Straatkinders

Straatkinders

Luk 18:15 “En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf. 18:16 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.”
Hoe mooi illustreer Jesus Christus nie Sy liefde in die bostaande teksgedeeltes nie. Dit is egter maklik om ons eie kinders lief te hê, maar toon ons dieselfde liefde aan die kinders op straat? Mens kan nie beweer dat mens lief vir kinders is, as mens nie die straat kinders ook lief kan hê nie. Jesus Christus was lief vir almal, en het nie een van hulle weggewys nie, so kan ons ook nie een van hulle weg wys nie. Hoe moes ons, in ons sondes, ja en selfs ons sonde van hoogmoed nie vir God gelyk het nie? Hy het egter uit pure liefde aarde toe gekom en vir ons sondes aan die kruis kom sterf en dit terwyl ons nog sondaars was.
Rom 5:8 “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Jesus self het ons beveel om almal lief te hê, selfs ons vyande. (Luk 6:35) Om Jesus se voorbeeld, en direkte opdrag, te verontagsaam is om blatant aan Hom ongehoorsaam te wees , maak nie saak hoe Christelik ons mag dink ons is nie. Is dit ook nie dalk ‘n rede hoekom ons gebede nie soms beantwoord word nie?

Dit is nie te sê dat ons die straatkinders in hulle kwaad moet sterk nie. Soms is dit ‘n groot fout om aan straatkinders geld te gee, veral as mens weet dat hulle iets daarmee gaan koop wat hulle gaan benadeel. Dit kos egter niks om net die tyd te neem om  sulke straatkinders met respek en vriendelikheid te behandel nie. Daai vriendelike glimlag en woord van bemoediging, en selfs vermaning, kan dalk die eerste goeie ding in daardie straatkinders se lewe vir ‘n lang tyd wees. Ons moet as God se verteenwoordigers op hierdie aarde optree, en daar is ‘n groot moontlikheid dat die enigste indruk wat daardie straatkinders ooit van God se liefde te sien gaan kry, moontlik net in ons gesien gaan word. Die vraag is maar net, wat sien daardie kind? Ons moet ook daarteen waak om nie ‘n struikelblok in daardie kind se lewe te wees nie. Om so ‘n kind die heeltyd te behandel asof hy ‘n hond is, en dan verwag dat ons God se goedkeuring gaan ontvang, is om onsself te mislei. Dit plaas ook ‘n struikelblok in die kind se weg, omrede liefdelose optrede die kind weg van die Here sal stoot en nie nader aan die Here sal bring nie. Daar is ‘n verskil tussen ferm optree en haatlike gedrag. Die Here sien hoe ons teenoor daardie kind optree. Hy ken ook alles wat in ons harte aangaan.
Mat 18:5 “En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; 18:6 maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.”
Onthou die Here se woorde: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.” Luk 11:23
Versamel ons saam met die Here, of verstrooi ons deur ons optrede en liefdeloosheid? Onthou, net een van die twee opsies kan waar wees, of versameling of verstrooiing. Wat gaan dit wees?

Nêrens in die Bybel word ons gemaan om meer van onsself as ander te dink nie, die teendeel is egter waar, en dit geld ook vir ons optrede teenoor hierdie straatkinders.
Fil 2:3 “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 2:4 Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.”
Dit beteken nie dat ons sedelose, krimineel, oneerlike en mense wat in die algemeen in sonde bly wandel, as moreel beter as onsself moet reken nie, maar ons moet soos Jesus Christus sonder selfsug vir ander lewe en ons moet hulle belange bo ons belange plaas. Indien ons hulle belange op die hart dra, sal ons hulle waarsku teen die gevare van die weg wat hulle huidiglik bewandel en dit sluit die verkondiging van die Evangelie aan hulle in.  Dit is egter baie maklik om net oor hierdie bevele op te lees, maar dit is geheel en al ‘n ander saak om dit in praktyk toe te pas. Dit staan egter in die Bybel en word van ons, as kinders van God, verwag. Om ander hoër as onsself te reken is nie iets wat die menslike verstand kan, en wil, aanvaar nie. So iets is geheel en al teenstrydig met die vleeslike en sondige begeertes van die mens. Dit is veral waar in gevalle waar die ander persoon hom in die laagste en vuilste vlakke van die samelewing mag bevind. Ons sal slegs hierdie opdrag suksesvol kan uitvoer, deur die krag van die Heilige Gees, en daarom moet ons toelaat dat die Gees ons vul, deur om van alle sonde afstand te doen en as Geesvervulde gelowiges, wat onder die heilige Gees se beheer is, Jesus Christus se opdragte uit te voer.

Indien ons onsself, in hierdie lewe verneder, soos wat Christus gedoen het toe Hy aarde toe gekom het, en tussen ons vuil sondaars kom lewe, en vir al ons sondes betaal het, sal God ons ook net so op die regte tyd verhoog. Ons moet onsself dus verloën en meer soos Jesus Christus word. Die grootste probleem in vandag se kerk, is die feit dat self nie meer gekruisig word en die kerk nie meer die kruis opneem en Jesus volg nie. (Mat 16:24)
Bybelse Christenskap is om ander mense te dien, maak nie saak wie en wat hulle is nie. Dit sluit die straatkinders in! Straatkinders is ‘n hele sendingveld wat oop en bloot voor die gewillige dissipel van Christus lê. Ons hoef nie noodwendig tot die eindpunt van die wêreld te gaan om vir die Here te kan werk nie. Die sendingveld is hier tussen ons! (onthou ware liefde verbloem nie sondes nie, maar spreek dit aan, sodat daardie persoon uit sy ydele lewenswandel gered kan word! Om aan hom te verkondig dat hy wonderlik is, en dit terwyl hy nie wonderlik optree nie, is om te lieg en sulke optrede sal die kind in sy boosheid aanmoedig. Vertel hom dat sy optrede verkeerd is, en dat daar gevolge gaan wees, maar doen dit in liefde met die doel om so kind te red!)

Mat 20:26 “maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. 20:27 En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; 20:28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”
Was Jesus Christus se kruisdood nie die mees uitsonderlike demonstrasie van onselfsugtige liefde en diens aan ander mense nie? Ook het Hy ons beveel om ander met dieselfde oorgawe te dien, net soos wat Hyself  vir ons gedoen het.
Joh 15:12 “Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. 15:13 Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. 15:14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.”

Kom ons neem Jesus se voorbeeld en leerstellings ernstig op en doen wat Hy sê
Joh 13:12 “Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? 13:13 Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. 13:14 As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. 13:15 Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. 13:16 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.”
Baie mense maak deesdae van voete was ‘n bediening op sigself en hulle mis eindelik die les wat die Here aan Sy dissipels wou leer. In die dae van Jesus se aardse bediening het die mense gewoonlik sandale gedra en het nie skoene soos wat ons dit ken gedra nie. Dus as hulle in die stofpaaie geloop het, het hulle voete vol stof geword en het die gasheer wat die ete aanbied gewoonlik ‘n slaaf gehad wat sy gaste se voete gewas het, sodra hulle by die die gasheer se woning opgedaag het. Dit was ‘n praktiese diens wat gelewer is. Die Here het met hierdie les gedemonstreer dat ons, ons medemens moet dien en nie deur hulle gedien moet word nie. Dink net hoe sou die wêreld vandag gewees het, indien ons werklik die die Here se woorde ten harte geneem het en Hom sodoende eerbiedig het?
Mar 9:35 “En toe Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees. 9:36 En Hy neem ‘n kindjie en laat hom in hul midde staan en slaan sy arms om hom en sê vir hulle: 9:37 Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in my Naam, ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het.”

Joh 13:17 “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.”
Mag die Here ons help om te doen wat Hy ons beveel het om te doen, en mag Hy gee dat ons al hoe meer soos Hy sal word. Wat sien die straatkinders as hulle na ons kyk? Onthou ons gaan miskien nooit sien hoe ons optrede daardie straatkinders mag beïnvloed nie, maar ons word beveel om met liefde teenoor hulle op te tree al haat hulle ons daarvoor. Dit is ware Christenskap. Deur net die Evangelie met hierdie straatkinders te deel, is alreeds ‘n onbeskryflike groot seëning en dit is juis waarvoor die Here aarde toe gekom het! Kom ons dink daaroor na en doen wat die Here ons beveel het!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.