Val in die Gees?

Val in die Gees?

Vraag: Is dit skriftuurlik om in die Gees te val?

Antwoord: Die vraag wat ons hier moet beantwoord is of die Apostels van Jesus ons in enige plek in die Bybel beveel het om in die Gees te val? Die antwoord is nee, ons word nêrens in die Bybel so ‘n opdrag gegee nie. Ons word wel beveel om in die Gees te wandel. Die vraag wat ons dan moet vra, is hoe ‘n mens in die Gees wandel? Kom ons gaan na die Skrifte vir die antwoord.

Johannes 15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Hier sien ons dat die Here ons die opdrag gee, om in Hom te bly, en dan gee Hy aan ons die versekering dat ons veel vrug sal dra. Is deel van die vrug dra om in die Gees te val soos wat sommige mense beweer? Vir ‘n antwoord gaan ons weer na die Skrifte om te sien wat die vrugte is waarvan die Here hier van praat.
Galasiërs 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Efesiërs 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
Ek kan baie ander verse hier byvoeg, maar nêrens is val in die Gees een van hulle nie. Ek vind dit net vreemd dat die Heilige Gees wat die Skrifte geïnspireer het, nêrens die moeite doen om ons te beveel om in die Gees te val nie. Hoekom nie? Want val in die Gees is nie ‘n vrug van die Gees nie. Die teendeel is egter waar. Die Heilige Gees wil ons meer soos Jesus Christus maak en ek kan geen plek in die Bybel vind waar Jesus in die Gees geval het soos wat deesdae verkondig word nie. Die Bybel het wel baie te sê oor die vrugte van die Gees

Galasiërs 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Efesiërs 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”                                                                                  Weereens, waar het Jesus loop en rondval terwyl Hy hier op aarde was? Die antwoord is nêrens. Ek het al gesien hoe die helpers by sulke byeenkomste moet rondloop en handdoeke op die vrouens gooi, omrede hulle op onbetaamlike wyse geval het. Dink vir jouself, of die Here sal toelaat dat ‘n vrou op ‘n onbetaamlike manier val net om te bewys dat sy deur die Heilige Gees gesalf is? Die Skrif sê aan my dat selfbeheersing en geregtigheid vrugte van die Gees is. Sal die Heilige Gees, wat God self is, en Heilig is, mens so laat val dat hulle nie eers hulle self kan toe hou nie? Absoluut nie!! En wat het geword van selfbeheersing? Dit is duidelik dat sulke mense nie onder hulle eie beheer is nie. Dit geld vir die sogenaamde dronk word in die Gees. Weereens, impliseer dronk in die gees die feit dat die persoon nie beheer oor homself het nie. Weer ‘n gebrek aan selfbeheersing! ‘n Persoon wat in die “Gees val” tree direk in stryd met dit wat die  Here in Sy woord beveel om te doen, op en dit is om in die Gees te wandel, wat beteken dat ons selfbeheersing as vrug sal manifesteer. Die sogenaamde val in die Gees kom die van die Here af nie en is ook nie ‘n Bybelse leerstelling nie.

Om deur die Gees gelei te word beteken nie om rond te val en rukkings te kry nie. Om deur die Gees gelei te word, beteken dat Hy ons lewenswandel toenemend heilig, wat niks anders as heiligmaking is nie. Boonop sal die Heilige Gees ons van sonde oortuig en verwag om met daardie sonde te breek en belydenis vir ons sondes te doen. Heiligmaking (fase twee van ons verlossing) volg direk na wedergeboorte (fase een van ons verlossing) en die Heilige Gees se doel is om die gelowige toenemend soos die Here Jesus Christus te maak. (Lees asb die artikel “Drie fases van Verlossing“) Dit beteken dat ons Christus se voorbeeld, soos wat Hy dit in die Skrifte vir ons gelos het, sal navolg. Christus het egter nêrens vir ons (in die Skrifte) ‘n voorbeeld gelos, of ‘n opdrag gegee om in die Gees te val nie. ‘n Ernstige weglating indien Hy wou hê dat ons in die Gees moes val! Die Heilige Gees sal jou na die waarheid lei. Die Woord van God (die Bybel) is die waarheid en die Bybel leer nêrens dat gelowiges in die Gees moet val nie! Vermy buite Bybelse leerstellings, vleeslike manifestasies en buite Bybelse profesie! Dit kan katastrofies vir ‘n persoon se geestelike lewe wees. 
1 Thess. 4:7 “Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.
2 Thess. 2:13 Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid,
Hebreërs 12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”

Mens is nie geestelik om in kerkdienste neer te slaan nie. ‘n Persoon wat Geesvervuld is, is iemand wat die vrugte van die Gees in sy lewe manifesteer, wat ‘n heilig lewe insluit en die Woord van God eerbiedig. So ‘n persoon sal die Gees volg en goeie werke voortbring, dus sal hy meer soos Jesus Christus wees. Dink vir jouself of die Here Jesus Christus ooit so ‘n voorbeeld aan ons gestel het toe Hy hier op aarde was? Nêrens in die Bybel sal jy lees dat Jesus of enige van Sy Apostels so opgetree het nie! Hoekom moet ons dit nou doen? Kry al jou leerstellings uit die Bybel uit en nêrens anders nie, anders gaan dit tot ernstige dwaleerstelling lei. (ongelukkig is dit alreeds die geval in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom. Soms wil dit voorkom of sekere gedeeltes van die belydende Christendom meer in gemeen met die Nuwe Era beweging as Skriftuurlike Christendom het!)
Kolossense 1:9 “Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, 1:10 sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,
2:3 in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.
3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,”

Verder is val in die Gees maar net vleeslike manifestasies wat nie in werklikheid geestelik is nie. (en wat ook in oosterse gelowe soos Hindoeïsme en die Nuwe Era Beweging voorkom) Kyk maar net hoe hierdie mense optree, dan sal jy gou tot die gevolgtrekking kom dat dit nie die werk van die Heilige Gees is nie. Hierdie manifestasies kom in baie ander gelowe te voorskyn, en soos reeds genoem, veral onder die oosterse godsdienste en die Nuwe-Era beweging. Ek het al beeldmateriaal gesien waar ‘n persoon wat met die “ouija board” speel en dan deur ‘n bose gees oorval word, wat presies dieselfde manifestasies getoon het as persone wat beweer dat hulle in die Heilige Gees geval het. As daar nie ‘n baie duidelike Bybelse mandaat vir ‘n leerstelling vanuit die Bybel geregverdig kan word nie, sal ek sulke leerstellings onomwonde verwerp, en my bepaal by die dinge wat die Here baie duidelik in Sy woord aan ons beveel het om te doen.
2 Timoteus 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Mense wat hierdie valse leerstelling verkondig, moet asb een duidelike bevel vanuit die Bybel kan gee waar ons beveel word om in die Gees te val. Daar is nie so ‘n teksgedeelte nie, want God het ons nie beveel om so op te tree nie. My raad aan jou sal wees, om seker te maak dat jy jou Bybel ken, en gehoorsaam slegs dit wat die Here jou in Sy woord beveel om te doen en niks anders nie.

Die dwalleerstelling, van val in die Gees, kom ook direk met die Bybel in botsing, waar ons beveel word om in die geloof te wandel en nie op sig nie! Mense wat op sogenaamde geestelike manifestasies vertrou, as bewys dat hulle gered, of geestelik is, stel hulleself oop vir ernstige misleiding. (en demonstreer inwerklikheid hulle gebrek aan geestelike groei wat onkunde omtrent die Bybel insluit!) op sulke manifestasies staat te maak, as bewys van wedergeboorte, is om die duidelike Bybelse leerstellings oor geloof te ignoreer wat ernstige gevolge kan hê.
2 Korintiërs 5:7 “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”

Ter Afsluiting: Ons moet dit in gedagte gehou, dat niemand gered word deur om in die Gees te val nie. Mense word gered deur die aanhoor en glo van die Evangelie. Die mandaat van die Kerk is nie om mense in die Gees te laat val nie, maar om die Evangelie aan hulle te verkondig, wat beteken dat so ‘n persoon by sy volle verstand moet wees, sodat hy die Evangelie (wat aan hom verkondig word) kan verstaan en glo. Dit is wat die Here ons beveel het om te doen, en nie om mense in die Gees te laat val, waar hulle nie by hulle volle sinne is nie! Die Evangelie het niks met val in die Gees te make nie, net so min as wat die Skriftuurlike gebaseerde Christendom (ware Christendom) enigsins iets met die val in die Gees te doen het. My raad. Bly weg van sulke dinge af!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.