God se genade kan nie deur sonde verminder word nie

God se genade word in gelyke maat aan alle mense aangebied

Omrede die vraag betreffende die mensdom se sonde vir ewige deur die Here Jesus Christus se kruisdood uit die weg geruim is, word God se genade, wat net soos God geen limiete het nie, kosteloos aan alle mense voorgehou. Op grond van eenvoudige geloof in die evangelie word God se perklose genade aan alle gelowiges in gelyke maat geskenk en nie op grond van hoe min of hoe baie die persoon al gesondig het nie. Die rede hiervoor is eenvoudig! God se genade kan nie vermeerder word nie, omrede Sy genade ‘n uitdrukking van Sy perklose liefde is. Ons moet dus nie die fout begaan om te dink dat God die mens se sonde as iets gerings beskou nie. So ‘n proposisie sal ver van die waarheid af wees. God haat sonde en neem dit ernstig op. Maar omrede al die sondes van die hele mensdom (verlede, hede en toekomstige sondes) op die Here Jesus Christus geplaas is, en die Vader Hom daarvoor aan die kruis gestraf het, is die probleem van die mens se sonde vir ewig uit die weg geruim. God se perklose genade word dus sonder enige perk daarop kosteloos aan alle mense sonder enige uitsonderings voorgehou. Dit is derhalwe nie ‘n kwessie van verskillende grade van genade nie, of selfs die grade van die mens se tekortkominge nie.
1Kor.1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
Kol.1:20 en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.
Rom.3:22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;”

Slegs geloof in die Here Jesus Christus, en Hom alleen, sonder die doen van enige werke, rituele of sakramente sal ‘n persoon red. Indien ‘n persoon onder die indruk verkeer dat deur die nakoming van enige ander morele daad of kerklike sakrament (soos byvoorbeeld die water doop) enige bydrae tot sy verlossing (fase een, naamlik wedergeboorte) bydra dan demonstreer so ‘n persoon sy gebrek aan geloof in die Here Jesus Christus se versoeningswerk aan die kruis. Dit is uiters belangrik om hierdie feit te verstaan. So ‘n persoon is posisioneel dan nog steeds in sy sonde en indien hy in hierdie toestand tot sterwe sou kom sal hy verlore gaan. Geloof alleenlik, in die Here Jesus Christus alleenlik, sal ‘n persoon van die gevolge van sy sonde verlos en verseker dat hy nie die ewigheid in die poel van vuur sal moet deurbring nie. Die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis is nie ʼn vennootskap tussen God en die mens, waar die mens 0.999%, 10%, 50% of selfs 99.999% aan die Here voorhou en Hy die res opmaak nie. Verlossing/wedergeboorte is nie ʼn geonderhandelde transaksie, waartydens die mens iets aan God moet gee sodat hy die ewige lewe kan ontvang of behou nie. Die mens kan nie vir die gawe van die ewige lewe met God onderhandel of enigsins iets daartoe bydra nie. Al wat God van die mens verwag is om die gawe van die ewige lewe op God se terme te aanvaar, en dit is om slegs in die Here Jesus Christus (wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis vir die mens insluit) te glo. Niks anders nie!

Omrede mense se siele op die spel is, is dit van uiterste belang dat hulle die implikasies van die Here Jesus Christus se versoeningswerk aan die kruis korrek verstaan, en ook verstaan dat daar net een Godgegewe wyse is waarop die mens die voordele van Christus se voltooide werk aan die kruis kan bekom, en dit is op grond van God se genade deur geloof alleen!
2Kor.5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Daar het dus ‘n groot uitruiling plaasgevind. Christus het al ons sondes op Hom geneem en is daarvoor deur die Vader aan die kruis gestraf. Die feit dat die Here Jesus Christus op die derde dag uit die dood uit opgestaan het, dien as bewys dat God die Vader Christus se offer van Homself vir ons sondes volkome aanvaar het. Omrede God Christus in ons plek vir al ons sondes gestraf het, is Hy vry om ons op grond van die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid vry te spreek asof ons sondeloos is. Alle mense wat die evangelie geglo het besit dus Christus se toegerekende geregtigheid.
Kol.2:14“ en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Heiligmaking in drie fases” sorgvuldig deur te lees.

Hoe ontvang ‘n persoon hierdie toegerekende geregtigheid?
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, (nie goeie werke gedoen of in water gedoop is nie) verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Die oomblik wanneer ‘n persoon die evangelie glo, word daardie persoon gewederbaar, en verseël met die Heilige Gees wat as waarborg dien dat die persoon nooit verlore sal kan gaan nie. So ‘n persoon is dus die ontvanger van God se onbeperkte genade en dit alles op grond van sy geloof alleen. As God se verteenwoordigers op aarde, is dit dus uiters belangrik dat ons die versoeningsboodskap korrek met ander te deel. (hulle siele is immers op die spel!) Ongelukkig verkondig die grootste gedeelte van die belydende Christendom op die een of ander wyse ‘n werke evangelie wat die mens se werke die bepalende faktor maak oor waar daardie persoon die ewigheid gaan deurbring. Daar kan geen menslike werke voor, tydens en aan die agterkant van die evangelie as vereiste bygevoeg word om die ewige lewe te ontvang, of te behou nie! Om so iets te doen is om ‘n ander evangelie te verkondig en God se genade te verwerp.
2Kor.17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 18 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, 19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. 20 Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.”

Dit is verbasend om te sien hoe baie mense wat hierdie webtuiste lees nog steeds dink dat hulle werke ‘n rol in die ontvangs van die ewige lewe speel. Dit wys mens net tot watter mate die konsep van ‘n werke evangelie, onder die dekmantel van die ware evangelie, in mense ingehamer is, en dit tot so ‘n mate dat hulle sukkel om werklik die konsep van God se genade te verstaan. Om hierdie rede glo so baie mense dat God se genade van hulle goeie werke afhanklik is en plaas dus in hierdie opsig ‘n perk op God se genade. Die tragiese gevolge hiervan is dat daar baie mense onwetend op pad hel toe is, omrede hulle die slagoffers van een of ander werke evangelie is en wat sal veroorsaak dat hulle die volgende woorde uit die Here Jesus Christus se mond sal hoor, naamlik:
Mat 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 7:23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Omrede hulle nie die Here Jesus Christus se toegerekende regverdigheid, deur die glo van die ware evangelie ontvang het nie en dus in hulle sondes gesterf het.)

Satan slaag dus in hierdie opsig daarin om godsdienstige ongelowiges hel toe te sleep sonder dat hulle daarvan bewus is. (Dit sluit ook mense wat in doopsaligheid en Sabbatdag onderhouding glo in) Die mens sal nie gered word deur geloof in Christus plus enigiets anders nie. Onthou:
Rom.4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Joh.6:28 “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? 29 Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
Rom.5:17 “Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus.”
Regverdigmaking vind slegs op grond van God se genade, deur geloof alleen plaas en op geen ander wyse nie. Mense wat geloof wil herdefinieer verkondig ook ‘n werke evangelie en sal aan God moet rekenskap gee. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” te lees.

Ter Afsluiting: ‘n Persoon wat nie die volle omvang van die erns van sonde verstaan nie, sal noodwendig ook nie die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis verstaan nie. Dit is die erns van ons sondes wat die Here Jesus Christus genoop het om aan die kruis vir ons te sterf. Sonde is ernstig, en moet nooit ligtelik opgevat word nie, maar ons moet ook onthou dat God in Christus, deur Sy genade die probleem van die mens se sondes vir ewig aan die kruis uit die weg geruim het. Die vraag is of ons werklik glo dat die Here Jesus Christus vir die hele mensdom se volle sondeskuld (verlede, hede en toekomstige sondes) aan die kruis gesterwe het, en op die derde dag uit die dood uit opgestaan het, as bewys dat God die Here Jesus Christus se offerdood as voldoende beskou het en dat daar geen verdere offers gedoen kan word om Sy geregverdigde oordeel oor sonde te bevredig nie? Ja, goeie werke/dissipelskap is uiters belangrik, maar dit kan absoluut geen bydra in ‘n persoon se verlossing/wedergeboorte lewer nie. Wanneer slegs die geringste menslike werk op enige wyse by geloof in die evangelie bygevoeg word, dan beteken dit dat daardie persoon God se genade verwerp, en poog om op sy eie terme sy geregtigheid voor God wil bewerkstellig. Om so iets te doen sal katastrofiese gevolge vir die persoon inhou.
Jes.53:4 “Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. 5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. 6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”

Ons verlossing word nie deur menslike prestasie, of werke bekom nie en word ook nie deur werke behou nie. Wedergeboorte is ʼn genadegawe wat God kosteloos aan die mens aanbied, en dit kan nie deur werke verdien of gekoop word nie. ʼn Persoon kan hierdie onbeskryflike groot geskenk slegs deur geloof alleen in ontvangs neem. Die Here Jesus Christus (wat sy voltooide werk aan die kruis insluit) is die grootste geskenk wat God aan die mensdom kon gee. Christus is God se genadegawe aan die mensdom, en in hierdie kersseisoen is dit belangrik om oor die implikasies van hierdie stelling na te dink
Joh.3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Indien die Here my spaar sal ek nog baie meer oor hierdie uiterste belangrike onderwerp uitbrei.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.