'n Profeet soos Moses

‘n Profeet soos Moses

Seker een van die grootste messiaanse profesieë in die Bybel is deur Moses gemaak, wat voorspel het dat God ‘n profeet net soos hyself sal oprig en na wie die volk Israel moes luister.
Deu 18:15 ‘”n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister—
18:16 net soos jy van die HERE jou God by Horeb gevra het toe jy op die dag van die vergadering gesê het: Ek kan die stem van die HERE my God nie langer hoor en hierdie groot vuur nie meer sien nie, anders sterf ek. 18:17 Toe het die HERE vir my gesê: Dit is goed wat hulle gespreek het. 18:18 ‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. 18:19 En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”

Dit behoort ook geen verassing te wees om uit te vind dat Moses, wat een van die grootste leiers in die Ou-testament was, as ‘n tipe van Jesus Christus beskou word nie. As mens die lewe van Moses met die lewe van Jesus Christus vergelyk, sal mens opmerk dat daar minstens vyftig ooreenstemmende gebeurtenisse in hulle lewens is, wat daarop dui dat Moses ‘n tipe van Jesus Christus is. Baie seëninge kan deur die bestudering van tipologie in die Bybel verkry word, sodoende sal die gelowige se geestelike lewe aansienlik verryk word. Kom ons gaan kyk na ‘n paar sulke ooreenkomste uit die lewens van Jesus Christus en Moses.

Net soos Jesus Christus was Moses se lewe as kind ook in gevaar gewees. (Eks 1:16;22; Mat 2:16) Hulle altwee was gebore in ‘n tydperk toe die volk Israel onder die juk van ‘n ander nasie geplaas was, nl Egipte en die Romeinse Ryk . Net soos Jesus Christus is Moses ook deur God uitgekies om as verlosser vir die volk op te tree. (Eks 3:7-10; Hnd 7:25) Net soos Jesus Christus is Moses ook aanvanklik deur sy volksgenote verwerp. (Eks 2:11-15; Joh 1:11; Hnd 7:23-28; 18:5-6) Net soos wat baie Israeliete wat teen Moses gerebelleer het in die woestyn tot sterwe gekom het, so ook het baie Jode, wat Jesus met Sy eerste koms verwerp het in 70nC gesterf  toe Titus, die Romein, Jerusalem verower en ingeneem het.

Gedurende die tydperk van hulle verwerping, deur hulle volksgenote, bedien hulle altwee die heidene en bekom hulle heidense bruide. Die kerk staan as Jesus Christus se bruid bekend en bestaan hoofsaaklik uit heidense nasies met ‘n baie klein minderheid Jode. Jesus is nou huidiglik besig om Sy bruid vir Homself uit die heiden nasies te versamel terwyl die meerderheid van die Jode Hom huidiglik verwerp. (Eks 2:16-21; 2Ko 11:2; Efs 5:25-32)
Nadat Moses vir ‘n tydperk van sy volksgenote geskei was, het hy terug gegaan en sy volksgenote Israel verlos uit die hande van die Egiptenaars uit. Jesus Christus is nou fisies afwesig, maar die Skrifte stel dit baie duidelik dat Hy fisies terug sal kom aarde toe en die volk Israel , ten tye van  Sy wederkoms, van gewisse uitwissing sal red. Altwee word deur Israel aanvaar met hulle tweede komste. (Eks 4:19-31; Rom 11:24-26; Hnd 15:14;17)

Moses, net soos Jesus Christus, was profete. (Núm 34:1-2; Joh 12:29; Mat 13:57; Mat 21:11; Hnd 3:22-23) Hulle altwee was priesters, wat voor God, vir die mense as advokate/bemiddelaars opgetree het, . ( Eks 32:31-35; 1Joh 2:1-2) Net soos Moses dien Jesus ook nou as voorbidder by God vir ons. (Eks 17:1-6; Heb 7:25) Moses het ook as heerser van Israel opgetree en so ook is Jesus Christus Koning en Heerser. (Deut 33:4-5; Joh 1:49)
Net soos Moses, moes Jesus Christus eers sterwe voordat die volk die beloofde land kon ingaan. Gelowiges betree hulle beloofde land , die Hemel, net omdat Jesus Christus aan die kruis vir hulle sondes gesterwe het. (Deut 34:4; Joh 19:28-30) Net soos wat Moses die koper slang in die woestyn op ‘n paal moes verhoog , sodat die Israeliete wat deur die giftige slange gebyt is kon lewe, is Jesus aan die kruis verhoog, sodat almal wat na Hom in geloof gaan die ewige lewe kan ontvang. (Núm 21:9; Joh 12:32)

Moses het die Amalekiete, die vyande van Israel, verslaan deur sy arms omhoog te hou. So was Jesus se arms aan die kruis deur spykers omhoog gehou, en sodoende is ons vyand, naamlik die skuldbrief van ons sondes verslaan. (Eks 17:9-13; Mat 27:35) Moses het twaalf spioene gestuur om die beloofde land te gaan verken. Jesus het twaalf apostels in die wêreld in gestuur om die wêreld te evangeliseer. (Núm 13:2; Mat 10:5)
Vyftig dae nadat Israel uit Egipte getrek het, het God die wet aan Israel gegee en derhalwe het 3000 Israeliete gesterwe a.g.v hulle sondes. Vyftig dae na Jesus se opstanding het God, die genadegawe van die Heilige Gees gestuur en 3000 Israeliete is gered. (Eks 32:28; Hnd 2:41)

Hierdie is maar net ‘n paar van die ooreenstemmende gebeurtenisse tussen die lewens van Jesus Christus en Moses. Die leser word aangeraai om self navorsing oor hierdie onderwerp te doen en daardeur vir hulleself nog meer brood brokkies te ontdek. Verder illustreer die studie van Tipologie, dat die Here Jesus Christus, die sentrale punt in die Ou-testamentiese Skrifte is en dat die hele Bybel deur God geïnspireer is. Dus is dit verkeerd om die Ou-testament as irrelevant af te skryf. 
2Ti 3:16Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,”

Die ooreenkomste soos hierbo uiteengesit is buite die mens se kontrole en beheer en demonstreer dat God in beheer van die mens se geskiedenis is. Verder dien dit as motivering om God se Woord ernstig op te neem en daarvolgens te lewe.

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.