Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom

Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom

Daar is deesdae baie mense wat die term “die koninkryk” gebruik, en dit veral as dit by preke, konferensies en boeke kom waar die hoorders aangemoedig word om ‘n sekere dorp en of stad vir Christus te wen. Soms word daar byvoorbeeld verkondig, dat die Here Jesus Christus nie fisies aarde toe terug sal keer, alvorens die Kerk die wêreld vir Christus gewen het nie. Verder word daar verkeerdelik verkondig, dat omrede ons nou in die koninkryk is, daar geen armoede, siektes en sosiale probleme behoort te wees nie en dat dit die Kerk se plig is om die wêreld van hierdie euwels te red, omrede God kwansuis hierdie mandaat aan die Kerk gegee het. Hierdie terme en uitsprake klink eerbaar, maar voordat ons deur hierdie slagspreuke meegesleur word, is dit egter belangrik dat ons vasstel wat die spreker met die term “die koninkryk” bedoel en of hierdie koninkryk waarvan hierdie mense praat dieselfde Koninkryk is as wat die Bybel van praat.

Dit is vir alle gelowiges, wat hulle geloof op die Bybel baseer, van uiterste belang om kennis te dra van hoe groepe soos die Nuwe Apostoliese Reformasie (NAR), Kerk Groei Beweging, Woord-Geloof Beweging, asook die Ontluikende Kerk die term “Die Koninkryk” misbruik om hulle hoorders na die onskriftuurlike siening van hulle idee van die Koninkryk, naamlik hulle eie Koninkryksvisie /sosiale Evangelie te verlei, weg van wat die Bybel werklik oor die onderwerp van die Koninkryk te sê het.

Die feit dat daar tans twee verskillende konsepte of leerstellings van die koninkryk verkondig word, kan moontlik as ‘n skok vir baie Christene kom, maar dit is egter ‘n feit dat daar wel deesdae twee verskillende konsepte van die Koninkryk verkondig word. Die een is op die Skrif gebaseer en kan as die Koninkryk Kom konsep of leerstelling omskryf word. Die Koninkryk Kom leerstelling word slegs vanuit die Bybel afgelei, en word daar geensins van buite Bybelse leerstellinge, openbarings of profesieë gebruik gemaak om hierdie leerstelling te formeer en verdedig nie.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Met hierdie siening word daar op die fisiese komende koninkryk van Jesus Christus gewag, wat self deur Jesus Christus opgerig sal word en nie deur die Kerk nie

Die tweede konsep of leerstelling kan as die Koninkryk Nou Leerstelling omskryf word, waar daar van buite Bybelse profesieë en openbarings wat deur sogenaamde Nuwe Profete en Apostels gegee word, wat beweer dat die Bybel nie volledig is nie, en dat die mens op nuwe profesieë en openbarings staat moet maak om te weet wat God nou in die Kerk doen. Skielik is die Bybel nie meer genoeg nie, ons het nou tydens die Post Apostoliese tydperk nuwe apostels en profete nodig! 2Ti 3:16 soos hierbo weergegee weerspreek egter hierdie bewering. Ons bevind onsself nou in die Post Apostoliese tydperk van die Kerk waar die Skrifte volledig aan die mensdom gegee is en derhalwe is daar nie meer die ampte van Apostels en Nuwe Testamentiese profete nie! Mat 6:10 word soms deur die Koninkryk Nou proponente aangehaal as bewys dat die Kerk die plig het om God se koninkryk op aarde te vestig, sodat Sy wil hier op aarde sal geskied, net soos wat dit in die hemel die geval is.
Mat 6:10 “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
Indien die konteks waarin hierdie teksgedeelte voortkom bestudeer word, sal ons gou opmerk hoe slinks die proponente van die Koninkryk Nou leerstelling die teksgedeelte uit konteks aanhaal en verdraai om dit te kry om te sê wat dit nie in werklikheid sê nie. Dit is opmerklik dat die Here Jesus Christus Sy dissipels leer hoe om te bid (Sien Lukas 11:1-2, waar die dissipels Jesus Christus gevra het om hulle te leer hoe om te bid en waar Jesus hulle basies dieselfde gebed leer.) Die dissipels word aangesê om na die Vader te bid, sodat Hy Sy koninkryk op aarde sal vestig en dat Sy wil dan op aarde sal geskied, net soos wat dit huidiglik in die hemel die geval is. Nêrens word die dissipels aangesê om te bid dat die Kerk die koninkryk op aarde moet vestig nie. Ons moet bid dat God Sy koninkryk op aarde vestig nie die kerk nie. (Indien mens na die belydende Christendom om ons kyk, dan is dit baie opmerklik dat God se wil nie eens huidiglik in Sy Kerk op aarde volkome gehoorsaam word nie!)

Gelowiges wat hulle leerstellings slegs op die Bybel baseer, het nog altyd geglo dat Mat 6:10 deur die gelowiges aan God gerig behoort te word, en nie vir die kerk om God se koninkryk op aarde te vestig nie. Koninkryk Kom proponente (waarvan ek een is) glo dat die Messiaanse koninkryk vir eers uitgestel is, omrede die volk Israel hulle Messias en Sy aanbot vir die Koninkryk verwerp het, en derhalwe  Hy sal eers na afloop van die Groot Verdrukking Sy teokratiese koninkryk self op aarde vestig. Intussen is Hy egter nou besig om die Kerk uit die wêreld uit te roep soos wat die Evangelie aan die mensdom verkondig, en geglo word.
Kol 1:13 “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,”
Daarna sal Jesus Christus self Sy fisiese koninkryk, na afloop van die Groot Verdrukking en voor die aanvang van die duisendjarige vrederyk, op aarde kom vestig.
Op 19:15 “En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.”
1Ko 15:24 “Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 15:25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.”
Na afloop van die duisendjarige vrederyk, waar Jesus Christus fisies vanuit die huidige stad Jerusalem die wêreld regeer het, sal Hy die koninkryk aan God die Vader oorhandig. God verslaan Sy vyande en nie die kerk nie. (en dan eers sal God se wil op aarde geskied net soos wat dit huidiglik die geval in die hemel is!) Die Bybel stel dit verder baie duidelik dat die Duiwel huidiglik tydelik heerskappy oor hierdie aarde gegee is.
1Jo 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”
En derhalwe is ons vreemdelinge en bywoners in hierdie bose wêreld met sy bose wêreld sisteem.
Heb 11:13 In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.
1Pe 2:11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;”

Mense wat die Koninkryk Nou leerstelling verkondig verdraai Mattheus 6:10 om te leer dat daar van die Kerk verwag sal word om die antwoord op hierdie gebed te bewerkstellig, maar dit is opmerklik dat die gebed aan die Vader gerig word en nie aan die Kerk nie, en dat dit van God afhang wanneer Hy Sy koninkryk op aarde gaan vestig. Jesus het dit duidelik gestel, dat die dissipels hulle gebed aan God moet rig, sodat Hy Sy koninkryk op aarde kom vestig. ‘n Koninkryk wat nog nie gekom het nie, maar wat nog in die toekoms opgerig sal word. Die fisiese koninkryk van Christus is nog nie op aarde gevestig nie, en om van die Kerk te verwag om nou die koninkryk op aarde te vestig is om buite God se wil op te tree en is ‘n vorm van eiewaan en rebellie. Die Kerk sal nie die Koninkryk op aarde vestig nie, omrede dit nie huidiglik God se wil is om die Sy fisiese koninkryk op aarde te vestig nie, want die meeste mense, insluitende belydende Christene, verkies om in duisternis te leef. God self sal Sy koninkryk oprig en nie die Kerk nie. Die Koninkryk Nou leerstelling word al lank verkondig en word deur verskeie denominasies en bewegings in geheel of gedeeltelik ondersteun. Hierdie leerstelling is ook een van die vinnigste groeiende valse leerstellings in die Christendom wat nog tot ernstige verleiding en ontnugtering gaan lei.

Voordat ons die Koninkryk Nou Leerstelling met die Bybel, wat die komende koninkryk van Christus voorspel, vergelyk moet ons net eers kortliks na nog ‘n teksgedeelte gaan kyk, wat gereeld deur die proponente van die Koninkryk Nou Leerstelling, as bewys aangehaal word, dat die Kerk gesag op aarde het om die wêreld vir Christus oor te neem en die koninkryk hier te vestig alvorens Jesus se wederkoms sal plaasvind.
Mat 16:19 “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
As ons bostaande teksgedeelte mooi bestudeer, sal ons opmerk dat die Here Jesus Christus nêrens in hierdie teksgedeelte aan die Kerk die mandaat of die gesag gee om goewermente, besighede, lande of dorpe oor te neem en ‘n fisiese koninkryk op aarde te vestig (of bind) nie. Indien dit in werklikheid die geval is dat die Kerk oor die mag besit om lande en goewermente te bind dan doen hulle maar ‘n powere werk. Kyk maar hoe sleg dit huidiglik in die wêreld gaan en hoe vinnig sake agteruitgaan! So wat beteken die leerstelling van die sleutels dan? Die sleutels is eerstens aan die apostels en deur hulle na die leierskap van die Kerk gegee om die kerk te administreer. Dit is aan die Kerk gegee om die Evangelie te verkondig en diegene wat die Evangelie glo, as geregverdig te verklaar, en dus word hulle as burgers van die hemel bestempel of gebind. Verder kan gelowiges uit die gemeente gesit word a.g.v sonde, valse leerstellings verkondig, asook valse profesieë maak. Dus is die gesag aan die kerk leierskap gegee om kerklike tug as bindend te beskou asook die tugmaatreëls op te hef (ontbind) indien die gelowige tot bekering kom en kan hy weer tot die gemeenskap toegelaat word. Mat 16:19 het niks met die vestiging van ‘n fisiese koninkryk op aarde te make nie! Dit is egter baie belangrik om te besef, dat die uitsprake of besluite wat die apostels gemaak het, slegs bindend was, solank as wat hierdie besluite in ooreenstemming met God se geopenbaarde wil (Die Skrifte) gemaak is. Dus kon hulle slegs iets bind as dit alreeds in die hemel gebind was, en iets ontbind as dit alreeds in die hemel toelaatbaar was.

Kom ons vergelyk die Koninkryk Nou leerstelling met die Koninkryk Kom leerstelling soos wat Jesus Christus verkondig het.

1. Koninkryk Nou leerstelling: Die Kerk word aangesê om alle sisteme van heerskappy (Goewermente) oor te neem deur hulle met gelowiges te vul. Dus moet die Kerk beheer van alle gesaghebbende posisies in die wêreld bekom, dit sluit dorpe en stede in. Slagspreuke soos “Pretoria vir Christus” of “Paarl behoort aan Christus” word dan gereeld as slagspreuke aangewend op mense op te roep ens.

Koninkryk Kom leerstelling: Die Here verwag van die Kerk om met die verkondiging van die Evangelie besig te wees en op die uitkyk vir Sy skielike koms vir hulle te wees.
1Ts 1:10 “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.
Tit 2:13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,” 
(Lees asb die artikel “Die Wegraping” vir meer besonderhede oor hierdie onderwerp.) Maar wat is die mandaat van die Kerk tydens die Kerk Dispensasie?
Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Nadat die Kerk die Evangelie aan ongeredde mense verkondig het, moet die Kerk toegewyde dissipels van al die nuwe gelowiges maak. Dit is die mandaat van die Kerk!
Mat 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Die Kerk moet as sout, en lig, in ‘n donker goddelose wêreld dien. (‘n wêreld wat toenemend donkerder en goddeloos sal raak, net soos wat ons alreeds orals rondom ons kan waarneem!)
Mat 5:13 “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. 5:14 Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 5:15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. 5:16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”
Die Here verwag van die Kerk om met Sy opdragte aan die Kerk besig te wees, en Hy sal die wêreld met Sy wederkoms in ‘n beter plek kom verander, slegs wanneer Hy met Sy wederkoms, Sy fisiese koninkryk op aarde kom vestig, wanneer die duisendjarige vrederyk sal begin, en wat die ewigheid sal voorafgaan, en inlei.
Dan 2:44 “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan 2:45 net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande (sonder enige menslike hulp) ‘n klip (Die Here Jesus Christus) van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar. ”
1Ts1:10 “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”
Op 21:5 “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”
Dit is opmerklik dat die Here nêrens aan Sy dissipels die opdrag gegee het om die wêreld te verower en ‘n Messiaanse koninkryk op aarde te vestig nie!

2. Koninkryk Nou Leerstelling: Van hierdie groepe verkondig, dat vir die Koninkryk Nou Leerstelling om suksesvol te wees, daar ‘n Christelike wêreld goewerment of goewermente moet wees, wat onder die beheer van Christene moet wees, en hierdie wêreld goewerment moet ook deur Christene polisieër word. Daarom is dit van uiterste belang dat daar ‘n universele Christelike Koninkryk nou op aarde gevestig word. Omdat baie van hierdie mense glo dat ons tans in die koninkryk van God is, is dit net logies dat die Kerk nou moet regeer. Met die gesag wat die Kerk kwansuis van Christus ontvang het, word daar dan verkondig dat ons die wêreld vir Christus moet terug wen, nie net deur gebed en Evangelisasie, soos wat die Here ons beveel het nie, maar deur ekonomiese, politieke en sosiale prosesse en sosiale hervormings. (Wat ekumeniese samewerking tussen verskillende groepe, wat verskillende leerstellings verkondig insluit en wat deur die Bybel verbied word. )
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 4:5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.
1Ti 5:22 Moenie haastig iemand die hande oplê nie, (as ‘n teken van gemeenskap, wat leerstellige gemeenskap insluit) en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein. (Om willens en wetens valse leerstellings aan te hang, en te ondersteun, is ook ‘n sonde!)

Koninkryk Kom Leerstelling: Volgens hierdie siening, sal daar nie ‘n universele aardse Christelike goewerment wees, wat onder beheer van die kerk sal staan nie. Christus sal met Sy wederkoms, Sy fisiese verskyning op aarde maak, en persoonlik self Sy koninkryk op aarde, onder Sy direkte beheer, vestig en nie voor die tyd nie. Die Bybel stel dit baie duidelik dat die heerskappy op Christus se skouers rus en nie op die Kerk nie.
Jes 9:6 “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— 9:7 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid (‘n Fisiese troon wat op aarde sal wees, net soos koning Dawid ‘n aardse troon gehad het) en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”
Solank as wat Jesus Christus nie vanaf die herstelde troon van Dawid, op aarde, die wêreld fisies regeer nie, sal daar nie ‘n ware Christelike goewerment op aarde tot stand kan kom nie. Dit gaan God wees wat Sy teokratiese koninkryk op aarde vestig, nie die Kerk nie.
Daar sal egter ‘n ekumeniese vorm van Godsdiens ontstaan, wat op dwaalleer gebaseer is en wat die oorgrote meerderheid van die belydende Christendom sal insluit, wat sal uitloop op die een wêreld godsdiens en regering van die Antichris, wat eers na afloop van die Groot Verdrukking, met Jesus Christus se wederkoms, verslaan sal word.
2Ts 2:3 “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom (die wegraping) en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (Die Antichris)2:4 die teëstander wat hom (hy is ‘n bose persoon en leier oor ‘n bose sosialistiese wêreld sisteem) verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 2:5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 2:6 En nou, julle weet wat hom teëhou, (Die Kerk, deur wie die Heilige Gees werksaam is. Solank as wat die ware Kerk nog op aarde is sal die Heilige Gees die verskyning van die Antichris verhoed/teëhou.) sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; (die ware Kerk wat d.m.v. die wegraping van die aarde weggeruim sal word) 2:8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word,(die Antichris) hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, (na afloop van die Groot Verdrukking) 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. (Iemand wat nie werklik die waarheid, soos wat dit van God d.m.v. die Bybel afkomstig is, werklik glo nie sal ‘n gees van dwaling ontvang omrede hulle valsheid lief het) 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (God is waarheid, en derhalwe moet alles wat ons doen en leer in waarheid geskied. Die valse profesieë, en genesings wat as genesing voorgehou word, en wat nie werklik genesings is nie, is deel van die leun en is nie die waarheid nie, maar ongeregtigheid! Sake sal toenemend versleg soos wat Christus se wederkoms nader kom! Die leser word sterk aangeraai om die artikel “Genees en Genesing tydens die Post Apostoliese tydperk” te lees.)

3. Koninkryk Nou Leerstelling: Beweer soms dat die Kerk Christus op aarde is en daarom is hulle geregtig om ‘n wêreldwye koninkryk op te rig.

Koninkryk Kom Leerstelling: Die Bybel stel dit egter baie duidelik dat die Kerk nie Christus op aarde is nie, maar dat die kerk slegs Christus se liggaam op aarde is.
1Ko 12:27 “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.”
Alle ware gelowiges is deel van die ware Kerk en is dus kinders van God.
Rom 8:16 “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;”
Nêrens in die Bybel staan dit dat die Kerk, Christus op aarde is nie. Die leerstelling dat die Kerk Christus op aarde is, herinner my nogal sterk aan die waarskuwing wat Jesus Christus aan Sy dissipels gegee het.
Mat 24:5 “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.”
Dit is ook verder baie opmerklik dat die Skrifte die Kerk as die bruid van Christus bestempel en nie as Christus op aarde bestempel nie.
Op 22:17 “En die Gees en die bruid (die ware Kerk) sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
Christus werk wel deur middel van die Kerk op aarde, maar dit maak nie van die Kerk Christus op aarde nie!

4. Koninkryk Nou Leerstelling: Koninkryksteoloë soos Rick Warren maak aansprake daarop dat Christene al die probleme soos armoede, gebrek aan opvoeding, lyding en swaarkry en siektes sal oplos en sodoende die wêreld weer soos die tuin van Eden sal herskep. Die wêreld sal, volgens die Koninkryk Nou Leerstelling, toenemend ‘n beter plek word, soos wat die Kerk se invloed uitbrei en beheer neem oor alle vorms van die samelewing.

Koninkryk Kom Leerstelling: Die Bybel stel dit egter baie duidelik, dat hierdie wêreld op ‘n ramp van God se oordele afloop en is dit ook baie opmerklik dat die Kerk nie al die probleme op aarde sal kan oplos nie.
2Ti 3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.” (Die wêreld gaan nie ‘n beter plek word nie maar sal stelselmatig boser word!)
Paulus het ook nie geglo dat die wêreld toenemend sal verbeter nie! Hy het net mooi die teenoorgestelde geglo. Kyk maar net hoe verval die oorgrote meerderheid van die belydende Christen Kerke! Hoe kan ons dan van hulle verwag dat die dwalende Kerk die wêreld geestelik sal hervorm? Dit is onmoontlik om die morele en leerstellige verval in die hedendaagse Kerk mis te kyk. Indien ‘n persoon nie die leerstellige, en morele verval, in die belydende Christendom kan raaksien nie, beteken dit heel waarskynlik dat daardie persoon self ook verlei is, en derhalwe deel van die probleem is en nie die oplossing nie! Hierdie wêreld is onomwonde besig om op die grootste ramp in die menslike geskiedenis af te stuur!
1Ti 4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang
1Ts 5:2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. 5:3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. (Die verskriklike smarte van die Verdrukking!) 5:4 Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.” (Want die ware Kerk sal d.m.v. die wegraping voor die aanbreek van die Verdrukking deur die Here Jesus Christus van die aarde weggeneem word.)
Slegs wanneer die Here Jesus Christus self fisies Sy koninkryk na afloop van die Groot Verdrukking op aarde kom vestig, sal Hy alle probleme opgelos word, en nie voor die tyd nie! (Die Kerk gaan nie al die probleme in hierdie wêreld oplos nie! Die Here gaan!) Kyk maar net hoe gaan dit in die wêreld van vandag, dan is dit duidelik dat die Kerk nie hierdie probleme opgelos of sal kan oplos nie. In baie opsigte verloor die Kerk die stryd van binne af buiten toe en lê die grootste probleme binne in haarself d.m.v valse leerstellings, wêreldgesindheid en sonde! Met hierdie stelling bedoel ek die aanvaarding van morele verval, soos byvoorbeeld homoseksuele verhoudings in die gemeente, om nie eens te praat van al die valse leerstellings en ander morele verval in die Kerk nie! Die Kerk oorwin nie die wêreld nie, die wêreld is besig om by verre die grootste gedeelte van die Kerk te oorwin. Onthou die Kerk moet in die wêreld wees, maar nie van die wêreld nie. Dit is egter ‘n feit dat die Kerk nie slegs in die wêreld is nie, maar dat die wêreld in die Kerk is! Iets wat nie so hoort nie!

5. Koninkryk Nou Leerstelling: Soms, maar nie altyd nie, beweer die proponente van die Koninkryk Nou Leerstelling, dat die Here Jesus Christus nie sal wil, of kan, terugkom aarde toe nie, alvorens die Kerk nie totale dominansie oor die wêreld behaal het nie. Baie van hierdie groepe verwerp ook die leerstelling van die Voor Verdrukking Wegraping, veral die leierskap van die ontluikende kerk. Die Koninkryk Nou Leerstelling propageer ‘n post-millenniale leerstelling, waar die Here na ‘n wêreld terugkeer wat deur die kerk skoongemaak is. Hierdie leerstelling ontken baie eindtyd se profesieë wat in die Bybel opgeteken staan, asook die feit dat hulle nie noodwendig in ‘n fisiese duisendjarige vrederyk glo, soos wat die Bybel verkondig nie.
Op 20:4 “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.
Op 20:6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”
Die Bybel stel dit egter duidelik, dat daar wel ‘n duisendjarige Vrederyk onder bewind van Jesus Christus gaan wees! Ons moet kies wie ons gaan glo!

Koninkryk Kom Leerstelling: Indien die Here Jesus Christus nie weer terug aarde toe kan kom, alvorens die Kerk die wêreld vir die Here gewen het nie, beteken dit dat God nie oor die gesag beskik om skielik, en onverwags, Sy verskyning kan maak soos wat Hy in Sy woord verkondig nie. Om so iets te verkondig kan as ‘n direkte aanval op God se soewereiniteit beskou word, en boonop sou Hy vir ons gelieg het toe Hy ons gewaarsku het om vir Sy onverwagte en skielike koms gereed te wees.
Luk 21:34 Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. 21:35 Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. 21:36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, (die groot verdrukking) te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Indien die Kerk eers heerskappy oor die wêreld moet bewerkstellig, dan sou Jesus Christus se waarskuwings in bostaande teksgedeeltes sinneloos gewees het, want dit is tog duidelik dat die Kerk nie eers naby aan sy doel is om die wêreld te oorwin nie. (Lees asb die Artikels oor die wegraping, asook die “Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus” vir meer inligting rondom hierdie onderwerpe)

6. Koninkryk Nou Leerstelling: In Baie gevalle word die Koninkryk Nou raamwerk, nie slegs vanuit die Bybel bekom nie, maar word daar van buite Bybelse profesieë wat deur die nuwe sogenaamde apostels en profete gemaak word, en wat dan as die basis dien waarop die Koninkryk Nou mandaat uitgevoer moet word. Hierdie buite Bybelse profesieë word in baie gevalle met die Bybel gelykgestel, omrede dit kwansuis van God afkomstig is en word dan ook voorgehou as ‘n effektiewe manier van hoe die “koninkryk” huidiglik gebou moet word.

Koninkryk Kom Leerstelling: Die Here Jesus Christus se teokratiese Koninkryk is nie van menslike vermoëns afhanklik nie, maar van God, wat ‘n geestelike Koninkryk in die harte van gelowiges vestig.
Joh 3:3 “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 3:4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 3:5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”
Daarna sal God self Sy letterlike koninkryk op aarde kom vestig, en weereens is die vestiging van hierdie koninkryk nie van die mens se vermoëns afhanklik nie, maar is dit God (die Here Jesus Christus) wat self Sy teokratiese koninkryk op aarde sal kom vestig.
Op 12:10 “ Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.
Dan 2:44 Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”
Dit is ook ‘n algemene feit, dat daar gereeld profesieë deur die nuwe apostels en profete gemaak word, wat nooit in vervulling gaan nie en wat ook blatant vals is. Nogtans beweer hierdie mense dat hulle namens God praat! Maak God dan foute, of lieg Hy dalk vir ons? Mens kan nie profesieë in God se naam maak, en wanneer dit nie in vervulling gaan, dit dan onder die mat in vee en maak of niks gebeur het nie! Het hierdie mense dan geen respek vir God nie? Dit is ‘n baie ernstige sonde om vals profesieë te maak en dit dan nogal as van God afkomstig te verklaar. (Die leser word aangeraai om die artikels “Is die Gawe van profesie nog in werking vandag“; “Ware vs Valse Apostels” en Ware vs Valse Profete” te lees, wat meer inligting oor hierdie onderwerp bevat) Jesus Christus self het ons in Sy woord gewaarsku dat daar in die laaste tye valse profete en valse leraars sal opstaan wat baie mense sal verlei. Is dit nie dalk wat huidiglik in baie gemeentes begin gebeur nie?
Mat 7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
Mar 13:22 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
Hoekom is baie van hierdie super apostels en profete so gewild vandag? Kyk maar watter koninkryke hulle vir hulleself oprig en dit uit die geld wat hulle uit hulle volgelinge maak. Hierdie mense lewe letterlik soos konings en dit terwyl baie van hulle volgeling in armoede leef!!
Luk 6:26 Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.”
Is dit nie dalk hoog tyd, dat ons die Here se waarskuwings ernstig opneem en daadwerklik na die waarheid vanuit die Skrifte begin soek nie?

7. Koninkryk Nou Leerstelling: Om nou ‘n koninkryk op aarde te vestig, is dit van uiterste belang dat die Koninkryk Nou proponente ‘n gestruktureerde Kerk sisteem op aarde tot stand bring, wat onder gesag van en op die fondasie van die nuwe apostels en profete gebou word. Daar word nou byvoorbeeld verkondig dat die administrasie van die kerk op die fondament van die eindtyd se apostels en profete van vandag gebou moet word. Volgens hulle mening moet die Kerk weer op die fondasie van die nuwe apostels en profete gebou word, net soos wat dit die geval met die oorspronklike apostels van Christus aan die begin van die kerk dispensasie die geval was. (Hulle vergeet egter dat ons huidiglik in die Post Apostoliese tydperk van die Kerk Dispensasie is en nie in die Apostoliese tydperk aan die begin van die Kerk Dispensasie nie! Ons staan nou aan die einde van die Kerk Dispensasie!)

Koninkryk Kom Leerstelling: Die Koninkryk Kom proponente stem nie saam met die bewerings wat vandag se apostels maak nie, maar gebruik die Bybel om te demonstreer dat Jesus Christus asook Sy aangewese Apostels en profete, wat tydens die apostoliese tydperk geleef het, die fondasie is waarop die ware Kerk gebou is en nie die nuwe era apostels en profete van vandag nie.
1Ko 3:10 “Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 3:11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.”
Jesus Christus is die ware fondament waarop die Kerk gebou is. Die leerstellings wat Christus aan Sy ware apostels verkondig het, het hulle weer aan alle gelowiges verkondig en dit is die fondament waarop die Kerk gebou is.
Efs 2:19 “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 2:22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”
God self het Sy ware apostels uitgekies om die fondament van die Kerk te lê. Die fondament was iets waarop hulle die Kerk moes bou, en Jesus Christus (en Sy leerstellings) is die fondament waarop die Kerk gebou is. Na afloop van die Apostoliese tydperk, waartydens die leerstellings en profesieë in die ses-en-sestig boeke van die Bybel op skrif gestel is, het die Apostoliese tydperk tot ‘n einde gekom en is die fondasie van die Kerk volledig gelê en voltooi. Vir mense om nou te beweer dat daar ‘n nuwe fondasie gelê moet word, en dit op die fondament van die nuwe apostels en profete is onsin en dwaalleer. Indien daar nou weer ‘n fondasie gelê moet word, insinueer hulle dat die Kerk nie alreeds op ‘n fondasie gebou is nie. Waarop is die Kerk dan die afgelope amper twee duisend jaar gebou? Die Bybel stel dit egter duidelik, dat daar alreeds ‘n fondasie gelê is, en dus kan daar kan nie ‘n nuwe fondament gelê word nie. Indien ons na Efs 2:19-20 gaan kyk, sal ons die woord “gebou” daar vind, wat duidelik in die verlede tydvorm gestel is, wat dit duidelik maak dat die fondament reeds gelê is en word daar nie ‘n nuwe fondament benodig nie. Mens bou sekerlik nie ‘n huis op ‘n fondasie, net om weer ‘n fondasie op die huis te bou nie! Efs 2:21 stel dit ook duidelik, dat die Kerk nog steeds verrys of saamgevoeg word, en sodra die Kerk voltallig is, sal die Here kom en haar d.m.v die wegraping na Homself in die hemel neem. (Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die Evangelie so gou as moontlik met so veel as moontlik mense te deel! Ek is van mening dat hoe langer ons neem om die Evangelie getrou te verkondig, hoe langer sal dit neem voordat die Kerk voltallig is en die Here ons sal kom haal, en dit beteken dat ware gelowiges al hoe meer aan boosheid en geweld blootgestel sal word. Iets wat nie nodig sou wees indien ons die Evangelie getrou verkondig het nie.) Die fondament van die Kerk en die wyse waarop dit bestuur moet word is alreeds volledig in die Bybel vasgelê. Daar word nie ‘n nuwe fondasie benodig nie en ons moet op slegs die Bybel se leerstellings fokus en slegs hierdie Bybelse leerstellings gehoorsaam.
1Pe 2:6 “Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. 2:7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling— 2:8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.”
Die skrywer van die boek Hebreërs stel hierdie feit baie duidelik.
Heb 1:1 “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun”
Jesus self het nooit enige iets opgeteken wat Hy Sy dissipels geleer het nie. Hy het dit aan hulle gelos om wat Hy geleer het op skrif te stel, en dit is presies wat hulle deur die inwerking van die Heilige Gees tydens die Apostoliese tydperk gedoen het. As ons wil weet wat die Here aan ons wil sê, dan is dit van uiterste belang dat ons, ons Bybels bestudeer. Indien die hedendaagse apostels en profete dit sou doen, sou hulle opgemerk het dat hulle nie die fondasie van die Kerk kan wees nie en dat hulle ook nie as ware apostels en profete kwalifiseer nie.

8. Koninkryk Nou Leerstelling: Omrede die Koninkryk Nou Leerstelling so gefokus is op die vestiging van die Koninkryk op aarde, is dit van self sprekend dat hulle ten alle kostes eenheid tussen verskillende groepe wil bewerkstellig. Dit sluit eenheid met die Rooms Katolieke Kerk (Wat nie die ware Kerk van Christus is nie, maar wat ‘n valse evangelie wat op werke gebaseer is verkondig. Hulle verkondig ook baie ander leerstellings wat onomwonde deur ware gelowiges verwerp moet word.), liberale afvallige kerke, kultiese kerke, die Woord-Geloof groepe en selfs Islam in, waarvan Rick Warren ‘n groot voorstaander is. Hierdie nuwe sinchronisering van Islam met die Christendom staan as Chrislam bekend wat volgens my mening katastrofiese gevolge vir die Christendom gaan inhou. In baie gevalle word eenheid belangriker geag as suiwer Bybelse leerstellige, wat tot gevolg het dat ‘n afgewaterde of verdraaide Evangelie verkondig word. In baie gevalle word die ware Evangelie met ‘n kruislose, sosiale en voorspoed evangelie vervang wat nie die hoorders daarvan sal red nie!

Koninkryk Kom Leerstelling: Enige eenheid wat nie op Skriftuurlike waarhede en leerstellings gebaseer is nie, is nie Skriftuurlike eenheid nie! Skriftuurlike eenheid is op eenheid van die Gees en op waarheid gebaseer. Enige dwaalleer is nie op die waarheid gebaseer nie, en kan dus nie van God afkomstig wees nie en derhalwe kan gelowiges nie met sulke groepe gemeenskap hê nie!
Efs 4:3 “en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”
Die Heilige Gees is immers die Gees van waarheid en God die Vader wil hê dat ons Hom in waarheid moet aanbid. (Die Heilige Gees kan nie met valse leerstellings, wat sonde is, gemeenskap hê nie!)
Joh 4:23 “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Om kerklike eenheid ten koste van suiwer Skriftuurlike leerstellige te bewerkstellig is ‘n vorm van rebellie en sal nooit in ter ewigheid God se goedkeuring wegdra nie. Dit sal egter tot erger verleiding lei, en wat die Antichris as basis vir sy een wêreld godsdiens sal gebruik. Onthou die volgende wêreldwye koninkryk wat op die toneel gaan verskyn sal die een wêreld regering van die Antichris wees, wat eers met Jesus Christus se wederkoms tot niet gemaak sal word.
2Ts 2:3 “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 2:4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 2:5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 2:6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 2:8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”
(Ek vra om verskoning omrede ek weer hierdie teksgedeelte aanhaal, maar dit is van uiterste belang dat ons weet wat chronologies in die toekoms voorlê, sodat ons nie mislei sal word nie. Die leser word aangeraai om die artikel “Profetiese Rede op die Olyfberg volgens Mattheus” vir verdere inligting te lees)
Mense wat doelbewus valse leerstellings navolg sal maai wat hulle saai en sal self die verantwoordelikheid daarvoor moet dra.
2Ts 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
Mense wat werklik wedergebore is, behoort deur die eenheid van die geloof bymekaar gehou te word. Geloof wat op suiwer skriftuurlike leerstellings gebaseer is en wat dus die waarheid is.
Efs 4:13 “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, (suiwer Bybelse leerstellings) tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 4:14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;”
Slegs Bybelse leerstellings moet verkondig en aangehang word! Nie leerstellings wat deur sogenaamde nuwe apostels en profete bekom is nie! Onthou geloof wat nie op Skriftuurlike waarhede gebaseer is nie, is nie Bybelse geloof nie maar ‘n delusie!

Ter Afsluiting: Dit is uiters belangrik dat ons as gelowiges mooi luister as iemand na die Koninkryk verwys en daarvan praat. Ons moet onderskeid kan tref, en weet wanneer ‘n persoon van die Koninkryk Nou leerstelling praat of die persoon van die Koninkryk Kom leerstelling praat. Daar is ‘n baie groot verskil. Net nou die dag het ek met ‘n baie toegewyde Christen vriendin gesels. Sy vertel my toe dat sy bordjies in die strate wat in en uit ons dorp lei wil plaas en daardeur ‘n positiewe verklaring wil maak dat ons dorp aan Jesus Christus behoort. Ek het toe aan haar verduidelik dat ek nie glo dat ons uitsprake krag in hulle het nie, (lees asb die artikel “Krag in ons woorde”) en om bordjies op te sit, wat verklaar dat ons dorp aan Christus behoort, nie van ons dorp ‘n Christelike dorp gaan maak nie. Ongelukkig is sy die slagoffer van die Koninkryk Nou Leerstelling al besef sy dit dalk nie. Om sosiale probleme en die morele verval van ons samelewing (insluitende die Kerk) van bo af onder toe te wil aanspreek, gaan op ‘n geestelike mislukking uitloop. Ware Christenskap spreek die probleem aan, deur om van onder af boontoe te werk, naamlik om die Evangelie aan mense te verkondig en hulle dan aan te moedig om as toegewyde dissipels van Christus te lewe, deur om die voorwaardes wat die Here vir dissipelskap in die Skrifte neergelê het uit te leef. Ware Christenskap begin in die harte van individue, nie in sosiale samekomste en programme om die wêreld onder die gesag van die Kerk te wil plaas nie. Die Kerk staan onder die gesag van Christus en moet doen wat Hy haar beveel het om te doen. Ons werk is nie om die wêreld sosiaal te transformeer nie, ons werk is om die Evangelie te verkondig en dissipels van mense te maak, sodat hulle as ligte in ‘n donker wêreld sal skyn. (Om ‘n ware dissipel van Jesus Christus te wil wees sal ‘n persoon die opdragte soos in Mattheus hoofstukke 5-7 moet bestudeer en uitleef. Die leser word ten sterkste aangeraai om hierdie hoofstukke te lees en dit met behulp van die Heilige Gees in sy lewe toe te pas) Ons doel moet wees om so veel as moontlik mense uit die kloue van die Duiwel te red en om ware Christenskap uit te leef. Baie mense praat deesdae van herlewing of die ontwaking (“Awakening”). Voordat ons werklik ‘n ontwaking of herlewing kan verwag, sal die mense wat valse leerstellige verkondig, asook valse profesieë uitspreek, eerstens self tot bekering moet kom, alvorens hulle vir ander oor herlewing wil preek. Ware herlewing begin in ons harte en is altyd op die waarheid, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, gebaseer. Mag God ons help om werklik die waarheid te soek en om dit uit te leef.

Seën Groet

Vic

Vervolgens ‘n lys van mense wat op die een of ander wyse die Koninkryk Nou Leerstelling navolg en verkondig. Die lys is geensins volledig nie, maar is ‘n goeie indikasie van tot hoe ‘n mate hierdie leerstelling die Kerk geïnfiltreer het. Hierdie mense se leerstellings het ongelukkig soos ‘n vloedgolf oor Suid Afrika gevloei. Gaan kyk maar gerus watter boeke by CUM gewild is. (Ek koop geensins boeke by CUM boekwinkels nie)

Marilyn Hickey, Steve Hill, John Hinkle, Benny Hinn, David Hogan, Rodney Howard-Browne, Larry Huch, Bill Hybels/Willow Creek, Cindy Jacobs, T.D. Jakes, Bill Johnson,Fred Price, Oral Roberts, Pat Robertson, Robert Schuller, R.W. Shambach, Gwen Shaw, Dutch Sheets, Ed Silvoso, Don Stewart, Karl Strader, Leonard Sweet, Chad Taylor, Tommy Tenney,Joel Osteen, Doug Pagitt, Rod Parsley, Carlton Pearson, Chuck Pierce, Peter Popoff, Robert Tilton, Richard Twiss, C. Peter Wagner, Rick Warren, Paula White, Bruce Wilkinson, John Wimber, Ed Young, YWAM, Axel Sippach, Ernest Angley, John Arnott, Rob Bell, Todd Bentley, John Bevere, Mike Bickle, Markus Bishop, Reinhard Bonnke, William Branham, Jack Deere, Creflo Dollar, Jesse Duplantis, Colin Dye, Gene Edwards, Richard Foster, Francis Frangipane,Jack Hayford, Ruth Helflin, Tony Jones, Manasseh Jordan, Rick Joyner, John Kilpatrick, Dan Kimbal, Patricia King, Roberts Liardon, Bishop Eddie L. Long, Michael Brown, Juanita Bynum, Paul Cain, Tony Campolo, Morris Cerullo, Paul (David) Yonggi Cho, Randy Clarke, Kenneth Hagin, (Rhema Kerk) Bill Hamon, Christian Harfouche, Brennan Manning, Brian McLaren, Clarence McClendon, Joyce Meyer, Miles Munroe, Steve Munsey, Mike Murdock, George Otis, Jr,Kim Clement, Gerald Coates, Chuck Coleson, Kenneth Copeland, Paul Crouch, John Crowder, Paul Cunningham, John Dawson, Joy Dawson, Nicky Gumbel, Ted Haggard.

Deel met ander asb.