Jy mag nie oordeel nie!

Jy moet oordeel!

Dikwels as mense oor hulle sondes en sondige leefstyl aangespreek word, gebruik hulle die verskoning dat mens nie ander mag oordeel nie. Hulle baseer hulle stelling op Jesus se woorde in Mattheus 7.
Mat 7:1 “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.
7:2 Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. 7:3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 7:4 Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! 7:5 Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”

As ons egter na die konteks van bostaande teksgedeelte gaan kyk, sal ons gou agterkom dat die Here nie ‘n algemene verbod op enige vorm van oordeel geplaas het nie. Wat die Here wel hier bedoel het, is dat die persoon wat oordeel homself eers moet oordeel alvorens hy ‘n ander persoon wil oordeel. Dit sal my immers niks baat om ‘n medegelowige oor sy drinkery aan te spreek as ek self ‘n drankprobleem het nie. Om so iets te doen sal van my ‘n skynheilige maak, en behoort ek eers my sonde van dronkenskap uit te sorteer, alvorens ek my broeder oor sy drankprobleem wil aanspreek. God is geregtig (Hy doen altyd wat reg is) en ook is Hy nie die aannemer van ‘n persoon nie. Hy sal dus altyd met geregtigheid oordeel en verwag dieselfde optrede van Sy kinders. Dus verwag die Here dat ons eers onsself moet oordeel voordat ons ‘n ander persoon oordeel. Om hierdie teksgedeelte buite konteks aan te haal is om God se woord te verdraai en om in Satan se hande te speel.

Soos wat hierdie artikel verder sal aandui, stel die Bybel dit baie duidelik dat die Here wel van ons verwag om te oordeel.
Amo 5:14 “Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê. 5:15 Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort—miskien sal die HERE, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef.”
Spr 31:9 “Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige.”
Die woorde “handhaaf die reg in die poort” is ‘n verwysing na oordeel, en die Engelse weergawe van hierdie teksgedeelte in die King James Bybel illustreer hierdie feit baie mooi.
Amo 5:15 “Hate the evil, and love the good, and establish judgment in the gate: it may be that the LORD God of hosts will be gracious unto the remnant of Joseph.”

Met regte kan beweer word dat Jesaja se beskrywing van die nasie Israel ook op ons huidige samelewing van toepassing is.
Jes 5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
Anders as vandag se vals profete, het die ware profete van ouds, die nasie Israel gewaarsku dat God hulle oor hulle sondes gaan oordeel. Hoeveel te meer verwag God nie van ons om die waarheid te praat en sonde as sonde uit te wys nie. Die Apostel Paulus het dit ook duidelik gestel dat die geestelike mense alles beoordeel.
1Ko 2:15 “Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.”
Paulus sou nie hierdie stelling kon maak as dit nie van ‘n Gees vervulde Christen verwag is om alles te oordeel nie. As wedergebore kinders van God het ons die Heilige Gees in ons, wat ons verseker sal oortuig van sonde, en nie net in ons eie lewens nie, maar ook in die lewens van ander gelowiges. God is Heilig!! Om regverdig te oordeel is nie ‘n sonde nie. Regverdige oordeel is ‘n bewys dat iemand ‘n Gees vervulde lewe lei. Om nie sonde te oordeel nie is om in Satan se hande in te speel en sy wil te doen. Die duiwel weet goed genoeg dat regverdige oordeel die Here se goedkeuring wegdra en dat dit ons lewens sal verbeter en sal bydra tot goeie werke wat die Here van ons verwag, en wat weer daartoe sal lei dat ons as ligte in die bose wêreld sal skyn. Dit is iets wat Satan egter nie wil hê nie.
Efs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Die Here Jesus Christus het nie aan die kruis met Sy lewe vir ons sondes betaal, net sodat ons in sonde kan voort bly lewe nie.

As ons nie mag oordeel nie, sou Paulus se waarskuwing aan ons oor die laaste dae sinneloos wees.
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Die bostaande teksgedeelte is nie net ‘n akkurate beskrywing van die oorgrote meerderheid van die hedendaagse Christendom nie, maar ons word ook aangesê om ons van hierdie sogenaamde gelowiges af te skei. Hoe sou ons weet ons moet sulke mense vermy as ons nie mag oordeel nie? Dit geld ook vir mense wat nie die waarheid volgens God se woord verkondig nie, maar wat leuens en valse leerstellings in Sy Naam verkondig.
Rom 16:17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. 16:18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.
2Ko 6:17 Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;
Anders as wat vandag gereeld verkondig word, beskou die Here Sy leerstellings as baie belangrik en verwag Hy van ons om alles wat mense aan ons mag verkondig, met die Bybel te vergelyk en te oordeel. Dit is die mense wat valse leerstellings verkondig wat ons moet vermy. Hoe gaan ons hulle as valse leraars uitwys as ons nie mag oordeel nie? Ongelukkig word hierdie opdrag deesdae nie gehoorsaam nie, en daarom is die Kerk oorval met valse leerstellings. Kom ons neem God se waarskuwing ernstig op, anders gaan ons die gevolge van ons eie nalatigheid moet dra.
Mal 3:18 “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.”

Dit is ‘n ernstige sonde, om nie sonde in die Kerk te oordeel nie, en dit is ook een van die redes hoekom die Kerk oor die algemeen net soos die wêreld lyk en nie meer as ‘n lig in ‘n donker wêreld skyn nie. Jesus self het die gemeente in Éfese geprys, omdat hulle juis die slegte mense onder hulle nie kon verdra nie.
Op 2:2 “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;”
Verder het Paulus die gemeente van die Korintiërs verkwalik, omdat hulle ‘n persoon wat ‘n immorele lewe gelei het nog in die gemeente toegelaat het.
1Ko 5:1 “‘n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het. 5:2 En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.”
1Ko 5:12 “Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? 5:13 Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”

Om sonde nie te oordeel nie, doen ons die liggaam van die Here onreg aan, en tree ons nie in ware liefde teenoor ons broeders op nie.
Spr 27:6 “Die wonde deur een wat liefhet, is opreg bedoel, maar die soene deur ‘n vyand is oorvloedig.”
Die Zoeloes het ‘n spreekwoord wat soos volg lei: “As jy my vriend is waarsku my” Hoe tragies sal dit nie wees as ons te laat uitvind dat iemand wel geweet het dat ons op die verkeerde pad is en ons nie daaroor gewaarsku het nie. Sal ons nie so ‘n persoon kwalik neem, omdat hy ons nie gewaarsku het nie? Of gaan ons eers wag totdat die Here self moet ingryp en Sy kinders begin straf, voordat ons hulle gaan waarsku. Ek dink nou in die geval waar van gelowiges in die gemeente van die Korintiërs met hulle lewens geboet het omdat hulle die armes tydens die liefdesmaal, wat die nagmaal insluit, beskaam het.
1Ko 11:20 “As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie. 11:21 Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk. 11:22 Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie. 11:29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. 11:30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
As Paulus nie hierdie gemeente oor hulle sondes aangespreek het nie, omdat hy nie mag oordeel nie, sou baie meer van hulle doodgegaan het en sou hy ook nie sy werk as Apostel gedoen het nie. Dieselfde beginsel geld vir ons.

Daar is egter ‘n paar reëls wat ingedagte gehou moet word alvorens ons ander wil oordeel:
Bid en vra die Here vir wysheid om wel regverdig te kan oordeel, sodat ons volgens Sy wil sal oordeel en nie omdat ons aan ‘n vervolgingswaansin lei nie.
Jak 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”
Salomo het in hierdie opsig wys opgetree, toe hy die Here versoek het om aan hom wysheid te gee in plaas van rykdom.
1Kn 3:9 “Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?”

Oordeel volgens die Skrifte:
Jes 8:20 “Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.”
Onthou die Bybel moet altyd as die standaard vir waarheid gebruik word en nie ons emosies, omstandighede en eie opinies of tradisies nie. Reg en verkeerd moet volgens die Bybel bepaal word.

Indien ons moet oordeel, is dit belangrik om al die feite te kry. Om ‘n persoon te wees wat regverdig kan oordeel, moet ons ‘n liefde vir die waarheid hê, en moet dit ons begeerte wees om altyd die waarheid te soek.
Jer 5:1 “Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek—dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.”
Soek altyd die waarheid en vra altyd ons hemelse Vader, om ons deur Sy Gees, die nodige leiding te gee.

Moenie die persoon aanneem nie. Behandel alle partye regverdig en dit maak nie saak watse posisie in die samelewing hulle mag beklee nie. Dit sluit ons familie en vriende ook in. Om getrou aan God te bly, moet ons blind vir ‘n persoon se uiterlike voorkoms, posisie en familie verwantskap wees.
Spr 24:23 “Ook hierdie spreuke is van die wyse manne afkomstig. Om partydig te wees in die gereg, is verkeerd. 24:25 Maar met die wat onpartydig straf, gaan dit goed; en oor hulle kom die seën van voorspoed.”

Moenie oor ‘n onderwerp oordeel as die woord van God niks daaroor te sê het nie. Moet ook nooit meer van ‘n onderwerp maak as wat God in Sy woord daaroor maak nie. Mens sien hierdie tendens nogal gereeld deesdae. Onthou ons moenie volgens ons opinies oordeel nie, maar volgens die woord van God, soos wat dit in ons Bybels opgeteken is.
Kol 2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie,”
In gevalle soos hierdie moet ons nie ‘n groot ophef daarvan maak nie, want dit is nie wat werklik in die dispensasie van genade saak maak nie.

Indien ‘n persoon hard en genadeloos oordeel, sal God seker maak dat daardie persoon ook so deur ander behandel sal word:
Mat 7:2 “Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”
Ons broeder se verhouding met God en ons liefde vir Hom, moet die motief wees waarom ons, ons broeder in liefde oordeel. Ons liefde vir ‘n medegelowige moet van so ‘n aard wees, dat ons bereid sal wees om die onderwerp van sy woede teenoor ons te word, sodat ons hom van verdere leed en swaarkry kan spaar. Ons doel moet altyd wees om ons broeder met Christus te versoen. Daarom is dit belangrik dat sodra ‘n broeder tot inkeer kom, ons hom weer in die gemeente sal opneem en hom onmiddellik vergewe.
2Ko 2:5 “Maar as iemand droefheid veroorsaak het, dan het hy my nie bedroef nie, maar—ek wil nie oordryf nie—min of meer julle almal. 2:6 Vir so iemand is daardie bestraffing deur die meerderheid genoeg; 2:7 sodat julle daarenteen hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur al te groot droefheid verteer word nie. 2:8 Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig.”
Wees genadig en vergewe as iemand sy sonde bely en laat staan.

Dit is altyd wys om na onsself te kyk en onsself te oordeel alvorens God dit vir ons moet doen.
1Ko 11:31 “Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
As ons die Evangelie geglo het, dan behoort ons aan God en is ons Sy kinders. Hy verwag dan van ons om Hom in alles te eer en goeie werke voort te bring, asook om heiligmaking in ons lewens, met behulp van die Heilige Gees, toe te pas. As ons dit nie gaan doen nie, gaan God, soos enige goeie vader, ingryp en ons tugtig. Daarom is dit belangrik dat ons, as individue en asook as gemeente, onsself beoordeel om seker te maak dat ons Hom in alles tevrede stel. Onthou ons is veronderstel om as ligte in ‘n donker en bose wêreld te skyn.

Ter afsluiting, wil ek net noem dat die grootste gedeelte van die belydende Christendom, nie as sulks deur die oorspronklike kerk aanvaar sou geword het nie. Die rede hiervoor is dat ons deur ons openlike sonde en valse leerstellings so ver van die Here afgedwaal het, dat ons presies soos die bose wêreld om ons lyk. Die Here het ons egter baie ernstig teen hierdie dwaling gewaarsku en ons sal wys wees om Sy woorde ernstig op te neem.
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
En onthou.
Spr 14:12 “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”
Ek bid dat die Here ons sal help om meer soos Sy Seun, Jesus Christus, te word en dat ons alles tot eer van Sy heilige Naam sal doen. Amen!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.