Die Koninkryk van Christus

Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 1

Vanaf die oomblik dat die sondeval plaasgevind het is dit God se plan, om as deel van Sy raadsplan, Sy koninkryk op aarde te vestig wat dan die ewigheid sal inlei. Daar is ‘n groep Christelike politieke ideologieë wat verkeerdelik nou alreeds poog om Christus se koninkryk op aarde te vestig. Baie van hierdie groepe beweer dat dit die Kerk se plig is om die aarde vir Christus terug te wen alvorens Hy sal terugkom aarde toe. Hulle poog dan nou alreeds om ‘n Christelike politieke stelsel, oftewel die koninkryk op aarde, te vestig wat deur Bybelse wetgewing (wat in baie gevalle die tien gebooie insluit) gereguleer sal word. Proponente van die Charismatiese en Pinkster Koninkryk Nou teologie, Calvinistiese Christelike rekonstruksionisme asook die Nuwe Apostoliese Hervorming maak hulleself aan hierdie dwaalleerstelling skuldig. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons die leerstelling van God se koninkryk op aarde reg verstaan, sodat ons nie ontnugter word as ons sien hoe die wêreld toenemend goddeloos raak en dat die Kerk dit nie regkry om die koninkryk op aarde te vestig nie. Met die skryf van hierdie reeks artikels sal daar vanuit die Bybel gedemonstreer word, dat Christus self na afloop van Sy wederkoms, Sy koninkryk op aarde sal oprig en dat ‘n aardse koninkryk van Christus ‘n Bybelse vereiste is. Hierdie onderwerp skakel by die reeks artikels wat oor die verskillende dispensasies handel in. En sal met die Artikel Die Dispensasie van die Koninkryk gevolg word.

Die dissipels se belangrike vraag:

Die eerste hoofstuk van die boek Handelinge dek die tydperk direk na Christus se kruisdood, en opstanding vanuit die dood. Hierdie gebeure vind plaas nadat Christus alreeds die groot opdrag (om die Evangelie van God se genade met die hele mensdom te deel Mark.16:15) aan die dissipels gegee het, en die Here het nou op die punt gestaan om liggaamlik na die hemel op te vaar.
Hand.1:1 “Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het 2 tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het; 3 aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het. 4 En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. 5 Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.”
Onthou, die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees is alreeds tydens die gesprek in die bovertrek, (Joh.16) net voor Sy kruising, aan sy dissipels gegee. Die doop met die Heilige Gees plaas gelowiges in die liggaam van Christus in. Met die uitstorting van die Heilige Gees het die Kerk amptelik tot stand gekom. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel Die Dispensasie van die Kerk/Genade” te bestudeer.)

Hand.1:6 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? 7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; 8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. 9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. 10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, 11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”
Let op die term “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Die vraag wat ons nou moet beantwoord is dat na watse koninkryk het die dissipels hier verwys? Het hulle na die aardse gedeelte van God se koninkryk, of na die Universele Koninkryk van God verwys wat die hemele ook insluit. Vanuit die vraag wat hulle aan die Here in Hand.1:6 gestel het, is dit duidelik dat hulle na die aardse koninkryk wat aan Israel belowe is verwys het. (Bestudeer asb die artikels “Die Dispensasie van Belofte”, asook “Die Dispensasie van die Wet” waartydens die belofte van ‘n aardse koninkryk aan Israel gemaak is.) Indien mens bogenoemde teksgedeeltes in die korrekte konteks bestudeer, dan word dit ook duidelik dat hulle ook nie na ‘n geestelike koninkryk binne in hulleself verwys het nie. Hulle het na ‘n letterlike aardse, geopolitieke koninkryk, wat as die Messiaanse Koninkryk bekendgestaan, verwys. Die vraagstuk vir hulle was nie of die Messiaanse Koninkryk opgerig gaan word nie, maar die vraag was wanneer daardie koninkryk opgerig sou word? Onthou in die Ou Testament het God ‘n letterlike aardse teokratiese koninkryk aan Israel belowe.

Waarom moet Christus Sy koninkryk op aarde gevestig?

1. Want Satan het die koninkryk op aarde tydens die sondeval in die Tuin van Eden gekaap:

Gen.1:28 “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”
Adam moes as God se mediatoriale verteenwoordiger oor die aarde heers. Onthou, die mediatoriale koninkryk is ‘n aardse, geopolitieke koninkryk, waardeur God deur middel van ‘n tussenganger en verteenwoordiger regeer. Satan het die heerskappy oor die aarde bekom toe Adam, God se verteenwoordiger, teen God gerebelleer het. (die Sondeval) Daarom verwys die skrifte na Satan as die god van hierdie wêreld.

Matt.4:8 “Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, 9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.”
Luk.4:5 “ Toe bring die duiwel Hom op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.”
(Die leser word aangeraai om die artikels “Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref.” te bestudeer.) Die feit dat die Here Jesus Christus nie Satan se reg om die koninkryke van die aarde aan Hom voor te hou ontken het nie, dien as bewys dat Satan wel die reg gehad het om dit te kan doen. Om hierdie rede moet Christus die reg om die wêreld te regeer van Satan af terugneem. Dit is dus vir Christus nodig om as die tweede Adam, Sy koninkryk op aarde te vestig.

As die tweede Adam, moet die Here Jesus Christus die Duiwel op al die gebiede verslaan waarin Satan die oorwinning oor die mens behaal het. Dit sluit in hierdie geval die aardse gedeelte van God se universele Koninkryk ook in. Indien die Here dit nie sou doen nie, sou Satan met regte kon verklaar dat die Here hom nie op die aardse gedeelte van God se Universele Koninkryk verslaan het en. Hierdie feit sou beteken dat Satan met regte aanspraak sou kon maak om vir ewig oor die aardse gedeelte van God se Universele Koninkryk te regeer. Indien die Here nie self terugkom en Satan op aarde verslaan nie, dan sou daar ongedane aspekte van God se belofte wees wat nie deur Christus, die Saad van die vrou, (en die tweede Adam) aangespreek sou gewees het nie. Dit sou beteken dat God se belofte van volkome verlossing misluk het. Iets wat nooit kan gebeur nie, en daarom leer die Bybel ons dat Christus wel terug aarde toe sal kom en self Sy koninkryk op aarde sal kom oprig. (hierdie feit sal later in hierdie reeks artikels baie duideliker word)

2. ‘n Volkome verlossing was deur God belowe:

Nadat die die sondeval plaasgevind het, het God ‘n volkome verlossing belowe. Hierdie verlossing sluit by implikasie die noodsaaklikheid in om die vloek wat God op die skepping gesit het om te keer.
Gen.3:14 “Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. 15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Gen.3:17 “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Toe God die vloek op die aarde geplaas het, het Hy na die aardse gedeelte van Sy Universele Koninkryk gekom om die oordeel van die vloek oor die aarde te maak. Om hierdie rede is dit belangrik, dat die vloek wat op die aarde geplaas is ook deur Christus op aarde omgekeer moet word. (Onthou die Tweede Adam moet dit wat die eerste Adam veroorsaak het ongedaan maak.) Die doel van God en Sy ewige plan vir die skepping kan dus as volg omskryf word: Om Homself, deur Sy soewereiniteit en genade, in en deur Sy skepping, en die verlossing daarvan te verheerlik, wat uiteindelik uitdrukking vind in die vestiging van Sy Koninkryk op die aarde net soos wat dit in die hemel die geval is, deur middel van die Here Jesus Christus, tot die heerlikheid van God. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Onse Vader van nader bekyk” te bestudeer.)

Die stryd tussen Satan, en sy saad, en die vrou, en haar saad, wat uiteindelik finaal uitdrukking in die Here Jesus Christus vind, sou vanaf die sondeval voortduur tot en met die Nuwe Hemel en aarde geskape is. Die saad van Satan bestaan uit alle ongelowiges van alle tye en waaruit die Antichris gebore sal word. Die saad van die vrou is die Here Jesus Christus en alle gelowiges wie in Hom glo. Die Here Jesus Christus het Satan se kop vermorsel toe Hy op die die kruis gesterwe het. Satan is dus alreeds veroordeel maar sy vonnis is nog nie finaal uitgevoer nie. Wanneer hy in die poel van vuur gewerp is sal sy vonnis finaal afgehandel wees, ‘n gebeurtenis wat nog in die toekoms, na afloop van Christus se Duisendjarige Vrederyk op aarde, sal plaasvind.
Openb.20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Dit is opmerklik dat Satan nie uitgewis word soos wat die Sewedaagse Adventiste verkeerdelik verkondig nie, maar dat sy pyniging vir ewig en ewig sal voortduur. Sy saad, naamlik alle ongelowiges van alle tye, sal sy lot in die poel van vuur deel en sal dus ook vir ewig in die poel van vuur gepynig word. Die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Christus se sistematiese oorwinning oor Satan” te lees.

Die sewe dispensasies maak aan ons die verloop van God se raadsplan vir die eeue bekend. Met die bestudering van die sewe dispensasies merk ons hoe sonde in ‘n perfekte/sondelose skepping ingekom het, en hoe God, Satan se wil sistematies omkeer en ongedaan maak. Wanneer die Nuwe Hemel en aarde geskape is sal sonde/boosheid heeltemal afwesig wees. Dus het die skepping in ‘n perfekte sondelose toestand begin en sal weer tot ‘n perfekte, sondelose toestand verander word. Satan se wêreld sisteem, sal na afloop van die Groot Verdrukking, met Christus se Koninkryk vervang word en wat duisend jaar later die ewigheid sal inlei. Om hierdie rede is die Koninkryk op aarde ‘n absolute noodsaaklikheid.

3. God se verbond met Abraham vereis God se koninkryk op aarde:

a. Die Abrahamitiese Verbond vereis dat Christus Sy Koninkryk op aarde moet vestig.

In deel een van die artikel “Die Dispensasie van Belofte” het ons gesien hoe die Here Abraham vanuit die nasies roep en met hom ‘n onvoorwaardelike verbond gesluit het. Vanuit die Abrahamitiese Verbond (Gen.12) vloei daar drie onvoorwaardelike verbonde voort, naamlik die Die Land van Israel Verbond, (Deut.30) Die Dawidiese Verbond, (2Sam.7) asook die Die Nuwe Verbond. (Jer.31) God het ook ‘n vierde verbond met die volk Israel gesluit, en dit is die Mosaïese Verbond, wat nie ‘n onvoorwaardelike verbond was nie maar wat van Israel se gehoorsaamheid afhanklik was. (Ex.18; Gal.3) Die leser word ten sterkste aangeraai om die Illustrasie “Bybelse Verbonde: God se verbond met die Volk Israel”, asook die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer. Dit is belangrik omrede die verbonde die dryfveer agter die sewe dispensasies van God se raadsplan is.

b. Die Land van Israel Verbond vereis dit:

Gen.12:1 “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. 2 En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. 3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Gen.15:8 “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?”
Bogenoemde teksgedeelte stel dit duidelik dat Abraham ‘n letterlike aardse grondgebied verwag het, nie ‘n vergeestelik weergawe daarvan nie.
Gen.15:18 “Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee
Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: 19 die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete 20 en Hetiete en Feresiete en Refaïete 21 en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.”
Ons merk dus dat Israel die feit van ‘n letterlike grondgebied op aarde verwag het. Hierdie grondgebied sal ‘n spesifieke grensgebied besit. (Sien ook Deut. 30)

c. Die Dawidiese Verbond vereis n letterlike geopolitieke koninkryk op aarde:
2Sam.7:12 “As jou (koning Dawid) dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. 13 Hy (Salomo) sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. 14 Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders. 15 Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. 16 En jou huis (dinastie) en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.”
Alhoewel Israel a.g.v. sonde tydelik uit die land gesit was, en nie ‘n koninkryk oor hulle gehad het nie, beteken nie dat God Sy belofte aan Dawid teruggetrek of verbreek het nie. ‘n Menslike nasaat van Dawid word vereis om op sy troon te sit en vir ewig te regeer. Hierdie vereiste is nog nie vervul nie, maar sal na afloop van die Groot Verdrukking en met Christus se Wederkoms finaal in vervulling gaan. Die Here Jesus Christus, Dawid se nasaat, sal as God in die vlees op Dawid se troon sit en oor die wêreld vanuit Jerusalem regeer.
Rom.11:29 “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.”

d. Die Nuwe Verbond vereis dat ‘n letterlike koninkryk op aarde gevestig word:

Jer.31:31 “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; 32 nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. 33 Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae (na afloop van die Groot Verdrukking en Christus se wederkoms)met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. 34 En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”
Verbondsteoloë beweer verkeerdelik dat die kerk geestelike Israel is en dat ons alreeds onder die Nuwe Verbond leef. Indien dit die geval is soos wat hulle beweer, dan sou die woord van God in almal se harte gewees het, en dan sou dit nie nodig gewees het om mekaar die Bybel te leer nie. (Iets wat nog steeds gedoen word en waarvan hierdie artikel deel vorm) Die noodsaaklikheid om huidiglik onderrig in die woord te ontvang, dien as onbetwisbare bewys dat bostaande teksgedeelte nie op die Kerk van toepassing is nie, maar slegs op Israel, en handel oor die tydperk na afloop van Christus se wederkoms en oprigting van Sy koninkryk op aarde. Indien bostaande teksgedeelte na die Kerk verwys dan behoort daar geen dwaalleer in die kerk te bestaan nie, want almal sou die Bybel (wat Bybelse leerstellings insluit) volkome geken het. Niemand sou hulle kon mislei nie, en dit is huidiglik baie duidelik dat miljoene mense in die Belydende Christendom wel die slagoffers van dwaalleer is. Let ook op die term “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit;” Israel is nie die Kerk nie!

Bostaande profesie is nog nooit vervul nie, en sal eers in vervulling gaan wanneer Christus, na afloop van sy Wederkoms, Sy koninkryk op aarde vestig en dan sal Hy hierdie Nuwe Verbond met die volk Israel aangaan. In teenstelling met hulle geskiedenis, sal Israel nooit weer die Nuwe Verbond wat God met hulle sluit verbreek nie, en daarom sal dit nooit vir God nodig wees om hulle weer uit die land te verdryf nie.
Eseg.36:24 “En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. 25 Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. 26 En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. 27 En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. 28 En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees.”
Bogenoemde teksgedeelte handel oor Israel, wat aan die einde van die Groot Verdrukking tot geloof in Christus sal kom, en dan sal hulle in Christus se Messiaanse Koninkryk ingaan waar hulle Hom ‘n absolute sin sal gehoorsaam. Hierdie feite dien as onomwonde bewys dat die Messiaanse Koninkryk op aarde ‘n vereiste is. God het immers ‘n belofte gemaak, en ons weet dat Hy altyd Sy beloftes nakom. Let op die stelling “En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” Daar is nee een Christen wat kan beweer dat hy volkome in God se insettinge wandel nie. Die Nuwe Verbond is ‘n verbond wat God met Israel sal aangaan nie met die kerk nie. Die kerk daarenteen het geen verbond met God nie. Die Kerk is nie ‘n nasie nie, hulle is Christus se liggaam. Jode wat tydens die Kerk Dispensasie wedergebore raak vorm deel van die Kerk. God het ‘n plan vir die Kerk en Hy het ‘n plan vir die volk Israel.

Die bogenoemde drie verbonde sal eers volkome in vervulling gegaan het wanneer die Here Jesus Christus met Sy wederkoms Sy koninkryk op aarde oprig.
Rom.11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; 26 en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; 27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.”
Israel is nie vir ewig tersyde gestel soos want meeste Verbond Teoloë, veral in die gereformeerde tragiese, beweer nie.

4.God het herhaaldelik voorspel dat Hy Sy koninkryk op aarde sou oprig:

‘n Persoon moet nooit die Nuwe Testament in die Ou Testament inlees nie, maar eerder andersom, omrede die Nuwe Testament deel van God se progressiewe openbaring aan die mens is.1Kron.16:15 “Dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte — 16 die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; 17 wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ‘n ewige verbond, 18 met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle afgemete erfdeel.
Ps.89:3 “Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele — daar bevestig U u trou. 4 Ek het ‘n verbond gesluit met my uitverkorene, met ‘n eed aan Dawid, my kneg, belowe: 5 Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.

Ps.89:29 “Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas. 30 En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel.”
Ps.89:36 “Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie!”
Ps.105:8 “Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte — 9 die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; 10 wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ‘n ewige verbond, 11 met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel. 12 Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
Jes.9:5 “Want ‘n Kind is vir ons gebore,
9 (Die Here Jesus Christus se geboorte as mens) ‘n Seun (God-Mens)is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —6 tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, (Dawid se koninkryk, en troon was op aarde in Israel, nie in die hemel nie)om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen. 7 Die HERE stuur ‘n woord in Jakob, en dit val in Israel;”
Daar kan dus geen twyfel bestaan dat ‘n aardse koninkryk hier bedoel word, en nie God se Universele Koninkryk wat die hemele insluit nie. Die volk Israel is ‘n aardse volk met aardse seëninge. Om hierdie rede is die Messiaanse Koninkryk van Christus ‘n absolute noodsaaklikheid op aarde.
Jes.11:1 “Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra;”
Weereens vereis bostaande teksgedeelte ‘n aardse vervulling daarvan.

5. Die Messiaanse Koninkryk op aarde word duidelik in die Nuwe Testament geantisipeer:

Luk.1:31 “En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. 32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, 33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.
Die engel Gabriël praat hier van ‘n aardse koninkryk wat in die Ou Testament voorspel is, en waarvoor die Jode gewag het. Daar is geen sprake van die Hemel in hierdie konteks nie . Onthou, konteks, konteks, konteks en weereens konteks!

Luk.1:67 “En Sagaría, (Johannes die Doper se vader)sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê: 68 Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, 69 en ‘n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg — 70 soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af — 71 redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat, 72 om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink, 73 aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee 74 dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, 75 in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.”
Weereens is hier van ‘n aardse koninkryk gepraat nie van ‘n hemelse nie.

6. Die aardse Koninkryk word weereens in Handelinge en die briewe voorspel:

Hand.2:29 “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons (op aarde) tot vandag toe. 30 Omdat hy dan ‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy (Dawid se) troon te sit,” (dus ‘n menslike nasaat, naamlik die Here Jesus Christus Wie God in die vlees is.) Dawid het nooit op God se troon in die Hemel gesit nie en hy sit ook nie nou daar nie. Sy troon was op aarde, in Israel wat in die Midde Ooste geleë is. Tydens die Messiaanse Koninkryk van Christus, sal die Here Jesus Christus op Dawit se troon in die Jerusalem op aarde sit en die wêreld daarvandaan vir duisend jaar regeer.
Rom.11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; 26 en so sal die hele Israel
(sal op nasionale vlak sowel as fisiese vlak) gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; 27 en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.” (Die Nuwe Verbond wat Hy met hulle sal aangaan.) Let op die terme “Verbond met hulle”. Paulus verwys hier na God se verbond (Abrahamitiese Verbond) met die volk Israel, daarvan kan daar geen twyfel wees nie. Let ook op die term “Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;” Dit is duidelik ‘n verwysing na ‘n toekomstige gebeurtenis, en nie iets wat alreeds plaasgevind het nie. Dit dien ongetwyfeld as bewys dat ‘n aardse koninkryk op aarde vereis word.

7. Christus se Koninkryk op aarde is ‘n toekomstige gebeurtenis wat in Openbaring voorspel word:

Openb. 20-22. Die leser word versoek om self hierdie hoofstukke in die Bybel te lees omrede dit te lank is om hier aan te haal. Die leser word ook aangeraai om ook die illustrasie “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Verdrukking” sorgvuldig te bestudeer.

Ter afsluiting: Ek gaan vir eers hier afsluit, en in die volgende artikel sal ons voortgaan om te demonstreer dat die skrifte ongetwyfeld voorspel dat Christus in die toekoms self Sy Koninkryk op aarde sal kom vestig.Hierdie hele konsep vorm deel van sewe dispensasies en is uiters belangrik om reg te verstaan.

Indien die Skrifte aangaande die Koninkryk van Christus op aarde verkeerd geïnterpreteerword sal dit tot die volgende lys mistastings aanleiding gee, naamlik:

1. Ons sal die Evangelie van God se genade, wat ons Tydens die Dispensasie van Genade moet verkondig, met die Evangelie van die Koninkryk, wat aanvanklik aan Israel gerig is, verwar. Daar is baie mense wat verkeerdelik die Evangelie van die Koninkryk tydens die Dispensasie van die Kerk verkondig. In my beskeie opinie maak die meeste mense hulle aan hierdie mistasting skuldig, onder andere Gereformeerde Teologie, Jehova Getuies, Sewedaagse Adventiste, asook dieproponente van Voorspoed Teologie ens. Hulle vergeet egter dat die Evangelie van die Koninkryk uitsluitlik aan die Jode verkondig is.

2. Ons sal die leerstellings van die Wet van Moses met die leerstellings van genade, wat ons tydens die Dispensasie van die Kerk/ Genade moet verkondig word, met mekaar verwar. Die leser word sterk aangeraai om weereens die artikels “Die Dispensasie van die Wet”, asook “Die Dispensasie van die Kerk/Genade” sorgvuldig te bestudeer.

3. ‘n Persoon sal poog om self voor Christus se wederkoms, en Sy liggaamlike teenwoordigheid hier op aarde, die Koninkryk van Christus op aarde te vestig. Die Bybel verklaar egter dat dit Christus self is wat na afloop van Sy wederkoms Sy koninkryk op aarde sal oprig. Terme soos “Ons is besig om die Koninkryk in te bring” is voorbeelde hiervan. Die teologie van rekonstruksionisme is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Proponente van die Koninkryk Nou Teologie maak hulleself ook aan hierdie mistasting skuldig en verlei sodoende hulle gemeentes.

4. ‘n Persoon sal verkeerdelik tot die gevolgtrekking kom, dat die beloftes wat God in die Ou Testament aan die volk Israel gegee het, huidiglik in ‘n geestelike sin deur die Kerk vervul word en wat valslik tot die gevolgtrekking kom dat daar geen toekoms vir die etniese volk Israel is nie. Voorstaners van Verbondsteologie, asook Vervangingsteologie maak hulle aan hierdie mistasting skuldig. Hierdie mistasting het ook al daartoe aanleiding gegee dat kerke, asook organisasies soos byvoorbeeld Die Wêreld Raad van Kerke openlik Palestynse Organisassies, wat hulleself aan terrorisme skuldig maak, ondersteun en openlik teen Israel gekant is. Volgens die Bybel is Israel die eienaars van die ‘n baie groter gedeelte van Israel as wat hulle huidiglik besit, en met die aanbreek van Christus se Koninkryk op aarde sal Israel hulle hele grondgebied in ontvangs neem. Dit is God wat die staat van Israel se herontstaan in 1948 bewerkstellig het, en dit vorm deel van Sy Raadsplan wat die tafel vir die gebeure in die Groot Verdrukking dek. Om teen die bestaan van Israel gekant te wees is om teen God se wil te rebelleer.

Ons nader nou vinnig die einde van die Kerk Dispensasie, en daarom is dit van uiterste belang dat ons God se woord reg sny en kennis dra van die gebeure wat om die draai lê. Dit sal ons aanmoedig om die tyd uit te koop, en vir onsself genadeloon te versamel wat tot ‘n groot mate ons posisies binne Christus se administrasie in Sy koninkryk sal bepaal.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.