Het Christus Indië besoek?

Het Christus met Sy eerste koms Indië besoek?

Dit verbaas my hoe gereeld mens nog die bewering hoor dat Christus kwansuis met Sy eerste besoek aan die aarde Indië besoek het. In baie gevalle word hierdie leuen as die reine waarheid voorgehou, sonder om eerstens goed daaroor na te dink, of die bewerings agter die stelling na te gaan. Volgens hierdie bewering het die Here Jesus Christus tussen die tydperk toe Hy die Tempel in Jerusalem as kind van twaalf besoek het,(Luk.2:41-52) en met die aanvang van Sy bediening, toe Hy dertig jaar oud was, Indië besoek en daar by die voete van een of ander ghoeroe gestudeer het. Boonop word daar beweer, dat die leerstellings wat Christus in Indië by die ghoeroes geleer het, die fondasie van Sy leerstellings gevorm het. Hierdie Godslasterlike bewering word ook baie maal deur belydende Christene geglo en selfs verkondig. Met die skryf van hierdie artikel sal hierdie leuen vanuit die Skrifte weerlê word.

Hierdie bewerings het ontstaan toe ‘n sekere Nicholas Notovitch in die laat 1800’s beweer het dat hy deur Tibet in Indië gereis het, en deur een van die lamas daar ingelig is dat daar ‘n rekord van Isa, (die Jesus van Islam) in ‘n sekere Hemis-klooster te vinde is. Hierdie dokument is egter nooit aan enige betroubare getuie voorgelê nie. Nicholas Notovitch se storie is later deur ander Europese geleerdes as ‘n bedrogspul afgemaak, en toe Nicholas Notovitch se storie nie met die historiese en argeologiese feite ooreengestem het nie, het hy na bewering self erken dat sy storie ‘n fabrikasie was. In die 1900’s is hierdie bewerings egter deur twee swamis voortgesit, maar weereens is daar nooit so dokument voorgelê nie en daar is toe beweer dat die dokument vernietig is. Sou daar egter so ‘n dokument te voorskyn gebring kon word, sou dit maklik as ‘n bedrogspul uitgewys kan word. Nie slegs die historiese feite, maar ook die Bybel self weerlê hierdie bewering. Nicholas Notovitch, asook die swamis wat hierdie bewering gemaak het, ken nie die Bybel nie en weet nie dat die christus van Islam, naamlik Isa, nie dieselfde persoon as die Here Jesus Christus van die Bybel is nie. Christus was nooit in Indië nie. Hierdie een enkele feit weerlê vir eens en vir altyd die valse bewerings wat aangaande die Christus van die Bybel gemaak is. Maar ons sal verder gaan en puntsgewys (vanuit die Skrifte) hierdie valse bewerings weerlê.

Christus se leerstellings: Die leerstellings wat Christus verkondig het, en wat in die Bybel opgeskryf staan, is net mooi die teenoorgestelde leerstellings as wat mens in Hindoeïsme vind. Die leerstellings wat die Here Jesus Christus verkondig het, toon nie een enkele ooreenkoms met die leerstellings wat mens in Hindoeïsme, Boeddhisme of die Nuwe Era beweging vind nie. Christus se leerstellings was op die Ou Testamentiese Skrifte gebaseer en het op daardie leerstellings voortgebou. ‘n Feit wat Nicholas Notovitch en Swami Abhedananda en Paramahansa Yogananda, wie Nicholas Notovitch se leuens wou voortsit, sou opmerk indien hulle die moeite sou doen om die Bybel te bestudeer. Met Sy besoek aan Jerusalem, toe Hy twaalf jaar oud was, en voordat Hy kwansuis na Indië gereis het om daar te gaan studeer, het die Here die Joodse Skrifgeleerdes (wie hoogs geleerde mense was) met Sy kennis verbyster.
Luk.2:45 “En toe hulle Hom nie vind nie, het hulle teruggegaan na Jerusalem en Hom gesoek. 46 En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47 En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.”
Gegewe hierdie kennis van Hom, hoekom sou Hy dan na Indië moes reis om daar by ‘n ghoeroe, wie maar net ‘n sterflike mens is, en wie se kennis beperk is, te gaan studeer? En waarom het die Here Jesus Christus nooit enige leerstellings wat Hy kwansuis by Sy ghoeroe sou leer in Israel aangehaal en verduidelik nie? Die antwoord op hierdie vrae is eenvoudig. Die Here Jesus Christus, wie God in die vlees is, was nooit in Indië gewees, en het nooit aan die voete van een of ander ghoeroe/mens gestudeer nie. Dit was nooit vir Hom nodig gewees nie.

Christus die skrynwerker nie die wêreldreisiger/geleerde nie: Die mense in die dorp waar Christus groot geword het, het Hom as die arm kind van ‘n skrynwerker geken, nie as ‘n bekende wêreldreisiger, soos wat mens sou verwag indien Hy na Indië gereis het nie.
Luk.4: 22 “En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie? 23 En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook. 24 En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie.”
Mark.6: 3 “Is Hy nie die timmerman, die seun van Maria, en die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon nie? En is sy susters nie hier by ons nie? En hulle het aanstoot aan Hom geneem.”
Die feit dat hulle familiêr met Christus was, wat beteken dat Hy voor hulle groot geword het, het daartoe bygedra dat hulle Hom nie wou aanvaar nie. Vir hulle was Hy maar net die arm skrynwerker en Maria se kind, nie die een of ander bekende wêreldreisiger nie. (iets wat hulle sou erken indien Christus vir jare in Indië gestudeer het.) Self Sy eie familie het gedink dat Hy van Sy sinne beroof was toe Hy met Sy bediening, wat op die Ou Testamentiese profesie aangaande Hom gebaseer was, begin het. Om hierdie rede het hulle Hom gesoek.
Mark.3:30 “omdat hulle gesê het: Hy het ‘n onreine gees. 31 Sy broers en sy moeder het toe gekom, en terwyl hulle buite staan, stuur hulle na Hom om Hom te roep. 32 En ‘n skare het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: U moeder en u broers soek U daarbuite. 33 En Hy antwoord hulle en sê: Wie is my moeder of my broers? 34 En Hy kyk rond na die wat rondom Hom sit, en sê: Dáár is my moeder en my broers! 35 Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.”
Dit was op grond van die feit dat Sy moeder en broers Hom gesoek het, waarna Hy die bostaande uitspraak gelewer het. Hy het geweet dat op grond van die Jode se bewerings Sy ma en broers Hom kom soek het. Indien Hy sou toegee, en saam met Sy moeder gaan, sou Sy bediening gestaak gewees het en sou Hy buite die wil van Sy Vader opgetree het. (dieselfde beginsel geld vir ons. Toe ek myself voorberei het om met hierdie bediening te begin, het baie mense wie na aan my is, my erg gekritiseer. Ek moet egter die Here volg nie mense nie.)

Die Christus van die Bybel het nie ‘n ghoeroe gehad nie: Indien Christus by die voete van ‘n ghoeroe gestudeer het, sou Hy hierdie feit genoem het en ook die leerstellings van daardie ghoeroe verkondig het. Boonop het elke ghoeroe self ook ‘n ghoeroe by wie hy sy leerstellinge geleer het. Christus het egter nooit Sy ghoeroe aangehaal nie. Die Here Jesus Christus het egter herhaaldelik die feit genoem dat Hy van Sy Vader in die hemel afkomstig is en dat Hy slegs verkondig wat Hy by die Vader gehoor het.
Joh.17:1 “Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik —  2 soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. 3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. 4 Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. 5 En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. 6 Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar.” 7 Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. 8 Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.”
Die Christus van die Bybel, wie as God in die vlees (volkome mens en volkome God) aan die kruis vir die mensdom se sondes gesterwe het, is nie dieselfde mistiese christus van die Nuwe Era beweging, wat maar net ‘n uitvloeisel is van die Hindoeïsme wat vanuit Indië afkomstig is nie. In Indië, stel ‘n persoon homself aan vervolging, en selfs die dood bloot, indien daardie persoon die werklike Here Jesus Christus van die Bybel aanneem. Hoekom gebeur dit? Omrede die Hindoes weet dat die Christus van die Bybel nie dieselfde persoon as die mestiese christus van Hindoeïsme of Moslems is nie.

Christus is die groot “Ek Is”, naamlik Yahwe van die Ou Testament:
Die Here Jesus Christus het herhaaldelik na Homself as “Ek Is” verwys wat beteken dat Hy niemand anders as Yahwe (Die selfbestaande God wat geen begin en geen einde het nie) van die Ou Testament is nie.
Joh.8: 23 En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie. 24 Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.
Joh.13:19 Van nou af sê Ek dit aan julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat dit Ek is.”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Moet glo dat Christus God is?” te lees, waar hierdie onderwerp in meer detail bespreek word.) Inteenstelling met Christus se woorde, verklaar die ghoeroes dat hulle mense is wat d.m.v. joga en anders asketiese gebruike ‘n vlak van realisasie bereik het en tot die slotsom en besef gekom het dat Atman (die individuele siel) identies met Brahman (universele siel) is. Hierdeur beweer hulle dat hulle self-gerealiseerde gode is. Dus is die mens besig om opwaarts na God te ontwikkel. In teenstelling met hierdie delusie, het die Here Jesus Christus nooit so ‘n konsep verkondig nie. Hy weet immers dat daar net een God is. Die konsep dat die mens soos God sou word is die eeue-oue leuen wat Satan in die tuin van Eden aan die mens belowe het. Die mens se rebellie het nie van die mens ‘n god gemaak nie, maar het hom eerder in diepe smarte en dood gedompel. (iets waarvoor die mensdom geen antwoord het nie en dien as bewys dat hulle nie gode is of kan word nie.)

Teenstrydige oogpunte aangaande sonde: Christus, as God in die vlees, se hele wese en lewe op aarde, het die sondigheid van die mensdom blootgelê. En dan praat ek nie eens van die Wet self wat die mens se sonde so duidelik blootlê nie. Hierdie feit alleen weerlê die leerstellings wat in Hindoeïsme verkondig word, wat die bestaan van sonde heeltemal ontken. Die ghoeroes beweer dat elke persoon se dharma verskil, en verklaar dat elke persoon self d.m.v. ‘n mistiese reis eenheid mat Brahman moet bewerkstellig. In weerlegging van hierdie valse leerstelling verklaar die Skrifte onomwonde dat die mens in sonde verval het en dat sy hart verdorwe is.
Jer.17:9 “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Boonop het die Here Jesus Christus belowe om die Heilige Gees te stuur om die wêreld van sonde te oortuig, iets wat Hy nie sou kon doen indien sonde nie bestaan nie.
Joh.16:7 “Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; 8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: 9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; 10 en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; 11 en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.”
Boonop draai Christus se dood aan die kruis om die feit dat Hy vir die mensdom se sondes moes sterwe, iets was sinneloos sou wees indien sonde nie werklik bestaan nie.
Kol.1: “19 Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon 20 en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele. 21 Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen 22 in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;”

Christus die enigste Weg na God: Hindoeïsme verklaar dat daar baie paaie na God is, ‘n leuen wat miljoene mense hel toe sleep. In teenstelling met wat die ghoeroes verklaar, stel die Here Jesus Christus dit baie duidelik dat slegs Hy die enigste weg na die Vader is.
Joh.14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Slegs Christus, die Seun van God, en self God, is die Middelaar tussen God en die mens.
1Tim.Tim.2:5 “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,”
Boonop was daar, en is daar, baie ghoeroes maar nog nie een van hulle het ooit uit die dood uit opgestaan nie. Daarenteen is daar slegs een God-Mens, naamlik die Here Jesus Christus, wat slegs eenmaal vir die sondes van die mensdom aan die kruis gesterwe het, en na drie dae uit die dood uit opgestaan het om nooit weer te sterwe nie.
Heb.9:27 “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, 28 so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.”

Reïnkarnasie teenoor Opstanding vanuit die dood: Reïnkarnasie het geen ooreenkoms met opstanding vanuit die dood nie. Die twee konsepte kan nie met mekaar vergelyk word nie en is nie dieselfde gebeurtenisse nie. Wanneer ek praat van opstanding vanuit die dood, dan bedoel ek dat die persoon met dieselfde liggaam waarin hy tot sterwe gekom het, uit die dood uit opstaan, om nooit weer fisies tot sterwe te kom nie. Die delusie van reïnkarnasie kan nie as opstanding uit die dood omskryf word nie. Reïnkarnasie verkondig ‘n aaneenlopende siklus van dood en reïnkarnasie in ‘n ander liggaam in. Proponente van reïnkarnasie beweer dat mense onder hipnose hierdie leerstelling bevestig. Wat hulle egter vergeet, is dat getuienis wat onder hipnose bekom is so onbetroubaar is, dat ons howe getuienis wat onder hipnose bekom is geensins aanvaar nie. Daarenteen is duisende mense se lewens al verwoes a.g.v. valse bewerings wat onder hipnose gemaak is en wat later as heeltemal onwaar bewys is. Mense wat in reïnkarnasie glo verwerp egter die vaste fondament van God se woord, en glo eerder bewerings wat onder hipnose gemaak is (Wat heeltemal onbetroubaar en self vals is) en plaas sodoende die eindbestemming van hulle siele op ‘n fondament sonder grondslag. (Wat rampspoedige gevolge vir daardie persoon gaan beteken.) Daarenteen waarborg die Here in Sy woord dat enige persoon, maak nie saak hoe sondig hy mag wees nie, die gawe van die ewige lewe as geskenk kan ontvang deur dood eenvoudig die Evangelie in geloof te aanvaar. Daarbenewens kan God se woord met sekerheid aanvaar word, omrede elke profesie wat in die Bybel oor Christus se eerste koms gemaak is 100% akkuraat in vervulling gegaan het. Daarbenewens is daar nog baie profetiese teksgedeeltes in die Bybel wat binnekort in vervulling sal gaan, en waarvan ons sonder twyfel die voorbereiding vir die vervulling daarvan alreeds in die wêreldgebeure rondom ons kan waarneem.

Leerstelling aangaande vergifnis: Die ghoeroes vanuit Indië verkondig ‘n voortgesette reïnkarnasie aarde toe waar ‘n persoon kwansuis sy karma moet uitwerk. Hierdie leerstelling gee dus geen oplossing vir sonde nie en propageer dit eerder. Hindoeïsme beweer byvoorbeeld dat ‘n verkragter in hierdie lewe, as die slagoffer van ‘n verkragter in die volgende lewe moet reïnkarneer, wat weer op sy beurt ‘n verdere slagoffer van verkragting vereis. Reïnkarnasie is nie ‘n oplossing van sonde nie maar propageer eerder ‘n eindelose kringloop van misdadiger en slagoffer wat aan niks anders as ‘n bose kringloop van sonde (en lyding) aanleiding sal gee nie. Daarenteen verskaf God, in Christus, die oplossing vir die probleem van sonde, en bied aan almal die gawe van die ewige lewe op grond van Sy genade deur geloof in Christus en Sy voltooide werk aan die kruis.

Ter Afsluiting: Indien die Here Jesus Christus in Indië of Tibet onder ‘n ghoeroe gestudeer het sou mens verwag dat Hy daardie feit tydens Sy bediening op aarde sou meld. Iets wat Hy nooit gedoen het nie. Boonop sou Hy die leerstellings wat Hy in Indië of Tibet geleer het aan Sy dissipels in Israel verkondig het. Iets wat Hy nooit gedoen het nie. Inteendeel, die leerstellings wat Christus verkondig het is presies die teenoorgestelde as wat die ghoeroes vanuit Indië verkondig. Christus se leerstellings kan nie met die van die ghoeroes in Indië vergelyk word nie. Dit is twee heeltemal verskillende leerstellings. Die verskil tussen wat Christus verkondig het, en die leerstellings wat die ghoeroes uit Indië verkondig het, is letterlik so groot soos die verskil tussen hemel en hel. Alle ghoeroes wat alreeds tot sterwe gekom het, het alreeds hierdie feit op die harde manier geleer en hulle sit nou in die hel in afwagting van die Wit Troon Oordeel wanneer hulle vir ewig in die poel van vuur gewerp sal word. (Die leser word aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel” te lees.)

Die Nuwe Testament is ‘n rekord van ooggetuies wat gesien en gehoor het wat die Here Jesus Christus verkondig het. Boonop was Sy broers, wie ook a.g.v. hulle familiariteit met Hom, (omrede hulle saam met Hom groot geword het) op daardie stadium ongelowig, en het slegs na Sy opstanding wedergebore geword. (iets wat nie die geval sou wees indien Hy in Indië gestudeer het nie. Indien Christus in Indië was, sou Sy broers aan Sy lippe gehang het, iets wat nooit gebeur het nie.) Daar is ook nog nooit een enkele dokument of enige ander bewysstukke te voorskyn gebring om te bewys dat die Here Jesus Christus in Indië was nie. Boonop wil dit voorkom of Nicholas Notovitch sy kennis aangaande Christus vanuit die Koran bekom het en nie vanuit die Bybel nie. Die Christus van die Koran is nie dieselfde persoon as die Here Jesus Christus van die Bybel nie. (Die Moslems se Koran verklaar onomwonde dat Christus nie God in die vlees is nie maar slegs ‘n menslike profeet was. Die Bybel weerlê egter hierdie leuen, en hierdie feit dien as bewys dat die Christus van die Bybel nie dieselfde Persoon as die christus van Islam is nie.) Indien Nicholas Notovitch (en Swami Abhedananda en Swami Paramahansa Yogananda, wie hierdie leuen voortgesit het, nadat dit alreeds as vals uitgewys is) die Bybel bestudeer het, sou hulle heel waarskynlik nooit hierdie fabel opgemaak het nie. Hulle kennis aangaande die Christus van die Bybel en die christus van die Koran is so beperk gewees dat hulle nie eens die verskil tussen die twee persone agtergekom het nie. Dit is selfs nog ‘n groter tragedie dat daar vandag belydende Christene is wat hierdie leuen glo en self verkondig!

Die valse bewering dat Christus in Indië was word heeltemal deur die Nuwe Testamentiese rekord weerlê. Die Skrifte stel dit duidelik dat Christus wel as kind Egipte toe was. Indien Hy in Indië was sou die skrifte dit gemeld het. Daar is egter geen rede waarom Christus Indië toe moes gaan nie. Die ghoeroes in Indië kon Hom niks leer nie. Inteendeel, die ghoeroes sou baie by Hom kon leer! Dit is ‘n godslasterlike leuen om te beweer dat Christus in Indië by die ghoeroes gestudeer het. En wat sou hulle Hom kon leer. Hy is God en alwetend! Christus se leerstellings was ‘n verdere ontwikkeling van die Ou Testament leerstellings en was daarop gebaseer. Die Ou Testament het egter niks met Hindoeïsme in gemeen nie en verbied egter hulle leerstellings wat afgodery insluit! Dit is my bede dat hierdie hierdie artikel meer lig op hierdie onderwerp werp. Christus was nooit in Indië gewees nie!

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.