Sabbatdag

Die Sabbatdag Kontroversie – dieskrifte.org

Met die skryf van hierdie artikel sal gepoog word om meer inligting rondom die Sabbatdag kontroversie vanuit ‘n Skriftelike perspektief te gee. In ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom is daar ongelukkig baie verwarring rondom hierdie aangeleentheid, en daarom is dit belangrik om na die Skrifte alleen vir die antwoord te gaan, en nie ons antwoorde op menslike opinies en oorgelewerde tradisies te baseer nie. Ons moet toelaat dat God vir Homself, deur Sy woord, (die Bybel) met ons praat. Eerstens ‘n paar Skriftuurlike waarnemings rondom die Sabbatdag kontroversie vanuit hoofsaaklik ‘n Ou Testamentiese oogpunt:

1) Dit is van uiterste belang om te begryp dat die Sabbatdag altyd op die sewende dag van die week, naamlik Saterdag, val en op geen ander dag nie. Dus, is en was die sewende dag altyd die Sabbatdag en die Sabbatdag het nie van Saterdag na die eerste dag van die week, naamlik Sondag toe verskuif nie.

2) God het in ses letterlike 24 uur dae die aarde, sowel as die heelal, en alles wat daarin is geskape en op die sewende dag van Sy werksaamhede gerus.
Gén 2:2 “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.”
God het egter nie op hierdie geleentheid die mensdom beveel om die sewende dag as ‘n Sabbatdag te onderhou nie. Dit was egter nog altyd ‘n goeie beginsel om in ses dae mens se werk te verrig, en op die sewende dag te rus, sodat die nuwe week met volle krag aangepak kan word. Die Sabbatdag was egter nooit voor die ontvangs van die tien gebooie, as wet, gegee om na te kom nie, en derhalwe was niemand voor die ontvangs van die tien gebooie ooit gestraf omrede hulle nie die Sabbatdag geëerbiedig het nie.

3) Sabbatonderhouding het slegs wet geword toe die Here die wet (wat die tien gebooie insluit) aan die volk Israel (nie die heiden nasies nie) gegee het.
Eks 20:8 “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. 20:9 Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; 20:10 maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. 20:11 Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.”

4) Die gebot om die Sabbatdag te eerbiedig was anders as die ander nege gebooie wat ons in die tien gebooie vind, omrede die wet om die Sabbatdag te eerbiedig, as ‘n seremoniële wet omskryf kan word en die ander nege wette as morele wette omskryf kan word. Geen morele beginsel word verbreek indien ‘n persoon nie die Sabbatdag eerbiedig nie. Al wat van dit ‘n sonde maak om nie die Sabbatdag te eerbiedig nie, is die feit dat God, met die gee van die Tien Gebooie, dit verbied het om op daardie dag te werk. Om een van die beginsels van die ander nege wette te verbreek, beteken dat ‘n mens ‘n morele beginsel wat ten alle tye op die mens van toepassing is, verbreek en die verbreking daarvan is altyd verkeerd en dit maak nie saak in watse volk of dispensasie ‘n persoon homself mag bevind nie. Die gebot van Sabbatonderhouding was slegs op die volk van Israel van toepassing en nie op die heiden nasies rondom hulle nie. Sabbatonderhouding was ook slegs op die dispensasie van die wet van toepassing en nie op die ander dispensasies nie. (Later sal meer oor hierdie feit uitgebrei word)

5) Dit moet egter ingedagte gehou word, dat die verbod om op die Sabbatdag te werk sekere inherente uitsondering bevat het, naamlik:
a) Sabbatonderhouding was nooit bedoel, om diens aan God verrig, te verbied nie.
Mat 12:5 “Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie?”
b) Die gebot om op die Sabbatsrus te eerbiedig was ook nie op tye van nood van toepassing nie.
Mat 12:2 “Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie. 12:3 Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het— 12:4 hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen?”
c) Die gebot om die Sabbatsrus te eerbiedig was ook nie op dade van genade van toepassing nie.
Mat 12:11 “Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? 12:12 Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.” 

6) Indien mens ingedagte hou, dat die Nuwe Testament eers na afloop van Christus se kruisiging begin het, dan is dit opmerklik dat die Here Jesus Christus, as ‘n Jood, onder die dispensasie van die wet gelewe het. As getroue Jood, het Hy ook die gebot van Sabbatonderhouding, wat deel van die wet was, stiptelik eerbiedig. Alhoewel die Fariseërs Jesus daarvan beskuldig het, dat Hy die Sabbatdag verontagsaam het, het Hy, as Here van die Sabbat, die Sabbatdag van die mensgemaakte tradisies en regulasies waarmee die Fariseërs die dag verstrengel het, bevry.

Sommige Sewedaagse Adventiste, asook sommige ander groepe, soos die Hebreeuse Wortels Beweging, beweer dat die Rooms Katolieke Kerk die Sabbatdag vanaf Saterdag na Sondag verskuif het, omrede hulle die heidense songod met die belydende Christendom wou akkomodeer. Alhoewel ek tot ‘n groot mate met hierdie bewering saamstem, is dit egter van uiterste belang om ons leerstellings slegs vanuit die Bybel te bekom en nie uit wat die een of ander groep mag verkondig of nie verkondig nie. Ek stel nie belang in wat die Rooms-Katolieke Kerk mag glo of nie glo nie. Ek stel slegs belang in wat God, deur Sy woord, (Die Bybel) aan my wil sê en ek gaan slegs my leerstellings op daardie feite baseer. (In my beskeie opinie kan Die Rooms Katolieke Kerk nie as die Kerk van Christus omskryf word nie, omrede hulle net soos baie ander groepe, ‘n werke evangelie verkondig, wat nie vanuit die Bybel geregverdig kan word nie, en dan praat ek nie eens van al die heidense praktyke wat hulle beoefen nie.) Derhalwe gaan ons weer na die Skrifte om God se opinie oor die hele aangeleentheid te verkry.

1) Soos alreeds vroeër genoem, is dit ‘n ernstige mistasting, om te beweer dat die Sabbatdag vanaf Saterdag na Sondag verskuif het. Daar is nie een teksgedeelte in die Bybel wat hierdie bewering kan staaf nie. Sabbatonderhouding is deel van die Mosaieke wet, wat deel van die verbond wat God met die volk Israel aangegaan het, uitmaak. Die Sabbatdag is en was altyd op Saterdag. Die Sabbatdag was ‘n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die Here Jesus Christus was die Substansie daarvan.
Kol 2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 2:17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Hierdie feit sal duideliker word, soos wat ons met hierdie artikel voortgaan.)
Tit 2:11 “Want die reddende genade (nie die Wet nie, wat Sabbatonderhouding insluit.) van God het aan alle mense verskyn 2:12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,” 

2) Dit is belangrik dat ons nie die Kerk met Israel verwar nie. Israel en die Kerk is twee verskillende entiteite. (Die leser word aangeraai om die artikel “Het die Kerk Israel as God se Verbondsvolk Vervang” te lees om beter uiteensetting van hierdie waarheid te bekom.) Nege van die tien gebooie, behalwe die gebot van Sabbatonderhouding, word weer in die gedeeltes van die Nuwe Testament, wat spesifiek aan die Kerk gerig is, herhaal. Hierdie nege gebooie word egter aan die gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie (Dispensasie van Genade) lewe as instruksies voorgehou oor hoe hulle die Christelike lewenswandel prakties kan uitleef.
Rom 6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. 6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet (wat die Sabbatdag insluit) nie, maar onder die genade.”
Gal 5:18 Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet (wat die Sabbatdag insluit) nie.”

3) Dit is opmerklik dat ons nie in die briewe, of in enige teksgedeelte wat spesifiek aan die Kerk gerig is, die opdrag vind om die Sabbatdag te eerbiedig of om op daardie spesifieke dag te versamel nie. Die teendeel is egter die waarheid. Die Bybel stel dit duidelik dat ons nie moet toelaat dat iemand ons oordeel omdat ons nie Sabbatonderhouding toepas nie.
Kol 2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 2:17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” 

Indien ons die Sabbatdag kontroversie suksesvol wil opklaar, dan is dit belangrik om na slegs die Skrifte vir die antwoord te gaan en vas te stel hoe die vroeë kerk opgetree het. Die apostel Paulus het dit duidelik gestel, dat die Skrifte voldoende is om ons vir die Christelike lewenswandel toe te rus, en derhalwe kan ons verseker weet dat die antwoord oor die Sabbatdag kontroversie in die Bybel gevind sal word.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Derhalwe gaan ons na die Skrifte om te hoor wat God se opinie oor die aangeleentheid is.

1) Volgens die Skrifte merk ons dat die vroeë Kerk op die eerste dag van die week vergader het. (Sondag)
Hnd 20:7 “En op die eerste dag van die week, (Sondag) toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.”
Die rede waarom die vroeë Kerk op die eerste dag van die week vergader het, was omrede die Here Jesus Christus op hierdie dag (‘n Sondag) uit die dood uit opgestaan het, as bewys dat Jesus Christus se verlossingswerk suksesvol afgehandel is en dat dit deur die Vader goedgekeur was.
Joh 20:1 “En op die eerste dag van die week (Sondag) kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was.”

2) Dit is ook verder opvallend dat die Here Jesus Christus op die daaropvolgende twee weke ook op die eerste dag van die week (Sondag) met Sy dissipels vergader het.
Joh 20:19 “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week (Sondag) en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!
Joh 20:26 En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!”

3) Die Heilige Gees was ook op die eerste dag van die week (Sondag, toe die dissipels weereens saam vergader was) uitgestort, wat die Kerk se amptelike ontstaan ingehuldig het.
Hnd 2:1 “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2:2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 2:3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. 2:4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” (Die leser word aangeraai om die artikel “Spreek in Vreemde Tale” vir verdere besonderhede oor die tale wat gespreek is te bekom.)
Die Heilige Gees is op die Joodse fees, wat as die Fees van Weke (Pinkster) bekendstaan, uitgestort. ‘n Dag wat op Sondag geval het.
Lev 23:16 “tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die HERE bring. 23:17 Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van ‘n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die HERE.”
Hierdie dag het op ‘n Sondag geval!

4) Die opstanding van Christus was die inleiding van ‘n nuwe begin, en die eerste dag van die week dui op daardie nuwe begin.

5) Omrede die vroeë Kerk histories op die eerste dag van die week (Sondag) vergader het, het die apostel Paulus hulle ook aangemoedig om op hierdie dag geld opsy te sit.
1Ko 16:2 “Op elke eerste dag van die week (Sondag) moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.”

Sommige Sewedaagse Adventiste gebruik Hand. 17:2 as bewys dat die vroeë Kerk op die Saterdag die sinagoge versamel het.
Hnd 17:2 “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte”
Ek gaan die teksgedeelte asook die vers net voor en net na Hand. 17:2 aanhaal en in sy konteks verduidelik.
Hnd 17:1 “Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was. 17:2 En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte 17:3 en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.”
Hou ingedagte dat Paulus met die verkondiging van die Evangelie besig was. Dus is dit net logies, dat indien hy Jode wou evangeliseer, hy hulle in hulle eie sinagoge sou wou besoek, omrede die sinagoge juis die plek sou wees waar hy baie godsdienstige Jode byeen vergader sou vind. Dit sou Paulus niks gebaat het, indien hy die sinagoge op Sondag sou besoek het nie, want dan sou daar in alle waarskynlikheid niemand gewees het om te evangeliseer nie! Jode vergader op Saterdae in hulle sinagoges. Hierdie Jode was nog nie wedergebore nie en het dus nie deel van die Kerk uitgemaak nie. Genoemde byeenkoms was dus nie ‘n Kerk byeenkoms nie, en kan derhalwe nie as bewys gebruik word, dat die vroeë Kerk op Saterdag vergader het nie.

Indien Paulus, as wedergebore Jood, nog gevoel het dat hy onder die wet was, dan sou hy nooit die stelling kon maak wat ons in 1Kor. 9:20 vind nie.
1Ko 9:20 “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. 9:21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win;”
Vanuit bostaande teksgedeelte merk ons op, dat alhoewel Paulus nie onder die wet was nie, (wat Sabbatonderhouding insluit) hy nie wetteloos was, of wetteloos opgetree het nie. Indien gelowiges onder die wet, as reël vir hulle lewe is, het Paulus, onder die inspirasie van die Heilige Gees, ‘n baie ernstige fout met bostaande stelling begaan. Hoe kon hy beweer, dat hy vir diegene wat onder die wet was (Jode), geword het soos een wat onder die wet is, indien hy alreeds, as Jood, onder die wet was? Die antwoord is dood eenvoudig! Paulus het geweet dat hy vrygestel is van die wet! Hy het ook van die vryheid, wat hy in Christus geniet het, gebruik gemaak om vir diegene wat onder die wet was,  (Jode) soos een onder die wet te word, en vir diegene wat sonder die wet was, (Heiden nasies) soos een wat sonder die wet is, om hulle vir Christus te wen. (Onthou die Heiden nasies het nie die Sabbatdag geëerbiedig nie!)

Soms word ook beweer dat die morele wet verskil van die seremoniële wet. Die Bybel tref egter nooit hierdie onderskeid nie. Volgens die Bybel word die hele wet as ‘n eenheid beskou, en word daar nooit ‘n onderskeid tussen die seremoniële wette en die morele wette getref nie. Die eerste vyf boeke van die Bybel word gesamentlik as die wet van God omskryf. Terme soos die “wet van God” en “die wet van Moses” asook soortgelyke terme word gereeld as wisselterme gebruik wat as aanduiding dien dat hierdie boeke gesamentlik as die wet beskou was. In 2 Kor. 3:2-3 sien ons dat Paulus die tien gebooie ook as deel van die wet beskou het.
2Ko 3:2 “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; 3:3 omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels (Tien Gebooie) nie, maar op die vleestafels van die hart.” (Slegs die Tien Gebooie was deur God self op kliptafels geskrywe, nie die seremoniële wette nie!)
Boonop het Paulus, onder inspirasie van die Heilige Gees, die volgende stelling gemaak:
Rom 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, (die hele wet, insluitende die tien gebooie wat Sabbatonderhouding insluit.) maar onder die genade.”
In Romeine 7 bespreek Paulus die onvermoë van die wet (wat die tien gebooie insluit) om ware heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig. Wanneer ‘n persoon in die Heilige Gees lewe, dan sal die regverdige vereiste van die wet,  (nie die wet self nie) in en deur daardie persoon, deur die inwerking van die Heilige Gees in daardie persoon se lewe vervul word.
Rom 8:3 “Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 8:4 sodat die reg van die wet (nie die wet self nie) vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
(Die Leser word ten sterkste aangeraai om die reeks van drie artikels “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” te lees, waar hierdie waarhede meer volledig bespreek word.)

Ter Afsluiting: Gelowiges vergader nie op Sondae in ‘n poging om verlossing te bekom, of om hulle verlossing te behou nie. As gelowiges eerbiedig ons hierdie dag uit liefde en toegewydheid aan die Een wat Sy lewe vir ons aan die kruis gegee het, omrede ons die ewige lewe uit genade deur geloof alleen, in Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir ons, ontvang het.
Kol 2:13 “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, 2:15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. 2:16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 2:17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. 2:18 Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid,”
Dit is van uiterste belang om teksgedeeltes binne hulle korrekte konteks, asook binne die raamwerk van die gegewe dispensasie, en in lig van God se progressiewe openbarings, soos wat dit ons Bybels opgeteken staan, te bestudeer en toe te pas. Om hierdie waarhede te verontagsaam kan tot ernstige misleiding lei. Ons moet altyd Ou Testamentiese openbarings en wette in lig van die progressiewe Nuwe Testamentiese openbarings, en veral in lig van die briewe wat direk aan die Kerk gerig is, interpreteer. Sodoende sal verhoed word, dat ons verkeerdelik leerstellings wat op die Dispensasie van die Wet van toepassing is, met leerstellings wat op die Dispensasie Van Genade (Dispensasie van die Kerk) van toepassing is, met mekaar verwar of vermeng. Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik, dat die Kerk nie onder die verpligting is om die Sabbatdag te eerbiedig nie, maar Israel wat onder die Dispensasie van die Wet gelewe het, was verplig om die Sabbatdag te eerbiedig. Om hierdie rede het die Here Jesus Christus, wat ook as Jood, wat gedurende die Dispensasie van die Wet gelewe het, die Sabbatdag getrou geëerbiedig het. Sabbatonderhouding was deel van die verbond wat God met Israel, as volk, aangegaan het! (Nie met die Kerk nie! Lees gerus die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang!)

Sal dit dan verkeerd wees om op ‘n Saterdag as gemeente saam te vergader? Nee, gedurende die Dispensasie van Genade, waar gelowiges in Christus geplaas is, is ons vry om op enige dag saam te vergader.
Gal 5:13 “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.”
Die Here verwag juis van Sy Kerk om saam te vergader!
Heb 10:25 “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Ons groepie versamel gedurende die week, omrede die meeste mense op Sondae werk)
Wat egter ernstig problematies sou wees, is indien ‘n persoon enige ander vereiste, behalwe geloof alleen, by die Evangelie, as vereiste om die ewige lewe te ontvang, of te behou, sou voeg. Dit sluit Sabbatonderhouding in!
Gal 5:1 “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.
5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, (wat die Sabbatdag insluit) is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. 5:5 Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.” (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bekering, Geloof en die Ewige Lewe” te lees.)
Onthou! Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.