Soekers van Ydele Eer

Soekers van Ydele Eer

Gal 5:24 “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. 5:26 Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.”
‘n Ware Christen is nie veronderstel om oor homself te spog nie, maar moet oor die Here roem. (1Ko 1:26 – 31)

Wettiese mense vergelyk hulleself graag met ander mense, en spog dan met hulle goeie werke, asof hulle goeie werke, hulle by God nog meer aanvaarbaar maak. Sulke mense vergeet dat al ons werke soos vuil klere voor God is.
Jes 64:6 “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.”
Ons is net aanvaarbaar vir God, omrede Jesus ons sondes op Homself geneem het en daarvoor aan die kruis betaal het.  Al wat ons moet doen is glo. En dus is daar niks om oor te roem nie.
Rom 5:8 “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 5:9 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”

Aan die anderkant is daar weer mense wat die vryheid, wat daar in Jesus Christus is, as ‘n lisensie gebruik om vrylik te sondig. Hierdie mense sal weer spog met hulle sondige dade en wêreld gesindheid, asof dit iets is om op trots te wees.
Jud 1:4 “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, (losbandigheid) en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.”
Ons word ook gewaarsku om heiligmaking in ons lewens toe te pas .
Heb 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”

Na afloop van wedergeboorte (fase een van ons verlossing) verwag die Here van ons, om toe te laat dat die heilige Gees heiligmaking in ons lewens bewerkstellig (fase twee van ons verlossing). (lees asb die artikels  “Drie Fases van verlossing” asook “Heiligmaking op grond van genade deur geloof“) En dit is juis tydens fase twee van ons verlossing, waar die Heilige Gees ons verlos van die sondes, wat ‘n houvas op ons lewens, na wedergeboorte het. Indien ‘n gelowige nie heiligmaking toepas nie, sal so ‘n gelowige nie die Here Jesus Christus aan sy medemens reflekteer nie, en sal hulle dus nie Christus in sy optrede kan waarneem nie. So ‘n gelowige sal ook nie intieme verhouding met die Here geniet nie en in daardie opsig sal hy nie die Here sien nie. 

Ware Christenskap laat nie plek vir spog met self, eiewaan en hoogmoed nie. Dit voorkom ook dat gelowiges ander mense beny wat skadelik vir die mens se geestelike lewe is. Selfliefde, hoogmoed, eiewaan, asook enige ander vorm van selfliefde/selfverheerliking, kom vanaf die vlees en nie vanaf die Gees nie. ‘n Verdraaide gesindheid van vryheid, asook ‘n wettiese mentaliteit stimuleer hierdie verbode gedrag by mense. Ons moet sensitief vir die oortuigings werk van die Heilige Gees wees. Deur dit te doen sal ons verhoed dat ons in die strik van die duiwel val.
Gal 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”

Onthou, die Heilige Gees sal ‘n gelowige nooit terug onder die wet,  vir heiligmaking neem nie, en Hy sal ons altyd na Christus en die Bybel neem en ons sodoende na heiligheid lei. Ook sal die Heilige Gees ons nooit na vleeslikheid, wêreldgesind of enige sonde toe lei nie. 
Gal 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3:3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het,  (fase een van ons verlossing , naamlik wedergeboorte) eindig julle nou met die vlees?” (fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking. Mens kan nie die wet gebruik om heiligmaking in ‘n persoon se lewe te bewerkstellig nie! Lees die artikel “Heiligmaking op grond van genade deur geloof“)

Om die eer van mense te soek, dui op ‘n baie subtiele wyse, ‘n gelowige se begeerte om selfverheerliking aan. Ons werk is om God se eer te soek, en Hom alleen te verheerlik, al beteken dit dat ons die wêreld se eer verloor. Ons sal dit net kan regkry deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees en op geen ander wyse nie. Sodra ons opmerk dat enige vleeslike begeerte of gedrag soos byvoorbeeld hoogmoed in ons lewens (of harte) begin manifesteer, moet ons onmiddellik daardie sondes bely, en onsself weer volkome aan die God onderwerp, sodat die Heilige Gees in, en deur ons, kan lewe en sodoende die oorwinning oor die vlees kan behaal. Moet nooit die wet gebruik in ‘n poging om die vlees te oorwin nie, dit sal net tot frustrasie en mislukking lei.

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.