Satan se val

Wanneer is Satan geskape en wanneer het hy gerebelleer?

Vraag: Wanneer het God Satan geskape en wanneer het hy tot ‘n val gekom? (Hierdie vraag het ek van ‘n goeie vriend en broer in Christus ontvang en dit is ‘n uitstekende vraag waaroor baie gelowiges wonder.)

Antwoord: Soos wat ons alreeds in die studies aangaande Satan en die gevalle engele waargeneem het, is engele geskape wesens, en moes alreeds voor die aanbreek van die sewende dag van die skeppingsweek, waarop God van Sy skeppingswerk gerus het, teenwoordig gewees het. Met die skryf van hierdie studie sal vanuit die Skrifte vasgestel word wanneer Satan (insluitende die engele) geskape is en wanneer hy tot ‘n val gekom het. Hierdie onderwerp is nogal kontroversieel, veral vir diegene wat meer vertroue in die menslike leerstelling van die evolusieleer plaas instede daarvan om hulle leerstellings van God self, naamlik vanuit Sy woord, te bekom. Dit is my beskeie mening dat die Here die hele skepping binne die raamwerk van ses letterlike 24uur dae geskape het, en dat Hy op die sewende dag gerus het. ‘n Feit wat Hy in die Bybel duidelik stel.

Wanneer die engele, wie die Satan insluit, geskape is: Die eerste teksgedeelte wat van belang aangaande hierdie onderwerp is, is Gen.1:1 wat soos volg lees:
Gen.1:1 “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”
In Exodus 20:11, onder inspirasie van die Heilige Gees, herhaal Moses hierdie feit, asook die feit dat God in ses dae die hemele en die aarde, en alles wat daarin is, geskape het en op die sewende dag gerus het.
Ex.20:11”Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Let wel: Die Hebreeuse teks lees “die hemele” nie slegs die enkelvoudsvorm, naamlik die “hemel” soos wat dit in die Afrikaanse Bybel vertaal is nie.) Dit is opmerklik dat Moses die feit letterlik herhaal dat God, binne die raamwerk van die sesdaagse skeppingsweek, alles geskape het, en dit sluit alle lewende wesens, en dus die engele, in.
Gen.2: “1 So is dan voltooi die hemel (hemele. Sien Neh.9:6 wat kortliks volg) en die aarde met hulle ganse leërmag. (wie die engele en Satan insluit) 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”

Vanuit bostaande teksgedeelte is dit duidelik dat God die hemele en die aarde binne die raamwerk van ses letterlike 24uur dae geskape het, en hierdie feit skakel die lang tydperke van die evolusieleer, asook enige vorige skepping heeltemal uit. Dit is net logies dat indien God alles gedurende die skeppingsweek geskape het Hy ook die engele gedurende hierdie tydperk moes geskape het. Nehemia 9:6 bevestig ook dan hierdie feit, naamlik:
Neh.9:6 “U is alleen die HERE, U het die hemel, die hoogste hemel (dus die hemele) en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel (engele) buig hulle voor U neer.”
In bogenoemde teksgedeelte word dit spesifiek genoem dat die leër van die hemele, naamlik die engele, wat gedurende die skeppingsweek geskape is, hulleself voor die Almagtige God neerbuig. Gewapen met hierdie feite, kan ons sonder enige twyfel verklaar dat die engele gedurende die sesdaagse skeppingsweek deur God geskape is.

Derhalwe moet ons nou poog om vas te stel op watse dag die Here die engele geskape het. Job 38:1-7 bevat in hierdie opsig insiggewende inligting, naamlik:
Job.1 “Daarna het die HERE Job uit ‘n storm geantwoord en gesê: 2 Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? 3 Gord dan soos ‘n man jou heupe — dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My. 4 Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. 5 Wie het sy afmetinge bepaal? — jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? 6 Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? 7 Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik toe die Here die aarde geskape het, die seuns van god/ môresterre alreeds teenwoordig was en het hulle gejuig toe die Here die aarde tot stand gebring het. Hierdie wesens was alreeds voor die aarde geskape gewees en was alreeds teenwoordig toe God die aarde op dag een geskape het. Dus kan die seuns van God/môresterre niemand anders as die engele gewees het nie, want die mens was eers op dag ses geskape. Gegewe al die bogenoemde feite kan ons sonder enige twyfeling die volgende gebeure, soos in dag een van die skeppingsweek gevind, uiteensit. God het eerstens die hemele vroeg op dag een van die skeppingsweek geskape. Daarna het Hy die wesens, naamlik die engele, wat die hemele moes bewoon geskape, en toe later op dieselfde dag het Hy die aarde geskape, en op daardie stadium was die engele toe alreeds teenwoordig gewees en het hulle gejuig toe hulle sien hoe God die aarde geskape het. Die hemel se leërskare is dus niemand anders as die engele nie en 1Kon.22:19 bevestig hierdie feit naamlik:
1Kon.22:19 “Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die HERE: Ek het die HERE sien sit op sy troon terwyl al die hemelse leërskare by Hom staan, aan sy regter— en aan sy linkerhand.”

Wanneer Satan tot ‘n val gekom het: Toe God die engele geskape het, het Hy hulle sondeloos geskape. Die engele, net soos die mensdom, is moreel verantwoordelike en rasionele wesens, wat oor ‘n vrye wil beskik en dus hulle eie besluite kan neem. Die engele, asook die mensdom, het dus ‘n vrye wil en kan besluit of hulle God wil gehoorsaam en eerbiedig of teen Hom gaan rebelleer. In Gen.1:31 merk ons egter dat God, nadat Hy Sy skeppingswerk op die sesde dag voltooi het, alles as baie goed verklaar het.
Gen.1:31 “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.”
Die maatstaf waarteen God die skepping vergelyk het is Homself, en die standaarde waarteen Hy Sy skeppingswerk beoordeel het is Sy perfekte almag en Godheid self. God se standaard is dan die enigste werklik perfekte standaard waarteen enige voorwerp of optrede gemeet kan word, en in die lig van hierdie feit het Hy verklaar dat die skepping baie goed was. Die hele skepping was na afloop van dag ses van die skeppingsweek perfek en sonder enige sonde en dood gewees anders sou God dit nie as baie goed kon omskryf nie. (Wat al die engele insluit.) Wanneer het Satan dan tot ‘n val gekom?

Satan se val moes tussen die tydperk direk na dag ses van die skeppingsweek en voor Adam se sondeval plaasgevind het. In Genesis 3 lees ons van die sondeval van die mens, en hoe Satan die mensdom in rebellie teen God gely het. By daardie geleentheid het Satan alreeds teen God gerebelleer en was hy alreeds uit sy hooggeplaaste posisie in God se Universele Koninkryk uitgewerp. Tydens die sondeval was Satan toe alreeds die leier van die bose geeste in die lug.
Ef.6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
En die Here Jesus Christus het na hierdie val van Satan in Luk 10:18 verwys. Luk.10:18 “Toe sê Hy vir hulle: Ek het (verledetydsvorm) die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel (die derde Hemel of te wel hoogste hemel waar Satan gewoon en God gedien het) sien val.”

Satan se val kon egter nie later as die eerste menslike bevrugting plaasgevind het nie, want ons weet vanuit die Skrifte dat alle nasate van die eerste mense, naamlik Adam en Eva, met ‘n sonde natuur gebore is juis a.g.v die feit dat by die eerste konsepsie/bevrugting halle alreeds oor ‘n gevalle/sonde natuur beskik het en hierdie gevalle toestand met die meegaande sonde natuur aan hulle kinders oorgedra.
Rom.5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”
Indien Satan na die eerste bevrugting tot ‘n val gekom het, sou Kain nie met ‘n sonde natuur gebore gewees het nie en sou hy heel waarskynlik nie sy broer vermoor het nie. Onthou, Kain het Abel vermoor omrede Abel die korrekte offer gebring het, iets wat Kain nie gedoen het nie. Indien Kain nie met ‘n sonde natuur gebore was nie, sou daar geen rede vir hom gewees het om ‘n offer aan God te bring nie. Wat ons uit hierdie feit kan bepaal, is dat Satan voor die eerste bevrugting plaasgevind het, alreeds self ‘n gevalle wese moes wees, en slegs daarna die mensdom in rebellie teen God kon aangespoor het. Hierdie tydsverloop kon nie baie lank gewees het nie, omrede Adam en Eva sonder ‘n sonde natuur geskape was, en as sulks sou mens kon verwag dat hulle God se opdrag om voor te plant getrou sou eerbiedig. (veral indien mens in ag neem hoe aangenaam die gawe van seks tussen een man en een vrou in werklikheid is.)
Gen.1:26 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

In Genesis.4:1 lees ons hoe die eerste kind d.m.v. seksuele voortplanting gebore was. (in een opsig die voortgesette uiteengevloei van die wet van biogenese, wat bepaal dat lewe slegs van lewe afkomstig is. God het direk lewe aan die eerste mens geskenk, en vanuit die eerste paartjie het alle mense op aarde, deur voortgesette voortplanting, lewe ontvang.)
Gen.4:1 “En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE.”
Indien mens die menslike menstruele siklus ook verder in ag neem, kon die eerste bevrugting so vroeg as 21 dae, nadat God Eva uit Adam se rib geformeer het, plaasgevind het, en toe moes Satan alreeds ‘n gevalle wese gewees het en moes die sondeval van die mens ook alreeds plaasgevind het.

Ter Afsluiting: God moes Satan op die eerste dag van die skeppingsweek, net nadat Hy die hemele geskape het, Satan en al die ander engele geskape het. Op hierdie stadium was Satan nog sondeloos gewees, en was teenwoordig toe God die aarde (ook op die eerste dag) geskape het, en was een van die engele wat oor God se skeppingsdaad gejubel en gejuig het. (Job.38:1-7) Op die sesde dag het God die mens geskape en nadat Sy skeppingswerk voltooi was, Het God alles as baie goed omskryf, wat beteken dat Satan nog nie op die einde van dag ses teen God gerebelleer het nie. (Gen.1:31) Die tydperk tussen God se goedkeuring van Sy skeppingswerk, (Gen.1:31) en die bevrugting van die eerste vrou, Eva, (Gen.4:1) het Satan tot ‘n val gekom, en het hy hom na die aarde gehaas en ook die mens so ver gekry om teen God te rebelleer. (die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” te lees, waar die plan van Satan in meer detail bespreek word.) Ons moet ook in ag neem dat die bevrugting van Eva so vroeg as drie weke nadat God haar geformeer het kon plaasvind. Die tydperk tussen Satan se skepping en sy val kan dus nie baie lank gewees het nie. Ek hoop van harte hierdie artikel beantwoord jou vraag.

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.