Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 4

Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 4

In deel drie van hierdie reeks artikels wat oor die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde handel het ons gesien hoe die Here Jesus Christus se wederkoms sal lyk. In deel vier gaan ons die volgende punte bestudeer, naamlik: 1. Wat dit van die Here Jesus Christus sal vereis om Sy koninkryk op aarde te vestig. 2. Christus sal die weermagte van die aarde verslaan. 3. Daar is ‘n 75 dag transisie periode tussen Christus se wederkoms en die oprigting van Sy koninkryk op aarde. 4. Die oordeel van die nasies. 5. Wat met Satan tydens Christus se duisendjarige Vrederyk op aarde sal gebeur? 6. Hoe lank sal Christus se koninkryk op aarde duur? 7. Wie sal Christus se Koninkryk op aarde bewoon? 8. In hoedanige opsig sal Christus tydens Sy Koninkryk op aarde funksioneer? 9. Op wie se troon en van waar sal Christus regeer? 10. Oor wie sal die Here Jesus Christus regeer? 11. Wie sal onder en saam met die Here Jesus regeer? 12. Deur wat sal Christus se heerskappy gekenmerk word? Die leser word ook ten sterkste aangeraai om die volgende illustrasies sorgvuldig te bestudeer, naamlik. 1. Die sewe dispensasies. 2. Bybelse Verbonde. God se verbond met Israel. 3. Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Verdrukking. 4. Nebukadnesar se droom in Daniël 2 en Daniël se visioen in Daniël 7. 5. Die Opstandings. 6. Daniël se Sewentig Jaarweke. Ek sal met graagte die illustrasie aan diegene wat dit verlang met epos stuur. Stuur net asb u epos adres met die versoek dat ek die illustrasies aan u sal stuur.

Die oprigting van Christus se Koninkryk op aarde:

Wat sal dit vereis?:

1. Dat die Here Jesus Christus liggaamlik na die aarde toe moet terugkeer:

Open.19:11 “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.”
Die Messiaanse Koninkryk van Christus sal nie op aarde opgerig kan word solank as wat die Here Jesus Christus liggaamlik afwesig is nie. Onthou, Christus moet as die tweede Adam oor die aarde regeer omrede die eerste mediatoriale verteenwoordiger op aarde, naamlik Adam, saam met Satan teen God gerebelleer het. Lees gerus die artikel “God se sistematiese oorwinning oor Satan“. Daarbenewens vind Christus se wederkoms in fases plaas.

Fase 1. Christus kom eerstens vir sy heiliges, naamlik die kerk tydens wegraping wat voor die aanbreek van die Verdrukking moet plaasvind. Met hierdie fase van Christus se koms sit Hy egter nie Sy voete op aarde nie, maar kom op die wolke waar alle Kerk Dispensasie gelowiges Hom in die lug tegemoet sal gaan en waarna Hy ons na Sy Vader se woning in die hemel sal neem. (Joh.14:2-3; 1Kor.15:51; 1Thess.4:17)

Fase 2. Christus kom saam met Sy heiliges (die Kerk) wanneer Hy na die aarde toe terug keer om Sy koninkryk op aarde op te rig. Dit is tydens hierdie fase van Sy wederkoms wanneer Hy Sy koninkryk op aarde sal vestig. (Openb.19:11-21; Sag.14:4)

2. Christus moet die aarde se weermagte by Armageddon vernietig:

Openb. 19:17 “En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, 18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. 19 En ek het die dier (die Antichris) en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom (Die Here Jesus Christus) wat op die perd sit, en teen sy leër. 20 En die dier (die Antichris) is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet (die vals profeet)wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. 21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.”
Soos reeds genoem, gaan Christus se wederkoms met geweldige lewensverlies gepaardgaan. Boonop gaan daar grootskaalse skade berokken word. Na beraming sal omtrent ¾ van die aarde se bevolking teen die einde van die Groot Verdrukking gedood wees. Indien ons die wêreld se populasie op 8 biljoen reken dan sal daar na beraming 6 biljoen mense tot sterwe kom. Dit is ‘n astronomiese getal mense wat tydens die Verdrukking en Christus se wederkoms hulle lewens gaan verloor!

3. Daar is ‘n 75 dag transisie periode tussen Christus se wederkoms en die oprigting van Sy koninkryk op aarde:

Dan.12:8 “En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge? 9 En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. 10 Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan. 11 En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig (1290) dae verloop. (Dus is daar 30 ekstra dae na afloop van die Groot Verdrukking wat duisend twee honderd en sestig (1260) dae lank sal duur. Openb.12:6) 12 Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig (1335) daebereik. (30 + 45 wat saam 75 ekstra dae na afloop van die groot verdrukking maak) En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae. 11 En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. 12 Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die illustrasie “75 dae gaping tussen die einde van die Verdrukking en die aanbreek van Christus se Koninkryk” sorgvuldig te bestudeer. Die eerste 30 dae sal aangewend word om die tempel te reinig. Die ekstra 45 dae sal gebruik word om die nasies te oordeel en die Here Jesus Christus se regering/administrasie saam te stel.

4. Die oordeel van die Nasies:

Matt.25:31 “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; 32 en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; 33 en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. 34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. 35 Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; 36 Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. 37 Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? 38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? 39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? 40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. 41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. 42 Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. 43 Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. 44 Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? 45 Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”
Ons moet onthou dat daar verskillende oordele in die Bybel opgeteken is. Eerstens vind die Regterstoel oordeel van Christus na afloop van die Wegraping plaas, waar slegs Kerk Dispensasie gelowiges aan sal deelneem. (2Kor.5:10) Na afloop van die Groot Verdrukking sal daar ‘n oordeel wees waarin al die oorlewende nie Jode (nasies, of te wel heiden nasies), (Matt.25:31-46) oorlewende Jode, (Eseg.20:34-38) Ou Testamentiese, asook Tribulasie gelowiges (Dan.12:1-2; Openb.20:4) geoordeel sal word. Na afloop van die Duisendjarige Vrederyk van Christus sal alle ongelowiges van alle tye voor die Wit Troon Oordeel van Christus moet verskyn, waarop hulle volgens hulle werke geoordeel sal word om hulle straf in die poel van vuur te bepaal. (20:11- 15)

Na afloop van Christus se wederkoms sal die nasies ook beoordeel word, ‘n gebeurtenis wat ook as die Skape en Bokke Oordeel bekendstaan. Hierdie mense word geoordeel op die wyse waarop hulle Israel behandel het, God het belowe dat Hy diegene sal seën wie Israel seën, en diegene sal vervloek wie Israel vervloek. Die ewige straf waarvan in bogenoemde teksgedeelte van gepraat word beteken die ewige straf en nie uitwissing soos wat die Jehova Getuies en Sewedaagse Adventiste verkeerdelik beweer nie. Alhoewel die poel van vuur oorspronklik vir die Duiwel en sy engele voorberei was, sal alle ongelowige mense saam met hom vir ewig daar gepynig word. Beteken dit dat mense se werke gaan bepaal of hulle gered gaan word of nie? Nee, verlossing is altyd op grond van God se genade deur geloof alleen, apart van enige goeie werk af godsdienstige ritueel. Onthou, tydens die Groot Verdrukking sal mense gedwing word om die merk van die dier op hulle voorhoof of regterhand te ontvang. Wanneer so ‘n persoon die merk van die dier aanvaar het sal hy heeltemal aan Satan oorgegee word en sal nooit enige Jood tydens daardie tydperk help nie. Goeie werke behoort die resultaat van die ontvangs van die gawe van die ewige lewe te wees, maar is nie ‘n manier waarop verlossing bekom, of behou kan word nie en daar is geen waarborg dat goeie werke wel sal plaasvind nie. 1Kor.3:11:15 ( Die konteks waarin die Oordeel van die Nasies in plaasvind vind na afloop van die Here Jesus Christus se wederkoms plaas. Die stelling “ geringstes van hierdie broeders van My” verwys na die Jode wat tydens die Groot Verdrukking vervolg sal word. Die wyse waarop die heidene die Israeliete tydens die Verdrukking behandel sal die bewys wees dat hulle die Evangelie van die Koninkryk geglo het, (die dier se merk geweier het) want geen ongeredde persoon (wie die merk van die dier geneem het) sal tydens die Groot Verdrukking dit waag om enige Israeliet te help nie, maar sal eerder help om die Jode te vervolg. Slegs gelowige heidene sal die kans waag om enige Israeliet te help, omrede hulle alreeds die gawe van die ewige lewe ontvang het en in geloof die Jode sal help. Onthou, in die Abrahamitiese verbod het die Here dit duidelik gestel dat Hy diegene wie die Jode seën sal geseën en diegene wat hulle vervloek sal deur Hom vervloek word.
Gen.12:3 “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

Wat sal met Satan tydens Christus se duisendjarige Vrederyk op aarde gebeur?:

Openb.20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.
Satan sal tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus in die bodemlose put toegesluit word en hy sal gedurende daardie tydperk nie in staat wees om die nasies te verly nie. Satan ken die Bybel en hy weet wat in die Bybel aangaande hom voorspel word. Hy glo egter nie God se woord nie, en besef alte goed dat hy tot die einde toe sal moet veg, omrede hy weet wat met hom sal gebeur indien hy sy stryd teen God sou verloor. Danksy God se woord (wat nooit kan misluk nie) weet ons alreeds wat Satan se lot sal wees. Ons weet egter alreeds wie die wenner en die verloorder sal wees en Satan kan niks daaraan doen nie. Hy was alreeds gedoem van die oomblik af toe hy teen God gerebelleer het.

Hoe lank sal Christus se koninkryk op aarde duur?

a. Die eerste fase sal vir ‘n duisend (1000) jaar lank duur.
Openb.20:4 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, (kerk Dispensasie gelowiges) en aan hulle is die oordeel gegee (1Kor.6:3); en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; (gelowiges wat tydens die Verdrukking tot geloof in Christus kom en wat daarna vir hulle geloof gedood sal word) en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” (hierdie stelling vereis dat daar ‘n opstanding van die dode na afloop van Christus se wederkoms moet plaasvind) 5 En die ander dode (die ongelowiges van alle tye) het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”
Bogenoemde teksgedeelte stel dit baie duidelik dat die eerste fase van Christus se ewige koninkryk duisend jaar lank op aarde sal voortduur. Die leser word weer ten sterkste aangeraai om die illustrasie “Die Opstandings” sorgvuldig te bestudeer.

b. Die tweede fase van Christus se koninkryk sal vir ewig voortduur:

Dan.7:13 “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, (Die Here Jesus Christus) en Hy het gekom tot by die Oue van dae, (God die Vader) en hulle het Hom (die Seun)nader gebring voor Hom. (Die Vader)14 En aan Hom (Die Here Jesus Christus) is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
Jes.9:6 “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen. 7 Die HERE stuur ‘n woord in Jakob, en dit val in Israel;”
Die eerste fase van Christus se ewige heerskappy sal ‘n duisend jaar lank duur, en dan die ewigheid inlei en waar Hy saam met God die Vader, as deel van die Drie-Eenheid, Sy skepping sal regeer.
1Kor.15:24 “Daarna kom die einde, wanneer Hy (die Here Jesus Christus) die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat (Die Drie-Enige) God alles in almal kan wees.”

Wie sal Christus se Koninkryk op aarde bewoon?

a. Gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk geleef het:

Openb.20:4a “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee;”
Hierdie teksgedeelte is ‘n direkte verwysing na die gemeentes wat ons in hoofstukke 1 en 2 van die boek Openbaring vind, en handel spesifiek ook gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk tot geloof kom en wat dus deel van Christus se kerk vorm. Onthou die Kerk Dispensasie eindig met die wegraping wat voor die aanbreek van die sewe jaar Verdrukking plaasvind. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Dispensasie van die Kerk” weer te lees.

b. Tribulasie gelowiges:

Dit sluit alle gelowiges wat na afloop van die Kerk Dispensasie, en wat tydens die Verdrukking tot geloof in Christus kom. Hierdie groep mense sal dus nie deel van die Kerk wees nie omrede die kerk alreeds voor die aanbreek van die Verdrukking d.m.v. die wegraping van die aarde verwyder is.
Openb.20:4ff “en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”

c. Ou Testamentiese gelowiges:

Dan.12:1 “En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; (die Groot Verdrukking) maar in dié tyd sal jou volk gered word, (met Christus se wederkoms) elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. 2 En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe (deel van die eerste opstanding) en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (Die Wit Troon Oordeel wat meer as duisend jaar later sal plaasvind en waar slegs ongelowiges deel van sal vorm. Lees gerus weer die artikel “Die Wit Troon Oordeel” en bestudeer ook asb die illustrasie “Die Opstandings”) Ou Testamentiese gelowiges word na afloop van Christus se wederkoms uit die dood opgewek sodat hulle saam met Christus in Sy koninkryk kan regeer. Boonop sal die Apostels ook daar wees om saam met Christus te regeer, naamlik:
Matt.19:27 “Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? 28 En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, (Christus se lank beloofde Messiaanse Koninkryk op aarde) julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel (wat weer in hulle land hervestig sal wees) sal oordeel.”

d. Gelowiges wat die Groot Verdrukking oorleef het:

Matt.25:34 “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”
Hierdie mense sal met hulle nie-verheerlikte liggame in die koninkryk ingaan om weer voort te plant en die aarde te vul. Hulle sal dus nog hulle ou sonde natuur besit en hulle kinders sal eers geloof in die evangelie moet uitoefen alvorens hulle ook wedergebore sal raak.

e. Kinders wat tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus gebore sal word en wat nog steeds ‘n sonde natuur sal besit:

Jes.65:23 “Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ‘n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.
Eseg.47:21 21 En julle moet hierdie land aan julle uitdeel volgens die stamme van Israel. 22 En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef,
wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos ‘n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle ‘n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel.
Sag.10:8 Ek wil vir hulle fluit en hulle vergader, want Ek het hulle losgekoop; en hulle sal net so talryk wees soos tevore.”
Die kinders wat tydens die Dispensasie van die Koninkryk gebore word, sal nog steeds met ‘n sonde natuur gebore word, en hierdie feit verduidelik hoe Satan so ‘n groot weermag kan versamel om na afloop van die duisend jaar teen Jerusalem op te trek. In teenstelling hiermee, sal diegene wat alreeds hulle verheerlikte liggame tydens die eerste opstanding ontvang het nie meer in die huwelik uitgegee word nie en sal ook nie meer voortplant nie. Die Here Jesus Christus het hierdie feit baie duidelik gestel, naamlik:
Matt.22:30 “Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.”

Hoe sal Christus tydens Sy Koninkryk op aarde funksioneer?

Hy sal as Koning regeer:

Openb.19:13 “En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.”
Matt.25:31 “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;”
Jes.9:5 “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — 6 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk,
(wat in die Midde-Ooste op aarde bestaan het)om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”

Op wie se troon en van waar sal Christus regeer?

Die Here Jesus Christus sal op die troon van Dawit sit, en vanuit die stad Jerusalem wat in die Midde Ooste geleë is regeer. Jerusalem is dus ‘n baie belangrike stad in God se berekening, en ons moet nooit hierdie feit vergeet nie.
Jer.33:14 “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda. 15 In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit (die Here Jesus Christus) van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land. (Israel wat in die Midde-Ooste geleë is) 16 In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. 17 Want so sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie ‘n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie;”
Vers 7 verwys terug na 2Sam.7 waar God ‘n verbond met Dawid aangegaan het het nadat Dawid vir die Here ‘n huis wou bou. Die leser word versoek om self 2Sam.7 in die Bybel te lees.Ons moet ook mooi verstaan dat Dawid nooit ‘n koning in die hemel was nie, en hy het ook nooit in die hemel geregeer nie. Sy koninkryk was op aarde en hy het van uit die Stad Jerusalem wat in Israel geleë is oor sy volk regeer. Vir God se belofte aan Dawid om waar te word moet daar een van sy nasate op sy troon regeer. Daardie nasaat is niemand anders as die Here Jesus Christus nie.

Oor wie sal die Here Jesus Christus regeer?

Die Here Jesus Christus sal nie net oor Israel regeer nie, maar Hy sal oor al die nasies van die wêreld regeer, naamlik:
Sag.14:9 “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een.”

Wie sal onder, en saam met die Here Jesus Christus op aarde regeer:

Getroue gelowiges, veral gelowiges wat tydens die Dispensasie van die Kerk gelewe het.
Openb.5:7 “Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; 8 en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. 9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, 10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”
In die brief wat aan die gemeente van Thiatíre, wat vroeg tydens die Dispensasie van die Kerk bestaan het, gerig is het die Here Jesus Christus die volgende belofte gemaak, naamlik:
Openb.2:26 “En aan hom wat oorwin
(fase een van hulle verlossing, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) en my werke tot die einde toe bewaar, (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking, waar gelowiges wat alreeds wedergebore is deur getroue diens, en die doen van goeie werke wat deur die Heilige Gees op hulle harte gelê is genadeloon vir hulleself kan bymekaarmaak.) sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. (genadeloon, wat deur getroue diens verdien word) 28 En Ek sal hom die môrester gee. 29 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
Let op die stelling “ En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar” Getroue gelowiges wie tydens die Dispensasie van die Kerk gelewe het sal die eer ontvang om saam, en onder die Here Jesus Christus oor die nasies te regeer. Die noodsaaklikheid om genadeloon te versamel kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die Bybel sou nie so sterk klem op hierdie feit gelê het indien genadeloon nie so ‘n belangrike rol in die hiernamaals gaan speel nie.

Deur wat sal Christus se heerskappy gekenmerk word?:

Die Here Jesus Christus sal die wêreld in getrouheid en geregtigheid regeer.
Jes.11:1 “Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; 2 en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE. 3 En Hy het ‘n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; 4 maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. 5 En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.”
As ons maar net so ‘n regering in Suid Afrika gehad het.

Ter afsluiting: In die laaste deel van hierdie reeks artikel sal ons die laaste eienskappe van die Here Jesus Christus se Koninkryk op aarde bespreek. Ek besef dat hierdie reeks lank was, en dat die artikels daarin bevat lank was, maar hierdie is ‘n uiterste belangrike onderwerp wat in hierdie reeks artikels maar kortliks aangespreek is en waaroor daar nog baie meer geskryf kan word. Die skrifte gee aan die gelowiges wat dit korrek verklaar ‘n voorsmakie vir wat vir ons en die toekoms voorlê en dit behoort ons tot getroue diens aan te spoor wetende dat die beste nog vir ons voor lê.
En onthou:
Openb.2:26 “En aan hom wat oorwin (verlossing fase een, naamlik wedergeboorte alreeds afgehandel) en my werke tot die einde toe bewaar, (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap waar ons genadeloon deur getroue diens kan bymekaar maak) sal Ek mag oor die nasies gee, 27 en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.”
Onthou, die geskenk van die ewige lewe is absoluut kosteloos en moet net deur geloof aangeneem word. In teenstelling hiermee word genadeloon deur goeie werke verdien en daarom word dit genadeloon genoem.
1Kor.15:58 “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”
Mag die Here gou kom en die kerk d.m.v. die wegraping kom haal. Kom Here kom gou!

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.