aarde gevestig is nie sal ons na ‘n paar Nuwe Testamentiese voorbeelde gaan kyk, en veral op gelowiges konsentreer wie tydens die Kerk Dispensasie (waarin ons, onsself nou bevind) gelewe het fokus.

  • Paulus het liggaamlik krankheid beleef en dit juis terwyl hy in die middel van God se wil opgetree het, en gedoen het wat die Here hom beveel het om te doen, naamlik die Evangelie te verkondig.
    Gal.4:13 “maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het;”
  • Boonop moes Paulus geleer het om met die omstandighede waarin hy homself bevind het tevrede te wees. Al sou dit beteken dat hy oorvloed besit het of gebrek gely het.
    Philip.4:12 “Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
    Dit is opmerklik dat dit juis in die konteks van gebrek en honger is, waar Paulus die feit noem dat hy tot alles in staat is, omrede Christus hom die krag daarvoor gee! (Ek wonder hoeveel keer word hierdie spesifieke feit in die moderne kerke verkondig?)
  • Timotheus het ook gereeld met ongesteldhede gesukkel.
    1Tim.5:23 “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ‘n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede.”
  • Die Macedoniese gemeentes, wie juis deur Paulus as voorbeeld aan ander gemeentes voorgehou word, was egter in finansiële terme arm maar hulle was nog steeds in God se wil.
    2Kor.8:1 “En ons maak julle bekend, broeders, die genade van God wat aan die gemeentes van Macedónië geskenk is, 2 dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid. 3 Want hulle was na vermoë — ek betuig dit — ja, bo vermoë gewillig, 4 en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang; 5 en het nie alleen gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God,”
    Nêrens in die Skrifte vind ons dat die rede vir Macedoniese gemeentes se armoede ‘n gebrek aan geloof was nie! Hulle was juis in God se wil!
  • Die Kerk in Smirna, wat net aanprysings by die Here ontvang het, was egter arm.
    Openb.2:9 “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.”
    Die Here het hierdie gemeente, alhoewel hulle op materiale vlak arm was, as geestelik ryk bestempel!
  • Boonop het die Here hierdie getroue gemeente in Smirna gewaarsku dat hulle deur die duiwel vervolg en van hulle selfs gedood sou word.
    Openb.2:9 “10 Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
    Indien ons nou in die Koninkryk van Christus op aarde is, hoekom kan Satan ons vervolg? Moet ons dan glo dat die Here tydens Sy Koninkryk op aarde sal toelaat dat gelowiges vervolg word? Nee nooit nie! Anders weerspreek God Homself in Sy woord! Die rede is eenvoudig. Die Koninkryk van Christus is nog nie op aarde gevestig nie! Gelowiges in Suid Afrika is nie beter of geregtig op meer as gelowiges in ander lande nie. Gelowiges onder diktators soos Stalin, Mugabe en vele ander het meeste aardse besittings (sommige selfs alles) en selfs hulle lewens verloor. In China en meeste Moslem lande word gelowiges openlik vervolg en meeste van hulle bevind hulleself in omstandighede van armoede. (Baie van hulle kan selfs as brandarm beskryf word) Dit beteken nie dat God nie by hulle is en dat hulle God nie getrou dien nie. Dit is juis omrede hulle God getrou dien dat hulle vervolging beleef. En hiervoor sal Christus hulle ryklik by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon.
  • Petrus het die gelowiges wie hy in sy brief aangespreek het as vreemdelinge in hierdie wêreld beskryf, iets wat hy nie sou kon doen indien ons nou alreeds die in die koninkryk van Christus op aarde is nie.
    1Pet.2:11 “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;”

Die Skrifte verklaar onomwonde dat die Koninkryk van Christus ‘n tydperk van ongekende voorspoed en genesing sal inwy. Omrede hierdie beloftes nie huidiglik, tydens die Kerk Dispensasie, ‘n werklikheid geword het nie bewys net een ding. Die Koninkryk van Christus is nog nie op aarde gevestig nie, en daarom verklaar die Bybel dat die Satan nog steeds die god van hierdie wêreld is.
2Kor.4:4 “naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.
Ef.6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
(En daarom kan hy nog steeds gelowiges vervolg!)Dit is ‘n ernstige mistasting om die komende Koninkryk van Christus met die huidige Kerk Dispensasie te verwar. Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie. (Die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie” asook die artikel “Het die Kerk Israel as God se Verbondsvolk vervang?” te lees.)

Wanneer dwaling nie gekorrigeer word nie, versprei dit soos suurdeeg en deurdrenk alles. Die Here het ons van hierdie verloop van sake in die gelykenis van die suurdeeg gewaarsku (Matt.13:33) en het dit ook duidelik gestel dat die tydperk tussen Sy hemelvaart en wederkoms toenemend deur valse leerstellings gekenmerk sal word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Die Gelykenis van die Suurdeeg” te lees.) Ons lewe nie in ‘n tydperk van herlewing soos wat Oom Angus dit aan ons wil voorhou nie. Ons belewe egter ‘n tydperk van ongekende geestelike, asook leerstellige, dwaling en sake gaan net vererger soos wat Christus se wederkoms nader kom. Asof die dwaalleerstelling van koninkryksteologie, asook dominionisme, waaraan oom Angus Buchan homself ook skuldig maak, nie erg genoeg is nie, maak dit die deur vir ‘n ander dwaalleerstellings, wat net so gevaarlik vir ‘n persoon se geestelike lewe is, naamlik die Voorspoed Evangelie oop. Gevolglik is groot gedeeltes van die belydende Christendom die slagoffers van dwaalleerstellings en hulle besef dit nie eens nie! (Presies net soos wat die Here Jesus Christus en Sy Apostels ons vooraf gewaarsku het!)

Wanneer daar verkeerdelik verkondig word, dat Christus se Koninkryk alreeds volkome, of ten dele op aarde gevestig is, (of deur die Kerk gevestig moet word) lei dit heel logies na die dwaalleerstelling van die Voorspoed Evangelie. En ook hierteen het Paulus ons gewaarsku!
1Tim.6:3 “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 4 dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5 nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense. 6 Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. 7 Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. 9 Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. 10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”
2Tim.3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”

Ter Afsluiting: Net omrede ‘n persoon verklaar dat hy ure in Christus se teenwoordigheid spandeer beteken glad nie dat daardie persoon nie verlei kan wees nie. (Hierdie stelling geld vir ons almal!) Jehova Getuies, wie Christus se Godheid ontken, asook Rooms-Katolieke wie in ‘n werke evangelie glo, verklaar ook dat hulle ure in die woord, asook in Christus se teenwoordigheid spandeer. Dit beteken nie outomaties dat wat hulle verkondig goedsmoeds aanvaar behoort te word nie. Meeste van hulle is nie eens wedergebore nie! Dit is ongelukkig ook so, dat waar daar valse beloftes deur mense wat self slagoffers van verleiding is, as God se beloftes aan ander voorgehou word, en daardie beloftes kom nie waar nie, dan is dit gewoonlik God wie beskuldig word en nie die persoon wat die dwaalleer verkondig het nie. God het ons nie geroep om gewilde, en slegs positiewe boodskappe te verkondig nie. Hy het ons geroep om Sy hele woord te verkondig, en om die waarheid te praat al is dit nie wat die mense wil hoor nie. Ons is nie hier om mense te behaag nie. Ons doel moet wees om God te behaag. Anders as wat oom Angus aan ons met die “Dis tyd” samekomste belowe het, het omstandighede nie verbeter nie maar versleg. Wat gaan gebeur as sake nog slegter in die wêreld gaan en die mense begin hulle grond en besittings verloor. Wat gaan mense soos hy dan aan hulle aanhangers verduidelik. Dan gaan valse profesieë en boodskappe nie help nie. Ons moet ons eerder daarop toespits om die word van die Here reg te sny en die waarheid te verkondig al haat die mense ons daarvoor. Die Here sal ons beloon.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”

Die Skrifte stel dit onomwonde dat die wêreld ‘n tydperk van ongekende lewensverlies en smarte, naamlik die Verdrukking, nader. Die Kerk se hoop is die Wegraping, wanneer Christus Sy Kerk sal kom haal, en dan sal ons vir altyd by Hom wees, en saam met Hom terugkeer aarde toe wanneer Hy Sy koninkryk op aarde vestig. Ja ons moet vir ons land en leiers bid. Indien dit Sy wil is kan die Here alles in ‘n oogwink laat verander. Maar indien Hy nie so wil nie sal Hy aan ons die krag daarvoor gee om deur die moeilike omstandighede te kom.
Philip.4:12 “Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Net soos Paulus word alle gelowiges deur God onderrigting. God gebruik soms teenspoed, juis om ons nederig te hou, en ons te leer om op Sy krag en voorsiening staat te maak.)

Bo en behalwe dit moet ons bid dat die Here ons d.m.v. die wegraping kom haal. Dit is my vaste oortuiging, dat hoe langer die wegraping neem om plaas te vind, hoe meer teenstand gaan ware gelowiges beleef.
Openb.22:20 “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! 21 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.”
Maranata! Ons Heer kom!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.