Raad aan gelowiges 3

Raad aan gelowiges in hierdie tyd van verval. Deel 3

In die laaste gedeelte van hierdie reeks van drie artikels, gaan ons na nog ‘n verdere twee hulpmiddele kyk wat die Here aan gelowiges gegee het om hulle te help om in hierdie tyd van leerstellige en morele verval staande te bly. Indien die leser dit nie alreeds gedoen het nie, word hy ten sterkste aangeraai om deel een en deel twee van hierdie reeks artikels te lees.

Christus se belofte van genadeloon: Ek gaan nie te veel oor hierdie onderwerp uitbrei nie, omrede ek dit al in baie vorige artikels aangespreek het. Die leser kan egter verseker weet, dat alle werk en lyding wat ons a.g.v. God se wil deurgegaan het, loon in oorvloed sal ontvang. Daarom is dit van uiterste belang dat ons getrou aan God bly en in geloof volheid vir die Here leef. Ons moet egter onthou dat die ewige lewe op grond van ons geloof, sonder die doen van enige werke, as geskenk by God in ontvangs geneem word.
Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte, wat ‘n eenmalige gebeurtenis op ‘n spesifieke punt in tyd is.)
Daarbenewens moet ons deur voortgesette dade van geloof genadeloon versamel, wat goeie werke ensovoorts insluit en wat ‘n lewenslange proses is. (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap)

Ef.2:10 “Want ons (gelowiges) is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (fase een van ons verlossing naamlik wedergeboorte) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat dade van voortgesette geloof en dus goeie werke insluit. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Drie Fases van verlossing” asook “Heiligmaking in drie fases” te lees.)
Alle getroue gelowiges kan dus met sekerheid weet dat die Here Jesus Christus hulle ryklik vir hulle opofferings en goeie werke by die Regterstoel Oordeel van Christus sal vergoed. Ons lewens na aanvanklike wedergeboorte is van uiterste belang, en gaan nie net ons medemens in hierdie lewe tot voordeel strek nie, maar gaan ook die mate van ons genadeloon in die hiernamaals bepaal. Geen gelowige kan dus beweer dat sy lewe betekenisloos is nie. Indien sy lewe wel betekenisloos is, dan dien dit as indikasie dat hy nie deur voortgesette dade van geloof heiligmaking in sy lewe bewerkstellig nie en goeie werke deur die inwerking van die Heilige Gees verrig nie. Solank as wat so ‘n gelowige nog leef, het hy nog kans om sy weë te verander en toe te laat dat die Heilige Gees in en deur hom goeie werke verrig. God het ‘n spesifieke doel met elkeen van ons se lewens! Indien ons Hom toelaat, sal Hy wel in en deur ons werk, sodat ons beloon kan word en Sy naam sodoende verheerlik word. Dit is nooit te laat om te begin nie. (Die leser word aangeraai om die artikels “Die onderskeid tussen wedergeboorte en loon vir goeie werke” en “Hemelse krone en loon vir goeie werke” asook “Kriteria by die Regterstoel Oordeel van Christus” te lees.) Onthou die tyd is min!

Breek weg met voorwerpe van oneer: Tydens die apostoliese tydperk, toe die die apostels nog gelewe het, het hulle strek teen enige vorm van valse leerstellings en afgodediens uitgevaar.
2Tim.215 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” (korrekte leerstellings verkondig)
Ons staan nou teen die einde van die Kerk Dispensasie, en die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom het die apostels se waarskuwing (en dus God se woorde) verontagsaam, en daarmee saam het valse leerstellings en afgodediens die Kerk binnegestroom.
2Tim.2:20 “Maar in ‘n groot huis (belydende Christendom) is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. 21 As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.”
Meeste Christene is nie eens daarvan bewus dat hulle met afgodediens besig is nie. Ware godsdiens het God, Sy woord (die Skrifte), asook Sy wil as hoofprioriteit en alle ander belange en lojaliteite is sekondêr aan hierdie feit. Almal van ons het ‘n hiërargie van prioriteite en waardes. ‘n Persoon se hoofprioriteit is dan dit wat daardie persoon dien. Enige prioriteit wat vir ons belangriker as God is kan as ‘n afgod bestempel word. Onthou, ons dade spreek harder as ons woorde! Om hierdie rede kan mense afgode van, sosiale/politieke stelsels, mense, geld, mag, enige ding in die natuur/skepping (wat die valse leerstelling van die evolusieleer insluit), asook van plesier maak. Dit is dan ook so dat dit waarin ‘n persoon glo, dit sy daarop volgende optredes sal beïnvloed. Wanneer ‘n persoon werklik God aanbid, dan sal God (en Sy woord) die hoofprioriteit in die persoon se lewe wees.

Wanneer ‘n pastoor, of sogenaamde profeet, ‘n verklaring in stryd met God se woord maak, en ‘n persoon eerbiedig die pastoor/profeet eerder as God se woord (wat binne die korrekte konteks aangehaal moet word) dan is daardie persoon ook met ‘n vorm van afgodediens besig, omrede hy die pastoor/profeet bo God en Sy woord (die Bybel) plaas. In hierdie opsig is baie mense met afgodediens besig, omrede hulle eerder na valse leerstellings luister as om na God te luister. Wanner ‘n gemeente, of selfs ‘n gemeenskap, in hierdie opsig van die Here af wegdraai, dan is daardie hele gemeente/gemeenskap met afgodery besig. Hierdie beginsel geld ook vir wanneer ‘n persoon, (of gemeente) in ‘n poging om in die wêreld relevant te bly, God se woord, of korrekte Bybelse leerstellings, afwater of verdraai. In sodanige geval is daardie persoon (of gemeente) se leerstellings vanuit God se perspektief irrelevant al mag hulle in die oë van die wêreld relevant/gewild wees. God meet nie die sukses van ‘n gemeente in die grote, gewildheid of rykdom van daardie gemeente nie, maar eerder aan die getrouheid aan Hom en Sy woord. (Dit sluit veral korrekte leerstellings in.)
1Tim.6: 3 As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde (korrekte Bybelse leerstellings) van onse Here Jesus Christus en met die leer (Bybelse leerstellings) wat volgens die godsaligheid is nie, 4 dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5 nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.
Kyk mens na baie van die predikers op televisie dan is dit duidelik dat hulle dink dat die godsaligheid winsgewend is. Dit gee weer daartoe aanleiding dat hulle gemeentelede nie God uit liefde aanbid nie, maar Hom slegs aanbid om rykdom te bekom. Dus is hulle hoof prioriteit rykdom, en God is maar net die middel tot ‘n doel om hulle begeertes te bewerkstellig.

Ons nader die einde van die Kerk Dispensasie vinnig, en dit sou raadsaam wees om eerder getrou aan die Here, en Sy woord wat binne die korrekte konteks aangehaal en toegepas is, te bly en om te doen wat Hy ons beveel. Dit sluit die bevel in om van enige persoon wat valse leerstellings verkondig weg te breek en om so ‘n persoon heeltemal te vermy.
2Tim.2:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.
Die apostel Paulus het ongeveer tweeduisend jaar gelede hierdie voorspelling gemaak en daar is geen twyfel dat ons onsself nou in daardie tyd bevind nie. ‘n Persoon wat nie kan raaksien dat ons die einde van die Kerk Dispensasie vinnig nader nie wil dit nie raaksien nie.
2Joh.1:8 “Wees op julle hoede, dat ons (gelowiges wat alreeds wedergebore is, naamlik fase een van ons verlossing is reeds voltooi) nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat voortgesette dade van geloof vereis en wat moontlike lyding om Christus naam insluit) maar ‘n volle loon ontvang. (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, waar ons by die Regterstoel Oordeel van Christus vir ons getrouheid en goeie werke in sy Naam en krag beloon sal word.) 9 Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. 10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. 11 Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”

Dit kan met regte gesê word dat ons samelewing tot ‘n groot mate alreeds die nachristelike tydperk binnegegaan het. Die gevolg hiervan is dat valse godsdiensstelsels, (wat by verre die grootste deel van die belydende Christendom insluit) hedonisme, ateïsme, materialisme, asook alle sekulêre humanistiese politieke stelsels, (wat Marxisme, Kommunisme, ensovoorts insluit.) tot ‘n groot mate ware Bybelse geloof vervang het. In ‘n samelewing waar afgodediens en valse godsdiensstelsels hoogty vier, is ‘n kerk wat nie leerstellig getrou aan God (en Sy woord) is nie ‘n tragedie. Indien die Kerk nie teen valse leerstellings en afgodediens staan nie, dan staan daardie kerk by implikasie saam met dit. Daar kan geen middeweg wees nie. Eerder as om a.g.v. haar getrouheid aan God in ‘n goddelose wêreld uit te staan, raak dit al hoe moeiliker om enige onderskeid tussen die goddelose wêreld en die Kerk waar te neem. By verre die grootste gedeelte van die belydende Christendom het die radikale andersheid (heiligheid) wat die Here Jesus Christus verkondig, en uitgeleef het, prysgegee en is eerder deur die dominante wêreldsheid geabsorbeer. Die Kerk het grotendeels versuim om haarself van die valse leerstellings/gelowe, asook die optrede van die goddelose wêreld waarin sy haarself bevind, af te skei, en vergeet dat ons as vreemdeling in hierdie wêreld moet leef, en moet besef dat ons ware burgerskap in die hemel is, nie op aarde nie.
Rom.12:2 “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Filip.3:20 Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,”
1Joh.2: 15 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 16 Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”


Rom.16:17 “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer (ware leerstellings soos wat die Here Jesus Christus en die apostels dit verkondig het en wat in die Bybel op skrif gestel is) wat julle geleer het, en vermy hulle.”
Die ou gesegde wat verklaar dat die Kerk in die wêreld moet wees, maar nie van die wêreld moet wees nie is tot ‘n groot mate waar. Dit help egter niks indien ‘n persoon onder die lering van valse leerstellings sit en weier om met die betrokke gemeente te breek nie. Hierdie stelling geld ook vir die proponente van die sosiale evangelie, liberale, asook bevrydingsteologie ensovoorts. Dieselfde beginsel geld vir wanneer gelowiges vir enige politieke party stem wat leefwyses beskerm wat God in Sy woord verbied. Om te dink dat sodanige party die land sal red is ‘n ernstige mistasting en is niks anders as ‘n vorm van afgodediens nie. Ons lojaliteit moet by God en Sy woord wees nie by enige politieke party nie. Dit is juis a.g.v. hierdie sondige leefwyses wat baie politieke partye deur wetgewing beskerm waarom die wêreld as geheel op ‘n ramp afstuur. God sal nie vir ewig sonde ongestraf laat bly nie. Daarom is dit belangrik dat kerke weer kerklike tug toepas, en met diegene breek wat nie gehoor wil gee nie. Dit sal nie ‘n gewilde boodskap wees nie, maar dit is wat God van ons verwag. Onthou ons moet nie poog om in die wêreld relevant te bly nie maar vir God.

Ter Afsluiting: Alle gelowiges se lojaliteite behoort volkome by God te wees. Die probleem kom wanneer ons lojaliteit aan God met ons aardse lojaliteite moet meeding. Indien ons werklik glo dat God in beheer is (en Hy is) dan behoort hierdie feit in ons optredes te manifesteer. Soos reeds herhaaldelik in hierdie reeks artikels genoem, is dit van uiterste belang dat ons as gelowiges staande bly en getrou aan die Here en Sy woord bly. Hierdie stelling geld vir elke gelowige (geen uitsonderings nie) omrede God met elke gelowige se lewe ‘n doel het. Solank as wat ‘n gelowige nog in hierdie liggaam asemhaal het daardie persoon se lewe nog betekenis. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die volle wapenrusting van God aan te trek, en volheid in voortgesette dade van geloof vir Hom te lewe. Hy is in beheer en dit verg soms geloofsmoed om hierdie feit uit te leef. Die loon sal egter baie groter as enige opofferings aan ons kant wees. Onthou die ewigheid lê voor! Ons lewe op hierdie aarde is maar net ‘n bliep op die skaal van die ewigheid. Wanneer ons a.g.v. ons omstandighede soms wil moedeloos word, moet ons altyd onthou dat daar mense op hierdie aarde is wat baie erger omstandighede as onsself beleef. Ek is nou besig om die DRC se geskiedenis te bestudeer en dit is verskriklik wat sommige van daardie mense beleef het, en wat baie van hulle nog steeds beleef. Baie van daardie mense word in haglikste toestande gebore en gaan net so op die wreedste maniere dood.

Dit is wanneer ek sulke gebeure bestudeer, dat ek weer tot die besef kom dat ons moet bid dat die Here gou Sy koninkryk op aarde moet kom vestig. Slegs wanneer Christus se wederkoms afgehandel is sal daar werklik vrede en rus op aarde wees. Om hierdie rede moet ons voortdurend bid dat die Here moet kom. Daarbenewens moet ons almal op die een of ander wyse met die verkondiging van die Evangelie besig wees. Daar is ‘n vasgestelde getal heidene wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof moet kom en dan eers sal die wegraping plaasvind.
Rom.11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;”
Slegs na afloop van die wegraping sal die Here weer met Israel as volk werk, en die Verdrukking gebruik om hulle tot geloof in Christus te bring en dan eers sal die wederkoms plaasvind. Dit is hierdie feit wat ons behoort aan te spoor om op die een of ander wyse met die verkondiging van die Evangelie betrokke te wees, sodat die volle getal heidene die Kerk binne kan gaan en die Here ons kan kom haal. Dit kan vandag wees. Watse loon sal jy ontvang as dit moet gebeur

Seën groete

Vic

Deel met ander asb.