Moet glo dat Jesus God is

Moet glo dat Jesus God is?

Vraag: Is dit ‘n vereiste om te glo dat Jesus, God is, om wedergebore te word? Ek kan nie ‘n duidelike antwoord in die Bybel kry nie. Help asb! Ek wonder nogal gereeld oor hierdie vraagstuk.

Antwoord: Dankie vir die vraag. Ek dink daar is nogal baie mense wat met hierdie vraag worstel. Die Bybel stel dit baie duidelik, dat mens moet glo dat Jesus God is, voordat mens gered kan word.
Joh 8:23 “En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie. 8:24 Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.”

Die “Ek Is” wat die Here hier van praat, is dieselfde naam waarmee God Homself aan Moses in die Ou-Testament bekendgestel het. Voor ons egter daarby kom, gaan ons eers probeer vasstel wie nou eindelik met Moses gepraat het.
Eksodus 3:2 “Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! 3:3 En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. 3:4 Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. 3:5 En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. 3:6 Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien. 3:7 En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte.”
Soos wat ons baie duidelik vanuit bostaande teksgedeelte kan waarneem, is die feit dat dit die Here Jesus Christus is, wat in die brandende doringbos aan Moses verskyn het . Wanneer die Here Jesus Christus in die Ou-Testament aan mense verskyn het, het Hy as die Engel van God verskyn, net soos in bostaande teksgedeelte waargeneem kan word. Ook sal ons opmerk dat die HERE (Jahweh) Moses sien nader loop het en God(Elohim) het toe na hom uitgeroep (vers 4). Dit is egter nog steeds Jesus in Sy pre-geïnkarneerde verskyning wat hier met Moses praat. Jesus is dus Jahweh van die Ou-Testament, die tweede Persoon in die Drie-Eenheid.

Eks 3:13 “Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord? 3:14 En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. 3:15 Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.
Hier sal ons opmerk dat God (Jesus ) Homself “Ek Is” noem. Indien ons nou na Sy eerste koms gaan Kyk, dan sal ons opmerk dat Hy Homself weer as “Ek Is” bekendstel.

Joh 8:24 “Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.”
“Ek Is” moet eintlik met ‘n hoofletter geskryf word, om duidelik te maak wat die Here hier bedoel. Die Amplified Bible stel dit wel so wat korrek is. Indien iemand dus nie glo dat Jesus God is nie, dan kan daardie persoon nie gered word nie. Die Here stel dit hier baie duidelik en die persoon sal in sy sondes sterwe indien hy nie glo dat Jesus God is nie. Dus moet mens glo dat Jesus God is om gered te word en moet ons hierdie feit ook aan ander opdra wanneer ons die Evangelie verkondig.

Ek hoop en bid dat my antwoord help.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.