Die Gelykenis van die Twee Seuns

Die Gelykenis van die Twee Seuns

Eers ‘n bietjie agtergrond. Jesus het Homself as die Koning en die Jode se Messias voorgestel, toe Hy Jerusalem op die rug van ‘n donkie ingery het. (Mat 21:1-11) Dit sou vir enige Jood wat die skrifte geken het, duidelik gewees het wat die Here hier doen, want die Skrifte het vooraf daarvan getuig.
Sag 9:9 “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.”

Later het Jesus die tempel ingegaan, en almal wat handel gedryf het uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars het Hy omgegooi. (Mat 21:12-17) Hierdie was die tweede keer dat Jesus die tempel gereinig het. Die vorige keer het ‘n jaar voor hierdie gebeurtenis plaasgevind en dit het geen blywende vrugte opgelewer nie. (Joh 2:13-16) Die eerste keer toe die Here die geldwisselaars se tafels omgegooi het, het tydens die vorige jaar se Paasfees plaasgevind. Nadat Jesus die handelaars uit die tempel verjaag het, het die blindes en kreupeles na Hom gekom en Hy het hulle gesond gemaak. (Mat 21:14)

Na aanleiding van die tempelreiniging, en genesing van die blindes, en kreupeles het die skare weer begin om Jesus te prys met die woorde : “Hosanna vir die Seun van Dawid!” So ook het die kinders Jesus begin prys en loof. Dit het egter die owerpriesters en skrifgeleerdes ontstel, en hulle het vir Jesus gevra of Hy hoor wat die mense daar sê. Hulle het goed besef, dat die kinders Hom as die Messias van Israel aansien. Jesus het hulle stelling egter vanuit Ps 8:2. beantwoord, naamlik:
Mat 21:16 “en sê vir Hom: Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?
In effek het Jesus dus Sy Goddelikheid erken, want die Fariseërs en skrifgeleerdes (net soos ons) behoort te weet dat slegs God werklik lofprysing waardig is. Die kinders het deur Jesus te loof, erken dat hulle gedink het dat Hy God is. Jesus het ook geïmpliseer dat die kinders, en die skare reg verstaan het, en dat Hy wel God is, maar dat die sogenaamde geleerdes onder die volk, wat eintlik die volk se leermeesters moes wees, nie hierdie feit kon raaksien nie. Na hierdie gebeure het Jesus Jerusalem verlaat en na die Olyfberg teruggekeer.

Die volgende dag toe Jesus weer in die tempel geleer het, het die Skrifgeleerde, en Fariseërs, vir Jesus gevra met watter gesag Hy hierdie dinge doen. Hulle het moontlik na Sy intog in Jerusalem as Koning, Jesus se aanvaarding van lofprysing, Sy reiniging van die tempel, Sy genesing van die blindes en verlamdes en Sy onderrigting van die skare in die tempel, verwys. Hulle vraag is ook nie gestel om waarheid te bekom nie, maar hulle wou Jesus in ‘n strik betrap. (Hulle het dus geen begeerte gehad om die waarheid te hoor nie, net soos wat daar baie mense vandag in die belydende Christendom is, wat ook nie werklik belangstel om die waarheid te hoor nie, maar eerder hulle ore gestreel wil hê.)
Mat 21:24 “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. 21:25 Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense? En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel—dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? 21:26 En as ons sê: Uit mense—dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ‘n profeet. 21:27 Toe antwoord hulle Jesus en sê: Ons weet nie. Hy sê toe ook vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
Vir die Here Jesus Christus om hulle vraag te beantwoord, sou doelloos wees, want die volksleiers het nie belanggestel om die waarheid te hoor nie. Indien hulle werklik die waarheid gesoek het sou hulle Johannes se prediking aangaande Jesus al lankal geglo het, en dan sou dit juis hulle gewees het wat die Here Jesus Christus met Sy intog in Jerusalem geloof en verwelkom het. Met hierdie agtergrond kan ons nou na die gelykenis van die twee seuns gaan en dit bespreek.

Die Gelykenis van die twee seuns.
Mat 21:28 “Maar wat dink julle? ‘n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd.
21:29 En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. 21:30 Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. 21:31 Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God. 21:32 Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.”
Die gelykenis van die twee seuns is ‘n eenvoudige verhaal van ‘n vader wat sy twee seuns vra om in sy wingerd te gaan werk. Die eerste seun het geweier, maar later berou gekry en in die wingerd gaan werk. Die Here maak dit duidelik dat die hoere en tollenaars, soos die eerste seun was. Hulle het oorspronklik die prediking van Johannes verwerp, maar sommige van hulle het later tot inkeer gekom en toe gedoen wat die Vader verlang. Hulle het Johannes se prediking geglo en toe a.g.v Johannes se prediking tot geloof in Jesus gekom.

Die tweede seun het egter onmiddellik ja gesê, maar nooit in die wingerd gaan werk nie. Die tweede seun is soos die geestelike leiers van die volk, deurdat sommige van hulle wel voorgegee het dat hulle Johannes se prediking aanvaar.
Joh 5:35 “Hy was die lamp wat brand en skyn, en julle was gewillig om julle vir ‘n tyd in sy lig te verbly.”
Hulle optrede het egter gedemonstreer dat hulle soos die tweede seun was.
Luk 7:29 “En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes. 7:30 Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.”
Die skrifgeleerdes en Fariseërs, het hulleself in hulle eie ongeloof bevestig deur om te erken dat die eerste seun God se wil gedoen het. Hulle het hulleself dus deur hulle eie ongeloof verdoem, omrede hulle nie Johannes se prediking oor Jesus wou glo nie, en hulle opinie van Christus, as hulle lankverwagte Messias, wou verander nie.

Dieselfde gebeur nog steeds vandag. Mense wil nie die Vader se wil doen, deur om eenvoudig die Evangelie te glo nie. Hulle wil eerder hulle eie vereistes opmaak en nakom, deur verdere vereistes by slegs geloof in die Evangelie by te las en sodoende demonstreer hulle, dat hulle nie op Jesus alleen vir hulle redding vertrou nie, maar op Hom plus hulle goeie werke vertrou, asof die Evangelie van God nie voldoende vir hulle redding is nie. Daardeur demonstreer hulle, dat hulle, maar net soos die tweede seun is, wat voorgee dat hulle werklik die Evangelie glo, maar hulle dade demonstreer die teenoorgestelde. Die kerke se banke sit vol van hierdie mense. Ons moet egter seker maak in Wie en wat ons glo. Verlossing vind slegs op God se terme plaas, en om op enige ander vereistes staat te maak om gered te word, gaan katastrofiese gevolge meebring. Kom ons eerbiedig die Here en glo Sy Evangelie. Dit is so eenvoudig dat dit amper te waar is om te glo.

Dit is uiters belangrik om die ware Evangelie met ons medemens te deel, omrede daar baie mense is wat ‘n werke evangelie aanhang en wat verkeerdelik onder die indruk is dat hulle die ware Evangelie geglo het. Daar is net soveel tyd, dan sal dit te laat wees om die mense om ons die goeie nuus van God se genade te verkondig. Dit is ‘n onmeetbare tragedie dat mense nog steeds sterf sonder die duidelike aanhoor van die Evangelie. Dit is my bede dat die lesers van hierdie artikel, wat handel oor die gelykenis van die twee seuns, tot ‘n dieper insig in God se Woord kom en dat hulle daardeur geseën sal word en ander weer op hulle beurt te seën deur die Evangelie aan hulle te verkondig.

Seën Groete!

Vic