Heilige Gees en sonde

Die Heilige Gees se inperking van Sonde

Die wêreld, so boos en onregverdig as wat dit huidiglik voorkom, is geensins so erg as wat dit sou wees indien die Heilige Gees nie sonde tot ‘n mate beperk het nie. Ja, massamoordenaars en diktators soos Stalin, Hitler, Mao Zedong en vele ander was erg genoeg, maar selfs onder diesulke diktators was sake nie so erg as wat dit onder die bewind van die Antichris sal wees nie. Van die begin af, na afloop van die sondeval, is God reeds besig gewees om die volle manifestering van boosheid/sonde in te perk. Indien God nie die volle manifestering van sonde beperk het nie sou die mensdom nou alreeds hulleself uitgewis het.

Met die skryf van hierdie artikel gaan die na ‘n paar wyses waarop God sonde beperk gekyk word. Hierdie is ‘n uiters belangrike onderwerp, want daar gaan ‘n tyd kom, en dit is baie nader as wat sommige mense dink, wanneer God boosheid/sonde nie meer gaan hinder nie en die mensdom, onder bewind van die Antichris, volle geleentheid gee om ongehinderd uiting aan hulle bose begeertes sal gee, en terwyl Hy die wêreld, met die aanbreek van die Verdrukking, vir hulle sonde sal begin straf. Let wel: Nie alle metodes wat die Here van gebruikmaak sal hier genoem kan word nie, anders sou mens ‘n boek moet skryf, maar genoeg sal genoem word sodat die leser self ander voorbeelde kan soek en daaroor nadink.

Dit is belangrik om te onthou, dat God se gedeeltelike verhindering van boosheid/sonde, deel van Sy algemene genade aan die mensdom vorm. Die hele mensdom, ongeag of hulle in Hom glo of nie, trek voordeel uit God se algemene genade. Self die enkele feit dat hulle lewe bevestig hierdie stelling, want dit is God wat immers lewe aan alles skenk en die hele skepping onderhou. Om hierdie rede het God aan Sy dissipels die volgende opdrag gegee, naamlik:
Matt.5:44 “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; 45 sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.”
Binne die raamwerk van God se algehele wil, verskaf Hy reën aan die ongelowige sowel as die gelowige en laat Sy son oor albei skyn. Dit is die Here Jesus Christus wat die hele skepping onderhou. Indien Hy dit nie gedoen het nie sou die hele skepping ongedaan gemaak word.
Kol.1:15 “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; 16 want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.”

Dit is op grond van hierdie feit dat Paulus die volgende stelling aan die ongelowige mense in Listre gemaak het, naamlik:
Hand: 14:16 “Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, 17 al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.”
Om hierdie rede vind ons dat ongelowiges, net soos gelowiges, seëninge soos reën en sonskyn, spys en drank, asook klere en huisvesting ontvang. In die meerderheid gevalle is dit juis die ongelowiges, soos Bill Gates en ander soos hy, wat ‘n oormate van rykdom en aardse seëninge ontvang. Die rede hiervoor is eenvoudig. God weet dat hierdie wêreld vir die ongelowige die beste lewe sal wees wat hy ooit sal kan beleef, en dat die ongelowige, indien hy in ongeloof tot sterwe sou kom, alles sal verbeur en in vir ewig in die poel van vuur gewerp sal word.
Ps.37:1f “Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; 2 want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog. 7 Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie. 9 Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.”
Ook hierdie feit is ‘n uitdrukking van God se genade. Daarenteen maak dit nie saak hoe swaar ‘n gelowige in hierdie lewe mag hê nie, (Paulus was een so voorbeeld), vir hom lê die beste nog voor, en tot so ‘n mate, dat vir die gelowige, hierdie lewe nie met die komende heerlikheid vergelyk kan word nie.

‘n Verdere voorbeeld en ‘n uiters groot tentoonstelling van God se algemene genade, is die feit dat Hy lankmoedig is, en Hy demonstreer hierdie feit deurdat Hy nie alreeds Sy oordeel op die goddelose mensdom uitgestort het nie. (Iets wat Hy wel binnekort gaan doen) God het die mensdom lief, al haat hulle Hom, en dit is Sy begeerte dat nie een mens verlore moet gaan nie.
2Pet.3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Daar kom egter ‘n tyd waarop God wel sy oordeel op die goddelose wêreld gaan uitstort. Vir diegene wat God se genade verag en verwerp het Hy egter die volgende boodskap, naamlik:
Rom.2:4 “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? 5 Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God”

Maar daar is goeie nuus! God het egter in Sy liefde, vir eens en altyd, die probleem van die mensdom se sondeskuld voor Hom, in Sy Seun se voltooide werk aan die kruis opgelos. Al wat die Here van die hulpelose sondaar verwag is dat hy die gawe van die ewige lewe in geloof by God in ontvangs neem deur om doodeenvoudig die Evangelie van God se genade te glo. Niks meer of minder nie. Dit gaan nou nie soseer oor wat die mens met sy sondeskuld moet doen nie, maar wat die mens met die Here Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis doen. Verwerp ‘n persoon die Seun, dan verwerp daardie persoon God en Sy oplossing vir die mens se sondeskuld.
Joh.14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Joh.10:30 Ek en die Vader is een.”
En onthou, om in ‘n werke evangelie of werkheiligheid te glo, is om God en Sy genade te verwerp en deur jou eie pogings jou verlossing te wil bewerkstellig.

God se beperking van sonde en boosheid vorm dus ‘n belangrike deel van Sy algemene genade aan die mensdom. Met hierdie feite as agtergrond, kan ons nou gaan kyk op watse wyses God huidiglik sonde en boosheid inperk.

  • D.m.v. die Heilige Gees: Tydens die Kerk Dispensasie merk ons dat die Heilige Gees die een is wat die die verskyning van die Antichris, asook die meegaande onbeteuelde manifestering van sonde/boosheid teenstaan.
    2Thess.2:6 “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy (die Heilige Gees) wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige (die Antichris)geopenbaar word, hy wat die Here (Jesus Christus) met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 9 hy (die Antichris) wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
    Onthou egter dat die Heilige Gees self God is, en as sulks, is Hy alomteenwoordig en kan die van die aarde weggeneem word nie. Daar kom egter ‘n tyd wanneer Hy uit die weg van ongehinderde boosheid weg geruim sal word, wat sal beteken dat boosheid ongehinderd kan toeneem, en wat op die manifestering van die mees goddelose mens van alle tye, naamlik die Antichris aanleiding sal gee. Dit is in hierdie opsig waarom die Heilige Gees uit die weg geruim sal word, sodat die ongelowige mensdom vrye uiting aan hulle bose begeerlikhede kan gee.
  • God beperk ook sonde deur om dit direk teë te staan: In Genesis merk ons dat Laban herhaaldelik Jakob wou verneuk deur sy ooreenkoms herhaaldelik te verander. In hierdie geval het God direk in Jakob se omstandighede ingegryp deur Laban se planne herhaaldelik ongedaan te maak, naamlik:
    Gen.31:4 “Toe stuur Jakob en laat Ragel en Lea veld toe roep na sy kleinvee 5 en sê vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was met my. 6 En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het; 7 maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie. 8 As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes. En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes. 9 So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee.”

    Ook toe Satan God aangaande Job se lojaliteit aan Hom uitgedaag het, het God direk die perke van Satan se beproewing van Job vasgestel en was Satan nie vry om sy boosheid onbeteueld op Job uit te haal nie. In hierdie opsig het God Satan se boosheid teëgestaan, want indien God Satan nie teëgehou het nie, sou hy seersekerlik Job op die wreedste moontlike wyse gedood het.
    Job 1:10 “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.”
    Op ‘n latere stadium sien ons ‘n soortgelyke voorval, naamlik:
    Job. 2:4 “Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; 5 maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan — waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 6 En die HERE sê aan die Satan: Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe.”
    God laat soms toe dat gelowiges getoets word (ek glo nie daar is een uitsondering nie) maar die doel is altyd om die gelowige se geestelike lewe te ontwikkel, en om die gelowige geleentheid te gee om genadeloon te versamel, asook aan die gelowige ‘n geleentheid verskaf waardeur hy God deur sy lojaliteit kan verheerlik.
    Jak.1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
  • Deur Sy Goddelike voorsienigheid: Ek is ook van mening dat God ook boosheid beperk deurdat Hy mense met spesifieke begaafdhede en talente by geboorte geseën het. Hiermee bedoel ek nie geestelike gawes wat die Heilige Gees tydens wedergeboorte aan die gelowige skenk nie, maar met spesifieke menslike talente en vermoëns wat ‘n gelowige, sowel as ‘n ongelowige persoon mee gebore word, soos byvoorbeeld intelligensie en vindingrykheid. Wanneer ‘n persoon, ongeag van sy geestelike toestand, daardie talente tot voordeel van die mensdom as geheel aanwend, kan dit daartoe aanleiding gee dat boosheid tot ‘n groot mate beperk word, en derhalwe moet dit as ‘n gawe van God se voorsienigheid bestempel word. ‘n Ongelowige persoon mag dalk nie met hierdie stelling saamstem nie, maar dit bly egter ‘n Skriftuurlike feit.
    Jak.1:17 “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.

    En om hierdie rede het geen mens rede tot roem nie, maar behoort eerder die Here te dank en Sy naam te verheerlik.
    1Kor.4:7 “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”
    Een so ‘n voorbeeld, wat direk ‘n impak op geweldsmisdaad gehad het, is die ontdekking van DNA analise. Met die toepassing van DNA analise by misdaadtonele het moorde byvoorbeeld in Amerika, en ander lande, ‘n afname getoon. Misdadigers het besef dat hulle nie nou meer so maklik met misdade kan wegkom, soos wat hulle in die verlede, toe die forensiese wetenskap nie so ver ontwikkeld was nie, kon doen. Hierdie is maar net een faset van hierdie vorm van algemene seëning aan die mensdom. Tegnologiese vooruitgang het die mens se lewe oor die algemeen vergemaklik, en deur die mediese wetenskap is miljoene mense se lewens gespaar wat andersins tot sterwe sou kom.
  • Die Ou Testamentiese profete: Tydens die Ou Testament het die Here van die Ou Testamentiese profete gebruik gemaak om die volk Israel, te oorreed om na die wet van Moses, en die verbond wat hulle met die Here gesluit het, terug te keer.
    Jes.1:16 “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, 17 leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. 18 Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. 19 As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. 20 Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.” God het ook per geleentheid van ‘n Ou Testamentiese profeet gebruik gemaak om die inwoners van Ninevé vir hulle boosheid te waarsku, en sodoende ook boosheid teëgestaan.
    Jona 1:1 “En die woord van die HERE het gekom tot Jona, die seun van Amíttai, en gesê: 2 Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig.”
  • Die Nuwe Testamentiese Predikers: Alhoewel die gawe van die Nuwe Testamentiese profete met die voltooiing van die Skrifte tot ‘n einde gekom het, maak die Here tans van die boodskappe van getroue gelowiges, soos byvoorbeeld Pastore, evangeliste, en mense wat die Skrifte aan ander leer, gebruik om sonde/boosheid teë te hou. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” te lees.) Gelowiges wat as getroue dissipels leef, en wie nie deur die wêreld beïnvloed word nie, is ‘n uiterste belangrike getuienis aan die mensdom dat hulle werke boos is.
    2Tim.4:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”
  • D.m.v. die institusie van menslike regerings: God maak van die institusie van menslike regering gebruik om sonde/boosheid te bekamp. Alhoewel die meerderheid regerings goddeloos is, bekamp hulle wel nog egter tot ‘n sekere mate misdaad. Dit is om hierdie rede dat Paulus die volgende stelling gemaak het, naamlik:
    Rom.13:1 “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, 2 sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. 3 Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; 4 want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. 5 Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. 6 Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. 7 Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.”

    Die Here verwag van gelowiges om ten alle tye die owerhede te gehoorsaam. Slegs indien die owerhede opdragte wat in stryd met God se woord is uitreik moet die gelowige eerder God se woord instede van die owerhede eerbiedig al veroorsaak diesulke optrede dat die regering die gelowige begin vervolg.
    1Pet.4:12 “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. 14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. 15 Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie. 16 Maar wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.”
    As gelowiges, kan ons verwag om toenemend deur die wêreld vervolg te word, soos wat die wegraping nader kom en die wêreld toenemend boser word. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die Evangelie aan almal te verkondig, asook te bid dat die Here die Kerk dispensasie met die wegraping tot ‘n einde bring, anders gaan getroue gelowiges toenemend a.g.v. hulle geloofsoortuigings vervolg word.
  • Die Kerk: Tydens die Kerk Dispensasie werk die Heilige Gees hoofsaaklik in en deur getroue gelowiges wat lede van Christus se liggaam, naamlik die Kerk vorm. Indien gelowiges nie die Heilige Gees bedroef nie, maar eerder toelaat dat Hy in en deur hulle die lewe van Christus aan die wêreld uitleef, dien die Heilige Gees se werking as ‘n invloed ten goede wat tot ‘n groot mate boosheid sal beperk. Ook moet ons nie van die gelowiges se plig om te bid vergeet nie. Ons gaan verbaas wees om te sien tot watter mate boosheid, tydens die Kerk dispensasie, teëgestaan is as ‘n direkte gevolg van gelowiges se gebede. Solank as wat die ware kerk nog op aarde is, weerhou die Heilige Gees die openbaarmaking van die Antichris en die meegaande onbeheerste toename in boosheid. Die rede waarom die Antichris nie voor die wegraping sy verskyning kan maak nie, is omrede elke gelowige wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof kom, met die Heilige Gees verseël is, wat beteken dat wanneer die Heilige Gees uit die weg geruim word, om boosheid sy gang te laat loop, die Kerk ook noodwendig uit die weg geruim moet word. Want dit is deur die Kerk wat die Heilige Gees hoofsaaklik tydens die Kerk Dispensasie werk.
    Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
  • Menslike gewete: God het alle mense met ‘n gewete geskape en alhoewel mens sy gewete kan onderdruk bly dit egter ‘n feit dat die menslike gewete wel ‘n metode is waardeur God sonde teëstaan.
    Rom.2:14 “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; 15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,

Ter Afsluiting: Dit is om hierdie rede dat alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie, wat met die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag begin het, en wat met die Wegraping tot ‘n einde gebring sal word, toelaat dat die Heilige Gees in en deur hulle Sy wil op aarde bewerkstellig. Dit beteken dat die verkondiging van die Evangelie van God se genade, wat die mandaat van die Kerk tydens die Kerk Dispensasie is, aan alle mense verkondig moet word. Dit is nie God se wil dat die Kerk die Koninkryk op aarde moet vestig nie, die Here sal dit self met Sy wederkoms aarde toe bewerkstellig. Tot en wanneer Christus die Sy Messiaanse Koninkryk op aarde vestig, sal die wêreld toenemend boser raak en moet die Kerk in hierdie donker wêreld as ligte skyn. Dit is a.g.v. hierdie feit dat Paulus die volgende vermaninge aan gelowiges gerig het, naamlik:
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”
Sodat ons in die krag van die Heilige Gees die Kerk se mandaat kan uitvoer, naamlik:
Mark.16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Matt.28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Die tyd raak min en ons moet waaksaam wees. Doen alles tot eer van die Here!

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.