Sleutelwoord se argiewe: Koninkryk

Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 1

Vanaf die oomblik dat die sondeval plaasgevind het is dit God se plan, om as deel van Sy raadsplan, Sy koninkryk op aarde te vestig wat dan die ewigheid sal inlei. Daar is ‘n groep Christelike politieke ideologieë wat verkeerdelik nou alreeds poog om Christus se koninkryk op aarde te vestig. Baie van hierdie groepe beweer dat dit die Kerk se plig is om die aarde vir Christus terug te wen alvorens Hy sal terugkom aarde toe. Hulle poog dan nou alreeds om ‘n Christelike politieke stelsel, oftewel die koninkryk op aarde, te vestig wat deur Bybelse wetgewing (wat in baie gevalle die tien gebooie insluit) gereguleer sal word. Proponente van die Charismatiese en Pinkster Koninkryk Nou teologie, Calvinistiese Christelike rekonstruksionisme asook die Nuwe Apostoliese Hervorming maak hulleself aan hierdie dwaalleerstelling skuldig. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons die leerstelling van God se koninkryk op aarde reg verstaan, sodat ons nie ontnugter word as ons sien hoe die wêreld toenemend goddeloos raak en dat die Kerk dit nie regkry om die koninkryk op aarde te vestig nie. Met die skryf van hierdie reeks artikels sal daar vanuit die Bybel gedemonstreer word, dat Christus self na afloop van Sy wederkoms, Sy koninkryk op aarde sal oprig en dat ‘n aardse koninkryk van Christus ‘n Bybelse vereiste is. Hierdie onderwerp skakel by die reeks artikels wat oor die verskillende dispensasies handel in. En sal met die Artikel Die Dispensasie van die Koninkryk gevolg word.

Lees meer Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 1

Luk.17:20-21 en die koninkryk op aarde

Dien Luk.17:20-21 as bewys dat Christus met Sy eerste koms Sy koninkryk op aarde gevestig het? Met die skryf van hierdie artikel sal dit gedemonstreer word dat Luk.17:20-21 nie as proefteks gebruik kan word om bogenoemde leerstelling te regverdig nie. Luk.17:20-21 lees soos volg:
Luk.17:20 “En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.”

Lees meer Luk.17:20-21 en die koninkryk op aarde

Matt.12:28 en Christus se koninkryk op aarde.

Proponente van die koninkryk nou leerstelling maak onder andere van Matt.12:28 as proefteks gebruik om sodoende te bewys dat Christus se koninkryk met Sy eerste koms alreeds op aarde gevestig is. Met die skryf van hierdie artikel sal daar gedemonstreer word dat Christus nie Sy koninkryk tydens Sy eerste kom op aarde gevestig het nie, en dat dit nog ‘n gebeurtenis is wat in die toekoms, na afloop van die Groot Verdrukking, sal plaasvind. Matt.21:28 kan dus nie as proefteks gebruik word om te verklaar dat die koninkryk huidiglik op aarde gevestig is nie. Matt.12:28 lees soos volg:
Matt.12:28 Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.”
Baie mense wat glo dat Christus se koninkryk alreeds gedeeltelik, of selfs in ‘n geestelike sin, op aarde gevestig is, maak van bostaande teksgedeelte gebruik om hulle leerstelling te regverdig. Is hierdie aanname egter korrek?

Lees meer Matt.12:28 en Christus se koninkryk op aarde.

Die “Onse Vader” van nader bekyk

Toe ek op skool was, moes ons elke dag voor klasse begin, die Onse Vader opsê. Maar vir die meeste van ons het dit maar net nog ‘n daaglikse ritueel geword. Omrede ek soms te lui was om te bid, het ek die Onse Vader opgesê in ‘n poging om my eie gewete te sus. Vir my was dit slegs ‘n modelgebed en word nog steeds deur baie mense as sulks gebruik. Nooit het ek besef hoe belangrik die gebed in werklikheid is en wat dit in werklikheid behels nie. Baie mense glo verkeerdelik dat die Here Jesus Christus met Sy eerste koms die koninkryk in ‘n geestelike sin op aarde gevestig het, en dat die koninkryk in ‘n versteekte vorm huidiglik op aarde teenwoordig is. Soos wat duidelik gedemonstreer sal word, weerlê die “Onse Vader” egter hierdie bewering. Hierdie feit maak van die “Onse Vader” ‘n uiters belangrike gebed wat gereeld deur elke gelowige met dieper insig gebid behoort te word. Veral in die tye waarin ons nou leef!

Lees meer Die “Onse Vader” van nader bekyk

Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom

Daar is deesdae baie mense wat die term “die koninkryk” gebruik, en dit veral as dit by preke, konferensies en boeke kom waar die hoorders aangemoedig word om ‘n sekere dorp en of stad vir Christus te wen. Soms word daar byvoorbeeld verkondig, dat die Here Jesus Christus nie fisies aarde toe terug sal keer, alvorens die Kerk die wêreld vir Christus gewen het nie. Verder word daar verkeerdelik verkondig, dat omrede ons nou in die koninkryk is, daar geen armoede, siektes en sosiale probleme behoort te wees nie en dat dit die Kerk se plig is om die wêreld van hierdie euwels te red, omrede God kwansuis hierdie mandaat aan die Kerk gegee het. Hierdie terme en uitsprake klink eerbaar, maar voordat ons deur hierdie slagspreuke meegesleur word, is dit egter belangrik dat ons vasstel wat die spreker met die term “die koninkryk” bedoel en of hierdie koninkryk waarvan hierdie mense praat dieselfde Koninkryk is as wat die Bybel van praat.
Lees meer Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom