Rentmeesterskap volgens die Bybel

Rentmeesterskap volgens die Bybel

Meet die oorspronklike bestudering van hierdie onderwerp, was dit nie my bedoeling om ‘n artikel daaroor te skryf nie. My doel was gewees om met behulp van die Heilige Gees vas te stel, tot watter mate ek die rentmeesterskap, wat Jesus Christus alle gelowiges opgelê het, getrou volgens die Skrifte uitvoer. Met die Here se genade en insig het ek baie geleer en het besluit om my bevinding in ‘n artikel om te sit, sodat ander gelowiges ook daarby kan baat vind. Ek hoop van harte dat die leser van hierdie artikel ook meer duidelikheid oor hierdie aangeleentheid sal verkry en dat dit ons almal sal aanmoedig om die Here volkome te dien. Daardeur sal Sy Naam verheerlik word. Ek bid, dat met die toepassing van hierdie feite, ons geloof in Hom sal toeneem, en dat ons aan die wêreld sal kan demonstreer dat God ‘n God is wat gebede verhoor, en graag Sy kinders van dag tot dag wil lei en dat Hy hulle nooit in die steek sal laat nie.

Om die hele kwessie van rentmeesterskap in die regte perspektief te plaas, sal ons na ons en ons besittings vanuit God se perspektief moet kyk. Om na ons rentmeesterskap vanuit die menslike oogpunt te kyk, sal aan ons ‘n verdraaide beeld daarvan gee en sal dit basies onmoontlik wees om God se werklike wil in hierdie opsig te bepaal.
1Ko 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 6:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
As dit waar is dat ons aan God behoort, dan is dit net logies dat alles wat ons besit ook aan God behoort. Dit sluit ons liggame, tyd, geld, bates en alles gawes wat ons ontvang het in. Omrede ons en alles wat ons besit aan God behoort, is dit net billik om te verwag dat Hy in beheer van ons en ons besittings moet wees en dat Hy dit in Sy werk kan aanwend soos wat Hy wil. Indien ons onsself asook ons eiendom van Hom weerhou kom dit op niks anders as diefstal neer nie, en pleeg ons dus sonde. Dink mooi hieroor na!
Tit 3:8 “Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense. 3:14 Ons mense moet ook leer om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan, sodat hulle nie onvrugbaar mag wees nie.”

Almal van ons sal saamstem dat Eskom verkeerd bestuur is, en dat die direkteurs en bestuurders van hierdie firma nie die rentmeesterskap wat hulle opgelê is, getrou uitgevoer het nie. Maar voordat ons hulle kritiseer, is dit belangrik dat ons na onsself kyk. As ons alles wat ons besit (kinders, eggenote, geld, tyd, werk,ons intellek, verstand, vermoëns, motors, en self… ens) as God se rentmeesterskap aan ons beskou en as een algehele eenheid beskou, hoe sou ons gevaar het indien God nou sou verskyn en van ons rekenskap eis oor hoe ons Sy bates bestuur het? Sou ons dan nog Eskom as ‘n voorbeeld van swak bestuur kon beskuldig? Voor ons te vinnig antwoord moet ons in ag neem hoe ons, ons kinders groot gemaak het. (Lees asb die artikel “Ouers as voorbeeld aan kinders”) Is ons hele bestaan en alles wat ons het toegewy om God se wil op aarde uit te oefen, of het ons vir onsself gelewe en gewerk. Onthou die beroep wat jy besit, is van God afkomstig en is deel van die algehele pakket waarop ons rentmeesterskap beoordeel gaan word. Dit is dan ook een van die redes waarom ek nie glo, dat die tiendes leerstelling van toepassing op die Kerk gemaak kan word nie. God besit nie net ‘n tiende van wat ons besit nie. Hy besit alles! Lees asb die artikel “Ek kan nie tiendes gee nie

Om werklik vas te stel hoe getrou ons ons rentmeesterskap huidiglik uitvoer, moet ons ‘n inventaris van alles wat ons besit opstel. Dit sluit nie net ons bates in nie, maar ook die mense wat God, in Sy genade, aan ons gegee het, in. Is Alles wat God aan ons gegee het, toegewy aan God se wil en Sy heerlikheid? Is God se wil en Sy heerlikheid die sentrale punt waarna ons streef? Indien nie, dan demonstreer dit maar net dat ons nie ons rentmeesterskap getrou uitvoer nie, en is ons niks anders as die direkteure van Eskom wat aan hulleself buitensporige bonusse toeken, op grond van werk wat hulle nooit gedoen het nie. Onthou ons moet nie na hierdie aangeleentheid vanuit die menslike oogpunt kyk nie, maar ons moet vanuit God se oogpunt daarna kyk, en hoe Hy dit in Sy woord aan ons bekend gemaak het. Kom ons gaan kyk wat die Skrifte daaroor te sê het.

‘n Christen is veronderstel om in die wêreld te wees, maar hy is nie van die wêreld nie.
Joh 17:14 “Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.
Joh 17:16 Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”
Die Hele wêreld sisteem, soos wat ons dit ken, is in die hande van Satan en is deur God veroordeel.
1Jo 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.
Jak 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Dit sluit alle vorms van die wêreld se vermaak, manier van besigheid doen, kuns, godsdienste en algemene handelswyses en denkpatrone …ens in.

As God se diensknegte, is ons nie aangesê om die wêreld oor te neem of te transformeer nie. Ons is aangesê om die Evangelie te verkondig, om sodoende so veel as moontlik mense vanuit hierdie bose wêreld te red, sodat hulle vir ewig in God se teenwoordigheid in die Hemel kan wees en nie op aarde nie.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Jesus se woning is in die Hemel en dit is waar ons woning ook is.
Joh 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Dit maak nie saak in watse volk of nasie ‘n gelowige homself op hierdie aarde, as onderdaan, mag bevind nie. Hy is primêr ‘n pelgrim of deur reisiger in hierdie wêreld, en is in werklikheid ‘n burger van die Hemel en nie van die wêreld nie. (Net hierdie waarheid alleen behoort enige vorm van rassehaat en xenofobie in die lewe van die gelowige die nek in te slaan) Om Hierdie feit te vergeet sal veroorsaak, dat die gelowige ‘n verdraaide perspektief van hoe hy na hierdie wêreld kyk en hoe hy dit beleef, handhaaf
Fil 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
1Pe 2:11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;”
As Jesus Christus se ambassadeurs, verwag Hy dat ons hierdie waarheid moet onthou en dit aan ander verkondig. Net soos wat Sy koninkryk nie van hierdie aarde is nie, is ons koninkryk ook nie van hierdie aarde nie. Ons werklike burgerskap is in die Hemel!
Joh 18:36 “Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
Jesus het ons ook geleer om te bid dat Sy Koninkryk kom, want Sy koninkryk is nog nie hier op aarde nie en dit is hoekom die wêreld lyk soos wat dit lyk. (Lees gerus die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk kom
Mat 6:9 “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; 6:10 laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”

Met hierdie feite as agtergrond kan ons nou gaan kyk wat die Bybel oor ekonomiese rentmeesterskap te sê het, en kan hierdie beginsels ook op ander fasette van ons rentmeesterskap toegepas word. Ons sal eerste na die Ou-Testament gaan kyk en dan weer na die riglyne wat ons in die Nuwe-Testament vind.

Spr 22:7 “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ‘n slaaf van die man wat uitleen.”
Opmerking: Die persoon of land wat geld leen sal altyd die dienaar bly van hom by wie hy die geld geleen het. Dit is maar net ‘n feit wat ons mooi moet verstaan. Onbeheerste skuld of skuld wat nie mooi beheer en wat nie genoegsaam verseker of beveilig is nie, is altyd bedreigings vir ‘n persoon se finansiële vryheid.

Deu 15:6 “Want die HERE jou God seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.”
Opmerking: In die Ou-Testament is skuld as ‘n vorm van diensbaarheid beskou, en om geldelik van ander lande afhanklik te wees, is as ‘n vorm van slawerny beskou. Onthou die een wat leen, word deur die een wat leen beheer. Hierdie selfde beginsel geld vir lande en samelewings van vandag.
Deu 28:12 “Die HERE sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie.”
Om aan ander lande te leen, was vir die volk Israel aanvaarbaar en was ‘n teken van God se seën op die land. Die nodigheid om te leen was nie ‘n goeie teken nie.
Deu 28:43 “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal laer en laer afsak. 28:44 Hy sal aan jou leen, maar jy sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees.”
Onder andere, was finansiële seëninge, een van die seëninge en vervloekinge, vir gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid, wat aan Israel in die Ou-Testament voorgehou is.

Eks 22:25 “As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ‘n skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie.”
Opmerking: Israel was verbied om rente, op geld wat deur die armes onder hulle geleen is, by te reken. Met hierdie wet, asook die wet wat bepaal het dat skuld elke sewe jaar vrygeskeld moet word (Deut 15:1-6) het die Here Israel teen die sosiale euwels en uitbuiting wat ons in die moderne wêreld sien, beskerm.

Nou vir opdragte vanuit die Nuwe-Testament.

Rom 13:7 “Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom. 13:8 Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.”
Opmerking: Paulus stel dit baie duidelik, dat ons niemand iets moet skuld nie, behalwe om mekaar lief te hê. Hierdie is ook dan een van die opdragte wat die meeste deur gelowiges geïgnoreer word en wat al tot baie smarte gelei het. Daarom is dit belangrik dat ons ons kennis van Bybelse ekonomiese beginsels opskerp, en sodoende verhoed dat ons in dieselfde slaggate trap, as wat baie westerse lande huidiglik doen. (Om nie eers van Suid Afrika te praat nie!)

Vervolgens ‘n paar gedagtes oor die gelowige en geld.

Dit is van uiterste belang dat ons besef, dat die Skrifte nêrens rykdom veroordeel nie en ook verheerlik die Skrifte ook nie armoede nie. Ryk gelowiges word in die Bybel aangesê om hulle hulpmiddele met wysheid en vrywilliglik aan te wend om God se wil op aarde te doen.
Luk 16:9 “En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.”
Die Here bedoel nie hier dat ons werke ons red nie. Ons word deur geloof in die Evangelie alleenlik gered. Wat die Here bedoel is, dat as ons ons geld moet aanwend met die doel dat ander mense daardeur die Evangelie kan hoor en glo, en indien ons, voor Sy koms vir ons, tot sterwe kom, daardie mense ons in die Hemel sal verwelkom. As dit ‘n sonde was om ryk te wees dan sou Jesus dit duidelik gestel het. Ek glo egter dat ‘n persoon wat baie ontvang het, daar baie van hom verwag gaan word as Hy voor die Regterstoel Oordeel van Christus gaan verskyn.
2Ko 5:10 “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

1Ti 6:17 “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; 6:18 dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, 6:19 en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.”
Ek glo nie dat al die Geestelike gawes met die voltooiing van die Skrifte opgehou het om te funksioneer nie, en dat sommige nog in werking is. Een daarvan is die gawe om uit te deel.
Rom 12:8 “of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ‘n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.”
Om te kan uitdeel, moet iemand immers ontvang en daarom sal mens vind dat die Here soms wel mense met rykdom sal seën, met die doel dat hulle weer aan ander sal gee om sodoende Sy wil op aarde te laat geskied. ‘n Persoon wat egter hierdie gawe ontvang het, se hartsbegeerte sal immers wees om, wat hy by God ontvang het met ander te deel, en hy sal nie alles vir homself wil opgaar nie. In my opinie was George Müller so ‘n persoon gewees, en het miljoene rande deur sy hande na ander gegaan, en dit alles net deur gebed en sonder om ander mense daarvoor te vra. As ons bereid is om deur God gebruik te word, dan kan ons verseker wees dat Hy ons sal gebruik!

Wat die Bybel egter teen waarsku, is die begeerte om ryk te wil word, en die gierigheid wat as afgodediens beskou word.
1Ti 6:7 “Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. 6:9 Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. 6:10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 6:11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. 6:12 Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.”
Die gelowige moet, deur die inwerking van Heilige Gees, beheer word om God en Sy belange op aarde te wil doen. Ons is nie veronderstel om deur gierigheid en die liefde vir geld beheer te word nie. Waar gierigheid die mens beheer, demonstreer dit dat daardie persoon homself en Mammon aanbid en daarom beskou die Here dit as afgodediens. Kyk maar wat met Israel in die Ou-Testament gebeur het toe hulle agter ander gode aan gehoereer het. Kyk maar watse verskriklike dade word a.g.v gierigheid deesdae gepleeg. Bedrog, roof, leuens, diefstal, nydigheid, haat, moord, egskeidings en oorloë om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. Kyk maar hoe gaan dit in ons eie land, en watse verskriklike misdade word nie gereeld hier gepleeg nie. As mens mooi kyk, sal mens gou opmerk dat gierigheid en selfliefde die grondoorsaak van meeste van hierdie misdade is.
Kol 3:5 “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, 3:6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,”

Rykdom is oor die algemeen nie goed vir geloof in God nie, en dit is nogal insiggewend, dat Jesus Christus die meeste lof aan die arm gemeentes in die boek Openbaring gegee het, en dat die ryk gemeente van Laodicense glad nie enige aanprysing van God ontvang het nie. In baie opsigte is rykdom ‘n groter bedreiging vir die Christelik lewenswandel as wat armoede is, en alhoewel ons dit nie graag wil erken nie, blyk dit egter die geval te wees. ‘n Arm man se geloof moet in baie opsigte sterker as die ryk man sin wees, omrede hy van dag tot dag of self van oomblik tot oomblik op God, vir sy daaglikse behoeftes vertrou. ‘n Ryk persoon kan egter op sy rykdom staatmaak en dalk te laat agterkom dat hy glad nie reddende geloof in God gehad het nie. Maar soos reeds duidelik gestel, is rykdom op sigself nie sonde nie, maar om dit te begeer en na te jaag en om daarop te vertrou is sonde.
Jak 2:5 “Luister, my geliefde broeders—het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?
Jak 1:9 Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid, 1:10 en die ryke in sy geringheid, want soos ‘n blom van die gras sal hy verbygaan. 1:11 Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.” (Lees gerus die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word”)

Sonder Geestelike insig en wysheid van God, sal die gelowige altyd homself in ‘n hopelose dwaalweg van verwarring vind, in sover as wat dit sy geloofslewe en geldsake aanbetref. As hy die wêreld se model van gierigheid en hebsug najaag, sal sy geestelike lewe baie vinnig agteruit gaan.
1Ti 6:9 “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. 6:10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. 6:11 Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”
Die leser word aangeraai om Psa 73 te lees en biddende oor die inhoud daarvan te mediteer.

Getroue rentmeesterskap begin by ons en daarom moet ons, volkome aan God en Sy wil toegewy wees. Hy verdien niks minder as dit nie! Ons en al ons besittings, asook alle gawes wat ons by God ontvang het, behoort aan Hom en daarom moet ons en alles wat ons het tot Sy beskikking gestel word, sodat Hy dit kan aanwend soos wat Hy wil.
(Ons liggame, eiendom, tyd, intellektuele vermoëns, gawes, geld, ontspanning, en alles wat ons is en wat ons het.) Ons is nie veronderstel om onsself te dien nie, en daarom is dit belangrik dat God en Sy wil sentraal in ons lewens is en moet ons seker maak dat God se wil in alles altyd voorrang geniet.

Ons moet ook verder onthou, dat met wedergeboorte God in ons liggame kom inwoon en waar ons dus gaan, gaan Hy saam met ons. Hy sien na wat ons op televisie en ander media kyk. Hy is by ons as ons by ons gewildste uithang plekke kuier en is bewus van alles gesprekke wat daar plaasvind. Onthou die Here het ons beveel om aan ander te doen wat ons aan onsself gedoen wil hê. Hoe sal jy voel as jou eggenoot of vriend jou na ‘n plek neem, waar die mense oor jou spot en waar hulle optredes en gesprekke jou oor die algemeen grief, omdat hulle geen respek vir jou het nie? Dink net hoe moet God, wat heilig is, voel as ons na sulke plekke toe gaan.
Psa 1:1 “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 1:2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 1:3 En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”
En onthou dit geld nie net vir die plekke wat ons besoek nie, maar dit sluit ook alles wat ons na kyk of lees in. Ek glo hierdie is een van die redes hoekom daar soveel smarte in gelowiges se lewens is, omdat hulle God nie eerbiedig nie en dat hulle Hom met geen ander uitweg los as om hulle te straf nie.
Heb 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”
Waarop spandeer ons die geld waarmee die Here ons so ryklik geseën het? Moet Hy alles eers heeltemal wegneem alvorens ons ons ore gaan oopmaak?

Elkeen van ons is maar net as rentmeester oor God se eiendom aangestel, daarom is dit net logies dat ons eers alles met Hom in gebed moet bespreek en wag vir Sy leiding, alvorens ons ‘n besluit neem. Hierdie feit kan nie genoegsaam beklemtoon word nie. Dit is een van die beginsels wat die meeste deur gelowiges verontagsaam word en is ook die oorsaak van baie smarte in die gelowige se lewe. As ons God vertrou, dan sal ons op Sy leiding wag, voordat ons ‘n besluit neem. Dit sluit alle besluite, soos om van werk te verander, motor koop ens, in. Die leser word aangeraai om die artikel “om God se wil te ken” vir meer inligting te lees. Onthou ons is net die rentmeesterskap opgelê, God bly nog steeds ons eienaar, en Hy het nog steeds die finale seggenskap en net Hy weet wat die beste vir ons is!
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

Dit is ook van uiterste belang om seker te maak dat ons nooit oorhaastig ‘n besluit neem nie. Kyk maar hoeveel keer word ons in die Bybel gemaan om op God te wag. Om op God te wag, verg soms baie meer geloof as om te doen. Dink maar aan Abraham, hy was bereid om sy seun aan God te offer, maar het gesukkel om op God in geloof te wag vir daai einste seun wat hy in geloof bereid was om aan God te offer. As ons werklik op God vertrou, sal ons nie beweeg of optree alvorens God nie ons die weg gewys het nie. Hierdie beginsel geld veral vir belangrike besluite wat ons moet neem.
Jes 50:10 “Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? —laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God!
50:11 Kyk, julle almal wat ‘n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord—wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.”

Net die huidige oomblik is ons geleentheid om die Here in hierdie wêreld te kan dien. Môre mag dalk nooit kom nie. Ons lewens, geld en besittings se waarde is in werklikheid niks meer werd as die mate waarin ons dit in God se diens aanwend nie. Onthou hierdie waarheid! Ons lewens is net werklik iets werd as ons dit in die Meester se diens aanwend.
2Ko 9:6 “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. 9:7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. 9:8 En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. 9:9 Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid. 9:10 En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem,
9:11 sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.”

Moet ook nooit oorhaastig hulp aan enige bediening gee, sonder om eers baie seker te maak, dat wat daardie bediening verkondig die waarheid volgens God se woord is nie. Indien ons enige hulp of ondersteuning aan iemand gee wat valse doktrines verkondig, dan werk ons nie in God se diens nie, maar werk in werklikheid vir die ander kant. Maak seker en wag op die Heilige Gees om die nodige leiding te gee. Daarom is dit ook baie belangrik dat ons, ons Bybels gereeld bestudeer en ken, sodat ons alles wat aan ons verkondig word met die Skrifte kan vergelyk. En wees op die uitkyk vir verdraaiings van die Skrif!
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”

As ons werklik die volle omvang van ons rentmeesterskap ten volle besef, sal ons ook besef dat ons maar net die bestuurders op aarde van God se besittings is en dat Hy die verantwoordelikheid op Homself geneem het om ons die nodige leiding te gee, asook om vir ons te sorg. As ons dus in Sy wil optree, kan ons verseker weet dat ons nooit gebrek aan die basiese noodsaaklikhede vir hierdie lewe sal hê nie.
Luk 12:29 “Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; 12:30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. 12:31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 12:32 Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”
As ons doen wat die Here van ons verwag dan het ons nie nodig om oor die dag van more bekommerd te wees nie. Ons is Sy kinders en is Sy verantwoordelikheid!

As dit kom by geldelik sake, is dit van uiterste belang dat ons na die motiewe van ons harte kyk . As ons aan ander gee met die bedoeling dat God meer aan ons moet teruggee, dan demonstreer ons nie ware liefde nie, maar wil ons van God ‘n besigheid maak om onsself te dien. Dit is niks anders as woeker en afgodediens nie! Hierdie mense is dus niks anders as geldwisselaars wat in die tempel handel gedryf het nie. (Mat 21:12) En dit nogal in God se naam!
Spr 28:8 “Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.”
Die saad geloof “seed faith”dwaalleer het baie gedoen om hierdie sonde in die belydende Christendom aan te blaas en daardie mense kan verseker wees dat God hulle nie ongestraf gaan laat bly nie. Kyk maar na ‘n persoon se leefwyse dan sal jy gou opmerk wie hy werklik dien. God het uit liefde Sy Seun gegee om vir ons sondes aan die kruis te betaal. Hy verwag dieselfde optrede van Sy kinders en ons moet besef dat God die harte van mense oordeel en nie net hulle optredes nie. Daarom is dit uiters belangrik dat die Heilige Gees ons lei en nie die vlees nie.
Hnd 20:35 “Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”

God het die mens gemaak met die bedoeling, dat die mens Hom alleen sal dien en nie geld nie. Geld is gemaak om die mens te dien en nie anders om nie.
Luk 16:13 “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
Die sleutel tot getroue rentmeesterskap is ‘n lewenslange leerproses, waarvan die Heilige Gees die leermeester en ons die leerlinge is. Soos wat ons van dag tot dag onsself aan Jesus Christus se heerskappy en leiding onderwerp, sal die Heilige Gees ons verstand verlig, sodat ons sal weet hoe om op te tree, sodat die Here in hierdie opsig verheerlik kan word. Boonop dit alles sal Hy ons daarvoor seën en in die Hemel ryklik beloon!

‘n Definisie van goeie rentmeesterskap: Goeie rentmeesterskap beteken dat ‘n persoon alles wat hy is en het, laat saamwerk om God se wil op aarde te laat geskied! Dit geld vir die persoon as individu en die ware Kerk as geheel.

Mag die Here ons daarmee help!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.