God se klassifikasie van die mensdom

God se klassifikasie van die mensdom. Deel 1

Vanuit die Skrifte blyk dit duidelik dat God die mensdom in hoofsaaklik twee groepe indeel, naamlik gelowiges en ongelowiges. Alle ongelowiges word as God se vyande geklassifiseer, en bevind hulleself nog onder God se oordeel vir hulle sondes en staan dus verdoem. Die ongelowige kan niks doen om God deur sy goeie werke te behaag nie. Al die ongelowige se beste werke is soos vuil lappe in God se heilige aangesig. (Jes.64:6) en om hierdie rede ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, naamlik:
Rom.3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,”
Die Skrifte beskryf die ongelowige as die “natuurlike man” omrede die persoon nog nie die Evangelie geglo het nie. Om hierdie rede het hy nog nie die Heilige Gees d.m.v. wedergeboorte ontvang nie en daarom het sy posisionele stand voor God nog nie verander nie. Die ongelowige is dus nog volkome onveranderd, en in sy sondige toestand, en die Skrifte verwys na so ‘n persoon as die oue mens. (Kol.3:9-10) Hy kan dus slegs vanuit sy gevalle natuur optree, en dit sluit al sy goeie dade in. Dit maak nie saak hoeveel goeie werke ‘n ongelowige persoon ook al mag verrig nie, daardie werke kan God nie behaag nie, omrede hy nog in sy ongelowige toestand is. Die enigste ding wat so ‘n persoon kan doen, om sy lot te verander, is om die Evangelie te glo. Niks anders nie.

Die tweede groep mense is die wat alreeds die Evangelie van God se genade verstaan en geglo het (sonder die doen van enige menslike werke) en wat nou Christus se toegerekende geregtigheid, as onverdiende gawe, ontvang het. Hierdie mense staan nou as gelowiges bekend. Slegs nadat ‘n persoon wedergebore geraak het, is hy in staat om deur voortgesette geloof, goeie werke deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees te verrig en sodoende kan hy God behaag. (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking) Dit is ook opmerklik dat daar soms groot verskille in die karakter en kwaliteit van gelowiges se geestelike lewens waarneembaar is. Om hierdie rede klassifiseer die Heilige Gees gelowiges in ‘n verdere twee groepe, naamlik “geestelike”, asook “vleeslike” gelowiges. Met hierdie reeks van twee artikels sal eerstens die ongeredde “natuurlike” mens bespreek word. In deel twee van hierdie reeks artikels sal ons die “geestelike gelowige” en dan die “vleeslike gelowige” bespreek.

Maar voordat ons begin is dit egter belangrik om die betrokke teksgedeeltes waarin hierdie leerstelling gevind word aan te haal, naamlik:
1Kor.2:7 “Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid (feite wat die mens nie sou kon ontdek as God dit nie dit nie aan hom geopenbaar het nie)wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, 8 wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie — want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie — 9 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. 11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. 12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. 14 Maar die natuurlike (ongeredde)mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.
1Kor.8:1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie? 4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos — is julle nie vleeslik nie?”

Dus het die apostel Paulus die mensdom in drie groepe geklassifiseer op grond van hulle vermoëns om sekere openbaringe wat van die Heilige Gees afkomstig is te verstaan. Dit is ook vanuit bostaande teksgedeelte opmerklik dat daar ‘n onderskeid tussen die algemene kennis wat die mens deur sy menslike sintuie, soos byvoorbeeld hoor en sien, asook natuurlike menslike berekeninge (die mensdom se vermoeë om te redeneer) getref word, en die insigte wat slegs deur die Heilige Gees openbaar en verstaan kan word. Boonop is ‘n persoon se begrip van die Heilige Gees se openbarings afhanklik van sy gesindheid/verhouding t.o.v. God en Sy woord. (waarin al God se openbarings deur die Gees aan die mens opgeteken staan.) Hierdie stelling geld nie vir die sogenaamde buite Bybelse openbarings wat vandag vrylik deur elke selfaangestelde moderne profeet geuiter word nie, maar slegs soos wat dit in die Bybel opgeteken staan. (die leser word en sterkste aangeraai om die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?” sorgvuldig deur te lees.)

Dus word die mens geklassifiseer op grond van die vermoeë om die “diep dinge van God” (soos in Sy woord opgeteken staan) te verstaan. Geen mens, indien hy nie deur die Heilige Gees daarmee gehelp word nie, beskik oor die vermoë om die “diep dinge van God” te verstaan en begryp nie.
1Kor.7:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. 11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.”
Die “diep dinge van God” kan slegs deur die Heilige Gees aan ‘n gelowige openbaar word, en indien Hy dit nie doen nie sal niemand daardie kennis kan ontdek nie. (dit maak nie saak hoe intelligent ‘n persoon ook al mag wees nie.)

Die Heilige Gees openbaar die “diep dinge van God” slegs aan gelowiges wat naby God leef en Sy woord (die Bybel) ernstig opneem. (die Gees-gevulde gelowige) Ons verhouding, en ons gesindheid aangaande die woord van God (die Bybel) gaan dus bepaal tot watse mate die Heilige Gees die “diep dinge van God” aan ‘n gelowige sal openbaar.
1Kor.7:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.”
(Die leser word aangeraai om die artikel “Doop met die Heilige Gees en vulling met die Heilige Gees” sorgvuldig deur te lees.) Met aanvanklike wedergeboorte ontvang alle gelowiges die Heilige Gees, maar dit beteken nie dat alle gelowiges noodwendig met die Heilige Gees gevul is nie. Wanneer ‘n gelowige in ‘n voortgesette toestand van sonde (wat ‘n traak-my-nie-agtige houding ten opsigte van die Skrifte insluit) leef, verhoed diesulke optrede dat die persoon deur die Heilige Gees gevul kan word, alhoewel so ‘n persoon alreeds met die Heilige Gees verseël is.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.) So ‘n persoon staan as ‘n gelowige bekend, en is vir ewig God se kind, en sal nooit verlore kan gaan nie, omrede die Heilige Gees die seël is wat sy verlossing waarborg.
Ef.4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is (fase een, naamlik wedergeboorte) tot die dag van verlossing.” (fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking wat met die wegraping voltooi sal wees.)
Die Skrifte vermaan egter gelowiges om ook met die Gees gevul te word, naamlik:
Ef.5:18 “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”

Onthou, God openbaar Homself deur Sy woord aan ons, en ons houding aangaande die woord gaan bepaal of die Here die “diep dinge van God” aan ons sal openbaar. Dit is om hierdie rede dat ons seker moet maak dat ons die Bybel bestudeer om vas te stel wat die Here werklik aan ons wil oordra, en ons moet teen die versoeking waak om nie ons vooraf opgestelde leerstellings/idees in die Bybel in te lees nie. Aangeplakte heiligheid maak nie van ‘n gelowige ‘n geestelike gelowige nie. Die Here oordeel die hart! Onthou, geestelike dinge kan slegs d.m.v. geestelike metodes gekommunikeer word. Sonder instaatstellende krag van die heilige Gees kan geestelike waarhede nie werklik verstaan word nie. Slegs die Heilige Gees kan werklik die vrugte van die Gees in ‘n mens voortbring, en dit is om hierdie rede dat dit as die vrugte van die Gees bekendstaan en nie as die vrugte van so en so ‘n gelowige nie.
Gal.5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Ef.5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid. (en dit sluit leerstellings in.)
Die Heilige Gees sal egter net die vrug van die Gees in die Geesgevulde gelowige se lewe te voorskyn kan bring.

Die Natuurlike man:

1Kor.2:14 “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat ‘n ongeredde persoon nie in homself die vermoë beskik om die geestelike dinge van God te verstaan nie. Dit is vir hom soos ‘n toe boek. ‘n Ongeredde persoon kan wel die woorde in die Bybel bestudeer, en selfs vanuit die Bybel leerstellings opstel en preek/klasgee, maar omrede hy nie die Gees van God ontvang het nie, is hy nie instaat om die diep dinge van God te verstaan (“sien”) nie, en hierdie is een van die groot redes waarom valse leerstellings so ‘n groot probleem in die belydende Christendom is. (en dit sluit die teologiese fakulteite van meeste van die groot universiteite in) Slegs die Heilige Gees kan ‘n persoon instaat stel om werklik God se woord te verstaan en daarvoor moet ‘n persoon eers wedergebore wees.

Omrede ‘n mens oor ‘n gees van n mens beskik, is hy instaat om vrylik die dinge van ‘n ander mens te verstaan, omrede al sodanige kommunikasie binne die belewenis sfeer en perke van die mensdom plaasvind.
1Kor.2:11a “Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?”
Die mens se gees is egter nie instaat om binne die sfeer van God dinge te sien, ervaar, en verstaan nie, en het om hierdie rede die bediening van die Heilige Gees nodig om die dinge van God aan hom te openbaar.
1Kor.2:11ff: “So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.”
Slegs God se Gees kan aan die mens die dinge van God bekendmaak, en hierdie kommunikasie is altyd geestelik en daarom word geestelike dinge met geestelike dinge vergelyk.
1Kor.2:14 “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Omrede die Heilige Gees nie in die ongelowige persoon inleef nie, kan so ‘n persoon nie die dinge van God (die Bybel) werklik verstaan nie en dit maak nie saak hoe intelligent hy ook al mag wees nie. Slegs God se Gees kan aan die mens kennis aangaande God gee, omrede die mens se ervarings sfeer tot die van die mensdom beperk is, omrede hy ‘n geskape wese is en nie God is nie.

Die natuurlike mens beskik dus net oor menslike wysheid, en vir hom is die boodskap van die kruis dwaasheid, omrede hy nie die dinge van die Gees kan verstaan nie. So ‘n persoon mag dalk hoogs intelligent en selfs ‘n genie binne die perke van die mens wees, maar hy kan nie sonder die in staatsinstelling van die Heilige Gees geestelike dinge verstaan nie. Die “natuurlike mens” verstaan dus nie werklik geestelike waarhede want dit is vir hom bedek.
1Kor.1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; 19 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. 20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? 21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; 22 want die Jode vra ‘n teken en die Grieke (nie-Jode)soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;” (nie-Jode)

Meer as net kennis aangaande die historiese feite aangaande die kruisiging van Christus word hiermee bedoel. Die Here verwag van ‘n ongeredde mens dat hy volkome in Christus se voltooide werk aan die kruis glo en rus. (dit beteken dat geen menslike werke by die Evangelie van God se genade gevoeg kan word, om gered te word, of om gered te bly nie. Menslike goeie werke het absoluut niks met Christus se voltooide werk aan die kruis te doen nie. Die Evangelie handel oor wat God vir die mens gedoen het, nie wat die mens vir God in ruil vir die ewige lewe kan doen of gee nie. Daarom vind ons dat ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom, nie werklik in die voltooide werk van Christus aan die kruis glo nie. Hulle sal beweer dat hulle glo dat ‘n mens slegs die ewige lewe d.m.v. geloof alleen kan ontvang, maar bewys die feit dat hulle dit nie werklik glo nie, deur om menslike werke, direk of indirek, ‘n vereiste vir die ontvangs van die ewige lewe te maak of om dit te behou. Daar is letterlik duisende boeke wat hierdie feit bevestig en daar word elke Sondag reg oor die wêreld daaroor gepreek. Moderne vorms van Arminianisme, die leerstelling van Heerskappy Verlossing, asook die leerstelling van doopsaligheid, asook sabbatdag onderhouding om verlossing is goeie voorbeelde hiervan. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” sorgvuldig deur te lees.) Hierdie mense kan byvoorbeeld ‘n komplekse stel leerstellings verkondig sonder om ooit werklik te besef dat hulle die “diep dinge” van God heeltemal miskyk. Geestelike waarhede kan slegs d.m.v. die Heilige Gees gekommunikeer en verstaan word. Sonder die instaatstellende krag van die Heilige Gees kan daar nie werklik geestelike insig wees nie.

Die Skrifte waarsku ons dat Satan oor ‘n nagemaakte valse godsdiensstelsels beskik wat die Bybel as die leerstellings van duiwels omskryf.
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
Benewens hierdie feit stel die Here Jesus Christus dit duidelik dat daar ook iets soos die diep dinge van Satan bestaan, naamlik:
Openb.2:24 “En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie.”
Die ware skape van die Here Jesus Christus sal egter nie deur hierdie valse herders om die bos gely kan word nie, omrede die ware skape hulle Herder se stem erken en van die valse herders af wegvlug, naamlik:
Joh.10:5 “Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”
Satan se nagemaakte godsdiensstelsel vereis in baie gevalle goeie werke van die mens se kant af, en hy wil hê dat die mens poog om sy eie verlossing deur die doen van goeie werke te bewerkstellig, en om hierdie rede verreis meeste valse godsdiensstelsels goeie werke van die mens se kant af om hulle verlossing te verseker. Islam, Jehova se Getuies asook die Rooms Katolieke Kerk se leerstellings is goeie voorbeelde hiervan. Baie kultusse en groepe wat deel van die belydende Christendom vorm val in hierdie kategorie.

Ter Afsluiting: Met die skryf van hierdie artikel is die ongeredde of te wel die “natuurlike man” bespreek. In deel twee van hierdie reeks artikels sal ons na twee verdere klassifikasies van gelowiges, naamlik die Gees-gevulde, asook vleeslike gelowiges kyk en bespreek. Dit is belangrik om kennis aangaande hierdie klassifikasies van die mensdom te dra. Indien mens hierdie klassifikasies van die mensdom in gedagte hou, dan sal mens verstaan hoekom daar mense is wat die een of ander leerstelling van werkheiligheid (werke evangelie) kan glo, en as ongeredde mens hoogs ingewikkelde leerstellings op kan stel sonder om werklik die “diep dinge” van God te verstaan. ‘n Ongeredde mens kan hoogs intelligent en selfs ‘n genie in sekere velde van die wetenskap wees, maar indien hy nie die Gees van God in hom het nie dan sal hy nooit werklik die Bybel korrek kan verstaan nie. Daarom is dit van uiterste belang dat ons, as gelowiges, volkome op die Heilige Gees moet vertrou om Sy woord aan ons te verduidelik. En vir die Heilige Gees om dit te kan doen moet die gelowige Geesgevuld wees.

Die Heilige Gees is altyd bereid om ons te leer. Die vraag wat ons moet vra is, of ons werklik bereid is om by Hom te leer, of wil ons maar net ons eie begeertes en leerstellings op Hom afdwing. Om so iets te doen sal katastrofiese gevolge in so ‘n persoon se geestelike lewe voorbring.
Rom.1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Onthou, mense se siele is op die spel! En derhalwe is die inhoud van die Evangelie, naamlik die Here Jesus Christus (Sy persoon en voltooide werk aan die kruis, Wie vir al ons sondes versoening gedoen het en uit die dood uit opgestaan het. Plus niks!) die fondasie waarop die ware Christendom/Kerk gebou is. Indien die Evangelie verkeerd verkondig is, dan is die hele organisasie/denominasie wat op grond van daardie evangelie/leerstelling gebou is, op dwaalleer gebou, en derhalwe is daardie godsdiensstelsel nie op die Rots, naamlik die Here Christus, gebou nie, maar op die sand van ‘n humanistiese godsdienstige stelsel wat van menslike werke afhanklik is en waarvan die Here Jesus Christus nie die bouer is nie! So ‘n godsdiensstelsel (waarvan daar baie in die belydende Christendom is) sal deur God verwerp moet word, omrede dit nie die ware kerk is nie. En daarom is dit belangrik om te weet wat die inhoud van die Evangelie werklik behels, en wat God van ons verwag om met Sy Evangelie te doen, naamlik om dit eerstens te glo (sonder enige iets anders by slegs geloof alleenlik te voeg) en dan daardie goeie nuus met ander te deel en dissipels van hulle te maak. (wat tot goeie werke in die Gees verrig aanleiding sal gee.)

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.