Jesus en die Koperslang

Jesus en die Koperslang

Soos ek al in ‘n vorige artikel gemeld het, is die studie van tipologie in die Ou Testament een van die lekkerste vorme van studie wat mens uit die Bybel kan doen. Die Ou Testament is vol tipes, wat soos pêrels weggesteek is in die blaaie van die Ou Testament. Die hele Bybel, nie net die Nuwe Testament nie, stel Jesus aan die mens voor. Daarom is dit belangrik om die hele Bybel te bestudeer en nie net die Nuwe Testament nie, anders gaan ons baie geestelike seëninge misloop. Soos wat die gesegde sê: “Die Ou Testament is die Nuwe Testament in versteekte vorm en die Nuwe Testament is die Ou Testament in geopenbaarde vorm. Kom ons gaan lees nou die gedeelte wat handel oor die koperslang.Kom ons gaan nou na die Teksgedeelte.
Núm 21:4 “Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword.
21:5 En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos.
21:6 Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe.
21:7 En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.
21:8 Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.
21:9 Toe het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.”

Die slange verteenwoordig sonde , en die hele mensdom is daardeur gebyt.
Rom 5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”
Daar is geen mens wat nie gesondig het nie, en dus is ons almal vergiftig deur die sonde en almal is dus geestelik dood. Die Bybel beskryf nie die dood as inhalasie nie, maar as skeiding. As ‘n mens tot sterwe kom, sterf net sy liggaam, maar sy gees en siel bly bewustelik voortbestaan. So ‘n persoon bevind homself of in die Hemel in die teenwoordigheid van God, of in die Hel geskei van God. (Lukas 16:19-31)

Die Koperslang verteenwoordig Jesus Christus, wat in ons plek ‘n sondeoffer geword het, sodat almal wat in geloof na Hom gaan, geregtig verklaar kan word en die ewige lewe as geskenk ontvang.
2Ko 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
Let wel, dat die Bybel nie sê dat Jesus Christus sondig was nie, maar Hy ‘n sondeoffer vir ons gemaak is, deurdat ons sondes op Hom gelê is. Die Vader het Jesus Christus vir ons sondes gestraf, sodat die Vader geregtig sou wees as Hy ons regverdig verklaar, omrede Hy ons nie weer kan straf indien Hy alreeds Jesus alreeds in ons plek vir ons sondes gestraf het nie. (Dubbeleblootstellingwet)

Jesus self het na hierdie aangeleentheid verwys om te bewys dat hierdie hele teksgedeelte op Hom van toepassing was.
Joh 3:14 “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word,
3:15 sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Die Here Jesus, as God, het aan die Kruis ons sondes op Homself geneem en vir daardie sondes (Die Koperslang, simboliseer ons sondes wat op Christus gelê is) gesterwe, sodat die mens wat dood was in sonde, deur geloof in Hom kon lewe. Dit is die mate waarmee God ons liefhet. Groter liefde as dit is daar nie! Onthou die dood is nie inhalasie of uitwissing van bestaan nie, maar skeiding. Hoe verskriklik moes dit vir Jesus gewees het, wat geen sonde geken het nie, om vir ons sondes aan die kruis te sterwe nie! So ook moes dit die Vader se hart gebreek het om Sy Seun vir ons sondes aan die kruis te straf. (Joh 3:16) Daar was egter geen ander wyse waarop God die probleem van die mensdom se sonde kon oplos nie. Kom ons gaan op ons knieë en dank Hom vir wat Hy, in liefde, vir ons gedoen het!
1Pe 3:18 “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;”

Joh 12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”
Net soos wat elke Israeliet met geloof na die Koperslang op die paal gekyk en gesond geword het, sal enige persoon wat in geloof na Jesus Christus gaan, die ewige lewe ontvang. Niemand word uitgesluit nie. Die Here trek almal, maar nie almal reageer in geloof nie. Hulle is dus verantwoordelik vir hulle eie ondergang en kan nooit die Here daarvoor blameer nie. Almal word sonder uitsondering uitgenooi om die gawe van die ewige lewe in geloof te ontvang.
Opn 22:17 “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

In tye wanneer  ons onsself in moeilike omstandighede bevind, moet ons, ons versoeke na die Here in gebed neem en nie moed verloor nie.
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Kyk maar hoe het Dawid in die Psalms sy smarte met die Here gedeel. Daar is egter ‘n groot verskil om teenoor die Here te murmureer en ons versoeke na Hom in geloof te neem. Murmurering demonstreer ons ondankbaarheid en gebrek aan geloof. Om ons versoeke in geloof na die Vader te neem en dan op Sy antwoord te wag, demonstreer ons geloof in die feit dat Hy ons Vader is en net die beste vir ons wil hê. Daar is geen fout om ons probleme met God te bespreek en aan Hom te verduidelik hoe ons voel nie. Soms rig ons versoeke aan die here wat na ons eie ondergang sal lei,  en daarvoor moet ons die Here dank wanneer Hy in gevalle soos dit nee sê. (al is dit nie wat ons wou gehad het nie) Soms kla ons met ‘n witbrood onder die arm, en hoe selfsugtig is dit nie van ons nie!.
Psa 33:18 “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag;
1Ti 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”
En laastens:
1Pe 5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Ons moet leer om oomblik tot oomblik op die Here te vertrou, met die wete dat Hy weet wat ons nodig het en aan ons sal gee wat die beste vir ons is.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.