Satan, Nasies 2

Satan se optrede ten opsigte van die nasies. Deel 2

In die eerste gedeelte van hierdie reeks, van twee artikels, genaamd “Satan se optrede ten opsigte van die Nasies, deel een” het ons opgemerk dat Satan poog om die beleidsrigtings van nasies tot sy eie boosaardige doelstellings te beïnvloed. Daarbenewens het ons ‘n paar voorbeelde vanuit die Bybelse tydperk as voorbeeld weergee en bespreek. In deel twee van hierdie studie, gaan ons na ‘n paar moderne voorbeelde van Satan se voortgesette optredes ten opsigte van die Nasies weergee en bespreek. Ek is van mening dat die Bybel ons leer dat die Satan vanaf die sondeval nog steeds besig is om die mensdom, en derhalwe die Nasies, te verlei.
1Tim.4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang”
Derhalwe kan die hele verloop van die menslike geskiedenis op aarde as een globale voorbeeld aan die leser voorgehou word. Om hierdie rede is die bestudering van die wêreld se geskiedenis van uiterste belang. Onthou, die ou gesegde wat soos volg lees: “Indien die mensdom nie vanuit die geskiedenis hulle foute raaksien, en hulle optredes daarvolgens korrigeer nie, is die mensdom verdoem om dieselfde foute ook in die toekoms te herhaal!” Die huidige gebeure in ons wêreld dui as onomwonde bewys dat die mens nie vanuit sy foute in die verlede geleer het nie, en hierdie een enkele feit gaan nog verreikende (en smartlike) implikasies vir die mensdom meebring. Vir die doeleindes van hierdie artikel, gaan daar na enkele spesifieke geskiedkundige gebeurtenisse in die meer onlangse geskiedenis gekyk word, en sal daar gepoog word, ook om hier die gevalle engele, (Satan inkluis) sowel as die heilige engele se invloed binne die raamwerk van hierdie spesifieke gebeurtenisse aan die leser weer te gee.

Hitler, die Nazi’s en die tweede wêreld oorlog: Dit behoort nie as ‘n verassing te kom, om van die Nazi’s se betrokkenheid in die okkult, naamlik hulle wortels in ariosofie te verneem nie. (die valse teorie van die evolusieleer het ook ‘n groot rol in die Nazi’s se beleidsrigting gespeel.) Ook hier gaan Satan en sy gevalle engele se invloed nie ongemerk verby nie, omrede ons weet dat enige persoon wat by die okkulte betrokke raak homself aan Sataniese beïnvloeding blootstel. Omrede Hitler, en die Nazi’s, by die okkult betrokke was, het dit aan Satan ‘n gulde geleentheid gegee om die Nazi Party se beleidsrigting negatief te beïnvloed, wat tot een van die grootste menseslagtings van alle tye gelei het. Na beraming het tussen 70 miljoen tot 85 miljoen mense direk of indirek tydens die tweede wêreldoorlog tot sterwe gekom. (Meer as die hele gesamentlike populasie van Suid Afrika!)

Soos alreeds in deel een van hierdie studie genoem is, weet ons dat Satan spesifieke bose geeste oor spesifieke lande aanstel met die doel om daardie lande se beleidsrigtings te beïnvloed. So het ons ook gemerk dat Satan weet dat God spesifieke profesieë aangaande die Joodse volk, Israel, gemaak het en waarvan daar nog gedeeltes is wat eers in die toekoms vervul sal word. Derhalwe sal Satan altyd poog om die Jode as volk uit te wis, om sodoende te verhoed dat God se woord in vervulling gaan. In Hitler, asook die Nazi’s, het hy gewillige instrumente gevind en d.m.v. hulle anti-semitiese beleidsrigting het Satan gepoog om die Jode d.m.v. die Nazi’s se militêre industriële kompleks op ‘n deeglik beplande sistematiese wyse uit te wis. ‘n Gebeurtenis wat ons die Joodse volksmoord (Holocaust) noem, waar meer as ses miljoen Jode op ‘n geheel en al Satanies, onmenslike en gruwelike wyse in die konsentrasiekampe van die Nazi’s vermoor is. Dan praat ek nie eens van die sistematiese massa verkragtings wat met die Nazi ryk se val, veral deur die Russiese invalsmag, op die Duitse vroulike populasie losgelaat is nie. (Wat tot die dokumentêr “ Die verkragting van Berlyn” of te wel “The rape of Berlin” aanleiding gegee het.) Hierdie gruwelik barbaarse optrede kan duidelik aan Sataniese beïnvloeding toegeskryf word. Die Skrifte waarsku ons nie verniet teen Satan nie!
Pet.5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

Net soos in die geval met die boek van Ester, is Satan en sy engele se optrede in die geesteswêreld nie met die blote oog waarneembaar gewees nie, en kon ons slegs die uiterlike manifestering van daardie beïnvloeding in die fisiese skepping en geskiedenis waarneem. Daarbenewens wil dit ook voorkom dat God die engel Mígael en ander engele opdrag gegee het om die leiers van die geallieerde magte aan te moedig om ‘n alliansie te vorm wat op die ou einde van die dag die Nazi’s en hulle bondgenote verower het. Sodoende is Satan se planne in die wiele gery, alhoewel dit miljoene menslike lewens in die proses gekos het, en waarvan 11,900 Suid Afrikaners ook hulle lewens in die stryd teen hierdie bose bondgenootskap opgeoffer het.

Maar indien mens die geskiedenis, asook die nuus lees, dan word ons slegs aan die gebeure in die fisiese skepping blootgestel, en besef nie altyd dat daar ‘n hewige stryd in die geesteswêreld plaasvind, waardeur Satan poog om sy bose planne tot uitvoer te bring nie. Wanneer mens die gebeure in die boek van Daniël in rekening hou, sal ons opmerk dat die verloop van die menslike geskiedenis ook uit ‘n onsigbare dimensie bestaan. In hierdie onsigbare dimensie is daar geestelike wesens wat onder die gesag van Satan staan en wat poog om die wêreld se sosiopolitieke beleidsrigtings t.o.v. hulle eie bose planne te beïnvloed.

Dit moet ook verder ingedagte gehou word, dat Satan nie almagtig is of enigsins op enige gebied God se gelyke is nie. Alleenlik God is soewerein en gebruik Satan, asook die nasies, as instrumente om Sy raadsplan met die skepping se geskiedenis te bewerkstellig.
Ps.47:9  “God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon. Die edeles van die volke het vergader — ‘n volk van die God van Abraham; want aan God behoort die skilde van die aarde. Hoog verhewe is Hy!”
Rom.13:1 “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, 2 sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.”
En dit is juis omrede God in Sy soewereiniteit oor Satan en die nasies regeer, dat Hy die Assiriërs (wie uiters wreed en goddeloos was) as instrument gebruik het om die Joodse nasie te straf, wie in afgodediens verval het en wat goddeloos opgetree het. Die Bybel is vol sulke voorbeelde waar God van Satan gebruikmaak om Sy wil uit te oefen. Dit is ook egter vanuit die Bybel waarneembaar dat God die nasies, wie Hy gebruik om Sy mense te straf, verantwoordelik vir hulle optrede teenoor Sy mense hou.

‘n Uitstekende voorbeeld van hoe God die Satan gebruik om Sy wil uit te oefen, en wat verkeerdelik deur mense gebruik word om te bewys dat daar weersprekings in die Bybel is, is 2Sam.14:1 en in die parallelle teksgedeelte van 1Kron.21:1 wat onderskeidelik soos volg lees:
2Sam.14:1 “En die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam, (om die een of ander rede het Israel hulle aan sonde skuldig gemaak wat die Here genoop het om hulle te straf) en Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: Gaan tel Israel en Juda. 2 Toe sê die koning vir Joab, die leërowerste, wat by hom was: Trek tog rond onder al die stamme van Israel, van Dan tot Berséba, en tel julle die volk, sodat ek die getal van die volk kan weet.”
1Kron.21:1  “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel. 2 En Dawid het aan Joab en die owerstes van die volk gesê: Gaan tel Israel van Berséba tot Dan, en bring vir my berig, dat ek hulle getal kan weet.”
Daar is egter geen kontradiksie in hierdie twee teksgedeeltes nie. God was die prinsipale oorsaak vir die gebeure soos gevind in bostaande teksgedeeltes, maar God het die Satan as sekondêre instrument gebruik om Dawid te versoek. God se redes was ten alle tye heilig en regverdig gewees, terwyl die doel van Satan altyd boos was, en wou hy Israel verlei sodat God hulle moet vernietig. Hy het egter nie besef dat dit juis hy is wat as instrument in God se hande gebruik was om Sy volk te straf, met die doel om hulle tot inkeer te bring, sodat Hy in genade teenoor hulle, hulle sou vergewe. Ons moet hierdie feite in gedagte hou soos wat ons na die huidige politieke situasie in ons eie land en die politieke gebeure in die wêreld as geheel kyk. (wat ons persoonlike lewens en omstandighede insluit.)

God is besig om die wêreld se geskiedenis tot ‘n besliste eindpunt te bring, waardeur Hy aan al Sy skepsele sal demonstreer dat slegs Hy as die enigste soewereine God die reg, en vermoeë, beskik om die wêreld, asook die hele skepping suksesvol te regeer. Na afloop van hierdie huidige wêreld se geskiedenis, sal God, Sy heerlikheid volkome tentoongestel het, en daarbenewens aan Sy skepsels die sinneloosheid, suiwer boosheid, asook rampspoedige gevolge wat enige vorm van rebellie teen Hom op ‘n praktiese wyse gedemonstreer het. Boonop sal God ook Sy geregtigheid, genade en liefde d.m.v. Christus se voltooide werk aan die kruis aan die mensdom gedemonstreer het, en sal Hy wel ‘n einde aan enige vorm van rebellie en sonde maak. En om daardie eindpunt in die huidige wêreld se geskiedenis te bewerkstellig gebruik Hy al Sy wesens wat Hy geskape het (insluitende Satan) en om hierdie rede noem ons Hom die Here van die Leërskare!
Jes.1:24 “Daarom spreek die Here HERE van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande!
2:12 Want ‘n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word;
5:16 Maar hoog sal die HERE van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.”
(ongelukkig is daar ook baie Christene wat as vyande van God leef en daarom het Hy geen ander keuse as om hulle te tugtig nie! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees.) Die Bybelse filosofie van die skepping se geskiedenis (soos wat ons huidiglik die wêreld ken) het dus ‘n definitiewe beginpunt en ‘n definitiewe eindpunt.

Onthou, dat Satan slegs kan doen wat God hom toelaat om te doen, omrede Satan nie almagtig soos God is nie. Om hierdie rede kan die Skrifte dit duidelik stel dat dit Satan is wat die god van hierdie wêreld is en wat ongelowiges se verstand verblind.
2Kor.4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
In 2Thess.2:11, na afloop van die Wegraping, en verskyning van die Antichris, vind ons dat dit God is wat ‘n gees van dwaling stuur, omrede die ongelowiges nie die liefde vir die waarheid gehad het en derhalwe nie die waarheid (Die Evangelie) geglo het nie.
2Thess.2:11 “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”

Maar ons lees egter ook dat dit juis die Antichris is wat die mense mislei, en derhalwe word hy maar net as ‘n instrument in God se raadsplan aangewend al besef hy dit dalk nie werklik nie.
2Thess.2:1”Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, (die Wegraping) 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus (die Verdrukking) al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval (Wegraping) kom en die mens van sonde (die Antichris) geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy (Teen die middel van die Verdrukking en begin van die Groot Verdrukking) in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. (die gruwel van verwoesting waarna Christus in Matt.24:15 verwys) 5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6 En nou, julle weet wat hom teëhou, (die Heilige Gees) sodat hy (die Antichris) op sy tyd (‘n spesifieke punt op tyd wat God bepaal nie Satan nie) geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, (die Heilige Gees, wie nie meer Satan se ontplooiing van die Antichris op aarde sal verhoed nie) uit die weg geruim is. 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, (God sal die Antichris binne God se tydsberekening toelaat om sy verskyning te maak.) hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 9 hy (Die Antichris) wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”
Dit is nie God wat vooraf besluit (uitverkiesing leer) om mense na die Hel te verdoem nie. Ons almal het ‘n vrye wil om God te gehoorsaam en die Evangelie te glo. (of te verwerp) Slegs mense wat uit eie keuse God se woord, wat die Evangelie insluit, verwerp sal verlore gaan.

Alle wesens, insluitende die heilige engele; die gevalle engele; (wie Satan insluit) die leiers van nasies en almal wie eendag onder die Antichris teen Christus sal verenig, is God se instrumente wat in God se oordeel van die goddelose wêreld ingespan word. Alhoewel Satan, die gevalle engele, asook die mensdom oor ‘n vrye wil beskik, kan hulle nie volkome onafhanklik optree nie. Hulle kan net doen wat God hulle toelaat om te doen. Onthou, God is alwetend en bestaan buite tyd, so Hy weet ten alle tye alles, en weet boonop ook presies hoe Sy wesens (wat in tyd geskape is) op enige gegewe tyd sal optree. Sodoende weet God van ewigheid al af wat Satan en die mens op enige gegewe tyd in die die verloop van die geskiedenis gaan besluit, en kan Hy deur die Heilige Gees, asook omstandighede, wat die optrede van Sy skepsele (wat die heilige engele) insluit, die bose magte se planne toelaat, of dit op enige tyd in die wiele ry, om sodoende te verseker dat alles binne Sy raadsplan, en op die regte oomblik, in vervulling gaan. God weet dus op enige gegewe tyd alles wat daar te wete is, naamlik elke moontlike gebeurlikheid, uitkoms en menslike besluit en daar is niks wat Hy nie weet nie.

God neem alles wat geweet kan word gelyktydig, onmiddellik en ewig waar, en het dus geweet dat Satan, die gevalle engele, asook die mensdom teen Hom gaan rebelleer en het hierdie feite in Sy Raadsplan ingewerk. Omrede God alwetend is, beskik Hy nie oor ‘n plan B nie, en derhalwe het die geskiedenis ‘n definitiewe begin en eindpunt, maar tussen hierdie twee punte bevind elke wese/mens homself in die verloop van die geskiedenis, maar elkeen van ons het keuses om te maak waarvan God al lankal die antwoord ken. Ons sal dus eendag uitvind dat die keuses wat ons gemaak het, in God se Raadsplan opgeneem, en tot Sy verheerliking, ingereken en ingespan is. Elke individu beskik egter ook oor ‘n vrye wil en hy gaan dus vir sy eie keuses verantwoordelik gehou word. Derhalwe is daar niks wat vir God as ‘n verassing kom nie. Hierdie feite geld ook vir wanneer God van Satan, asook die Nasies en groepe (wat hulle onderskeie politieke ideologie insluit) gebruik om ‘n spesifieke groep, of nasie op enige spesifieke gegewe punt in tyd, (huidiglik) of al die nasies as geheel tydens die Verdrukking te straf. (‘n Toekomstige gebeurtenis.)

Die Groot Verdrukking sal een van die grootste uitdrukkings van God se oordeel teen die sondige wêreld vorm, wanneer Hy Sy oordele op die ganse wêreld sal uitgiet (waarvan die Satan, die Antichris, en die valse profeet, asook die gevalle engele en die heilige engele as instrumente in God se hande sal dien) en wat tot ongekende lewensverlies, lyding en smarte aanleiding sal gee. God is soewerein oor Sy skepping, en alles wat daarin te vinde is, en Hy tree nie in teenstryd met Homself op indien Hy van die nasies, groepe, politieke bewegings, oorloë en pessiektes, (wat gewone siektes soos kanker insluit) as instrumente in Sy oordele oor ‘n rebelse en goddelose wêreld aanwend nie. (hou hierdie feite ingedagte!)

Soos wat alreeds aan die begin van hierdie studie genoem is, kan hierdie onderwerp nie volledig in een studie wat uit twee gedeeltes bestaan bespreek word nie. Indien die Here dit toelaat wil ek graag eendag ‘n hele boek oor hierdie onderwerp skryf. Onthou altyd dat die Satan geensins God se gelyke is nie, en derhalwe beheer hy ook geensins die verloop van die mens se geskiedenis nie. Net omrede die Here, in Sy genade, ons met ‘n vrye wil geskape het, beteken dit geensins dat Hy ons nie vir ons keuses verantwoordelik gaan hou nie. Die vrugte vir ons keuses van vandag sal gewoonlik eers later in die toekoms vrugte lewer. Kyk as voorbeeld na koning Dawid, wie met Batseba egbreuk gepleeg het, en een van sy getrouste diensknegte sodoende in die rug gesteek en laat dood het. Alhoewel die Here Dawid vergewe het, het Hy nog steeds toegelaat dat Dawid die gevolge van sy sonde op aarde dra, en moes hy (Dawid) op sy oudag vir sy eie seun Absalom vlug, wie toe sy vader (Dawid) se byvroue onteer het. (Ook in hierdie geval, kan ons verseker wees dat Satan ook ‘n hand in die hele tragiese gebeurtenis gehad het, alhoewel mens dit nie met die blote oog waar kon neem nie.) Dieselfde beginsel geld vir al die die nasies, volke en politieke bewegings van vandag.

Ongelukkig weet ons ook, vanuit die Skrifte, dat by verre die oorgroot meerderheid van die mensdom nie hierdie waarskuwing ter harte gaan neem nie, wat daartoe gaan bydra dat die hele wêreld in die verskriklike oordele van die Groot Verdrukking gedompel sal word! Hierdie feit beteken geensins dat ons nou met gevoude hande moet sit en niks doen nie. Nee, die Here het aan die Kerk die opdrag gegee om die wêreld te evangeliseer, nie om die wêreld oor te neem nie, want die wêreld se geskiedenis is alreeds bepaal. Ons moet met die ganse mensdom die Evangelie deel, en hulle leer om as toegewyde dissipels van die Here te lewe, en op Sy skielike koms vir die Kerk te wag, (die Wegraping) wanneer Hy die Kerk voor die aanbreek van die Verdrukking van die wêreld af sal verwyder en dan die res van die ongelowige mensdom in die Verdrukking stort.
Mark.16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Matt.28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
1Thess.1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn
(Verdrukking) verlos.
1Thess.4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
(die Wegraping)

Christus self sal na afloop van die Groot Verdrukking Sy Koninkryk op aarde kom oprig! Nie die Kerk nie! Die Kerk se opdrag/mandaat is om die Evangelie aan die ganse mensdom te verkondig. Vir die kerk om te poog om die Koninkryk van Christus, voor Sy wederkoms, op aarde te wil vestig is om teen God se geopenbaarde wil in Sy woord te rebelleer. (Ongelukkig maak ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom hulle aan hierdie sonde skuldig! Bestudeer asb die illustrasie “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking”) Die wete dat die wegraping op enige gegewe tyd kan plaasvind behoort alle gelowiges tot Godvresende lewens te motiveer wat Geesvervulde goeie werke tot gevolg behoort te hê. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat die leser die artikels “Koninkryk nou vs Koninkryk kom” asook die artikel “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie” moet lees. Die leser word ook ten sterkste aangeraai om die illustrasie “die Sewe Dispensasies” te bestudeer.

Ter Afsluiting: Soos wat die einde van die Kerk Dispensasie nader kom kan alle ware gelowiges, en veral die wie die Here Jesus Christus as getroue dissipels navolg, verwag om toenemend vir hulle geloof oortuigings aangeval en vervolg te word.
2Tim.3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
Joh.15:18 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. 20 Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.
Ons leef huidiglik in ‘n wêreld waar die objektiewe onveranderlike woord van God met subjektiewe menslike opinies vervang word, wat nog tot grootskaalse lewensverlies en smarte aanleiding gaan gee. (Tot ‘n groot mate sien ons alreeds dat miljoene babas deur hulle eie moeders vermoor/geaborteer word, net omdat daardie kinders nie deel van hulle ouers se huidige planne uitmaak nie, en dan word daardie kinders op die altare van menslike eiebelang opgeoffer.) Die kategorie van onbeplande babas, wat volgens die wet geaborteer kan word, kan maklik verbreed word om ‘n spesifieke ras, etniese groep, n spesifiek groep gelowe of selfs ‘n spesifieke ouderdomsgroep in te sluit, net soos wat met die Joodse volk onder die Nazi’s die geval was. (Let wel: Indien iemand haarself aan aborsie skuldig gemaak is moet sy nie op daardie sonde dwaal nie maar dit bely, God se vergifnis in geloof aanvaar en aangaan met haar lewe. Ons kan nie die geskiedenis herleef nie, maar ons kan, en moet, in die hede, asook die toekoms vir die Here lewe.)

Die Skrifte stel dit ook baie duidelik, dat na afloop van die Wegraping gaan die Antichris sy verskyning maak, en gaan hy hoofsaaklik van die ongelowige (misleide) Christendom gebruikmaak om sy politieke posisie te versterk, waarna hy teen die middel van die Verdrukking, met die aanbreek van die Groot Verdrukking, die Joodse volk weer sal vervolg, en poog om hulle, en alle gelowiges wat tydens die Verdrukking tot geloof in Christus kom, uit te delg. Hierdie optrede van hom gaan die volksmoord wat die Jode onder Hitler moes deurgaan soos ‘n piekniek laat lyk. Slegs God se ingryping en Sy wederkoms sal die Joodse volk van totale uitwissing red. Die leser word ten sterkste aangeraai om ook die illustrasie genaamd “die Sewe Dispensasies” te bestudeer wat aan die leser ‘n Skriftuurlike uiteensetting van die verloop van die wêreld se geskiedenis sal weergee. Die illustrasie “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking” sal die leser ook help om ‘n beter begrip van hierdie gebeure te bekom.

Die mate waarmee die moderne wêreld (Insluitende belydende Christene) hulleself aan Sataniese beïnvloeding d.m.v. valse leerstellings, die okkult (wat okkultiese musiek, films, boeke en oefeninge soos joga insluit) blootstel kan mens verwag dat sake net sal vererger soos wat die wederkoms van Christus nader kom. En hierdie feit is al duisendjarige gelede aan die Bybelskrywers deur die Heilige Gees geopenbaar, naamlik:
Tim.4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang
2Pet.2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; 2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word;
2Tim.3:1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”

Onthou egter dat ons lewens in God se hande is. Indien ‘n gelowige in God se wil lewe, is daar niks wat Satan aan daardie gelowige kan doen, maak nie saak hoe sleg sake in die wêreld gaan nie. God is in beheer en daarom is dit van uiterste belang om in Sy wil en wee te wandel!
Luk.6:22 “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. 23 Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.”
Op die ou einde van die dag sal elke knie voor God moet buig (insluitende Satan) en sal moet bely dat daar slegs een God is en dat daardie God die Drie-Enige God van die Bybel is.
Rom.14:11 “Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.”
Hou goeie moed! God is die God van die geskiedenis (verlede, hede en toekoms) en het die ewigheid in Sy hande!

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.