Sewe verskillende vorms van Dood in die Bybel

Sewe verskillende vorms van Dood in die Bybel

Wat beteken die woord “dood” in die Bybel en beskik hierdie woord oor meer as net een betekenis? Met die skryf van hierdie artikel, sal daar gepoog word om hierdie vraag te beantwoord. In 2 Timoteus 2:15 merk ons op, hoedat die Apostel Paulus aan sy getroue metgesel, Timoteus, die opdrag gee, om homself beproef voor God te stel, deurdat hy die woord van God reg sny.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Dieselfde opdrag geld vir ons vandag, veral in die tye waarin ons lewe, waar valse leerstellings so ‘n groot ingang in die belydende Christendom gemaak het. Hierdie stelling geld veral, wanneer dit by die verdediging van die Evangelie, van God se genade sonder verdienste, kom. Om hierdie rede is dit belangrik, dat ons oor die vermoë beskik, om die nodige onderskeid tussen die betekenisse van sekere terme in die Skrifte te onderskei. In hierdie artikel gaan ek die sewe verskillende vorme van dood in die Bybel uiteensit en kortliks bespreek, wat sal verhoed dat die leser werke deel van die Evangelie maak, en dit sal boonop die bestudering en verstaan van die Bybel vergemaklik. Dit is alle gelowiges se plig om die Evangelie van God se genade, sonder verdienste, teen alle pogings om werke daarby te voeg, te beskerm. Veral as dit by fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte kom. Om hierdie rede is dit uiters belangrik vir die leser om deeglik van die drie fases van verlossing kennis te dra. Indien die leser dit nie alreeds gedoen het nie, word hy/sy ten sterkste aangeraai om eerstens die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees, alvorens hy met die lees van hierdie artikel voorgaan.

Daar moet begryp word, dat die dood in die Bybel nooit as die ophou of beëindiging van bestaan beteken nie. Wanneer ‘n persoon tot sterwe kom (doodgaan), beteken dit nie dat daardie persoon ophou om te bestaan nie, maar vind daar egter ‘n skeiding van sy liggaam met die van sy gees en siel plaas. Die persoon bestaan nog steeds bewustelik voort, maar daar het egter ‘n skeiding tussen sy dooie liggaam, wat in die graf gelê word, en sy gees en siel, wat nog bewustelik voortbestaan, plaasgevind. Daarom kan die woord dood as skeiding verstaan word en sal hierdie feit al hoe duideliker blyk, soos wat ons met hierdie artikel voorgaan.

Dit is ook belangrik om te besef, dat die term “dood’ nie ‘n tegniese term is, wat slegs oor een betekenis beskik nie. As ek die stelling sou maak, dat my voertuig se battery dood is, beteken dit nie dat die battery nie meer bestaan nie, dit beteken slegs dat die battery nie meer werk nie. Daarom is dit belangrik om die konteks waarin enige woord in die Bybel gebruik word, toegelaat moet word om die betekenis van daardie spesifieke woord te bepaal. Ons moet nie met ‘n vooraf opgemaakte betekenis vir die woord na die spesifieke teksgedeelte gaan, en daardie betekenis van die woord op die teksgedeelte af dwing nie, anders gaan ons onsself mislei en sal ons nooit werklik uitvind, wat die skrywer bedoel het toe hy die spesifieke woord gebruik het, nie. Daarom is konteks seker een van die belangrikste faktore wat by die uitleg van die Bybel van toepassing is, en moet ons altyd toelaat, dat God vir Homself in die Bybel praat. Ons moet nooit ons vooropgestelde idees, of betekenisse van spesifieke woorde, in God se woord inlees nie, en soos reeds gestel, moet ons toelaat dat die konteks waarin daardie woord gebruik word, die betekenis van die woord bepaal. As dit by Bybel uitleg kom, begaan baie mense hierdie fout, en sodoende verander dit die betekenis van ‘n spesifieke teksgedeelte, en kan selfs daartoe lei, dat goeie werke en wetsonderhouding, op ‘n baie subtiele wyse, as vereiste vir wedergeboorte by die Evangelie van God se genade gevoeg word, en dus die ware Evangelie in ‘n werke evangelie verander.

Die woord “dood” word op verskeie wyses in die Bybel aangewend, en daarom is dit belangrik, om wanneer ons die Bybel bestudeer, ons van hierdie verskille bewus is, sodat ons kan bepaal wat die skrywer bedoel het toe hy die spesifieke woord in daardie konteks gebruik het. Om hierdie rede behoort dit as geen verassing te kom, om uit te vind dat daar van sewe verskillende vorms van dood in die Bybel gepraat word en moet ons nie hierdie verskille met mekaar verwar nie.

1. Geestelike dood:

Wanneer?: By konsepsie of bevrugting.

Rede: In Adam gebore.

Wat behels dit?: Skeiding van jou gees en siel van die Here.

Teksgedeeltes: Gén 2:17 “maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”
Opmerking: In Gen 2:17 sien ons, hoedat die Here Adam en Eva waarsku om nie van die boom van die kennis van goed en sleg te eet nie. Hulle eet egter van die vrugte, maar ons sien nie dat hulle onmiddellik dood neerslaan nie. Hierdie teksgedeelte dien as goeie voorbeeld, waar ons moet toelaat dat die konteks die betekenis van die woord “sterwe” moet bepaal, en moet ons nie ons vooraf opgestelde idees, omtrent die woord sterwe, in die betekenis van die term “sterwe” inlees nie. Die Here het nie fisiese dood hier bedoel nie, maar geestelike dood, waar die mens se gees en siel van God geskei is. Eers in Gen 3:19, waar die Here die mens onder die vloek plaas het fisiese dood deel van die mens se bestaan geword.
Gén 3:16 Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. 3:17 En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 3:18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
Omrede fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking fase, nog nie afgehandel is, en ons nog nie met ons verheerlikte liggame oorklee is nie, gaan ons almal nog steeds fisies dood, word siek, word oud, moet nog steeds met dissels opgeskeep sit en ons brood met moeite bekom ens. Ons sal slegs van die gevolge van die vloek bevry wees, sodra ons met die wegraping/eerste opstanding met ons verheerlikte liggame oorklee is. Hierdie gebeurtenis lê nog in die toekoms, en sal eers na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking fase afgehandel wees. En daarom is ons almal nog sterwend en word ons siek, dra ons brille ens. Dit sluit al die geloofsgenesers soos die Hinns en Copelands in. Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, het die grondslag waarop ons van die vloek bevry is, gelê, maar hierdie proses sal eers na afloop van fase drie van ons verlossing, wanneer ons huidige liggame, wat nog oor ‘n sonde natuur beskik, en wat nog steeds sonde pleeg, met ons verheerlikte liggame, wat heeltemal vry van sonde sal wees, vervang sal word. Slegs dan sal ons verlossing in al drie sy fases volkome afgehandel wees. Om hierdie rede is dit van uiterste belang, om vir Christus se koms vir Sy bruid te bid, sodat ons met ons verheerlikte liggame oorklee sal word om nooit weer dood en lyding te ervaar nie.

Die Oplossing: Wedergeboorte, naamlik fase een van verlossing. Die glo van die Evangelie.
Efs 2:1 “En julle het Hy lewend gemaak, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.) wat dood was deur die misdade en die sondes”

2. Fisiese Dood:

Wanneer?: Wanneer jou fisiese liggaam tot sterwe kom.

Rede: Die Sondeval, die vloek en om posisioneel in Adam te wees.

Wat behels dit?: Skeiding van jou gees en siel van jou fisiese liggaam.

Teksgedeeltes: Gén 35:18 “En toe haar siel uitgaan—want sy het gesterwe—noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem.
Psa 146:4 Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan
Prd 12:7 en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”
Opmerking: Hierdie teksgedeeltes toon duidelik aan, wat met ons gebeur as ons tot afsterwe kom. Daar vind ‘n skeiding tussen ons siel en liggaam plaas. Hierdie is nie ‘n sieleslaap, soos wat sommige mense beweer nie. Die afgestorwene se gees en siel bly bewustelik voortbestaan. Die Here Jesus Christus het self hierdie feit baie duidelik gestel.
Luk 16:24 “En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.”
Paulus het ook hierdie feit beklemtoon.
2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.
Heb 9:27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,”

Die Oplossing: Die opstanding. ‘n Gelowige se liggaam, wat tot afsterwe gekom het, word beskryf as ontslaap.
1Ko 15:6 “Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap (gesterf) het.”
Die term ontslaap word in die Bybel gebruik vir ‘n gelowige wat afgesterf het, omrede daardie liggaam weer in heerlikheid, by die eerste opstanding, uit die dood sal opstaan. (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking fase.) Slegs na afloop van fase drie van ons verlossing, sal ons nie meer fisies tot sterwe kan kom nie en nie voor die tyd nie. Daar sal egter sekere gelowiges wees, wat ten tye van die Wegraping nog sal lewe, wat nie fisies tot sterwe sal kom nie, maar hulle sal met hulle verheerlikte liggame oorklee word, sonder om die fisiese dood te beleef.
1Ts 4:13 “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 4:14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. 4:15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, (slegs gelowiges) sal eerste opstaan. (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking fase.) 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, (met ons verheerlikte liggame oorklee word 1 Ko 15:52. ) saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
En hoe gaan ons met ons verheerlikte liggame oorklee word?
1Ko 15:52 “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons (wat nog lewe) sal verander word.”

3. Ewige of tweede dood:

Wanneer?: Begin die oomblik wanneer ‘n ongelowige persoon tot sterwe kom en duur vir ewig voort.

Rede: Omrede die persoon a.g.v ongeloof homself, ten tye van sy afsterwe, buite Christus bevind, en daarom nog in sy sondes is en onder God se regverdige oordeel verkeer.

Wat behels dit?: Ewige onherroeplike skeiding tussen God en die ongelowige persoon se liggaam, siel en gees. Die ongelowige sal homself, na afloop van die Wit Troon Oordeel, vir ewig in die poel van vuur bevind.

Teksgedeeltes: Opn 20:12 “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 20:13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 20:15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Opmerking: Alle ongelowiges sal na afloop van Christus se Duisendjarige Vrederyk voor die Wit Troon Oordeel verskyn, waar hulle deur Christus op grond van hulle werke geoordeel en verdoem gaan word. Die rede hiervoor is omdat hulle die Persoon van die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir hulle (die Evangelie) verwerp het. Dit sluit mense, wat werke deel van die Evangelie maak en daardeur ‘n werke evangelie verkondig, in. Indien ‘n persoon op sy werke vertrou, om hom te red, of om hom gered te hou, demonstreer daardie persoon dat hy nie Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, as voldoende beskou, om hom van sy sondeskuld voor God te verlos nie. So ‘n persoon verwerp in effek God se oplossing vir sy sondeskuld (die Evangelie) en derhalwe sal hy op sy werke geoordeel word en die tweede dood deelagtig word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Die  Wit Troon Oordeel” te lees, om meer besonderhede rondom hierdie gebeurtenis te bekom.)

Die Oplossing: Glo die Evangelie! (Wedergeboorte, naamlik fase een van ons verlossing) Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer fisies uit die dood uit opgestaan het, om die persoon se persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou. Die gelowige glo, dat Jesus Christus sy enigste Verlosser van sy sonde en die ewige verderf is, omrede Christus God is en oor die krag beskik om hom te verlos en dat Hy met Sy lewe vir sy sondes aan die kruis betaal het. Sonder die Here Jesus Christus sou die sondaar homself nooit kon red nie, maak nie saak hoe sterk sy geloof sou wees nie. Die waarde, meriete of krag van ons geloof is in die voorwerp waarin ons ons geloof plaas, gesetel, naamlik die Here Jesus Christus, wat God in die vlees is, en wat nooit kan misluk nie. Om enige vereistes of werke by die Evangelie te voeg, beteken dat ons die Evangelie van God se genade in ‘n ander evangelie verander, wat nie tot redding sal strek nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Die Evangelie” vir ‘n meer breedvoerige bespreking oor die Evangelie te bekom.) Dit is van uiterste belang, dat ons die ware Evangelie ken, verstaan en glo. Ons moet ook sekermaak dat ons die regte Evangelie verkondig, want mense se siele is op die spel!
Rom 3:20 “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Rom 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”
Nie die Evangelie plus die wet, doop, kerkbywoning, kerk tradisies, goeie werke, tiendes gee, sabbatdag onderhouding of enige iets anders nie!
Rom 3:28” Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Gal 3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.
Gal 3:24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.”
Hierdie feit kan nie genoegsaam beklemtoon word nie!

4. Posisionele Dood:

Wanneer?: Die oomblik van wedergeboorte, naamlik die oomblik wanner ‘n persoon die Evangelie verstaan en glo.

Rede: Wedergeboorte in Christus; identifisering met die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die Kruis.

Wat behels dit?: Skeiding van jou liggaam, siel en gees van jou ou onwedergebore self.

Teksgedeeltes: Rom 6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.) ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap.) 6:5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, (fase een.) sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word (fase een.) en ons nie meer die sonde sou dien nie.” (fase twee)
Opmerking: Die doop wat in bostaande teksgedeelte van gepraat word, het niks met die waterloop van onderdompeling te make nie, maar met die doop van die Heilige Gees, wat by die oomblik van wedergeboorte plaasvind. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.) Hierdeur word die gelowige met Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis, asook Sy opstanding uit die dood, geïdentifiseer en staan die gelowige nou in nuwe verhouding teenoor God, in Christus, en hoef hy nie meer die ou sonde natuur se slaaf te wees nie.
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, (fase een.) en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (fase twee.)

Die Oplossing: Die glo van die Evangelie, wat tot wedergeboorte sal lei, is die oplossing! ( fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte.)

5. Eksperiënsiële of temporale dood:

Wanneer?: Gedurende die gelowige se lewe na aanvanklike wedergeboorte.

Rede: Persoonlike sonde in die gelowige se lewe.

Wat behels dit?: Daar vind ‘n skeiding, tussen God en Sy kind, binne familieverband plaas en dit belemmer die totstandkoming van ‘n intieme kind/Vader verhouding. (hierdie gebeure kan slegs tydens fase twee, naamlik die heiligmaking fase plaasvind.)

Teksgedeeltes: Luk 15:24 “ Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.”
Dit is opmerklik dat die verlore seun nooit opgehou het om die vader se kind te wees nie, maar solank as wat hy in die wêreld was, was hy so goed as dood vir die Vader, omrede hy niks met sy vader wou weet nie en daarom was daar ‘n skeiding tussen die Vader en kind verhouding en kan dus as dood omskryf word.
Jak 1:15 “Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”
Die dood wat in bostaande teksgedeelte van gepraat word is nie die tweede dood, soos wat baie mense beweer nie. Die Bybel stel dit baie duidelik, dat sodra iemand die Evangelie glo daardie persoon die Ewige lewe ontvang en kan hy nooit verlore gaan nie.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, (fase een van verlossing – wedergeboorte.) het die ewige lewe (as huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, (Sal nooit geoordeel kan word nie! Jy het God se woord daarvoor! Indien ‘n persoon nie veroordeel kan word nie, hoe kan hy dan na die poel van vuur gestuur word? Dink mooi hieroor na!) maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. (Let op die verledetydsvorm “het oorgegaan”. Dit is iets wat klaar plaasgevind het en is dus afgehandel. Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.)
Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, (die Here stel dit so duidelik dat ‘n gelowige nooit verlore sal kan gaan nie, maar dat hy die ewige lewe as ewige besitting het. Ek kan soms nie verstaan hoekom mense nog steeds Jesus se stelling bevraagteken nie. Dit is niks anders as ongeloof nie!) en niemand ( dit sluit almal en die gelowige self ook in!) sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; (dit sluit die gelowige ook in!) en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” (Dubbel absolute sekuriteit van die gelowige, deur God Self gewaarborg!)
Niemand beteken, niemand nie en dit sluit die gelowige in. Daar is niks en niemand wat kan veroorsaak dat ‘n wedergebore kind van God ooit verlore sal kan gaan nie!
(Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” te lees om meer inligting rondom hierdie onderwerp te bekom.) Daarom is dit van uiterste belang om toe te laat dat die konteks waarin ‘n woord gebruik word die betekenis van die spesifieke woord bepaal.

Die Oplossing: Belydenis van sonde en die gelowige moet homself in eerbied aan sy Hemelse Vader onderwerp, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) sodat die Vader/seun verhouding herstel kan word, anders kan dit tot tugtiging in die gelowige se lewe lei, wat selfs fisiese dood kan insluit.  Die gelowige kan egter nooit verlore gaan en die tweede dood deelagtig word nie.
1Jo 1:9 “As ons ons (gelowiges) sondes bely, (fase twee) Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
Rom 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, (gelowiges) by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.(fase twee) (Ons doen dit nie om gered te word nie! Anders kom dit op ‘n werke Evangelie neer, maar heiligmaking/dissipelskap, naamlik fase twee, wat slegs van toepassing op alreeds wedergebore gelowiges is!) Jak 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (fase twee)

6. Operasionele dood:

Wanneer?: Gedurende die gelowige se lewe, na aanvanklike wedergeboorte.

Rede: Wanneer die gelowige aaneenlopend in die vlees wandel.

Wat behels dit?: Daar vind ‘n skeiding tussen die vleeslike gelowige en Godlike geïnisieerde produksie, naamlik ‘n gebrek aan geestelike groei, heiligmaking en geloof gebaseerde werke, wat daartoe sal lei dat die gelowige se lewe, as swak getuienis aan ander mense sal dien, en dat sy geestelike lewe onproduktief teenoor ander mense om hom sal wees. Die gelowige se geestelike produksie is dan geskei van dit wat die Here van die gelowige verwag het , naamlik om goeie werke voort te bring en deur sy getuienis voor ander mense God te verheerlik.

Teksgedeeltes: Jak 2:17 “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. (fase twee) Jak 2:20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? Jak 2:26 Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”
Opmerking: Die brief van Jakobus is aan gelowiges, waarvan fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte, alreeds afgehandel is, gerig en hulle moes toe alreeds aktief in fase twee van hulle verlossing, naamlik heiligmaking, besig gewees het. In die heiligmaking fase, is dit God se wil dat die gelowiges goeie werke by hulle geloof moet voeg, sodat hulle ‘n broeder in nood kon bystaan en daardeur aan die mensdom om hulle demonstreer dat hulle vriende/kinders van God is. Indien hulle werke by hulle geloof sou voeg, sou dit daartoe lei dat die Here verheerlik sou word, die nood om hulle verlig sou word, wat weer loon, by die Regterstoel Oordeel van Christus, vir die gelowiges sou verseker. Die leser word aangeraai om die artikel “Geloof sonder Werke is Dood” vir ‘n meer uiteenlopende uiteensetting van hierdie onderwerp te lees. ‘n Gelowige wat nie heiligmaking toepas, en geloofsgemotiveerde werke, deur middel van die instaatstellende krag van die Heilige Gees voortbring nie, is dus geskei of dood ten opsigte van die doel wat God met sy lewe, na aanvanklike wedergeboorte, gehad het. In daardie opsig kan sy geloof as dood omskryf word, want so ‘n geloof baat nie sy medemens nie.
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe (geskenk, by implikasie absoluut sonder enige koste, van die ontvanger se kant af, anders kan dit nie ‘n geskenk omskryf word nie!) van God; (fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte. Geen werke kan as vereiste by geloof alleen by die Evangelie gevoeg word nie!) 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. (kosteloos) 2:1 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte.) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (fase twee, naamlik heiligmaking. In hierdie fase van ons verlossing, word ons samewerking verwag. Indien ons nie ons samewerking gee nie, bereik ons nie die doel waarvoor die Here ons geskape (wedergeboorte) het nie, en is ons gebrek aan heiligmaking/dissipelskap geskei (dood) ten opsigte van God se verwagting en doelstellings wat Hy ten opsigte van ons post-wedergebore lewens gekoester het.) Sulke optrede van ons kant af, sal daartoe lei dat God ons in liefde sal tugtig.
Heb 12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.”
Dit sal ook daartoe lei, dat ons loon by die Regterstoel Oordeel van Christus sal verloor.
2Ko 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
1Ko 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

7. Seksuele dood:

Wanneer?: Weens ouderdom.

Rede: Fisieke limitasies.

Wat behels dit?: Skeiding van die vermoë om fisies voort te plant.

Teksgedeeltes: Rom 4:17 “soos geskrywe is: Ek het jou ‘n vader van baie nasies gemaak voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. 4:18 Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. 4:19 En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.” (Abraham en Sara was nie fisies dood nie, maar hulle, kon weens ouderdom, nie meer op natuurlike wys voortplant nie en daarom kan hulle liggame as dood omskryf word.)

Die Oplossing: ‘n Wonderwerk van God afkomstig.

Ter Afsluiting: Soos reeds in hierdie artikel duidelik gestel is, is dit van uiterste belang, dat waar dit by Bybeluitlegging kom, ons die konteks waarin ‘n woord gebruik word, toelaat om die betekenis van daardie spesifieke woord te betaal. Dit sal nie net verhoed dat ons goeie werke by die Evangelie, as vereiste vir wedergeboorte voeg nie, maar dit sal ook voorkom dat ons teksgedeeltes uit konteks aanhaal, om sodoende te bewys dat ‘n gelowige kwansuis uit genade kan wegval. Ek gaan Jak 5:19-20 hier as voorbeeld gebruik, omrede hierdie teksgedeelte gereeld gebruik word om te leer dat ‘n gelowige, wat in sonde voortgaan, uit genade kan wegval.

Jak 5:19 “Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, 5:20 laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.”
Opmerking: Jakobus praat van ‘n gelowige “een onder julle” wat van die waarheid afdwaal en in die een of ander sonde verval. Die vraag wat ons moet vra is: “Wat beteken die woord “dood” in hierdie konteks? Indien ons nie die ewige lewe deur ons eie goeie werke kan bekom nie , maar slegs deur geloof, op ‘n punt in tyd, as geskenk kan ontvang, dan is dit net logies, dat ons niks kan doen om die ewige lewe te verloor nie. Dit was ‘n gawe van God en iets wat Jesus Christus gewaarborg het. Dus kan die woord “dood” nie beteken dat die dwalende gelowige uit genade kan verval en dus deel van die ewige dood (tweede dood) kan word nie. Die konteks spreek duidelik gelowiges aan en handel oor fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking. Dus is dit logies dat die “dood” waarvan Jakobus hier praat, eksperiënsiële of temporale dood moet wees, wat beteken dat daar ‘n doding van die verhouding tussen God en kind, binne die familieverband, plaasgevind het, wat indien dit nie opgelos word nie, daartoe kan lei dat die Vader die dwalende kind sal moet tugtig, wat selfs in fisiese dood kan opeindig. In 1 Kor 11:30 vind ons so ‘n geval, waar die Here ingegryp het en sekere gelowiges in die gemeente siek gemaak en selfs van hulle laat sterwe het.
1Ko 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. (is dood)11:31 Want as ons onsself beoordeel het, (fase twee) sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, (Goddelike tugtiging) word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.” (ewige sekuriteit van die gelowige)

Hierdie reëls geld vir alle terme wat ons in die Bybel mag vind. Daar moet altyd gepoog word om vas te stel, watse fase van verlossing vir ‘n spesifieke teksgedeelte geld. Ons moet ten alle tye daarteen waak om werke deel van die Evangelie te maak. Hierdie beginsel geld vir stellings soos:
Mar 8:34 “En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. 8:35 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.”
Die konteks handel nie oor fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte nie, maar die Here praat van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap, wat tydens hierdie lewe op ‘n groter mate van kennis en intimiteit met God sal uitloop, en wat na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking, met groot loon, ‘n groter kapasiteit om die ewige lewe te ervaar, asook heersers posisies ens… beloon sal word. Om bostaande teksgedeelte deel van die Evangelie te maak, beteken dat goeie werke as vereiste vir wedergeboorte voorgehou word. Iets wat die Bybel ten sterkste weerlê.
Rom 3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Rom 4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. ”

God praat met ons deur die Bybel, en daarom is dit ons plig om vas te stel wat God met ‘n spesifieke term, teksgedeelte of of frase bedoel. Mag die Here die oë van ons verstand open, sodat ons ‘n dieper insig omtrent Sy woord mag bekom, en gee dat ons dit wat ons leer in ons eie lewens sal toepas. Mag God se Naam in alles wat ons doen verheerlik word! Slegs Hy verdien dit! Verlustig jouself in die Here jou God. Smaak en weet dat Hy goed is!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.