die ewigheid

Die Ewigheid

Voordat ons met hierdie uiters belangrike studie oor die ewigheid begin moet ek die leser versoek om die artikel “Die Dispensasies ‘n skriftuurlike perspektief” sorgvuldig deur te lees. Die verskillende dispensasies kan soos volg uiteengesit word, naamlik: 1. Die Dispensasie van Onskuld. 2. Die Dispensasie van menslike Gewete. 3. Die Dispensasie van menslike Owerheid. 4. Die Dispensasie van Belofte. 5. Die Dispensasie van die Wet. 6. Die Dispensasie van die Kerk/Genade 7. Die Dispensasie van die Koninkryk, wat die ewigheid inlei en waaroor hierdie studie handel. Streng gesproke is die ewigheid nie ‘n dispensasie nie maar die finale toestand wat in die nuwe skepping sal heers. In die boek Genesis merk ons waar God die heelal geskape het en ons merk ook hoedat sonde tydens die sondeval in die wêreld ingekom het. Wanneer ons aan die einde van die boek van Openbaring kom sien ons hoe die Here ‘n einde aan Satan, en alle goddeloosheid op aarde maak en hoe Hy ‘n nuwe hemel en aarde skape waarin geen vorm van boosheid ooit weer sal indring nie. Die ewigheid sal dus vry van enige vorm van goddeloosheid wees. God se skepping begin in perfeksie en word tot perfeksie herskep. Ook merk ons dat in die ewigheid die gevolge van die vloek op aarde heeltemal afwesig sal wees, en dat God ʼn einde aan die satan, asook die mensdom se rebellie sal maak. Indien ons die gebeure van die skepping, soos in Genesis gevind, met die nuwe skepping in die boek Openbaring vergelyk merk ons dat daar heelwat verskille is. Ons sien hoedat die eerste Adam in die tuin van Eden alles a.g.v. sy rebellie teen God verloor het en dat die laaste Adam alles aan die einde van Openbaring herwin het.

Vervolgens ʼn lys van voorbeelde, naamlik:

1. In Genesis sien ons hoe God die hemel en aarde geskape het. (Gen.1:1) In Openbaring vind ons ʼn nuwe hemel en aarde en merk dat die eerste hemel en aarde verby gegaan het. (Openb.21:1a) 2. In Genesis merk ons hoe God die droë aarde van die waters geskei het en dat Hy die versameling van waters see genoem het. (Gen.1:10) In Openbaring merk ons dat daar geen see meer op die nuwe aarde sal wees nie. (Openb.21:1ff) 3. In Genesis merk ons waar God dag en nag daargestel het. (Gen.1:5) In Openbaring merk ons dat daar nie meer nag sal wees nie. (Openb.21:25) 4. In Genesis merk ons hoe God die son, maan en sterre geskape het. (Gen.6:16) In Openbaring vind ons egter die afwesigheid van die son en maan omrede dit nie meer nodig sal wees nie, maar dat God se heerlikheid die Nuwe Jerusalem sal verlig. (Openb.21:23) 5. In Genesis merk ons waar die dood vir die eerste keer as moontlikheid op aarde bekendgemaak word. (Gen.2:17) In Openbaring merk ons dat daar nooit weer dood sal wees nie. (Openb.21:4) 6. In Genesis sien ons hoe pyn vir die eerste keer op aarde ʼn werklikheid word. (Gen.3:16) In Openbaring merk ons dat daar geen pyn (fisiese of emosionele pyn) meer sal wees nie. Openb.21:4) 7. In Genesis merk ons dat die aarde a.g.v. sonde vervloek word. (Gen.3:17) In Openbaring merk ons dat die vloek heeltemal verwyder is. (Openb.22:33) 8. In Genesis merk ons waar die satan vir die eerste keer as verleier sy opwagting maak. (Gen.3:1-4) In Openbaring sien ons dat die satan in die poel van vuur gewerp is waar hy vir ewigheid gepynig sal word. (Openb.20:10) 9. In Genesis merk ons waar die mens van die Boom van die Lewe weggedryf word. (Gen.3:22) In Openbaring vind ons dat die mens weer toegang tot die Boom van die Lewe het. (Openb.22:2) 10. In Genesis merk ons dat die mens van die teenwoordigheid van God weggedrywe word. (Gen.3:24) Aan die einde van Openbaring merk ons dat die mens weer God se aangesig sal sien. (Openb.22:4) 11. In Genesis word ons vir die eerste keer aan goud en edelgesteentes bekendgestel. (Gen.2:12) In Openbaring merk ons dat die Nuwe Jerusalem uit goud en edelgesteentes gebou is. (Openb.21:16-21) 12. In Genesis vind ons die eerste belofte van die komende Verlosser. (Teen die einde van Openbaring vind ons dat die Verlosser teenwoordig is en regeer. (Openb. 20-22) Die ewigheid is dus die finale staat waarin die nuwe skepping sal funksioneer.

Die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde:
Gen.21:1 “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.”

Die Nuwe Jerusalem:
Openb.21:2-22:5

A. Die Nuwe Jerusalem:

1. Openb.21:2 “En ek, Johannes, het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. “
Anders as wat baie mense beweer besit Jerusalem ‘n baie belangrike plek in God se raadsplan vir die eeue, nie net op hierdie aarde nie maar ook in die een wat kom. Die Nuwe Jerusalem sal die hoofstad van die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde wees. Die Nuwe Jerusalem sal in alle aspekte heilig wees en ʼn plek wees waarin sonde en die dood nooit weer sal inkom nie. Die term “heilig” beteken afgesonder en daarom sal die Nuwe Jerusalem posisioneel aan God afgesonder wees, en hierdie feit bevestig die feit dat die Nuwe Hemel en Aarde heeltemal van enige konsep van sonde en dood geskei sal wees.

Daarbenewens sal die Nuwe Jerusalem nie deur mensehande gebou word nie, maar daal vanuit die Hemel op die aarde neer. Die Nuwe Jerusalem is die plek waarna die Here Jesus Christus verwys het toe Hy die belofte gemaak het dat Hy weer sou terugkom (die wegraping) en die plek waarheen Hy die kerk sou neem. Dit is in die Nuwe Jerusalem waarin die Here Jesus Christus nou juis besig is om vir ons plek voor te berei, naamlik:
Joh.14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Dit is belangrik om te onthou dat die Nuwe Hemel en Aarde (die ewigheid) ook ʼn hoofstad sal hê. Die nuwe hoofstad van die aarde sal op ʼn spesifieke plek op aarde gevestig wees en sal as die hoofstad van die aarde ʼn heel bedrywige plek wees. Dit is ʼn ernstige mistasting om te dink dat ons in die hiernamaals op wolke gaan ronddryf en niks doen nie. In die ewigheid sal ons nog steeds interpersoonlike verhoudings met God, die engele, ons geliefdes, asook ons medemens geniet.

2. God tabernakel weer by die mens:

Openb.21:3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.
Dit was nog altyd God se begeerte om saam met die mens te woon en ‘n intieme interpersoonlike vertrouensverhouding met hulle te geniet. Hierdie feit is een van die redes waarom die Here Jesus Christus elke dag saam met Adam en Eva in die tuin van Eden gewandel het.
Gen.3:8a “En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie;”
Dit is hierdie gemeenskap wat met die sondeval vernietig is en wat weer in die Nuwe Jerusalem die norm sal wees. In die Ou-Testament, toe Israel eerstens die tabernakel in die woestyn, en later die tempel vir God in Jerusalem gebou het, het God se Shekinah glorie afgekom en daar tussen Sy mense getabernakel. (gewoon) So ook met die Here Jesus Christus se eerste koms het Hy by die mense getabernakel en om hierdie rede het die engel na Hom as Emmanuel verwys.
Matt.1:23 “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”
Vir ʼn verhouding om werklik ʼn verhouding te wees, moet dit op liefde gebaseer wees en uit eie wil bewerkstellig word. In die ewigheid sal hierdie verhouding volkome herstel wees, om nooit weer deur sonde onderbreek te word nie.Die werklike doel van die mens is nog altyd gewees om God te verheerlik en om gemeenskap met Hom te geniet. Ook hierdie doel sal ʼn werklikheid in die ewigheid wees.

3. Die gevolge van die vloek sal heeltemal verwyder word:

Openb.21:4 “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
Daar sal byvoorbeeld geen meer trane gestort word nie. By implikasie beteken dit dat daar geen meer smarte of hartseer sal wees nie. Niemand sal meer fisies tot sterwe kan kom nie, en omrede daar geen lyding meer sal wees nie sal vreugde en blydskap die orde van die dag wees. Trane van smart en frustrasie sal vir ewig iets van die verlede wees. ‘n Persoon sal in werklikheid dan al sy begeertes kan uitleef met die wete dat daar altyd genoeg tyd sal wees om sy drome ‘n werklikheid te maak. Ook die kapasiteit en vermoëns om hierdie drome te bewerkstellig sal ʼn realiteit wees. Die hiernamaals/ die ewigheid gaan nie ʼn tyd van niksdoen wees nie. Ons gaan dan eers in werklikheid die volle omvang van die term “ewige lewe” ten volle kan begryp en uitleef. Om hierdie rede hoef ons nie te treur soos die ongelowiges om ons treur wanneer ons ʼn geliefde aan die dood afstaan nie. In werklikheid kan die dood van ʼn gelowige as ʼn seën beskou word, omrede daardie persoon vir ewig van die perke, asook smarte wat die sondeval op hom gebring het bevry wees.
Rom.8:18 “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.”
1Thess.4:13 Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.”

4. God se opsommende verklaring:

Openb.21:5 “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. 6a En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde.”
Bostaande stelling is deur God die Vader geuiter en dit is die eerste keer waar ons in die boek van Openbaring God die Vader hoor praat. Die konteks waarin bostaande stelling gemaak word vereis dat dit niemand anders as God die Vader kan wees nie, omrede dit God die Vader is wat ons direk na afloop van die voorverdrukking-wegraping op die troon sien sit en wat daar aanbid word, naamlik:
Openb.4:1 “Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. 2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een (God die Vader) sit op die troon. 3 En Hy (God die Vader) wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. 4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge (die Kerk) sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.”
In Openb.5:1 merk ons dat Hy (God die Vader) ‘n boekrol (die titelakte van die wêreld) vashou wat met sewe seëls verseël is.
Openb.5:1 “En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ʼn boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.”

Daar is niemand anders behalwe die Here Jesus Christus wat kwalifiseer om die boekrol te neem en die seëls te breek nie. Met die stelselmatige oopbreek van die sewe seëls word God se oordeel op ʼn sistematiese wyse op die wêreld uitgestort en sodoende word die duiwel, die Antichris, asook die valse profeet (die sataniese drie-eenheid) se houvas op die wêreld (wat die koninkryke van die wêreld insluit) verbreek. Op grond van hierdie feit sal God dit duidelik maak dat slegs Hy die Alfa en Omega is en dat alles (wat die hele skepping insluit) om Hom draai, en vir Hom en deur Hom bestaan.
Rom.11:36 “Want uit Hom (die oorsprong van alles) en deur Hom (die middel/Persoon waardeur Hy dit doen) en tot Hom (die doel van alles) is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Indien ‘n persoon se filosofie van die skepping se geskiedenis nie op God (en Sy woord die Bybel) gebaseer is nie, dan is daardie persoon met afgodediens besig. Die rede hiervoor is dat ‘n persoon se filosofie van die skepping se geskiedenis ook sy lewensfilosofie sal bepaal en wat weer in sy optrede uitdrukking sal vind. Ongelukkig is daar baie mense wat onder die indruk verkeer dat die skepping om hulle draai en nie om God en Sy woord nie.

5. Wie gaan in die Nuwe Jerusalem woon?

Openb.21:6b “Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. 7 Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees. 8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Wie is die vreesagtiges in Openb.21:8?” te lees om te sien wat die gegewe teksgedeelte in werklikheid bedoel.)
Die stelling “Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.” neem ons terug na die gesprek wat die Here Jesus Christus tydens Sy eerste koms met die Samaritaanse vrou by die put van Jakob gehad het, naamlik:
Joh.4:13 “Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.”
Enige ongelowige persoon wat dors om deel van God se familie te word, word uitgenooi om dit sonder enige kostes, deur geloof alleen in die Here Jesus Christus in ontvangs te neem. (omrede die Here Jesus Christus vir al die persoon se verlede, hede en toekomstige sondes d.m.v. Sy voltooide werk aan die kruis betaal het)

Die stelling “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.” verwys na enige persoon wat die evangelie van God se genade, sonder die doen van enige werke geglo het. Die apostel Johannes wie die skrywer van die boek Openbaring is, het ook vir ons in een van sy briewe presies verduidelik wie die persoon is wat oorwin, naamlik:
Joh.5:4 “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”

Aan almal sonder uitsondering wat die evangelie van God se genade geglo het, maak die Here Jesus Christus die volgende belofte, naamlik:
Openb.3:5 “Wie oorwin, (alle mense wat slegs die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het) sal beklee word met wit klere, (die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid) en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, (die oomblik wanneer die persoon die evangelie glo, word Sy naam in die boek van die lewe opgeskryf en God belowe om dit nooit uit te vee nie. Fase een van sy verlossing, naamlik wedergeboorte is finaal afgehandel) en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.”
Hierdie is weereens ‘n belofte dat ‘n gelowige nooit uit genade kan verval en verlore sal kan gaan nie. Die Here gaan egter verder en gee die volgende belofte aan ons, naamlik:
Openb.3:11 “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.
(‘n Kroon vorm deel van ʼn persoon se genadeloon wat na afloop van aanvanklike wedergeboorte, deur goeie werke, verdien kan word en wat ook verbeur kan word. Fase twee van ʼn persoon se verlossing, naamlik heiligmaking wat goeie werke vereis.) 12 Wie oorwin, (almal wie die evangelie geglo het, naamlik wedergeboorte) Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.”
Bostaande teksgedeelte dien as verdere bewys dat ‘n gelowige nooit die ewige lewe sal kan verloor nie, maar hy kan egter sy genadeloon verbeur, iets waarteen ons almal moet waak. Om hierdie rede moet elke gelowige daarna streef om genadeloon deur dissipelskap/goeie werke te versamel.

6. Wie gaan nie in die Nuwe Jerusalem woon nie:

Alle mense wat nog in hulle sondes is, naamlik al die ongelowiges, en dit sluit diegene wat die slagoffers van enige vorm van valse evangelie is in. Dit beteken almal wat nie hulle geloof in die Here Jesus Christus, en Sy voltooide werk aan die kruis alleenlik geplaas het nie. Dit sluit alle mense, wat in enige vorm van werke evangelie geglo het, ook in. Indien sodanige persoon in hulle ongeredde toestand tot sterwe sou kom sal hulle vir ewig in die poel van vuur bly voortleef. Hierdie finale toestand van die ongelowiges van alle tye staan as die tweede dood bekend. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die sewe vorme van dood in die Bybel” sorgvuldig te lees.
Openb.21:8 “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.”

Die vreesagtiges sluit ook diegene in wat te bang is om werklik die Here Jesus Christus alleenlik vir hulle verlossing te vertrou, en daarom voeg hulle, hulle menslike werke by die evangelie om gered te word of om gered te bly. Hierdie is maar net nog ‘n vorm van ongeloof. Die Here Jesus Christus het uitdruklik verklaar dat Hy alleen die Weg is, en dat daar buiten Hom geen ander weg na God die Vader is nie. (om enige vorm van menslike werk aan die voorkant, middel of aan die agterkant van die evangelie, as vereiste om die ewige lewe te ontvang, te voeg is om ʼn ander evangelie te glo wat maar net nog ʼn vorm van ongeloof is.) Dit geld ook vir mense wat op die een of ander wyse hulle eie goeie werke die bepalende faktor in hulle redding maak of wat hulle werke as maatstaf gebruik om te bepaal of hulle gered is of nie.
Joh.14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Nie deur die Here Jesus Christus plus enige ander menslike werke nie!)
Baie Calviniste verklaar byvoorbeeld, dat indien ‘n persoon se lewe deur ʼn sondige leefstyl gekenmerk word dat daardie persoon (wat by implikasie vreesagtigheid insluit), nooit werklik wedergebore is nie. Op hierdie wyse maak hulle menslike werke die bepalende faktor in die mens se redding, en nie geloof in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis nie.

Dieselfde beginsel geld vir Arminianisme wat glo dat ‘n persoon sy verlossing kan verloor. Hierdie is ook maar net nog ʼn vorm van ongeloof, want dit demonstreer dat hulle nie glo dat die Here Jesus Christus vir al hulle sondes (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis gesterf het nie, en in hierdie opsig demonstreer hulle dat hulle glo dat daar nog ‘n sonde (of sondes) is waarvoor Christus nie versoening aan die kruis gemaak het nie. Die ding wat gaan bepaal of ʼn persoon hemel toe sal gaan is die feit dat hy in die Here Jesus Christus alleenlik geglo het om sy verlossing te bewerkstellig. Die skrifte stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

Om hierdie rede word ‘n persoon, die oomblik wat hy die evangelie glo, deur die Heilige Gees in Christus geplaas/gedoop en ontvang sodoende die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Rom.3:22 “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”
Enige persoon wat nie Christus se toegerekende geregtigheid ontvang het nie, sal wanneer hy tot sterwe kom in sy sondes sterf en hel toe gaan.
Gal.2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”

7. Die Nuwe Jerusalem het die glorie van God:

Openb.21:9 “En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. 10 En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; 11a en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. ”
Die hele skepping, insluitende die mens, is deur God geskape met die uitsluitlike doel om Sy heerlikheid te reflekteer. Net soos waardevolle edelgesteentes lig reflekteer net so sal die Nuwe Jerusalem God se glorie in die ewigheid reflekteer.

8. Die Nuwe Jerusalem sal deur ‘n muur omring wees:

Openb.21:12 “En dit het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel. 13 Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte. 14 En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam.”
Die feit dat die engele by die poorte diens doen dien as bewys dat die engele een van die groep wesens is wat in die Nuwe Jerusalem teenwoordig sal wees. Die feit dat die name van die twaalf stamme van Israel op die poorte aangebring is dien as indikasie dat die volk van Israel as ʼn aparte identifiseerbare groep mense ook in die Nuwe Jerusalem aanwesig sal wees. Indien ons die Ou-Testament mooi bestudeer dan kom mens gou agter dat die volk Israel ʼn aardse koninkryk verwag het en daarom sal hulle ook in die Nuwe Jerusalem woon wat vanuit die hemel op die aarde neergedaal het en op die aarde tot stand kom.
Heb.11:8 “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. 9 Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. 10 Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.”
Die twaalf apostels verteenwoordig die Kerk, wie ook in die Nuwe Jerusalem sal woon, en wat vir ewig by die Here Jesus Christus, as Sy Bruid, teenwoordig sal wees net soos wat Hy belowe het. Dit is opmerklik dat Israel, asook die Kerk, sowel as die engele in die nuwe Jerusalem teenwoordig sal wees maar hulle sal vir ewig hulle unieke groepsidentiteit behou en as sodanig erkenbaar wees.

9. Die Nuwe Jerusalem se demensies en voorkoms:

Openb.21:15 “En hy wat met my gespreek het, het ‘n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet. 16 En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend vyf honderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk. 17 En hy het sy muur gemeet op honderd vier en veertig el, volgens ‘n mens se maat, wat die maat van ‘n engel is.”
Die Stad sal omtrent 2414km hoog, lank en breed wees, en heelwaarskynlik in die vorm van ‘n kubus wees. ’n Muur wat omtrent 66 meter hoog is sal die stad omring. As verheerlikte mense sal ons nog steeds die konsep van tyd en ruimte ervaar omrede slegs God buite tyd en ruimte bestaan. Ons sal egter nooit doodgaan nie en sal eerder vir ewig bly voortleef. Die nuwe hemel en aarde sal ook nooit weer vernietig word nie en sal ook vir ewig bly voortbestaan.

10. Die stad sal uit suiwer goud wat deurskynend is gemaak wees:

Openb.21:18 “En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas. 19 En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes. Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag; 20 die vyfde sardóniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chrísopraas, die elfde hiasínt, die twaalfde ametís. 21 En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.”
Dit is moeilik om die konsep van ‘n massiewe stad in die vorm van ‘n kubus, wat uit suiwer goud gemaak is te visualiseer. Boonop moet ons nie van die muur rondom die stad wat van jaspis gemaak is en wat deur edelgesteentes versier is vergeet nie. Die kwaliteit van die goud sal van ‘n baie hoër standaard, asook suiwerheid wees as die goud wat ons tans op aarde aantref. Die 12 poorte van die stad sal uit reusagtige pêrels gemaak wees. Een pêrel per poort, (12 poorte) met die hoofstraat wat van suiwer goud gemaak is en wat soos deurskynende glas sal lyk. Ek glo dat God doelbewus nie ʼn meer gedetailleerde beskrywing van die Nuwe Jerusalem in die Bybel laat opteken het nie, omrede ons die werklike omvang, en prag van die Nuwe Jerusalem nooit in hierdie lewe werklik sal kan begryp nie. Die feit dat God so ʼn wonderlike plek vir ons voorberei, behoort elke een van ons aan te spoor om in lofprysing God te verheerlik, wetende dat ons in hierdie asemrowende stad sal woon en dit alles op grond van God se genade deur geloof alleen.

11. God Almagtig en die Lam is die tempel, sowel as die lig van die Nuwe Jerusalem:

Openb.21:22 “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. 23 En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.”
Omrede die gevolge van sonde (in die ewigheid) heeltemal deur God ongedaan gemaak sal wees, sal die verloste mensdom in God se onbedekte heerlikheid leef, die lig daarvan sal onbeskryflik helder wees en wat ons sou verblind indien ons dit in ons nie-verheerlikte liggame sou aanskou. Daar sal geen tempel op die Nuwe Aarde wees nie, want God, en die Seun self sal die tempel in die Nuwe Jerusalem wees en die Here Jesus Christus sal die lamp van die stad wees.

12. Die stad sal permanent oop wees en die konings van die aarde die stad besoek:

Openb.21:24 “En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. 25 En bedags – want nag sal daar nie meer wees nie sal sy poorte nooit gesluit word nie; 26 en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.”
Die vraag ontstaan dan nou, wie is die nasies waarvan hier gepraat word? Indien ons die skrifte mooi bestudeer sal ons opmerk dat die Bybel onderskeid tussen drie groepe mens maak. Die eerste groep is die nasies, die tweede groep is gelowige Israel en die derde groep mense is die Kerk, wat uit gelowige Jode asook gelowige heidene bestaan en wat as die liggaam van Christus bekendstaan. Die nasies wat ons in bostaande teksgedeelte sien is gelowiges wat tydens die Ou-Testament geleef het, en wat nie deel van Israel gevorm het nie en wat ook nie deel van die Kerk was nie. Dit sluit ook die nie-Joodse nasies wat tydens die verdrukking, en die Dispensasie van die Koninkryk tot geloof gekom het in. Dit sal mense soos Adam, Eva die gelowiges in Ninevé, Melgisedek ensovoorts insluit. Hierdie mense is die mense wat buite die stad op die nuwe aarde sal leef en wat na die Nuwe Jerusalem toe sal kom om daar te aanbid en geskenke vir God te bring.

13. Slegs geredde mense sal die Nuwe Jerusalem binnegaan:

Openb.21:27 “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.”
Bostaande teksgedeelte beteken nie dat daar mense op die nuwe aarde sal wees wat ongered is of sonde pleeg nie. Alle mense op aarde se name is in die boek van die lewe opgeskryf. Die ongelowiges van alle tye, sal alreeds teen hierdie tyd in die poel van vuur gewerp wees, en sal nie toegang tot die nuwe hemel en aarde kan kry nie. Wat hierdie teksgedeelte vir ons bevestig is dat die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde absoluut heilig en sonder sonde sal wees. Slegs geredde mense sal in die nuwe aarde teenwoordig wees. Omrede al die mense op die nuwe aarde alreeds met hulle sondelose verheerlikte liggame beklee sal wees sal sonde nooit weer ‘n probleem op die Nuwe aarde wees nie en die mens sal in hierdie sondelose toestand bevestig wees en bly. Die feit dat die Nuwe Jerusalem die heeltyd oopstaan bevestig hierdie gevolgtrekking. Om hierdie rede staan die stad die heeltyd oop, en almal wat die nuwe hemel en aarde binnegaan sal in die stad welkom wees.

14: die Boom van die Lewe sal weer teenwoordig wees en geen sonde of vloek sal ooit weer daarin wees nie:

Openb22:1 “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. 2 In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies. 3 En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. 4 En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. 5 En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.”
Ons moet nooit die fout begaan om te dink dat ons niks in die hiernamaals gaan doen nie. Ons gaan aktiewe, vervullende, kwalitatiewe en kreatiewe lewens lei. Die omgewing waarin ons gaan leef sal vry van enige pyn, lyding of smarte wees. Moeite sal daar ook nie wees nie, maar ons gaan nie sit en niks doen nie. Daarbenewens sal daar grade van genadeloon toegeken word wat bo en behalwe die erfporsie is wat ons tydens wedergeboorte as ewige besitting ontvang het. Daarom is dit van uiterste belang dat ons goeie werke na afloop van aanvanklike wedergeboorte moet doen. Die motief van hierdie werke moet egter nooit ʼn poging wees om ons verlossing (fase een, naamlik wedergeboorte) te bewerkstellig nie of ʼn poging wees om onsself gered te hou nie. Ook moet ons nie poog om God vir die gawe van die ewige lewe te probeer vergoed nie want dit sal niks ander as ʼn belediging vir Hom wees nie. Dit is God se wil vir elkeen van ons om goeie werke te verrig sodat Hy in die toekoms ons daarvoor kan beloon, wat Hom sal verheerlik en Hom oneindige vreugde sal verskaf. Met wedergeboorte ontvang ons outomaties ʼn erfporsie by God wat vir ewig ons sin is en wat nooit verloor kan word nie. Daarenteen kan ʼn gelowige bo en behalwe die erfporsie wat hy tydens wedergeboorte ontvang ʼn dubbele erfporsie deur die doen van goeie werke na afloop van aanvanklike wedergeboorte as genadeloon verdien.

Vir ons wat tydens die huidige Kerk Dispensasie tot geloof kom, is ons hoofsaaklike opdrag om die evangelie met ander te deel en om dissipels van diegene te maak wat die evangelie geglo het. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons op een of ander wyse by die verkondiging en die maak van dissipels betrokke moet wees. Vir hierdie rede het God die verskillende genadegawes aan die kerk geskenk en dit is mense wat deur die Heilige Gees in staat gestel word om hulle werk te verrig. Dit sluit die ampte van evangeliste, herders en leraars in. (Ef.4:11) Die werk, tyd en vermoëns wat God ons in Sy genade gegee het, is aan ons geskenk sodat ons Sy opdrag kan uitvoer. Ons het slegs een lewe om die Here in hierdie opsig te eer en dit gaan die mate van ons genadeloon in die hiernamaals bepaal. God het in Sy woord vir ons ‘n kort voorskou gegee van dinge wat nog vir ons in die toekoms voorlê. Hierdie feit behoort ons te bemoedig om Hom getrou te volg, met die wete dat dit nie nodig is om negatief en depressief te raak met alles wat ons in hierdie lewe moet deurmaak nie. Ons weet wat in die toekoms vir ons voorlê en dit behoort ons te bemoedig om met vreugde toe toekoms tegemoet te gaan wetende dat in Christus ons alreeds die oorwinning behaal het.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.