Gelykenis van die Bruilof

Gelykenis van die Bruilof

Die gelykenis van die bruilof volg na die gelykenis van die twee seuns en die gelykenis van die landbouers. Die drie gelykenisse vorm ‘n eenheid. Die gelykenis van die bruilof demonstreer dat die volk Israel a.g.v hulle ongeloof tydelik tersyde gestel gaan word en dat die Evangelie na al die nasies sal uitgaan. Die leser word aangeraai om eerste die gelykenis van die twee seuns en die gelykenis van die landbouers te gaan lees om die nodige agtergrond te bekom, alvorens die gelykenis van die bruilof gelees word.
Kom ons gaan nou na die teksgedeelte.

Mat 22:1 “En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: 22:2 Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het”
Opmerking: Vanuit bostaande teksgedeelte blyk dit duidelik dat die Koning waarvan hier gepraat word God die Vader is en, dat Jesus Christus, die Seun van die Vader verteenwoordig. Die bruilof sal tydens of kort na aanvang van Christus se Messiaanse Koninkryk op aarde gevier word.

Mat 22:3 “en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie.”
Opmerking: Hierdie is die eerste uitnodiging, van drie opeenvolgende uitnodigings wat deur Vader uitgestuur is. Die eerste uitnodiging verteenwoordig die prediking van Johannes die doper, Jesus Christus self en die twaalf apostels. As geheel het die volk Israel die uitnodiging van die Koninkryk verwerp. Hulle was ook nie bereid om Jesus Christus as hulle Messias, en Verlosser, te aanvaar nie en dit het daartoe gelei dat Jesus Christus buitekant Jerusalem gekruisig is.

Mat 22:4 “Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.  22:5 Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak. 22:6 En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak.”
Opmerking: Die tweede uitnodiging verteenwoordig die tydperk toe die Evangelie in die boek van Handelinge verkondig is, nadat Jesus Christus alreeds opgevaar het hemel toe. Die Evangelie is eerste aan die volk van Israel verkondig , maar die volk as geheel het die aanbod van die koninkryk van die God verwerp. Die meeste het dood eenvoudig net aangegaan met hulle normale lewens, asof daar niks plaasgevind het nie. Ander het egter die boodskap van die Evangelie met geweld verwerp en het die Apostels en dissipels mishandel en sommige gedood. Daar word beweer dat elf van die twaalf Apostels as martelare gesterf het.

Mat 22:7 “Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.”
Opmerking: God was regverdiglik verontreg deur die optrede van die volk Israel, en Hy het deur middel van Titus, die Romeinse Generaal en sy legioene, die volk van Israel gestraf, deur die stad Jerusalem in 70nC te laat verower en derduisende Jode te dood. Die Here het die Romeine as Sy instrument gebruik om Israel te straf al het die Romeine Hom nie aanbid nie. God is soewerein en Hy het die reg, asook mag, om enige persoon as Sy instrument te aan te wend.

Mat 22:8 “Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. 22:9 Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.”
Opmerking: Die volk Israel word dus tydelik tersyde gestel a.g.v hulle ongeloof, en nou word die Evangelie van God se genade hoofsaaklik aan die heiden nasies verkondig. Alhoewel daar wedergebore Jode is wat die Evangelie geglo het, vorm hulle nou deel van die kerk alhoewel hulle ‘n baie klein minderheid in die kerk uitmaak. Dit moet egter onthou word dat Israel net tydelik tersyde gestel word en nie permanent nie. Die Here sal nooit op Sy woord teruggaan nie en Hy het beloftes aan die volk Israel gemaak wat Hy nog in die toekoms sal afhandel.
Rom 11:11 “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. 11:12 En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!
Dus word Israel net tydelik tersyde gestel, totdat die volheid van heidene, wat die Evangelie glo en weergebore word, ingaan en dan sal God weer na Israel draai en met hulle werk. (Tydens die Verdrukking)
Rom 11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;(daar is ‘n spesifieke getal gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof sal kom. Hierdie getal is net aan God bekend en daarom is dit van uiterste belang om die Evangelie te verkondig. Sodra hierdie getal gelowiges, wat as die Kerk bekendstaan, tot geloof kom, sal die Here die Kerk d.m.v. die wegraping van die aarde af verwyder en sal Hy weer met Israel as volk begin werk, wat die verskriklike gebeure van die Groot Verdrukking insluit) )11:26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; 11:27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.” (die Here sal van die Groot Verdrukking gebruikmaak om Israel so ver te kry, om Hom as hulle beloofde Messias aan te roep en Hom te vra om hulle te verlos. Die volk as geheel sal dan tot die Here bekeer, en daarna sal Christus teen die einde van die Groot Verdrukking, met Sy wederkoms, ingryp en hulle van gewisse uitwissing kom red.)

Mat 22:10 “En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. 22:11 En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. 22:12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. 22:13 Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.”
Opmerking: Die Evangelie is bedoel vir goeie sowel as slegte mense, wat alle vlakke van die samelewing insluit. Alle mense word dus hartlik uitgenooi om deel van God se koninkryk te word. (Hnd 13:45-46; 28:28) In Jesus se tyd was dit die gewoonte vir die gasheer om ‘n kleed aan sy gaste te verskaf indien hulle dit nie kon bekostig nie. ( en nie een van ons kan nie!) So is dit met ons as gevalle sondaars! ( ons word slegs op grond van God se genade deur geloof alleen in Christus alleen gered en kan geensins ons eie verlossing bewerkstellig nie.) Ons het geen geregtigheid in onsself nie en kwalifiseer dus nie vir die koninkryk van God nie. Dit is net, nadat ons met Jesus Christus se toegerekende geregtigheid beklee is, dat ons toegang tot die koninkryk bekom. (1Ko 15:54; Gal 3:27)

Ons word net regverdig verklaar indien ons die Evangelie aanhoor en glo en daar is niks wat ons by die Evangelie kan byvoeg om ons meer aanvaarbaarder by die Vader te maak nie. Iemand wat enigiets by die Evangelie voeg om sy geregtigheid by God te verbeter, is soos die man wat nie ‘n kleed aangehad het nie. Hy staan dus in sy eie geregtigheid, en sal volgens sy eie werke geoordeel moet word en hel toe gaan. Die rede hiervoor is eenvoudig. So ‘n persoon het nie die verlossing, wat God, deur Sy Seun, bewerkstellig het, in geloof aanvaar nie en vertrou op sy eie geregtigheid om hom voor God as geregverdig te verklaar. Verlossing gaan oor wat God vir die mens gedoen het nie oor wat die mens vir God gedoen het nie! Om enigsins menslike werke, as vereiste vir wedergeboorte, by slegs geloof in die Evangelie te voeg, is om die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander wat niemand sal red nie!
Gal 1:8 “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 1:9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

“Baie is geroep maar min uitverkies” beteken dat God almal roep, maar baie min neem Sy aanbod aan. Dit bly egter die hoorders se plig om die Evangelie te verstaan en te glo. Ook is dit baie belangrik dat ons God se opdrag uitvoer deur die Evangelie aan die hele mensdom te verkondig en nie net vir onsself te lewe nie.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”

Alhoewel hierdie gelykenis hoofsaaklik aan die volk Israel gerig is, is daar belangrike applikasies vir ons wat tydens die dispensasie van die Kerk lewe.

Seën Groete

Vic

 

 

 

Deel met ander asb.